Dat ek sal gaan as U my stuur.
Dat ek na húlle sal gaan na wie U my stuur.
Gehoorsaamheid is my dankie?
Hére!
Lees Psalm 40:10-11 | 9 Maart
My storie
Here, U weet mos ek is nie juis ’n prater nie.
Ek klap sommer toe as iemand my skielik ’n vraag vra.
En geeneen moet tog my onmiddellike mening soek
én ’n sinvolle reaksie verwag nie. Ek kon nog nooit
’n behoorlike toespraak maak nie.
Ek kan nie eens ’n grap vertel nie, omdat ek dikwels
die trefreël vergeet – pure senuwees. Verhoogvrees.
As hiérdie mens-met-min-woorde dus in die gemeente
opstaan en vrymoedig vertel: “Die Here het my verlos!”
dan moet U weet hoe diep die dankbaarheid lê.
Ek hét hulle vertel, ja. En ek het geen vrome doekies
omgedraai nie – almal ken in elk geval reeds die storie.
Van die diep put waarin ek was, en hoe ek deur die genade
daar uitgekom het. Ek het hulle ingelig oor presies hoe diep
daardie gat was. En hoe ek daar uitgehaal is, en deur wié.
Daar was mense wat trane weggevee het
– ek was self nie juis dapper nie –
en daar was diegene wat my uitdrukkingloos aangehoor het.
Daar was dalk dié wat effens verleë was
oor my openlikheid – hulle ken my immers nie só nie.
Ek ken myself ook nie so nie, Here.
Ek praat mos nie.
My storie is nét myne.
Só was dit …
Maar U het my ’n nuwe lewe gegee
dié dag toe U my daar uitgetrek het.
Soos by ’n nuwe geboorte –
noudat ek weer daaroor dink.
Ek het ’n splinternuwe hart ontvang.
En waar hierdie hart van vol is,
loop die mond nou van oor.
Lees Psalm 40:12-18 | 10 Maart
Maak gou, Here!
Here, U weet hoe kwesbaar ’n mens is
wat so pas ’n triomf beleef
én daaroor hoog opgegee het.
Dit is asof boosheid juis dán ’n swak plek sien …
en sy slagtande inslaan en nie weer laat los nie.
Dit is dán dat jy onder ’n besembos
gaan lê en wens om dood te gaan.
En hier sit ek nou.
Nee, U sien hoe ek in die skemerte lê –
weer platgeslaan.
Slagoffer van wat tog één keer goed afgeloop het!
Daar is mos mense wat nie vrede het met ander
se nuwe vrede nie. Wat daarvan werk maak
om almal na hulle vlak toe af te trek.
En hulle kry dit reg, Here, hulle kry dit só maklik reg.
Want terwyl ek hier lê, smee ek wraakplanne.
Beplan ek haarfyn hoe ek hulle gaan terugbetaal
vir alles wat hulle aan my gedoen het. Roep ek
U in as medewerker om my op hulle te wreek.
U sien, Here, ek het soos hulle geword.
Hulle het dit toe reggekry …
Neem my gedagtes weg van hulle!
Rig my denke op U. Maak my rustig.
Troos my met die waarheid dat U in beheer is.
Dat U alles weet, dat U ook alles van hulle af weet.
Rus my toe met nuwe voornemens,
vul my kop en my lyf met positiewe planne.
En gee my nuwe krag –
ek kan tog nie so bly lê nie.
Voed my so gou moontlik
met die brood van die lewe,
dat ek dadelik hier kan opstaan.
Lees Psalm 41 | 11 Maart
Mak mense …
Here, hoe bitter is dit om te beleef hoe jy in die rug
gesteek word. Hoe juis hulle wat jou moet beskerm,
jou verraai. Dit maak seerder as seer …
“Verraai” is na sommiges se oordeel seker ’n oordrywing
as jy “spot” bedoel – “straatpraatjies”, “fluisterstories” –
dié soort geskinder wat nie vir jou,
die onderwerp daarvan, se ore bedoel is nie.
Of is dit? Wil hulle, die praatjiesmakers,
nie dalk heimlik hê dat jy dit hoor nie,
dat jy presies weet wat hulle van jou dink nie?
Hoe dink U, Here?
Dit is dalk waarom dié soort stories altyd hulle weg
na jou toe vind. Sonder uitsondering daag iemand op
om jou “vertroulik” te kom inlig. Meewarig skud
die fluisteraar die kop en sê suutjies: “Mense, darem …”
Mák mense! wil jy dit dan uitskreeu.
Mense wat die waarheid weet, wat van beter behoort te weet.
Mense wat dikwels by jou kuier, wat hul hande in dieselfde
skottel as jy steek. “My vriende” noem jy hulle –
wanneer hulle binne hoorafstand is én wanneer hulle ver is.
En wat sê hulle oor jou?
Hulle sê: Klaarpraat. Kwessie van tyd.
Hulle sê: Tráp op hom!
O, en watter speletjie speel jý? wil jy
hom-wat-die-nuus-dra vra. Maar jy swyg – te bang
om nóg ’n vriend te verloor. Vriende is juis so skaars.
Ek het op die ou end net vir U.
Hou my regop, Here.
Hou my kop in u hande,
sodat ek sonder skroom die wêreld en sy maat,
en vir U, in die oë kan kyk.
Lees Psalm 42:1-6 | 12 Maart
Ek mis U
Ek hou my kop omhoog, Here.
Net U weet van die trane,
die teleurstelling, die desperaatheid.
Die verlange.
Verlange, ja, want ek mis … U.