Ek is in ’n dwaal, Here. Willoos.
Dinge gebeur rondom my, met my en dalk in my,
maar dit is vir my van geen belang nie. Ek het nie
eens die krag om my kop op te lig nie. En dit alles
maak my weerloser as ooit. En almal weet dit,
ook – veral – my vyande. Nou slaan hulle met
mening toe, hulle draai die krane oop en verswelg
my met hul dreigemente: “Ons wág vir jou!”
Net U kan my help. Daarom roep ek na U
kortasem:
Help
my
Here.
Dit is niks
meer as ’n laaste
sug nie asseblief
hoor my net.
Lees Psalm 39 | 6 Maart
Net ’n asem lank
Here, “verganklikheid” het toe
’n deel van my woordeskat geword.
Teësinnig – en doodnuuskierig – leen ek deesdae
my ore uit aan praatjies oor dié een
wat so skielik siek geword het en dáárdie een
wat dit nie veel langer gaan maak nie.
Ek was nog besig om my lewe in orde te kry
– my doen en late, my swye en my prate –
en ek het my pas voorgeneem om liefs te swyg,
veral in twyfelagtige geselskap,
en …
En toe oorval die nare gedoente my,
dié doodgaanpraatjies.
Sedertdien kan ek nie ophou om daaroor te dink nie.
Daarom het ek gedink om U te vra:
Wat weet U wat ek nie weet nie?
Wat weet U van mý tyd?
My lewe wat net ’n skaduwee is,
wat wag op u lig?
Ag, Here, ek moet dit weet,
sodat ek my sake in orde kan kry – wié kry wát,
en so meer, U weet? – en my kan voorberei
op die ergste.
Daar is ook nog die ding van al my skuld,
wat ek glo eers met U moet uitklaar.
Ek besef dat U my te eniger tyd kan kom haal
– die lewe is immers net ’n asem lank –
en dit is nie dat ek onwillig is om te gaan nie, Here.
Ek dink wel ek het nog ’n bietjie tyd nodig.
Ja, ek hoop U los my nog ’n rukkie hier, Here.
Ignoreer dan voorlopig my verganklikheid, asseblief.
Totdat die geskikte tyd daarvoor kom,
die jare van onbehae aanbreek.
Lees Psalm 40:1-6 | 7 Maart
’n Lewenslied
Ek kan nou nog nie glo dat dinge
toe só afgeloop het nie, Here.
Om te dink dat ek besig was om bes te gee …
Ek was in die diepste gat denkbaar.
Donker, skrikwekkend, met geen uitkomkans nie.
En toe roep ek, óp.
Na bo.
Toe buk U af en haal my uit.
So eenvoudig soos dit.
So buitengewoon soos dit.
En toe … maak U dinge reg.
U gee weer rigting aan my lewe.
Ek sukkel steeds om dit te glo:
vanuit die taaiste modder tot op die stewigste gelykpad –
met één hou! Net U kan dít regkry.
Here, as ek nou terugdink aan hoe diepverlore
ek regtig was, hoe uitsigloos, hoe absoluut onredbaar …
Maar toe gryp U in
en gryp my vas.
Ek was so oorstelp dat ek, toe die ergste moegheid oor was,
na maniere gesoek het om vir U dankie te sê.
Al waaraan ek kon dink, was om vir U iets te sing,
en ek het ál die “Prys die Heer”-liedere wat ek ken, deurgesing.
Maar, het ek ook gedink, miskien vra hiérdie dankbaarheid
’n nuwe lied, wat iets van die hele storie sal vasvang en vertel.
Ek het toe nuwe woorde gesoek,
selfs ’n wysie probeer uittokkel.
Later moed opgegee.
En toe leer Ú my die lied wat pas –
’n wysie sonder weerga, woorde sonder einde:
’n lewenslied vol dankbaarheid.
Lees Psalm 40:7-9 | 8 Maart
Hoe sê ek dankie?
Here, as daar nou een ding is wat my onbekwaam
laat voel wanneer ek voor U staan, heeltemal dom,
is dit my onvermoë om behoorlik dankie te sê.
Die mense wat dooie gode aanhang, het vermoedelik
minder probleme hiermee. Hulle dóén dinge: slag ’n bok,
maak ’n vuur, bou ’n tempel, kasty hulleself, maak dissipels …
Maar ek weet nie regtig of my “liewe Vader, ek sê dankie”-liedjies
die paal haal nie. Dit is so … gewoon, so sonder seggingskrag.
En dawerende instrumente en funky lirieke en swaaiende arms
maak dit vir sommige (dalk) lekkerder, maar helaas nie juis beter nie.
Boonop het die geld wat ek afknyp
om aan u saak te gee, my in die war.
Ek bedoel: Hoe bereken ’n mens dit? Die ding
van sogenaamde “tiendes” is sekerlik uitgedien, of hoe, Here?
(En is dit voor of ná aftrekkings?)
Wat ís daar te doen aan dankbaarheid, Here?
(Nou klink ek net soos die heidene – let op die “doen”.)
Maar U verstaan mos wat ek bedoel: Ek wil graag dankie sê
op ’n ander manier as met goedkoop, maklike woorde
of ’n afkoopbedrag(gie). Ek wil hê dat U sonder twyfel
weet dat ek my dankie-sê met my hele hart bedoel.
Hoe sê U? Hoor ek reg?
Gehoorsaamheid.
Is dit al? Om te doen wat U vra?
U vra nie dankoffers nie.
U vra nié my onoortuigende,
selfgesentreerde,