Maar dit deug nie vir my nie. Nie meer nie.
Soms is ek daarvan oortuig dat ek
meer geduld gehad het toe ek ’n kind was.
Toe alles “nóú!” moes gebeur.
Wat het dan skeefgeloop, Here?
Dit vra ek my gereeld af.
Is dit al die jare se vergeefse wag?
Ontnugtering? Verydeling?
En verbeel ek my of het die onderskeid
tussen “goddeloses” en “regverdiges” intussen vervaag?
Dat dit nou blyk dat goddeloses nie só goddeloos is nie
en regverdiges nie alte regverdig nie? Ek weet nie.
Ek weet net dat ek nie meer al dié sekerhede so maklik snap nie.
Nou vra ek U, Here: Klaar dit asseblief vir my op.
Trek vir my die streep tussen werklik waar en waarlik vals.
Wys my die verskil tussen opregte skynheiligheid
en gewaande geloof. Verseker my dat U tóg in beheer is,
dat U vir die goddeloses lag omdat hul dag aan ’t kom is.
Ag, Here, en vergewe my ook my onvolwasse ongeduld,
hierdie kinderagtige vrypostigheid. Vergewe my
die oneindige stroom “ek” in hierdie gebed.
Maar hoor my nietemin as ek sê
ek begeer van U om nié stap vir stap te sien nie,
maar ver, o Heer …
Lees Psalm 37:23-33 | 3 Maart
Dít weet ek
Here, ek leer so baie.
Elke dag ontvang ek ’n nuwe les.
Dankie daarvoor!
Toe ek jonk was, was ek so buitengewoon slim.
So ingelig oor alles. So seker van my saak
en élke ander saak. Nou, jare later, weet ek
eintlik net één ding: Hoe klein ek is, en hoe min ek weet.
Ek het intussen wel geleer dat U sorg,
dat U ver bo verwagting voorsien.
Ek het geleer hoe afhanklik ek van U is –
nie net vir eet en drink en onderdak nie,
maar veral vir die rykdom van my gees.
Dat dit U is wat insig gee.
En deernis, en integriteit, en ’n toekomsvisie.
Dit is alles dinge wat ek nooit gehad het nie –
al het ek in my vroeëre, “slim” jare
my mond vrymoedig daaroor uitgespoel.
En nou, dag na dag, leer U my dit.
Laat U my daarin groei.
Nou weet ek ten minste dat, ten spyte van die vele kere
wat ek sleg gestruikel het, U my nooit uit u hand laat val het nie.
Dat U hou wat U het. Ek weet dat die oorvloed wat ek nog altyd
geken het, nie selfvoldaan aan “harde werk” en “my welverdiende
loon” toegeskryf kan word nie, maar dat alles ’n gawe uit u hand is.
En dat U my leer om nié te hou wat ek het nie,
maar om uit dié oorvloed te leef –
en daarvan uit te deel,
vir ander om te lewe.
En ek weet dat U my elke dag seën
met kanse om met my woorde
en my dade
’n verskil te maak.
Lees Psalm 37:34-40 | 4 Maart
Van altyd af, en vír altyd
Here, die nuwe tyd het soveel nuwe woorde gebring –
en die meeste daarvan, as ek eerlik moet wees,
irriteer my. Sommige nogal erg.
Daar is wel één wat my help om iets oor U te sê.
Oor hoe U is.
Ons kan mos net in mensetaal oor U praat –
en U moet my dié alte menslike woord vergewe:
“volhoubaar”.
Dit sê, in hierdie stadium en hoe ek dit nou verstaan,
darem iéts van U. Ek sien dit oral rondom my,
en ek sien dit reeds my lewe lank: Hoe U
die kom-en-gaan in hierdie wêreld dophou,
hoe U ingryp. Hoe U dit nie oor u hart kry om toe te sien
hoe u kinders swaarkry nie. Hoe U ’n plan maak.
Hoe daar ’n einde gebring word aan bose mense –
dikwels gouer as wat hul slagoffers sou vermoed.
Hoe dié wat boosheid bedink hoogstens tydelik die botoon voer.
Soms is hul val gróót, met ’n helse gedruis.
En dikwels ongemerk en sonder ophef, soos dit sekerlik hoort.
En sonder voorbehoud is U die durende Voorsienigheid,
die Trooster wat by sy treurende kinders vertoef. Altyd,
áltyd die Here van die noodlydende, die arme en die verontregte.
En U was dit nog altyd,
van dag een af (weer die mensetaal, askies!).
As ek U op u woord moet glo,
sal U dit vir altyd wees, vir die geslagte
wat kom – totdat die mens se dae getel is.
U begryp hoekom “volhoubaar” my deesdae help?
Want al glimlag U vir ons gladde taal,
die clichés, die eeue oue jargon,
ons modewoorde, ken U “eerbied” as U dit sien.
En “verwondering”.
En “dankbaarheid”.
Lees Psalm 38 | 5 Maart
Met my laaste asem
U het my heeltemal verrinneweer, Here,
kyk net hoe lyk ek! Hou asseblief nou op;
ek kan nie meer nie.
Ek weet U is kwaad vir my en ek weet U het genoeg rede
daarvoor en ek sal dit nooit probeer vergoeilik nie …
Maar wil U my nie weer, ja, hierdie keer ook,
tog genadig wees nie? My skuld voor U vreet my op.
Ek slaap nie meer nie, ek word rondgejaag
deur my gewete en selfverwyt. Ek sien nie meer
wat rondom my aangaan nie en dié wat nog
met my praat, moet hulle woorde oor en oor sê –
ek hoor hulle nie meer nie.
Uiteraard het ek ook niks te sê nie.
Wie wil in elk geval na my gesanik luister?