Die goudbaronne. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия: Mannheim-sage
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174862
Скачать книгу
af te kruip. Sy moet die wrak probeer bereik, miskien leef Karl nog. Voor sy halfpad gevorder het, weet sy aan die versengende hittegolwe wat na haar toe opslaan dat indien Karl nog steeds in die motor is, dit te laat is om hom te red. Niemand kan daardie vlamme oorleef nie.

      Sy kyk ’n oomblik verwese na onder, onseker wat haar te doen staan. Toe hoor sy dit: ’n flou kreet. Dit het van regs van die wrak gekom. Sy luister aandagtig, maar hoor nou net die knetterende klank van die vlamme.

      “Karl!” Sy gil hees, haar stem grof van die verstikkende rook. “Karl! Waar is jy? Roep weer dat ek kan hoor!” Sy luister, maar daar is geen antwoord nie. Het sy haar verbeel? Haar kop werk nie so goed nie, dink sy suf. Tog, die kreet. Sy hoor dit weer. Hierdie keer herken sy Karl se stem, en sy hoor dat hy haar naam roep.

      Deborah huiwer nie. Sy hys haarself orent en klouter holderstebolder in die teenoorgestelde rigting van waar die brandende wrak lê, maar selfs dan dwing die hitte haar om weer ’n entjie hoër op te klim teen die steilte van die helling. Die hernude inspanning maak haar duiselig, naarheid dreig om haar te oorval. Sy veg daarteen, maar is magteloos teen die swart spikkels wat voor haar oë begin tol. Sy hyg hortend na asem, maar die lug wat sy intrek, brand haar longe. Teen ’n slakkepas beur sy weer voort. Hoe ver nog? Veel langer sal sy nie kan aanhou nie, dink sy paniekbevange.

      “Karl!” probeer sy roep, maar haar stem is skor, en die woord is skaars meer as ’n fluistering.

      Net toe sy wil opgee, sien sy dit skielik: die bont wolvoering van Karl se serp teen die doodgerypte gras. Dit lê teen die voet van ’n rots wat groen gevlek is met korsmos.

      Swymelend begin Deborah soontoe te kruip. Die pyn in haar verskeurde hande is oorweldigend, maar sy onderdruk dit. Al waarvoor sy nou bid, is dat hy daar moet wees, daar by sy serp. Nou net enkele treë van haar af … Nog net ’n klein entjie … Sy moet, sy durf nie opgee nie.

      Uiteindelik sien sy hom. Karl lê met sy kop na onder. Die geweld van die val moet sy liggaam in die skeur van die rots ingewig het. Swak ná die laaste uiterste inspanning, bereik sy hom.

      “Karl.” Sy raak aan hom en hy prewel iets wat sy nie kan verstaan nie. Sy moet hom gemakliker maak, so met sy kop na onder maak dit dinge erger. Sy druk haar arms onder sy skouers in en kry hom onder sy armholtes beet. Sy probeer hom uit die skeur lig, maar sy pynkreet laat haar verskrik terugtree. Sy gaan sit hulpeloos langs hom. Sy streel oor die bleek gesig totdat die ergste gekerm verflou.

      “Karl,” pleit sy, “kan jy my verstaan? Ek moet jou probeer loskry. Ek moet jou hier uithaal.” Sou enigiets tot hom deurdring? Sy oë is vol trane en bly gevestig op iets wat net hy kan sien. Sy lippe prewel iets onhoorbaars, maar dan gil hy weer radeloos van pyn.

      Deborah probeer weer om haar hande onder hom in te druk. Miskien kan sy hom los grawe, dink sy. Haar hande word warm en glibberig, en haar vingerpunte raak onverwags aan hout. Geskok besef sy dat dit die skerp punte is van ’n boomstomp wat die motor in sy tollende vaart afgebreek het. Toe sy Karl se bebloede jas wegtrek, word haar vermoede bevestig. ’n Gebreekte stuk hout steek deur die holte onder sy uitgeteerde ribbekas. Met afgryse kyk sy na die aaklige wond waaruit die bloed pols. Sy ruk van skrik toe Karl praat.

      “Jy huil, prinses,” prewel hy. “Jy gee tóg om.”

      Sy skud haar kop en probeer om die trane weg te vee met haar stukkende hande. Sy dwing haarself tot kalmte. Met moeite praat sy met hom. “Ek moet gaan hulp soek, daarsonder kan ek jou nie hier uitkry nie.”

      “Nee, te laat … dit is te laat … bly …” pleit hy flou. “Hou my vas, my liefste … dit is koud, so verskriklik koud.”

      Sy het nie die krag om hom teë te gaan nie, knik net verslae. Sy kom wankelrig orent, trek haar pelsjas uit en gooi dit saggies oor Karl. Sy gaan sit weer by hom en lig sy kop in haar hande. Miskien kan sy hom só tog gemakliker maak.

      “Dankie … dankie, my liefste Deborah,” sê hy saggies. Hy fokus sy starende blik op die son en sy lippe beweeg, asof in ’n stil gebed. Toe gaan sy oë selfs wyer oop. “Vlinders!” sê hy meteens, met ’n vreemde, helder stem. “Hier is swart vlinders, so baie … Kyk hoe fladder hulle … kyk, prinses! Hulle versluier die son! Maar hoekom? Die son is dan nou swart … Deborah, hoe …”

      Deborah kan hom nie antwoord nie. Sy kyk huilend toe hoe die dood soos ’n glasuur oor sy oë begin stol. Karl sal nooit weer praat nie, dring die besef uiteindelik tot haar deur. Ten spyte daarvan bly sy steeds so sit met sy kop tussen haar handpalms gestut, want sy kan aan niks anders dink om te doen nie.

      Dit is ook hoe hulle haar vind, Kit Malloy en die stalknegte. Hy sê die werkers onmiddellik aan om ’n draagbaar en komberse by sy huis te gaan haal. Sy kyk nie op toe sy die naderende voetstappe hoor nie, knarsend hard in die stil, koue môre. Eers toe hy by haar kom en haar naam noem, lig sy verdwaas haar kop.

      Skok ruk deur Kit toe hy haar bloedbesmeerde gesig sien, haar oë vol pyn en verwarring. Woordeloos hurk hy langs haar en Karl Mannheim. Die man is dood, maar Kit vermoed dat sy in die toestand waarin sy verkeer dit nog nie besef nie. “Hy voel nie meer pyn nie, Deborah.” Hy praat paaiend om haar nie verder te ontstel nie. Sy reageer nie. Hy weet nie eens of sy woorde tot haar deurdring nie. Hy sit sy hand oor hare. “Karl is dood, Deborah.”

      Stadig draai sy haar kop na hom en knik gelate. “Ek weet,” antwoord sy hees. “Hy wou son toe vlieg, Kit. Hy wou my ook soontoe vat … miskien is hy nou daar.”

      Hy kyk haar bekommerd aan. Sy het waarskynlik harsingskudding, of kan dit wees dat sy tog bedoel wat sy sê? Dat dit selfmoord was, en dat Mannheim haar ook wou doodmaak? Was die ellendeling só mal?

      Deborah laat sak haar kop en bedek dit met haar bebloede hande, dan begin sy spasmodies te sidder soos die grusaamheid van haar ervaring haar begin oorweldig. Kit wag nie langer nie, hy trek die bewende vrou teen sy bors vas en sus haar woordeloos, soos hy sy kind sou vertroos.

      In die vreemde verwarring waarin sy verkeer, dring die gerusstelling van menslike nabyheid tot Deborah deur. Sy het so koud geword nadat sy haar jas oor Karl gegooi het, en nou aanvaar sy die warmte van Kit se liggaam teen hare. Sy het nie besef hoe koud sy was nie, maar nou is dit beter, sy bewe nie meer so erg nie. Sy lig haar kop. Haar benewelde oë fokus op Kit se gesig, waarop sy ’n diepe deernis lees. Sy maak haar oë moeg toe, want die matheid wat haar oorval, wil haar laat slaap – vir ewig selfs, solank sy net soos nou veilig by hom kan wees.

      Toe haar ergste bewing verstil, streel Kit vertroostend oor Deborah se nek. Hy draai haar kop effens om te sien hoe ernstig haar wond is. Die bloed stroom steeds daaruit, merk hy ontsteld op. Hy praat rustig om haar nie te ontstem nie.

      “Sit net stil, jy het ’n lelike sny aan jou slaap. Ek wil probeer om die bloed te stop.” Uit sy baadjiesak haal hy ’n sakdoek wat hy dik vou en versigtig teen haar slaap druk. “Kan jy dit ’n kort rukkie so vashou?”

      Sy knik verleë, maar wil paniekerig raak toe hy haar laat los. Sy kyk op en sien hoe sy sterk hande sy baadjie en hemp afpluk en hoe hy sy hemp se nate uitmekaar ruk. Sy kyk hoe hy die materiaal in stroke skeur. Hy kom hurk weer langs haar. Met geoefende hande begin hy haar kop te verbind. Sy ruik Kit se skoon, manlike reuk wat nog aan die verbande kleef, en ook dit laat haar rustiger voel.

      “So ja,” sê Kit, uiteindelik tevrede. “Tot tyd en wyl sal dit voldoende moet wees.” Hy leun oor haar, trek sy baadjie nader, en glip dit dan oor sy kaal bolyf voor hy haar weer teen hom vasdruk. “Dis die enigste manier wat ek jou nou kan warm hou, maar die ander sal enige oomblik terugkeer.”

      Sy gerusstellende stem … dit het haar nog altyd aan bruin fluweel herinner, dink Deborah. Sy wil hom sê dat dit nie saak maak of hulp kom of nie, dis goed so, so naby hom. Moeg maak sy haar oë toe, en dié keer veg sy nie teen die donkerte wat haar weer insuig nie.

      Kit sien hoe sy haar bewussyn verloor, en kyk verlig op toe hy hoër teen die rant sy manne hoor aankom. Hy sien ook vir Simson in sy deftige pikkewynuitrusting in die agterhoede. Simson dra die noodhulpsak. Getroue, intelligente man, dink Kit dankbaar. Deborah het onmiddellik mediese hulp nodig. Daarna sal hy reëlings tref oor Karl. Hy sal Kurt moet laat weet.