die nasies in die land. En húlle het gebewe
voor die ontsagwekkende God wat hulle sou verdryf.
Dan het die volk triomfantelik beheer oorgeneem
en mekaar gereeld hieraan herinner:
Omdat God vír ons is, wié kan teen ons wees?
Ons mense se wêreld was groot
en hul bates flink aan ’t toeneem.
En daar was altyd die strewe na nóg.
Hul harde werk is vanselfsprekend
beloon, en hulle het mekaar vertrou.
Die een het die ander altyd alles
van die beste toegewens, en – só word vertel –
elke greintjie voorspoed en geluk gegun.
Dit was die goeie ou dae – só is ons vertel.
Wat het nou daarvan geword, Here?
Lees Psalm 44:10-27 | 16 Maart
Dít is wat gebeur het!
Here, die “goeie ou dae” was klaarblyklik bloot ’n mite.
Ons oumense met hul oumensgeheue
– “gister” is immer met goud getint –
het ons ’n nostalgiese rat voor die oë gedraai.
Hul teruggryp na die verlede was toe
veel eerder ’n bitter reaksie op die hede
en ’n magtelose verwoording van hul vrese.
Dit is dalk hoekom hulle dink
dat U deesdae stil geword het.
Dat ook Ú die ou dae vergeet het.
Dat “God” en “goed” gelyktydig geabdikeer het.
Ons weet mos van beter …
Of hoe, Here?
Weet ons dan nie teen dié tyd
dat daar in U geen duisternis is nie?
Dat U nooit u handewerk prysgee nie?
Dat U nooit u kinders uitlewer nie –
ook nie aan hulleself
en hul nostalgie nie?
Dan weet ons mos dat ons nie verregaande fantasieë
aan U kan toeskryf nie. En dus die vernietiging
van ons romantiese idees oor hoe spesiaal ons
in u oë is, aan U mag toedig nie. Ons mag U nie
van verraad verdink nie. Veral nie wanneer ons
diep in ons hart weet dat ons die vernedering
en verguising maar oor onsself gebring het …
en dat ontkenning nooit dié feit sal omkeer nie.
Daarom, Here, maak ons wakker!
Laat ons opstaan, hand in eie boesem steek,
ons asem terugkry, en besef wat ons voor U is.
Maak ons dan vry van onsself,
en laat ons U loof vir wie U is.
Lees Psalm 45 | 17 Maart
Vir hulle wat regeer
In eerbied buig ek voor U –
Koning van die konings!
Waarlik, daar is niemand soos U nie.
U die Opperheer, die hemelse gesag.
Alle gesag op aarde word deur U
verleen; alle maghebbers is in u diens.
Juis daarom bid ek vir hulle, Here – hierdie konings,
presidente en ministers – omdat dit vreesaanjaend is
om aan U te moet verantwoording doen oor alles
wat U aan hulle toevertrou het. Juis wanneer hulle
goed weet dat hulle dit geminag of misbruik het.
Ek bid dat U hulle sal seën:
Dat U hulle ’n goeie boodskap in die mond sal lê,
sodat al die land se mense kan moed skep
uit hul woorde, en ’n rustige en stil lewe kan hê.
Dat U hulle ’n skerp swaard in die hand sal gee
om die vyand af te weer en die boosdoeners te straf.
Dat U hulle sal toerus om met oortuiging te baklei
vir geregtigheid, sodat die waarheid sal seëvier,
ook ten behoewe van die armes en die hulpeloses.
Ek bid ook, Here, vir hul onderskeie gesinne.
Dit is nie maklik om bekendes se lewensmaat
of kind te wees nie. Hulle is gedurig in die kollig
– of hulle nou wil of nie – en mense het baie te sê …
O ek bid, Here, dat U ons getrou sal hou
in ons voorbidding vir hulle wat heers.
U weet dat ons nie altyd met hulle saamstem nie
en dat hul doen en late ons dikwels ontstel.
Maar wanneer ons, u kinders, voor u troon
buig, dan aanvaar ons u opdrag om sonder
ophou vir hulle op die wêreld se trone te bid.
Ten spyte van alles.
Lees Psalm 46:1-4 | 18 Maart
’n Vaste burg is onse God!
O allerhoogste Here, Heerser oor ál wat leef –
groot is u Naam oor die ganse aarde,
verhewe u teenwoordigheid in u skepping!
Ons kom in eenvoud
voor U staan, ons buig
laag voor U.
Hoor ons as ons sing, u Naam ter ere:
By U skuil ons!
By U huil ons!
Ú is ons Here!
Dit is vir ons ’n vreugde dat ons nie hoef
te bulder of te skreeu wanneer ons U eer nie.
U is hiér, hier by ons.
U hoor ons loflied én ons sug.
Ons hoef U nie op te soek nie,
want U gaan nooit weg nie.
Ons hoef U nie te gaan opklop nie,
want U is altyd naby. Teenaan ons.
Daarom is dit ons allertroos, Here,
dat ons by U kan gaan wegkruip.
Dat U ons vrese ondervang
met u buitengewone begrip.
Want U weet alles van storms
en aardbewings, van die enorme
verskuiwings in ons klein wêreld.
En U ken eerstehands die onstuimighede in my lewe –
al die kere dat dit gevoel het asof die berge op my val
en die heuwels my bedek. Wanneer ek daarvan oortuig
was dat die aarde enige oomblik onder my