Koukonap. Johann Botha. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johann Botha
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780795801280
Скачать книгу
die Grootvoor, wat in daardie jare nog nie deur ’n betonvoering gekuis was nie en dus ’n natuurlike tuiste vir watergoggas en paddas en krappe, ’n wonderlike bron van avontuur vir nuuskierige knape. Langs die brug waar die swaeltjies nesmaak, kon jy met ’n wilgerlat, ’n tolletjie garing, ’n paar haakspeldjies en ’n halwe witbrood klein silwer vissies uit die groenbruin modderwater pluk.

      Wanneer die visvangery sy glans begin verloor, bespiegel hulle oor die diepte van die voor en die sterkte van die stroom.

      “Tot oor jou kop,” meen Dries.

      Maar ’n duiweltjie het sy sit op Tobie se skouer gekry.

      “Nooit gesien nie. Ek wed jou, skaars by jou middellyf. Niks meer nie.”

      “Miskien party plekke. Ander plekke is hy dieper.”

      “Ek dink hy is vlak hier by die brug. Kyk hoe skuins loop die wal hier af.” Tobie mik met sy voorwiel die water in. “Die water voel ook nie so sterk nie.”

      Dries aarsel. “Oppas …” En tog. Kyk hoe soetjies glip die water tussen Tobie se speke deur. Die roekeloosheid kry hom beet. “Wag dat ek sien.” Hy ry teen die helling af en trap verby Tobie tot sy pedale onder die water verdwyn. Half ergerlik roep hy oor sy skouer: “Kom bietjie nader, Jason! Trap daar vas, dan vat jy my hand …”

      Maar Jason is nie meer by hulle nie. As hierdie twee wit laaities met hul rooi traaisiekels hier wil versuip, wil hy verdomp nie daar wees om die skuld op te pak nie. En dis presies wat hy nou, op hierdie oomblik, aan sy ma gaan verduidelik.

      So kom dit dat Ênie Malmok teen elfuur die oggend op ’n warm somersdag tot onder haar arms in die Grootvoor om hulp staan en skree. Met elke hand het sy ’n verskrikte seuntjie soos ’n half versuipte kuiken beet. Sy moet vastrap om te keer dat die water hulle nie onder die lae brug insleep nie en sy voel haar arms raak lam.

      Haar hulpkrete bereik die stoep van Keevy se winkel, waar Japie Tarentaal pas met bruinpapier en twak vir hom ’n zol gedraai het. Dalk is daar ’n paar pitjies in die twak, want hy vlieg soos ’n windhond daar weg.

      By die Grootvoor aangekom, spring hy sonder aarseling in die stroom. Op ’n manier kry hy Ênie en haar vrag aan wal gesleep. Sy taak word bemoeilik omdat Tobie nog steeds krampagtig aan sy driewiel se handvatsel vasklou.

      Op die dag van sy heldedaad word Japie Tarentaal ontroer deur Ênie Malmok se druipnat agterstewe. Die noodlot het hom uitgekies om pa te word van haar tweede kleinding, ’n seuntjie wat in die vroeë oggendure gebore en dienooreenkomstig Foroklok gedoop word. Intussen word Japie uit dankbaarheid by die Fouries se huishouding betrek deur naweke vir Lood in die tuin te werk.

      Dries se ryding is ’n paar dae later ’n ent onderkant die brug half begrawe in ’n modderwal gekry. Die speke het al begin roes.

      Aangesien Jason op ’n manier sy lewe help red het, word hulle kamerade. Tot Dries op ’n dag sê hy dink dis tyd dat Jason vir hom baas begin sê.

      “Jy meen soos in baas Dries?”

      “Of kleinbaas, as jy wil.”

      “Nou vir wat?”

      Dries aarsel. “Jy is mos ’n hotnot.”

      “Hotnot se gat. Jou moer, jou donnerse Boer.”

      Dit was die einde van ’n belowende vriendskap.

      5. Bokmelk

      Dokter Jackson doen wat hy kan, maar die geriewe in die Roomse hospitaaltjie op Koukonap is beperk. Tensy ’n geboorte werklik lewensbedreigend raak, vind hy ’n keisersnee nie aangewese nie. Vir Lenie voel dit of haar ingewande uitskeur, maar na al die bitter ure in kraam is die naelstring geknip en die baba in ’n warm kombersie toegedraai.

      “Dis ’n fris bulletjie,” sê dokter Jackson. “Tien vingers, tien tone, en soos jy kan hoor, is daar niks fout met sy longe nie.”

      Dit was feitlik ’n herhaling van haar eerste bevalling. Dus weer ’n seun. Weer ’n baba wat eintlik te groot was vir haar klein postuur. Sy het nou geen ander begeerte in die lewe as om in te sluimer nie; om haar te koester in Lood se bekommernis en die liefdevolle versorging van die nonne. Maar anders as wat met Dries die geval was, is klein Karel – na haar kant van die familie vernoem – ’n moeilike baba. Hy aard nie op die bors nie. Sy lyfie trek inmekaar van die krampe. Hy huil hom uitasem. Van pure uitputting dommel hy naderhand weg, maar hy kerm troosteloos in sy slaap.

      “Ek het nie gedink dis moontlik nie,” sê dokter Jackson. “Maar dit lyk my die kind is allergies vir moedersmelk.”

      Hulle probeer beesmelk, poeiermelk, blikkiesmelk. Hy drink gulsig, want hy is honger. Dan pak die koliek hom weer. Hy spoeg die bottel se tiet uit en vul sy doeke met ’n geel, onwelriekende skittery. Die nonne maak beurte om te help sus en troos en winde uitstryk, maar ook hul sereniteit word beproef. Die knaende gehuil dryf Lenie tot trane en knip Lood se hospitaalbesoeke kort. Hy vrees die tuiskoms.

      By die huis kan Lenie darem staat maak op die aardse raad van Ênie Malmok, wat glad nie skrik vir Karel se streke nie.

      “Sit die kind op donkiemelk,” sê Ênie.

      Lenie vind dit ’n aardige voorstel. Moet haar Kareltjie dan deur ’n donkiemerrie gevoed word? Wat sê dit van haar as moeder? Teen hierdie tyd is sy egter bereid om enigiets te probeer. Lood stem van harte saam. Die vraag is, waar kry ’n mens donkiemelk?

      Toevallig weet Ênie. Japie Tarentaal se een merrie is juis in die vul.

      Japie word ontbied. Die donkie het melk, ja. Dit sê nog nie veel nie. Om die donkie gemelk te kry, daar lê die moeilikheid.

      Lood onderhandel met hom ’n prys en benadruk dat daar haas is met die saak. Japie kom laatmiddag daar aan met ’n halfkoppie blouwit melk in ’n erde-emmertjie en ’n opgehewe wond aan die wang. Hy loop half kruppel. “Eers skop sy my omtrent vrek,” sê Japie. “Toe byt sy my.”

      “Al genade nou is bokmelk,” sê Ênie Malmok.

      Dit blyk ’n eenvoudiger probleem te wees om op te los. Lood is nie verniet die posmeester nie. In sy amp is hy ook verantwoordelik vir die distrik se telefoonstelsel en handsentrale. Die dames wat mekaar by die sentrale aflos, weet waarskynlik meer van die distrik se geheime en algemene doen en late as die polisie.

      Hulle spoor in Die Erwe ’n bokboer op wie se vrou die kans wil benut om ’n ekstra geldjie te verdien. Binne ’n paar dae staan daar ’n paar bottels bokmelk in die Fouries se groot ou Norge-yskas. Lenie onderneem self die pasteurisasie.

      Die bokmelk akkordeer met Karel. Die koliek, die winde, die skitterye verminder. Hy skreeu nie meer aanmekaar blou moord nie. Hy slaap steeds ongereeld, maar hy kerm minder in sy slaap. Hy begin selfs gewig aansit.

      Halleluja. Uiteindelik kan Lenie haarself ’n bietjie gesonde selfbejammering gun.

      In die jare wat kom, peins sy dikwels oor hierdie dwars kind van haar. Aan die een kant, vol liefde. Geen lewende dingetjie ontsnap sy aandag nie. Hoe ’n sjongolôlo met daardie honderde haarfyn pootjies geloop kry en hoe hy hom blitsig kan oprol by enige teken van gevaar. Hoe ’n ry klein swart miertjies korreltjie vir korreltjie suiker na hul nes toe aandra. Hoe ’n paar bruin torre op ’n somersaand geduldig in ’n vuurhoutjieboksie sal bly krts krts tot hulle vrygelaat word en weer koers kry na die naaste lig.

      Maar moet hom nie teëgaan nie. Hy het ’n humeurtjie wat skrik vir niks. Hy ruk sy lyfie, stamp met sy voete, gooi hom op die grond neer en skree soos van ouds. En moenie dink ’n paar rapse met die plathand sal sake verbeter nie. Hy is kapabel en huil hom letterlik uitasem. Tussen hom en Lood word dit soms ’n botsing van wil wat in ’n loesing eindig. Een aand, na so ’n episode, praat sy ernstig met haar man.

      “Moenie slaan nie, Lood. Dit sal nie help nie.”

      Hy raak ergerlik. “Moet die kind dan nou maar maak soos hy wil?”

      In sulke oomblikke help die Bybel haar. Salomo sê nie verniet in sy Spreuke