Wie die hef in die hand het, weet ek nie, maar die Sloot is ’n oopkloof met die een of ander lem.
Deur hierdie lemhaal stap ek agter ouma Ogies aan. Haar gang is nie altyd koersvas nie en sy huiwer effe by tye. Sy sal haar vasloop teen ’n bos, maar nie reg teenaan die bos nie. Nee, ’n paar duim voor die bos gaan staat sy (staat is Pa se woord – dis iets meer as staan, nie waar nie? – en ek het die gebruik daarvan geërf). Daar staat sy en dink, en sy sê vir my, vanmiddag: “Tian, ’n bos daag my uit. Ek sien pendorings.” Ek bly stil. Dan sê sy: “Ek retireer en gee drie treë vorentoe.”
En jou wragtie, daar gaat sy weer, óm die boom.
Ek volg haar. Die krom figuurtjie. Soos Pa altyd sê, “die frikkadellyfie met die dolfynkoppie”. Ek volg haar en ons gaan oorkant toe, na Bobby Greenblatt toe.
Waar die Sloot in die rivier uitmond, moet sy eers stadig oor die klippertjies. Ek gee haar kans om haar weg self te vind. Dan ploeter ons oor die sandbank en deur die vlakwater. Met die aappaadjie wat die blouape tussen die riete uitgetrap het, styg ons teen die oorkantse oewer uit.
Die blouape koggel ons en buitel in die takke, want ons is nou op hul loopplekke. Hulle bly versigtig ’n ent weg. Hulle ken my al, ek stuur maklik met my kettie ’n klippie na so ’n astrante aap se boud, en vir daardie eina is hulle skrikkerig.
Ouma Ogies gaan eers staan. “Ek sien eers rus,” hyg sy. Ek laat haar begaan. Dis in die tyd van haar angste en floutes, die tyd na haar groot koors.
Sy vleg na ’n rukkie verder met die vertroude paadjie langs en die riete se blare weerskante van die paadjie hou haar liggies op koers. Hulle vee oor haar arms en soms teen haar wange af, saggies. Hulle help haar as sy skeef draai. Al hoër loop sy, tot by die groot nieshoutpaal. Dit is waar hierdie aappaadjie uitloop op een van die lusernlande van ons buurman Bobby Greenblatt se plaas.
Sy vat die paal vas asof dit ’n man is, of ’n sekerte. Sy skep eers weer asem. Dan, met haar regterhand op die grensdraad wat loodreg op die oewer afloop en die lusern van die veld skei, stap sy tot by Bobby se werf.
Van Bobby Greenblatt se werf af hoor ons een van die werkers na hom roep: “Ouma Ogies op pad, my grootbaas!”
Bobby Greenblatt verskyn op sy werf. Soos gewoonlik is hy joviaal en hy skud ouma Ogies se hand en dan myne, formeel. Hier in die vallei waardeer bure mekaar. Die afstande is ver en die nagte tjoepstil. Daar is net die klank van die treine veraf, en die gesteun van diere. ’n Kar, nou en dan, daar ver anderkant op die teerpad. Oom Bobby is ’n wewenaar en eensaam, dis dié dat hy altyd uit sy opstal kom, al is mens nog in aantog. So sê Pa.
“Al weer veerkolleksie!” bulder Bobby Greenblatt en lei ons na die papegaaihokke. Van ver af sien ek die veelkleurige voëls in die bome agter die sifdraad. Party sit tjoepstil tussen die takke en hier en daar begin een sweef, ’n boog rooi en blou en groen.
“Ek moet julle wys,” klets oom Bobby. “Daar’s een wat deesdae alte lekker praat. Ek staan elke dag ’n minuutjie by hom. Hy kan die weervoorspelling napraat al weet hy nie wát hy sê nie.” Oom Bobby lag: “Elders mooiweer en warm! Verspreide reënbuie oor die Kaapse middellande!”
Oom Bobby is ’n groot man met ’n diep bors en ’n buik wat sy stem party dae oor die rivier en tot by ons opstal laat eggo, dis nou as die wind reg waai. Hy’t ’n lang baard en die geduldige respekte wat mense het vir iemand soos ouma Ogies. Ons voel sy groot stem ons omhels en sy skaduwee val oor ons. Hy lei ouma Ogies aan die hand tot by sy papegaaihokke. Dis groot hokke, dit laat jou aan tennisbane dink. Sifdraad is bo-oor gespan, so hoog dat opgeskote vrugtebome binne die hokke groei en mens ver kan loop binne een so ’n hok terwyl die papegaaie om jou kop fladder of om jou in die bome sit. Dapper probeer die bome vruggies uitstoot, maar gou vreet die papegaaie dit weg, voor dit nog behoorlik ryp is.
Hulle het allerhande kleure, Bobby Greenblatt se papegaaie, en hulle kom van ver noord, uit die oerwoude, en hulle kom uit die Amasone ook, hoor ons, en sommige mense sê hulle kom van Indië en Java, maar ek weet nie. Wanneer jy daar inloop, fladder die reënboog om jou.
Bobby lei ouma Ogies ’n hok binne en maak haar teen ’n boom staan. Hy wag tot ek ook binnekom en stoot die hek agter hom toe. Skuinskop staan ouma Ogies daar en luister terwyl hy buk en die hokvloer fynkam en elke stertveer en vlerkveer wat hy kan kry, optel. Ander donsvere ook. Hy’t klaar ’n bruinpapiersak by hom waarin hy die donsvere prop. Die stertvere en vlerkvere woel hy in bondels en draai hulle steeltjies met koperdraad vas. Die draad rol hy van ’n houttolletjie af, splinternuwe koperdraad uit die winkel.
Soos elke slag vra hy: “Oumatjie, moet ek blou by blou sit en rooi by rooi en geel by geel?”
“Ek kan self sien, baas Bobby Greenblatt,” brom sy. “Dis nie die eerste keer dat ek jou dit sê nie.”
Hy maak dan maar die bondels met kleure deurmekaar vas en gee dit aan haar.
Maar toe skrik hy tot stilstand. Daar lê ’n inkswart stertveer op die grond. Dit glinster in die son. Ineens sit die papegaaie tjoepstil in die bome, asof hulle sien dat ons die veer opmerk. Oom Bobby staan ’n ruk verdwaas en buk by die swart stertveer en tel dit op. Woordeloos kyk hy daarna, dan kyk hy na my, dan weer na die veer. Hy kyk na ouma Ogies, maar sy wis niks. Ek sien die hoendervleis op oom Bobby se voorarms uitslaan.
“Ek sien daardie rooie in jou hand,” kom ouma Ogies se stem, en sy hou haar hand uit na die veer wat lyk soos dié van ’n kraai, blinkswart soos die sy van Pa se toga. “Ek soek nog sulke rooies, en geles vandag ook. Groenes laaste, asseblief.”
Sy staan daar en haar koppie beweeg heen en weer, haar neusvleuels bewe.
Oom Bobby kyk vinnig na my, skud sy kop, en gee die swart veer aan ouma Ogies. Sy sit kleur by kleur, en die swarte vind sy weg na die bondel rooies. “Blou,” sê sy, en rangskik ’n rytjie blou vere in haar regterhand. “Rooi,” sê sy en rangskik ’n bondel rooi vere in haar linkerhand, met die swart ene daarby. “Soort by soort.”
Oom Bobby se gesig is bloedrooi. Toe hy sien ek wil iets sê, skud hy sy kop.
“’n Bekertjie kraanwater, oumatjie?” vra hy.
Sy skud haar kop. “Nee dankie, ek sien sommer my water daar onder by die rivier.”
Later gaan ons uit, hy sluit die hek en skud woordeloos my hand en ouma Ogies s’n.
Ek en sy stap stadig terug. Bobby Greenblatt kyk ons agterna terwyl ons wegstap, sien ek met die omkyk. Ouma Ogies het een hand op die draad vir sekerte, die vere in die ander. Af, af na die nieshoutpaal, waar sy eers asemskep en skuinskop staan en luister na hoe die blouape, wat ver in die doringbome sit, haar koggel.
Sy bly moeg lyk. Sy wil my ’n handvol vere gee om te help dra, maar ek skud my kop. “My hande is vuil, ouma Ogies, ek het netnou aan modder gevat daar onder in die rivier.” Ek is te bang om aan hierdie swart veer te vat.
By die niespaal gaan staan sy. “Jy weet, Tiantjie. Ek, hierdie bruin vrou, was by by jou geboorte.” Ek kyk verras na haar. “Ek het aangedring om jou geboorte te sien.”
“Maar hoekom, ouma Ogies?”
Sy skud haar kop net en ons begin weer stap. “Ek sien jou geboorte. Tot vandag toe.” Ek groet haar voor haar huisie. “Ek moet nou aan die werk spring met hierdie vere.” Sy stap met die bondels vere die skemerte van haar voorhuis in.
’n Week daarna probeer sy ’n oorbel met die papegaaiveer aan ’n reisiger op die stasie verkoop.
“Bloedrooi,” sê sy, en gee aan die verwarde treinreisiger op die perron die oorbel met die swart veer wat daaraan hang. “Om die gelaat mee op te helder.”
* * *
Nadat Charlie Ng op Slootplaas se werf met my en my ouers oor sy vuurwerkvertoning onderhandel het, stap hy die lang pad terug dorp toe.
Dis gedaan, dink hy. Nou is daar nie meer omdraai nie. Hy gaan al die gesig wat hy verloor het, terugkry. En daardie man wat hom so beloer het van agter die gordyn, die man wat sy seuntjie