Koukonap. Johann Botha. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johann Botha
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780795801280
Скачать книгу
wat vir Dries gesê het: “Ek sien jou ma stoot kruiwa.”

      Die gedagte is vir Dries so vreemd hy word sommer kwaad.

      “Issie, vir wat sal sy dit doen.”

      “Nee man, dit lyk of sy dra.”

      Dries voel aan daar skuil iets agter Japie se woorde. Wat sal sy ma nou eintlik dra?

      “Hoe meen jy?”

      “Nee man, sommer niks. Maar dis mos ’n laksman daar in die boom? Kyk net hoe sit hy en fluit. Ons moes nou ketties gehad het. Eendag op ’n reëndag maak ek nog vir jou ’n kettie. Wat dink jy daarvan?”

      Die kruiwa bly spook by Dries. Met wie kan hy daaroor praat? Sy pa is te eenkant. Jy praat nie sommer met hom oor goed nie. Hy sal miskien nie omgee nie, maar jy doen dit nie. Dries weet ook sommer sy pa sal nie daarvan hou dat Japie oor sy ma praat nie. En ’n mens klik nie.

      Sy ma self? Die gedagte laat Dries ongemaklik voel.

      “Jy gaan ’n klein boetie of ’n sussie kry,” sê Ênie. As hy verder vra, sê sy net: “Loop vra jou ma.”

      Dries doen dit tog.

      Lenie vertel van Liewe Jesus se liefde vir kindertjies en die ooievaars in Holland. Die prentjie wat Dries daarvan kry, is ’n soort sprinkaanvoël-Vader Krismis. Die vraag is, hoe kom die baba deur die skoorsteen? En wat het dit met die kruiwa te doen?

      Lood sê op ’n dag: “Een van die dae sal ek mamma hospitaal toe vat om vir jou boetie te gaan haal. Sal jy bly wees?”

      Dries is nie so seker nie. Wat hom betref, gaan dinge soos dit nou gaan goed genoeg.

      “Of ’n sussie, natuurlik,” sê Lood.

      Soos Lottie seker, sonder ’n peestermannetjie.

      Dit was toe sy ma Karel verwag het. Teen die tyd dat sy Theunie gedra het, het Dries besluit hy weet hoekom sy stadig loop en van rugpyn kla. Dis omdat daar weer ’n babatjie in haar maag is. Hoe hy daar ingekom het en hoe hy weer daar moes uitkom, was ’n ander saak. ’n Paar keer was hy op die punt om Japie te vra, maar kom nie sover nie.

      Op ’n dag sien hy Dapper en die bure se grys steekbaard-teef aan mekaar vassit. Dapper agter die teef met sy pote om haar blaaie. Elke nou en dan probeer hy loskom. Hy kyk half benoud om na Dries.

      “Ag nee, sies Dapper, wat maak jy?” sê Dries.

      Dit lyk kompleet of Dapper skaam kry. Dries staan nader, maar Japie keer hom.

      “Los hulle,” sê Japie. “Hy sit saad in haar maag.”

      “Hoekom?”

      “Jy weet ook maar fokkol,” sê Japie.

      Dries dink lank daaroor na. Hy kry ’n nare spesmaas. Dis tog nie iets wat sy pa en ma met mekaar sal doen nie, of is dit? Nee, jig. Dan het hulle dit seker ook al meer as een keer gedoen.

      4. Grootvoor

      Koukonap word in twee gedeel deur die Grootvoor, ’n besproeiingskanaal wat ’n paar myl stroom-op by ’n damwal uit die Vaalrivier gekeer word om die plotte en plasies laer af tot by die Oranjerivier te bedien. Een van die onderdorp se leivore het op hul huurhuis se grens en verder af by die Enslins verbygeloop.

      Dit kon nie anders as dat Dries en Tobie Enslin mekaar daar raakloop nie. Wanneer dit leibeurt in hul straat is, raak dit net te veel van ’n heerlikheid om te weerstaan. Die gekabbel van vaalgroen water in die voor af, die tuinhulpe met hul grawe, die oop- en toemaak van sluise, lok die twee seuntjies soos ’n magneet. Kort voor lank lei hul ongewenste hulp met die leiery tot ’n geploeter in die modder en daarna ’n geplas in die leivoor.

      Bootresies begin met stokkies en plankies. Op ’n leidag bring Dries ’n leë politoerblik daar aan. Die gedagte is om dit as twee bote te water te laat – die blik en sy deksel. Tobie se bydrae is ’n sakkie vol loodsoldaatjies, oorblyfsels van ’n Kersgeskenk. Die soldaatjies – nou matrose – kry nie mooi hul staan in die bootjies nie. Hulle neig om om te val en in die water te beland. Al genade is om hulle op hul rûe te laat lê, die bene wyd gestrek en die gewere blindelings in die lug gemik.

      Die seuns speel ál lekkerder saam. Hulle daag mekaar uit en por mekaar aan. So sink albei bootjies onder ’n bombardement van kluite. Om die matrose te red, plons hulle weer pens en pootjies in die water.

      Dit word ’n uitbundige gestoei wat eindig toe Tobie sy kop teen ’n sluis se stutmuurtjie stamp. Die sny bloei indrukwekkend. Die twee seuns skrik ewe erg. Albei verkas haastig na hul onderskeie huise.

      Hendrik Enslin is een van die dorp se twee prokureurs. Hy wil by sy seun weet waar, hoe en hoekom hy omgestamp is. By sy vrou verneem hy wat die wond se aard en prognose is.

      “Watse tipe is hierdie Fouries in elk geval?”

      “Lyk na ordentlike mense,” sê Martie Enslin. “Ek het die vroutjie ontmoet. Dis regtig nie ’n hofsaak nie, Hendrik. Enige sny aan die kop bloei mos maar.”

      “Die klein watsenaam klink my tog na ’n boelie.”

      “Ons het maar net gespeel,” sê Tobie. Die seerplek bloei nie meer nie en hy sal graag in die spieël wil sien hoe hy met die wit lap om sy kop lyk.

      “Dis seuns, Hendrik,” sê Martie.

      By die Fouries is daar aanvanklik geen bespreking van die saak nie, omdat Dries dit verstandig ag om stil te bly. Sê niks, dan is daar niks.

      Hendrik Enslin besluit egter om tog maar die voorvalletjie in humoristiese trant onder Lood se aandag te bring. Hy bel tydens kantoorure.

      Lood luister en sê: “Nou ja, dankie vir die oproep, meneer Enslin.”

      “Die naam is Hendrik.”

      “Nou ja, aangename kennis.” Hy sit die foon neer en sê: “Poephol.” Sag genoeg dat niemand hom hoor nie. Tuis wil hy by Dries weet wat gebeur het. Hy besef waarskynlik self nie hoe streng hy tydens die ondervraging lyk nie.

      “Hoekom het jy ons niks vertel nie?”

      “Ons het net gespeel, Pa.”

      “Maar hoe het hy dan sy kop gestamp?”

      “Hy het mos eerste my bootjie laat sink.”

      “Ag so. En toe?”

      “Toe stamp ek hom in.”

      “Ja, en toe?”

      “Toe trek hy my ook in en toe stoei ons.”

      “Nou ja toe. In die vervolg vertel jy mens as so iets gebeur.”

      “Ja, Pa.”

      Lood sê aan Lenie: “Dis maar net seuns.” Heimlik hou hy daarvan dat Dries hom nie laat boelie nie.

      Lenie sê: “Ek sal tog maar vir Martie Enslin bel.”

      Die seuns se verkenningstogte het wyer gestrek nadat Vader Krismis by beide huise driewiele afgelewer het. Partykeer het Ênie Malmok haar oudste spruit, Jason, saamgebring werk toe. Dan het hulle ’n driemanskap gevorm. Jason se bydrae het meestal beteken hy moet opdraand help stoot. Afdraand kon hy agterop staan met sy hande op hul skouers.

      Jason het nooit gevra om self te ry nie. Dries kon tog agterkom hy brand om ook ’n driewiel te hê. Dan sê hy: “Oraait, ry jy nou maar ’n draai. Moet net nie die ding verniel nie.”

      Hy staan en kyk hoe Jason en Tobie mekaar uitdaag. Op kort afstande was Tobie te vinnig, maar as dit by uithou kom, kon Jason hulle albei laat les opsê.

      “Jis, hy is taai,” sê Tobie. “Seker van die draf daar van Breipaal af dorp toe en terug.”

      “Watse ding is dit? Breipaal?”

      “Die lokasie. Daar oorkant die rivier waar al die hotnots bly.”

      Dries weet darem al wat hotnots is. Is Jason dan