Die goudbaronne. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия: Mannheim-sage
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174862
Скачать книгу
kan konfronteer nie. Hy kyk hoe vader John die wierookhouer oor die kis swaai in die laaste rite. Om hom sing die begrafnisgangers vir die man in die kis, sing van hul almal se herontmoeting in die hiernamaals.

      Het enige van hulle met hul lang gesigte werklik ’n behoefte om Karl Mannheim weer te ontmoet? Sou daar vir sy pa ’n hiernamaals wees? Karl het in niks geglo nie, dit het Heinrich hom vertel. Waarom begrawe hulle hom dan nou met die volle kerklike begrafnisplegtighede? Karl sou sekerlik daarmee die spot gedryf het, maar dis soos sy ma en Sam dit wou hê. Bring ouderdom noodwendig sulke kleinlike huigelagtigheid mee?

      Hy ruk hom reg, want die begrafnisgangers begin om hom saam te drom. Hulle betuig hul medelye met ’n handdruk, uiter geykte trooswoorde. Kurt knik en bedank elkeen. Ten spyte van die malende mense om hom voel hy eienaardig afwesig, asof hy iemand anders is, iemand wat ’n rol moet vertolk. Watter rol? Dié van die bedroefde seun wat sy vader verloor het? Watter onsin. Wat sal gebeur as hy aan hierdie vreemdelinge uitroep: Julle het dit mis! Ek weet nie waarvan julle praat nie. Die man wat julle nou so aanprys, het ek nooit geken nie – julle het hom heel moontlik beter geken as ek!

      Uiteindelik is dit Kit Malloy wat voor hom te staan kom. Die donker Ier kyk hom ’n oomblik in stilte aan. Sy gebeitelde gesig verraai min, tog wil Kurt glo dat hy vir ’n kort oomblik werklike begrip in die man se blik kan lees. Net soos die ander reik hy Kurt die hand, maar wat hy sê, is onverwags.

      “Dit is amper verby, Mannheim,” sê hy, so sag dat net Kurt dit kan hoor. “Jy het dit goed hanteer. Jou ma sal trots wees op jou.” Toe draai hy om en loop weg.

      Kurt se blik volg die lang, skraal figuur se gang tussen die sipresbome deur. Kit Malloy is reg, besef hy, die begrafnis is verby. Die begrafnisgangers tou weg in groepe, maar hulle sal almal teenwoordig wees by die begrafnisfees in Mannheims Ruhe. Daarop het Sam aangedring.

      Kurt bly alleen agter. Waarom? Dit weet hy nie mooi nie. ’n Laaste eerbewys aan sy pa, miskien? Nee, dis verspot, besluit hy. Hy kyk hoe die grafgrawers die eerste skopgrawe rou grond in die gapende gat laat val. Dit maak ’n dowwe, finale klank. Niemand gee om nie. Maar daar moet mense gewees het wat Karl liefgehad het. Sy oupa en ouma, miskien? Hy het sy oupa geken, maar sy ouma net uit daardie portret wat in sy pa se kamer hang. Sy ma, dalk? Hy is tog gebore uit hul samesyn. Wat gebeur in ’n man se lewe dat jy die einde van die pad bereik en niemand gee ’n duit om nie?

      Kurt draai weg en begin stadig aan te stap, sy gedagtes vol onbeantwoorde vrae. Wat is liefde? Nie die liefde wat mens vir jou ma het nie, of vir jou perde, of jou grond nie, maar om iemand wat net joune is lief te hê met jou hele hart? Hy het ’n hele paar nooientjies gehad op Stellenbosch, maar dit het nooit ernstig geraak nie. Daar was altyd ander dinge wat belangriker was: die myne waarvoor sy ma hom van kleins af voorberei het, Sorgenfrei, sy studies. En Heinrich, natuurlik, wat hy soos ’n broer liefhet. Hoe mis hy hom nie. Heinrich, die geroepene, wat sy liefde in God gevind het. Sal hy wat Kurt is ooit liefde vind? ’n Knaende eensaamheid sak oor hom toe.

      Wat gaan tog met hom aan, dink hy ergerlik, en begin vinniger aanloop. Sam sal hom verkwalik as hy laat is vir die begrafnismaal. Goeie ou oompie Sam. Hy is die een mens wat vir Karl lief was, tot aan die einde. Vir Sam Naudies sal hy nie teleurstel nie.

      Hoofstuk 10

      Kit kyk geamuseer na sy dogter. Soos ’n uitgelate skoenlapper dartel sy tussen die chaos van die ses halfuitgepakte kajuitkoffers rond, op soek na geskenke. Parys het duidelik sy merk op Vickey gelaat, want sy kind het beslis ’n Franse sofistikasie ontwikkel. Sy het in ’n selfversekerde jong dame ontluik. Die hoop presente wat sy uit die kajuitkoffers opgediep het, lê al in ’n berg op haar bed opgestapel. Sy het nie een van hul werknemers vergeet nie, so het sy hom op pad terug van die stasie meegedeel. Sy voeg die laaste pakkie by die hoop en ’n helder laggie borrel uit haar keel.

      “Voilà! Almal hier behalwe joune, Pappa, dit kry jy eers vanaand.” Sy slaan spontaan haar arms om sy lenige lyf. “Mon cher … my liefste, liefste Pappa. Ek is so bly om terug te wees!”

      Kit lag, diep gelukkig om weer sy lieflingskind by hom te hê. Van onder in die huis klink die geklingel van die teeklokkie. “Komaan!” beveel hy. “Rosie het drie weke en drie dae lank gebak vir jou tuiskoms. Ons mag haar groot oomblik nie bederf nie.”

      Vickey neem haar pa se arm en lag rinkelend. “Oe-la-la, mon cher Papa, en wat van my figuur?”

      Hulle verlaat die deurmekaar kamer en loop ingehaak in die galery af tot by die trap. In haar opwinding babbel Vickey onverpoos voort. “Onthou Pappa daardie donkeroog-modéliste, Coco Chanel?”

      Kit frons effens en skud dan sy kop.

      “Skaam jou, Paps!” Sy piets Kit se hand liggies. “Sy was baie erg oor jou. Onthou jy nie die afskeidsbal in Deux-Villes nie? Julle het tog ’n hele paar keer gedans.”

      Kit onthou die dame met haar uitdagende opmerkings baie goed. Hy onthou ook dat sy hom geamuseer het, maar sy was gou vergete, nes al die ander demoiselles in die entourage van comte Henri du Valois.

      “Wat van haar?” vra hy gemaak belangstellend, terwyl hulle ingehaak die trap afstap.

      “Sy maak nou opslae in die modewêreld van Parys, Pappa. Sy is revolusionêr, uiters risqué, maar sy het die stad verower en flankeer ook nou met teaterontwerp. Diaghilef, die impresario, is een van haar kliënte. Tesame het hulle die mees gewaagde balletuitvoering op die planke gebring. Haar stelle en kostuums het die hele Parys tot in hul grein geskok!”

      “Goeiste,” lag Kit, “dan moet dit die sondeval self gewees het.” Die Franse se oënskynlike gebrek aan morele waardes het hom nog altyd geamuseer.

      “O, ek was mal daaroor! En ek is gek oor haar klere,” verklaar sy dogter onomwonde. “Dis gemaklik en prakties, en dis bedoel vir die twintigste eeu. Korsette en opsmuksels is dood, Pappa, so dood soos ’n dodo. Dis die slanker lyn wat tel.” Sy lag skertsend. “Rosie mag my onder geen omstandighede vet voer nie, anders pas helfte van my uitrustings my nie!”

      Kit druk haar liefdevol. “Dra dan liewer die ander helfte, want na jou beskrywing klink dit vir my asof jy die stomme Johannesburg totaal gaan ontwrig.”

      Sy leun oor en soen hom op die kakebeen. “O nee, mon cher Papa! Jy sal sien, ná hierdie vakansie gaan almal my naboots – wag maar net.”

      Die teetafel is swaar belaai met Vickey se geliefde disse. Kit luister met genoegdoening na wat sy dogter te sê het oor haar verblyf in die Franse hoofstad. Die lewe is so opwindend wanneer jy jonk is, mymer hy. Elke oomblik is ’n avontuur.

      “Pappa? Wat dink jy daarvan?” Sy kind se stem onderbreek skielik sy gedagtes. Sy merk die verwarring op haar pa se gesig. “Sies!” pruil sy, gemaak vies. “Jy luister nie eens nie, Paps!”

      Kit sit sy hand oor hare. “Vergewe my. As mens so lank alleen leef, loop jou gedagtes sommer vanself ’n eie koers. Slegte gewoonte. Wat het jy gesê?”

      “Dat professor Bonnard dink dat ek teen die einde van volgende semester al ’n klein uitvoering mag gee … as solis!”

      “En? Hoe voel jy daaroor?”

      Sy frons effens. “Opgewonde, natuurlik, Pappa, maar ook bang. Ek sou verlede jaar oorstelp gewees het bloot oor so ’n moontlikheid, maar nou voel ek onseker. Sê nou net ek kom nie die mas op nie? En die kritici –”

      “As ek jou so hoor praat, het ek sommer lus om jou hier te hou! Want as dit die resultaat is van daardie peperduur skool, dan is dit geldmors,” grom Kit. “Onthou, jy het jou talent van jou ma geërf, en sy was ver bo gemiddeld begaafd.”

      Sy kyk hom verbaas aan. “Pappa, jy weet nie eens hoe –”

      “Natuurlik weet ek.” Hy glimlag triomfantlik. “Kit Malloy se dogter is altyd die beste! Daarom kry sy net die beste, want sy verdien dit.”

      Vickey lag en skud haar kop. “Ek wens Pappa wil my dit elke dag sê! Hoekom kom woon jy nie liewer in Parys nie? Die yslike ou huis in Rue St. Honoré is so leeg sonder jou.” Sy pruil weer. “Dis glad nie pret