Naderhand waag hy dit om met die trappie af te klim tot op die grond, want by kleiner haltes is daar nie altyd ’n perron nie. Hy buk om die blinkgetrapte spore van naby te bekyk. Volgens sy skatting is hy darem ’n kop hoër as die wiele.
“Haai jy! Wat maak jy daar?”
Dries trap agteruit soos hy skrik. Amper haak sy voet vas. Dis ’n oom in ’n flenter-oorpak wat langs die trein aangestap kom. Sy stewels knars op die gruis. Onder sy pet wys wit kroesies om sy ore dat hy nie meer vandag se kind is nie.
“Niks nie, oom. Ek kyk net.”
Die man beduie met die hamer in sy hand.
“Jy moet oppas daar by die wiele, hoor jy my? Sê nou die trein gee ’n ruk, waar is jy dan?”
Hy haal nie die sigaret uit sy mond as hy praat nie. Hy draai net sy kop effens skeef en trek sy oë op skrefies. By elke wiel buk hy en gee hom ’n raps met die hamer. Hy luister elke keer aandagtig. Party wiele kry ’n tweede raps voor hy tevrede knik.
Dries is oor sy skrik. “Hoekom doen oom dit?”
“Dis mos my werk. Ek is ’n wielklopper.” Hy trap sy stompie dood en voel in sy sakke tot hy êrens nog een kry om aan te steek. Hy trek diep en blaas die rook in twee vaalblou stroompies by sy neusgate uit. “Van treine se wiele kan jy my niks vertel nie.”
Dries kan heeldag aanhou vrae vra.
“Wat luister oom?”
“Kom luister jý bietjie, duusmannetjie.” Hy tik die wiel en kyk vir Dries. “Hoe klink dié een vir jou?”
“Dit klink so … piengkk!”
“Klink dit mooi?”
“Nogal baie mooi.”
“Dis hoe ’n gesonde wiel moet klink. So ’n sing-klank. As hy dof klink, moet jy weet dis ’n wiel met ’n kraak. Al kan jou oog dit nie sien nie, is daar fout. Hoor jy my?”
“Ja, oom. En dan?”
“Ai, maar die duusklong het baie vrae. Wat is jou naam, duuskêreltjie?”
“My naam is Dries.”
“En my naam is Appie. Dis kort vir Apolis, al sê party mense Apools. En is jy alleen op die trein, Driesmannetjie?”
“Nee, oom, ek is saam met my ma en my pa.”
“Nou jy sien, dis hoekom ou Appie die wiele toets, dat duusmense soos julle veilig kan ry op die trein. Want sê nou maar ’n wiel breek? Dag of nag, maak nie saak nie. Dan is dit met permissie gesê ’n helske smesj.”
Dis woorde wat Dries in sy hart gebêre het.
Sy ma wou weet wat hy met die toebroodjies wil doen. “Jy kan tog nie nog honger wees nie, Dries?”
“Nee, Ma, dis vir oom Appie. Hy is ’n wielklopper.”
“’n Wielklopper?”
“Om te keer dat daar nie ’n helske smesj kom as ons slaap nie.”
2. Satan
Ficksburg, Clocolan, Thaba Nchu. Op Bloemfontein kon hulle in hul kompartement bly terwyl die wa van die een spoor na die ander gerangeer en herkoppel word. De Brug, Petrusburg. Op Kimberley moes hulle wag vir ’n trein wat met die hoofspoor oor De Aar op pad was Kaap toe. Spytfontein, Modderrivier, Graspan.
Op Belmont het hulle in die wagkamertjie sit en kyk hoe die son op die spore blink. Soms hou daar ’n trein stil, laai ’n paar mense op of af en vertrek weer. Dan is daar weer ’n trein wat net fluit en stadiger ry tot hy anderkant die halte weer begin spoed optel. In die doringbome saag die sonbesies eenstryk deur.
Uiteindelik was die trein na Koukonap op ’n oorkantste syspoor gereed – ’n lokomotief, ’n paar oop trokke, enkele dagwaens en ’n goederewa. Hulle moes met hul bagasie oor die treinbrug daarheen piekel. Daar het die kondukteur hulle ingewag, sy blou onderbaadjie gemaklik oopgeknoop om sy maag te behaag.
“Wag, laat ek help, laat ek help,” sê hy, sonder aanstaltes om die daad by die woord te voeg. “So, dis nou die Fourie-gesinnetjie? Ons nuwe posmeester, nie waar nie? En sy vroutjie en seuntjie? Nou maar welkom, welkom in ons geweste!”
Hy sê hy is Du Plessis – “maar noem my sommer Doepie” – en skud plegtig met almal hand, Dries inkluis.
“Hoe ver is dit nog na Koukonap, meneer Du Plessis?” wil Lenie weet.
“Doepie, mevroutjie, noem my Doepie. Nie te ver nie, so ’n paar uurtjies en ons is daar. So bietjie aandoen by Salt Lake, so bietjie water tap by Broadwaters, dan draf ons ou treintjie deur tot daar.”
Hy haal sy pet af en vee met sy sakdoek die sweet van sy voorkop af. “Nogal ’n aardige ou hittetjie vandag, of hoe?”
Dis Doepie wat sorg dat die laaste skof na hul bestemming darem een aangename verrassing oplewer. Die uitsig op die Vaalrivier by die Broadwaters-halte het die lafenis van ’n oase in die woestyn gesuggereer. En toe die trein weer sy loop kry, kom hy hulle roep. Hulle moet bietjie saam met hom na die goederewa.
“Daar is vir julle ’n serpraaisie.”
Hy lyk so angstig en opreg dat Lood skietgee.
Tussen die kiste, kratte en kanne swaai Doepie soos ’n towenaar ’n klam goiingsak af van ’n groot, koel waatlemoen. Die liggroen skil het donker sigsag-strepe oor sy volle lengte. “Dis wat ons noem ’n rattlesnake.” Met sy knipmes sny hy die waatlemoen in lang skywe. Daarna snitte uit die ryk, donkerrooi kroon.
“Probeer eers die skywe,” beveel hy aan. “Die kroon is die poeding. Toe, kry vir julle. Proe maar self. Hierlangs het ons die soetste waatlemoene in die hele wêreld. Of wat sê jy, boetatjie?”
Dries kan net knik terwyl hy ’n skyf van ’n kant af deur sy mond werk. Hy kou dat die sap teen sy ken afloop. Hy volg oom Doepie se voorbeeld en spoeg die swart pitte met ’n boog by die goederewa se oop skuifdeur uit. Die kroon is ferm, maar fyn, sappig en soet. Dit het ’n geur en ’n smaak wat jou lus maak vir nog. Dis ’n fees sonder keer, buiten die grootte van jou maag.
Die grootmense het klaar geëet en staan en gesels. Die meneer en mevrou het Lood en Lenie geword. Dries nader die einde van sy kapasiteit. Hy eet al stadiger en luister met ’n halwe oor.
“Toe maar, moenie te gou skrik nie. Julle sal gewoond raak aan Koukonap,” hoor hy oom Doepie sê. “Dis mos een van daardie plekke waarvan hulle sê dat dit jou twee keer laat huil. Die eerste keer as jy daar aankom. Die tweede keer as jy daar moet weggaan.”
Lood sê niks. Lenie vra: “Wat dink jý daarvan, Doepie?”
“Ek sal nie weet nie,” sê Doepie. “Ek is daar gebore en ek bly nog daar.”
Die stasie is die eindpunt van die takspoor van Belmont af. Ten spyte van Doepie se paaiwoorde, is die eerste blik op hierdie poort tot hul nuwe tuiste nie bemoedigend nie. Langs die spoor ’n rytjie vierkantige rooibaksteenhuise. Vaalblou gruis op die perron en ’n paar stowwerige aalwyne by die naambord. ’n Stasiegeboutjie van dieselfde rooi baksteen. Peperbome, ’n sinkskuur en ’n veekraal.
Dis laatmiddag. Oom Joep Carstens, die stasiemeester, is al huis toe, anders het hy seker uit sy kantoor gekom om die vreemdelinge te verwelkom. Hy sou beduie het hoe die dorpie teen die bult af lê, waar die rivier verbyloop en dat die blou lint op die horison die Ghaapse plato is. “Die mense sê sommer Ghaap se Berg.”
Of dit veel sou gedoen het om die toneel vir die moeë reisigers aantrekliker te maak, is dalk te betwyfel. Volgens oorlewering het Lood gesê: “Lyk my maar na ’n ou kak plekkie.”
Dis ook deel van die familiesage dat Mank Manie Wolmarans die gesin in sy swart Oldsmobile na hul huurhuis geneem en dat Lenie langs die pad gesê het: “Nee, Lood, ek huil nie.” Sy het ook nie gehuil oor die verwaarloosde huisie met die badkamer op die stoep