Dors. Marinda van Zyl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marinda van Zyl
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624084372
Скачать книгу
om oor die trekregulasies te besluit?”

      Oom Daniël haal tydsaam sy goue horlosie uit sy onderbaadjie se sak. Die goue ketting wat deur een van die knoopsgate kom, skitter in die son terwyl hy dit aandagtig bestudeer voor hy antwoord: “Ek weet nie, Kreling. Ek het geen kennisgewing daaromtrent ontvang nie en ek het ook geen byeenkoms belê nie.”

      Tiaan skrik toe oom Jan die sakhorlosie gryp en in die proses vir oom Daniël met die vasgemaakte ketting naderpluk.

      “Kyk, Erasmus, ek is nie jou speelmaat nie. Hoekom kyk jy op jou uurwerk as jy en Louw nie ’n byeenkoms vir tienuur belê het nie?”

      Tiaan kyk verskrik toe. Uit ondervinding weet hy om nie in te meng as grootmense rusie het nie. Dit lyk nie asof enigiemand sien wat aangaan by oom Daniël se tent nie, want mans sit en rook rustig pyp voor hulle tente terwyl vrouens rondom kookvure werskaf. Hy kyk om toe hy die kapkar hoor. “Hier’s oom Louw-hulle, oom Jan!” roep hy en koes agter die perde in toe albei mans hom aangluur.

      “Môre, môre,” groet oom Louw vriendelik. “Het jy nie jou mense saamgebring vir die stemming nie, Jan?”

      “Natuurlik nie. Volgens jou sou ons drie eers die saak bespreek en ’n kommissie aangestel het om die regulasies neer te skryf. Hoe kan ons nou stem as ons nog nie eens weet watter ampte daar gaan wees en wie mag stem nie?”

      “Oom Jan is reg,” sê een van die mans by oom Louw. “Ek stel voor ons kom môre weer hier bymekaar om drie lede vir die kommissie te kies.”

      “Nee,” sê iemand anders, “ons kies nou die kommandant, want almal weet tog ons het net vir Jan Greyling gewag omdat hy die enigste een is wat die pad deur die Dors ken.”

      Oom Jan hou sy hand op en dadelik is daar stilte. “Laat die kommissie eers sy werk doen, maar daar sal opgeskud moet word. As ons nie voor einde Junie wegkom nie, sal ons hier moet oorstaan tot volgende jaar. Aangesien dit kommandant Du Plessis se trek is, is hy die regte man om die reëls te maak.” Hy gluur vir oom Louw. “Laat weet net volgende keer vir Erasmus ook as jy byeenkomste belê, Kommandant.”

      Oom Jan groet almal, behalwe oom Daniël, met die hand en Tiaan sien verlig die effense glimlag toe hy naderkom. “Nou het die dorpsjapie iets in sy pyp om te rook. Vat jy die leisels en skud op, daar’s werk wat wag.”

      “Wat van tant Truia se goeters?”

      “Nou my magtig, kêrel, hoekom het jy dit nie oorgelaai nie?”

      “Maar Oom het gesê ek moet dit oppas en dit kan ek mos nie op ’n ander oom se kar doen nie.”

      “Ook weer waar. Kom vat nooi Truia se goed,” roep hy na die man wat oom Louw se perde vashou.

      Tiaan bekyk die draaiende aasvoëls in die vaalblou winterlug terwyl die perde vanself in die wapad hou. Iets het gevrek anderkant die Marico. Dan het hy hom nie laas nag verbeel hy hoor leeus in die verte brul nie.

      “Wat soek jy in die lug as jou oë op die pad hoort?” bring oom Jan hom terug na die hede.

      “Ek wonder net wat die leeus laas nag gevang het. Dit moet iets groots wees, want die aasvoëls draai nog.”

      “As jy die leeus hoor brul het, het jy mos veldore, kêrel, want hulle was ver, en hier dink ek die hele tyd jy’s te lig in die broek vir Damaraland.”

      Terug by die staning spring oom Jan van die waentjie af voor die perde tot stilstand gekom het. “Span uit en gaan haal ons ryperde.” Roep toe na tant Betta wat by die vuur doenig is: “Betta, ek soek my skryfgoed.”

      Tant Betta bekyk hom eers hande in die sye voor sy vir Elisabet roep: “Gaan haal jou pa se skryfgoed uit die wakis en dan kom maak jy en Janetta hier klaar. Pa en Tiaan moet eet voor hulle ry.” Toe oom Jan die eetgerei op die opvoutafel hardhandig eenkant toe skuif, loop sy nader. “Wat gaan nou aan?”

      “Ek moet dadelik toestemming by opperhoof Khama kry om deur sy land te trek. Alleen, as dit moet. Piet en Motshoare moet môre die brief vir Khama vat. Louw en Erasmus gaan agter my rug knoei as ek nou hier weggaan.”

      Tiaan gee haastig pad toe oom Jan raas: “Basta tande tel. Kry die perde.”

      Toe Tiaan met die ryperde terugkom, is oom Jan nêrens te sien nie.

      Tant Betta wink hom eenkant toe. “Wat het op die vergadering gebeur?”

      Tiaan kyk benoud rond, maar sy stel hom gerus: “Oom Jan het ’n draai geloop. Praat gou.”

      “Daar was nie ’n vergadering nie, want oom Daniël het gemaak of hy niks daarvan weet nie en hy bly vir oom Jan sê ‘Kreling’. Ek was bang oom Jan gaan hom foeter.”

      “Nee wat, oom Jan is kortgekniehalter maar ’n slaner is hy nie. Vra maar vir die seuns. Dis ek wat die platriem inlê as dit moet.”

      Oom Jan kom fluitend uit die bosse en Tiaan lei die perde weg sodat oom Jan nie moet dink hy dra stories aan by tant Betta nie. Hy staan geduldig en wag met die opgesaalde perde terwyl oom Jan met sy skryfwerk voortgaan.

      “Tiaan, jy moet maar solank beestrop toe, want ek gaan nog ’n ruk besig wees hier. Sê Piet moet huis toe kom want hy en Motshoare moet vroeg môreoggend in die pad val. Ek is nou gerus dat jy en Paul alleen sal regkom.”

      “En waar moet ons water nou vandaan kom?” wil tant Betta weet.

      Oom Jan kyk gesteurd op van sy skryfwerk. “Ek en Bêrend is mos mans genoeg om dit te doen. Dan kan julle sommer die wasgoed by die rivier gaan was.”

      Terwyl Tiaan sy slaapgoed aan die saal vasbind, bring tant Betta ’n meelsakkie. “Droëwors, askoek en vyekonfyt vir jou en Paul. Pas jou mooi op.”

      Tiaan waai sy hoed uitbundig toe hy weggalop, gerus dat hy nie terug huis toe gestuur sal word nie.

      3

      Junie 1876, Greyling-staning

      Terwyl Jan en Bêrend water aanry, sorteer Betta en Elisabet die wasgoed.

      “Waar bly Janetta dan met hulle s’n?” vra Betta.

      “Slaap seker nog,” antwoord Elisabet. “Ek het haar nog nie vanoggend gewaar nie.”

      Betta gaan loer in die wa. Janetta is inderdaad vas aan die slaap op hulle deurmekaar bed. Haar lang swart hare wat gewoonlik onder die kappie weggesteek is, lê soos die vlerke van ’n kraai uitgesprei oor die kussing. Sy moes haar aan die slaap gehuil het, want in haar vuis klem sy ’n sakdoek. Onvergenoeg betrag Betta die klere wat op die vloer voor die bed lê en die vuil water wat skifsels teen die rand van die waskom maak. Gelukkig is die res van die wa so toegepak met meubels en voorraad dat Janetta dit nie ook kan bemors nie.

      “Ek was reg om Piet te waarsku teen die trouery met ’n kind,” steun sy hardop toe sy buk om ’n hemp op te tel.

      Janetta sit verskrik regop en trek die donskombers tot onder haar ken. “Wat maak Tante hier?”

      “Dis hoog tyd dat jy vir my Ma sê. Ek ruim op en kom Piet se wasgoed haal, want iemand moet tog vir hom sorg.”

      Janetta gooi die donskombers af, spring uit die bed en gryp die hemp uit Betta se hande. “Ek sal self my man se klere was. En Ma kom nie weer in my wa nie.”

      Betta deins terug vir die woede in Janetta se oë en die kaal lyf wat nou soos ’n riet bewe. Het die kind dan geen skaamte nie?

      Janetta gooi haar nagrok oor haar kop en gaan voort om die klere bymekaar te maak, die sakke deur te voel en daarna in die rottangmandjie te gooi wat halfvol vuil klere is.

      Betta se wange word warm. Die kinders se begeerte na mekaar was verantwoordelik vir die warboel klere op die grond, nie Janetta se onvermoë om huis te hou nie. “Ons gaan by die rivier was. Ek skink solank jou koffie,” probeer sy die vrede herstel.

      ’n Week later is Piet-hulle terug, sonder antwoord. “Pa moet vir Motshoare vra. Pa’t mos gesê hy moet die praatwerk doen.”

      Motshoare