Hoofman Langa is die broer van Gcaleka en Rharhabe en soos hulle ook ’n man met ’n humeur. Soos tradisie dikteer, verlaat hy as jong man die onstuimige omstreke van die huis van sy vader, die Huis van Phalo, en vestig sy eie kapteinsgebied. Langa is ’n jagter van olifante en renosters. Die Huis van Mbalu, bekend vir hul aggressie en dapperheid, hierdie mees krygsugtige stam aan die grens, is vernoem na Langa se gunsteling-os en in hierdie jaar van 1788 het Langa op drie-en-tagtig nog al sy tande.
Boere waag dit nie meer om hul plase te verlaat nie. Toe Cornelis van Rooijen sy volk stuur om doringtakke aan te sleep vir sy beeskraal, nie ’n halfmyl van die huis nie, vlieg daar ’n horde Kaffers op uit die bosse met skilde en assegaaie en jaag die stomme Hottentotte terug opstal toe. Hy sê sy plaas is nie meer syne nie. Hy sê hulle stig brand, hulle kom vra kos met wapens in die hand, hulle steel, hulle wei die veld af, hulle moor die mak Hottentotte en hulle verniel die koring.
Toe Ndlambe en Langa saam optrek teen die Gqunukhwebe, ly Tshaka se volgelinge groot verliese van mens en dier. Hulle trek wes tot in die Kolonie en stryk neer. Langa neem byna al Tshaka se beeste; sy Kaffers is arm, daarom verhuur hulle hulself aan die boere vir kos en beeste. In die laat tagtigs van die agttiende eeu is daar duisende verslane honger mense wat die Kolonie binnestroom en boere se vee begin steel. God nog aan toe! Tot sover die geskiedenisles.
Op ses-en-twintig is ek in die fleur van my lewe en algar ken my naam. My Hottentot skiet een van Langa se krygers en die ou ram dikteer vir my die brief waarvan oom Petrus skryf. Later in 1788 word ek gedagvaar vir drie schellings se agterstallige belasting.
Die amptenaar, met sy klere wat nie stof goed dra nie, bring vir my die dagvaarding en verkyk hom aan die astrante meid en die kaal bastertjie wat om my knieë boer.
Mijnheer, daar is ook die aangeleentheid van hoofman Langa wat u verkla dat u een van sy Kaffers aangerand het? sê hy.
Ek het my beeste gaan terugneem. Die Kaffer by die beeste het hom teëgesit, ja. Toe tug ek hom. Mijnheer.
Mijnheer Buys, dit is uitsluitlik die owerheid se voorreg om straf uit te deel.
Ek glimlag:
Julle regeer nie die Kaffers nie.
Ek ignoreer die dagvaarding. Dit loop uit op niks. Kort hierna vervals ek die handtekeninge op ’n petisie teen die Kompanje.
Die boere van die geweste verneem van my skietvernuf en my blitsige perd. Hulle verneem ek kan beter lees en skryf as enige van hulle. Hulle hoor my praat en sommige mor dat ek darem vreeslik vloek, maar hulle sien hoe algar na my luister. Hulle kom drink Maria se koffie en smeer korwe vol heuning om my bek totdat ek instem om hul vergaderings by te woon. By so ’n byeenkoms van vergramde boere sê ek net genoeg sodat hulle dink dit is hulle wat besluit dat ek ’n klagskrif moet skryf aan die owerheid. Ek skryf die boere se klagtes oor die Kaffers op en vra dat die owerheid die saak sal ondersoek. Vyf mense teken hulle name hierby: die uwe, Lowies Steyn, Johannes Hendrikus Oosthuyse, Pieter Viljee en Hendrikus Vredrikus Wilkus.
Dan skryf ek ’n tweede brief. Ek maak die een en ander spelfout reg en glip ’n sin in wat voorheen nie daar was nie. Die boere is beu, sat, gatvol, sê die sin. As die owerheid niks gaan doen nie, sal ons self ons beeste gaan terugvat en die Kaffers self terugdryf oor die Visrivier. Ek bieg, onderaan hierdie tweede klagskrif (gedateer 11 Augustus 1788) teken ek self die name van nege persone: die oorspronklike ondertekenaars, uitsluitende my naam, en dan ook die name van Pieter de Buys, Gerhert Scholtz, Cornelis van Rooijen, Vredrik Jacobus Stresoo en Andries van Tondere. Vir elkeen maak ek ’n eie handtekening en al ontbreek myne, is elke handtekening besmet met die krulle en lyne van my eie naam.
Gaan soek maar, die spore is doodgevee. Hierdie klagskrifte, oorspronklik of andersins, het daardie tyd reeds vermis geraak binne die dupliserende en uitdyende labirint van koloniale papierwerk. Die briewe mag verlore wees, maar die alsiende VOC vind uit dit is vervals en braak aanklagte en veroordelings oor my en my goeie naam. Enige orator sal vir jou sê dat die waarheid die beste teenstander is om mee te oefen. By die volgende vergadering staan ek op en glimlag my glimlag en spreek die Kristenstryders toe.
Ek staan voor die manne, alleen tussen die veroordelende oë in die voorhuis van ’n verslane boer. Hulle kyk op na my, selfs dié wat staan. Ek is die langste, die grootste man hier. Ek maak my smoel oop en glo my, nie my vrou of my vriend of my kind of my werkers of my perd het my al so hoor praat nie. My stem is ’n strelende bas, nie die normale gegrom nie. Ek is woordryk en vlot. My stem val in pas met die geheime ritmes wat mense opwerk en beswym, wat hulle oorreed dat wat hulle hoor helder en logiese argumente is, veral waar die kop en stert so ver moontlik uitmekaargetrek word in my ellelange sinne, sodat hulle hulself oortuig dat hier tog êrens sin versteek moet wees en dat ek in my welluidende stortvloed dinge bymekaarbring wat hulle nog nie voorheen saamgedink het nie, miskien omdat ek elke sin eindig met ’n gemeenplaats, maar een vanuit ’n heel ander geweste as die res van die sin, ’n stert vir die sin soos dié van ’n skerpioen met ’n skielike dodelike steek aan die punt, die regte woorde op die regte plekke wanneer hulle dit die graagste wil hoor en dan ’n skielike ommeswaai wat hulle monde laat oopval en wat my dan juis begeester tot nuwe hoogtes en geykthede en met ’n al sterker stem laat voortstorm terwyl my oë nooit hulle s’n verlaat nie, oë wat goedgelowig en wasig vra vir nog, oë wat my nie kan laat los nie maar my hoegenaamd nie sien nie, ’n gehoor aan my voete wat hulle eie stront – wat ek bloot vir hulle aptytlik opdis – opvreet vir die soetste koek en vir geen oomblik wonder oor die glimlag wat soms, tydens pouses in die steeds al langer wordende sinne, vlugtig en onwillekeurig in my mondhoeke flikker en verdwyn nie, en ek kan sien dat nie een onder hulle daaraan dink dat ’n mens kan glimlag en glimlag, en ’n godverdomde skurk kan wees nie.
Ek oortuig die burgers dat ek, voor die enigste en grootse God, verseker was dat wat ek geskryf het die waarheid is wat inderdaad reeds leef in die hart van elkeen daar teenwoordig. Ek het hul name geteken met die sekerheid dat sou die tyd dit toegelaat het, en hul teenwoordigheid my beskore gewees het, hulle die veer sou gedoop het en self hul name sou geïnk het onderaan my woorde, wat in der waarheid ook hul woorde was.
Die burgers verkyk hulle aan my. Ek voel groter as my sewe voet, ek verlustig my in my eie stem. My woorde loop soos boomgom oor hulle en maak die wêreld dik en glasig tot hulle oortuig is die vervalsing was ’n vervalsing in vorm maar nie in gees nie. Later hoor ek dat my aanhoorders vir die amptenare gesê het dat, al is hul handtekeninge vervals, hulle van ganser harte saamstem met die inhoud en dat hulle op versoek enige tyd wel hul name onderaan sodanige dokument sou aanbring. Ek verskoon my so gou ek kan en gaan trek my draad op die werf.
Die VOC is ’n maatskappy op die rand van bankrotskap met ’n oopgeskopte miernes vir ’n hoofkantoor, en die aanklag van vervalsing, sowel as die klagtes in die gewraakte dokument vervat, loop, soos in die geval van my agterstallige huur en belasting, uit op hoegenaamd niks.
Sonder om Brandwacht se huur op te sê, registreer ek in September 1789 ook die leenplaas De Driefonteinen aan die Bosjesmansrivier op my naam, en ses maande later ook Boschfontein, naby die Zondagsriviermond.
Brandwacht word al ’n tyd lank vertrap deur Kaffers wat hier kom jag en hul vet beeste laat wei. In 1790 kry ek ’n lisensie om olifante te gaan jag en pak my goed om te trek. Ek sal my gesin neem na Boschfontein, waar daar nog weiding is en die Kaffers nie soveel van ’n probleem nie. Dan sal ek die boendoes in agter die olifante aan. Ons is besig om die laaste van die huisraad op die wa te gooi toe daar ’n kordate mannetjie met ’n buitensporige hoed en valletjieshemp aangery kom. By hom is ’n paar Hottentotte met snaphane en teuels in die hand. Die kaartmannetjie stel homself voor as Kaptein Ruiter.
Ek het al gehoor van hierdie mijnheer. Die halfhottentot-halfbossiesman-wegloopkneg wat aan die Visrivier loop lê het met ’n bende booswigte