Koukonap. Johann Botha. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johann Botha
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780795801280
Скачать книгу

      Lood het perdebyneste op die stoep met ’n fakkel van koerantpapier bygedam en by die badkamer ’n geelslang se kop met ’n gholfstok verpletter. Dries onthou die reuk van papier wat brand, die verskroeide perdebye op die sementvloer en sy pa wat sê: “Hierdie goedjies is venynig. ’n Perdeby kan jou sommer ’n hele paar steke agtermekaar gee. Dit brand soos vuur.”

      Toe moes Lood eers die verskil tussen ’n heuningby en ’n perdeby verduidelik.

      Die slang het Lenie in die badkamer verras. Sy was besig by die wasbak toe ’n beweging die hoek van haar oog vang. Sy versteen instinktief. Die reptiel, wat hom dalk in die hitte van die dag in die koelte onder die bad tuisgemaak het, ontvou sy kronkels en kom skynbaar reg op haar afgeseil. Toe Lenie retireer, lig hy sy voorlyf en trek dreigend bakkop. Teen daardie tyd staan sy met ’n gil na haar wederhelfte op die stoep.

      Lood, wat nie graag die wasbak wil tref nie, por die slang versigtig met die gholfstok na die oop deur toe aan. Met ’n vloeiende golfbeweging seil hy uit op die stoep en af met die trap.

      “Arme ding. Sal ons hom nie maar laat gaan nie?” vra Lenie.

      “So ’n satan op die erf,” sê Lood. “Kan dit nie waag nie.” Sy eerste swaai tref nie skoon nie, maar rig skade aan.

      “Ek wil liewer nie kyk nie,” sê Lenie. Sy bly egter staan. Dries kyk ook met gemengde gevoelens. Hy is aan sy pa se kant en kry tog die slang jammer wat nou dringend probeer wegkom. Waar hy voorgekeer word, mik hy met ’n oop bek en flitsende tongetjie. Dalk breek een van Lood se houe sy rug, want hy krul en spartel vergeefs om sy vyand by te kom. ’n Hou tref hom vol teen die kop. Lood slaan tot daar nie meer lewe in die lyf is nie, net die laaste rilling van die dood.

      Dis aardig om die dierasie so weerloos te sien lê. Nou kan jy maar aan hom vat, hy kan niks doen nie. Hy is langer as Dries en dikker as sy arm. Sy skubbe pas naatloos oormekaar, mooi donker geelbruin aan die rugkant en ligter geel aan die penskant. Donker bloed aan die stukkend gekapte kop. Lood forseer die bek oop met ’n stok. Hulle kyk met respek na die giftande.

      “Verbeel jou, as hy jou pik,” sê Lood. “Ek dink nie jy het ’n kans nie.”

      “Hy het dalk ’n maat,” sê Lenie. Sy ril by die gedagte. “Wat hom kom soek.”

      “Dis bygeloof,” sê Lood. “Maar lyk my ons is hier in slangwêreld.”

      “So ’n pragtige ding,” sê Lenie.

      Op die potjie sit, wou Dries nie meer doen nie. Nie ’n ervare treinreisiger soos hy nie. Nadat die houtbank ontsmet en ’n dipmengsel in die emmer onder die sitplek gegooi is, is hy toegelaat om die kleinhuisie onder die groot peperboom te gebruik. Op die oog af het dit vir hom ’n gesellige plekkie daar eenkant gelyk. Daar was ’n paar ou tydskrifte op die bank langs die sitplek waardeur mens kon blaai en ’n pakkie vierkantig geskeurde velletjies koerantpapier op ’n spyker gepen.

      Die gedagte aan daardie donker emmer doer onder hom het Dries tog aardig laat voel. Is dit ’n by of ’n brommer wat in die ruimte êrens onder sy sitvlak zoem? Watse onheil sou nog daar skuil? Kakkerlakke? Dalk ’n spinnekop? Hy het sy broek liewer nie tot op sy enkels laat sak nie, net tot op sy knieë, reg vir opspring.

      Na ’n ruk het hy darem tuis geraak en sy bydrae gelewer, maar afgesien van die gebruik om agterna inspeksie te hou.

      In daardie tyd het die Terblanche’e van Marquard een aand by die Fouries oornag. Op pad terug van vakansie in die Kaap het hulle spesiaal die draai gery om te sien hoe dit met hul ou vriende gaan. Op Koukonap, van alle plekke in die wye wêreld.

      Wat Dries van dié kuiertjie bybly, is Lottie wat wil piepie. Hy wys haar die kleinhuisie, maar sy sien nie kans nie.

      “Jig. Dit stink.”

      “Jy gooi net bietjie dip af in die emmer daar onder.” Hy demonstreer.

      “Dis te hoog.”

      “Ek sal jou help.”

      “Nee, ek is bang.”

      Hulle piepie in die sand onder die peperboom. Dries eerste. Hy lig sy broekspyp op, staan lekker wydsbeen en laat waai. Skuimpies dryf op die dammetjie wat stadig wegsink in die sand. Lottie lyk beïndruk.

      “Wys bietjie? Is dit jou piepiedingetjie?”

      “Dis my peesterman.”

      “Haai foei tog, hy is so oulik.”

      “Hoe lyk joune?”

      Sy het haar rokkie op- en haar broekie afgetrek om te sit en piepie. Dit vorm self ’n bevredigende nat kol. Dries meen egter hy mis iets.

      “Het jy nie ’n mannetjie nie?”

      “Ek is dan ’n meisie.”

      “Ek weet dit, dommie. Jy dra mos ’n rok.”

      “Nou ja?”

      “Nou ja wat?”

      “’n Meisie het ’n koekie.” Sy trek weer haar broekie af om te wys.

      “O.”

      Toe Liesbet Terblanche taktvol verneem hoekom Lottie rondstap met ’n krom pepertakkie wat by haar broekie uithang, antwoord sy saaklik.

      “Ons speel mos ons is boeties.”

      Lenie Fourie wil iets sê, maar Markus Terblanche keer.

      “Toe nou, Leentjie. Dis kinders.”

      3. Kruiwa

      Sommige dinge was blykbaar maar net op ’n dag dáár. Gemmer byvoorbeeld, ’n uitgevrete mannetjieskat wat bedags op Dries se bed geslaap en snags met geesdrif die buurt ingevaar het. Daarvan het hees krete in die nanag en littekens aan sy snoet en ore getuig.

      “Hy het seker weer baklei,” sê Dries.

      “Inderdaad,” sê sy pa.

      Waar sou Dapper die brak vandaan gekom het? Miskien ’n skutbrak oor wie Lenie haar ontferm het? Nie onmoontlik dat Ênie Malmok hom van die lokasie af gebring het nie. Uit die liefde van haar hart, want hoe nou anders, ’n seunskind moet mos ’n hond en ’n hond moet ’n baas hê.

      Lood wou sy voet neersit, maar swig vredesonthalwe voor die pleidooie van sy eersgeborene en sy wederhelfte. Die noemnaam was sy skeptiese taksering van dié baster-rifrug met sy vogtige spanjoel-oë. “Al knyp hy ’n vyfpondnoot onder sy stert vas, is hy nog bokkerol werd.”

      Maar die liefde vanself. Dries onthou hoe hy op sy rug met sy kop teen Dapper se pens lê en kyk het hoe wit stapelwolke stadig in die blou lug oor die huis se dak verbyskuif en agter die peperboom verdwyn.

      Ook Ênie Malmok was ’n vanselfsprekende teenwoordigheid in die huishouding. Sy was van die Griekwa-geslag wat sterk op die Boesman-kant van hul voorsate trek. Die vriendelike elfiegesig het Dries bygebly, die ligte geelbruin vel, die neutbruin ogies wat die wêreld deur skrefies bo hoë wangbene betrag, die klein skulp-oortjies plat teen die kop, die gul agterstewe.

      Kleintyd openbaar die werklikheid hom aan jou met klaarblyklike onmiddellikheid. Dinge is eenvoudig soos dit is, daar is niks anders nie. Eers later, soms baie later, volg vertolkings, afleidings en vrae – en dalk begrip. Soos die besef dat Lenie se huishulp ook weg van die Fouries bestaan het, ’n ma was met kinders van haar eie en ’n eie lewe in die lokasie oorkant die rivier.

      Vir Dries was sy soms ’n maat, soms ’n ousus, soms ’n beskermengel, amper ’n tweede ma. Hy was al te groot, anders sou sy seker die voorreg gehad het om sy doek om te ruil en sy vuil boude af te vee. Dat sy dit later vir Karel en Theunie gedoen het, spreek vanself.

      Dries onthou wel hoe sy uitgelate streke in die bad haar soms natgespat en uitbundig aan die lag gehad het; hoe sy hom toegevou het in die handdoek en warm afgedroog het; hoe hy skuins voor bedtyd skoongeskrop in sy gestreepte pajamas aan Lood en Lenie gelewer is vir inspeksie.

      Oor naweke het