Die veld is myne, soos dit ook behoort aan my beeste en die Hottentotte wat my beeste oppas en die Kaffers wat hul beeste laat kom wei en nie weer padgee nie. Wat vir ’n Kolonie is dit waar mens nie jou draai kan kry op die limiete nie, asof dié wat binne is, wil uit en dié wat buite is, wil in? En daar op die grenslyn, op die rivieroewer waar die spul mekaar ontmoet, wil nie een padgee vir die ander nie; dáár is ’n alewige kopstampery en pronkery soos jong hane.
Ek loop gereeld rond oorkant die grens. Geen Caabse vent met sy sykouse en gegeurde poeier in sy pruik gaan vir my vertel watter rivier ek nie mag oorsteek nie. As die rivier my wil stop, kan die rivier my stop, maar dit is iets tussen my en die waters. En die Groot Vis is ’n bliksem as hy afkom. Dan is daardie grens ’n verdomde gréns en kan jy maar praat soos jy wil, hom kom jy nie deur nie. Maar soms is die Groot Vis bloot ’n watergat in ’n dorre loop waar seekoeie gaap met wrede tande. Soms is hy smal en diep, soms breed en vaag en vlak. Soms kan jy deur hom loop. Maar hy is altyd bruin van die grond, asof die sand ook wil padgee uit die Zuurveld en afmars see toe, die groot en ewige grens waar alles vervloei en versuip en waaruit alle Kristene en amptenare kom. Die oosgrens lyk geen dag en op geen plek dieselfde nie. Niemand stap twee maal deur dieselfde Visrivier nie.
Skaars ’n uur se trek van waar ons vanoggend kamp afgeslaan het, voel die geel gras van die vlakte ’n dagreis ver, asof ook tyd hier verstrengel raak in die lang dorings wat nie wil laat los nie. Die water, dik en sterk soos Maria se koffie, kronkel deur die klowe waar die dorings dig groei en koedoes verskyn en verdwyn in paadjies wat net hulle kan sien. In hierdie ruigtes kan jy vinnig verdwyn, vir altyd as jy wil. Om die beeste hier deur te kry is ’n geneuk, selfs waar die rivier vlak is. Wegkruipplek is daar baie; hier gebeur alles geheimsinnig. Ek hoor nie die skilpaddop kraak onder die wawiele in die drif nie, sien net hoe die rivier die stukkies dop en ledemate afdryf. Hierdie oerdier wat reeds derduisende jare lank onveranderd onder die veraf son skuifel. Hoe weet ek dit? vra jy. As ek wonder oor die siel, lees ek oor rugstringe en magma.
Die stroom is sterk. Hy vat wat hy wil. Hy vra nie voor hy vat nie. Jy moet luister na hom, al luister jy nie na wette nie. Ek is gereeld by die rivier. Ek ken die rivier byna soos die Kaffers dit ken. Kyk, die twee groepe staan weerskante van die Vis. Hulle kyk nie na mekaar nie. Hulle staan weerskante van die grens en kyk hoe die grens tussen hulle in vloed afkom en ’n soetdoring insluk en saamvat en ’n stuk kleigrond die water in kalwer. Die ruil van vee en tabak en koper geskied geweldloos. Die Kristene en die Kaffers is versigtig vir mekaar en maak growwe grappe onder mekaar om die gespannenheid te verberg, maar die Hottentotte wat saam met die Kristene ry is stil en hou beide groepe met nougetrekte oë dop.
Ek tel spoedig woorde op soos hulle om my val. ’n Jaar of wat ná my aankoms op die grens is ek reeds genoeg gebek om in Xhosa met die Kaffers te lag oor die Kristene wat voorvel is en niks meer nie. As jy hier wil oorleef, dan maak jy maters. Boere van die omtes wat weet met wie en hoe daar vee geruil kan word. As hulle kom aandoen op jou werf en hoor of jy wil gaan beeste ruil by die Kaffers, dan saal jy op en ry saam. Jy moet eers die reëls van die spel leer voor jy op jou eie kan speel. Voor jy die reëls kan herskryf. Agt of tien berede skuts is beter as een enkele Kristen en sy boel Hottentotte. Dit beteken nie jy hoef danig vriende te raak nie. Dit beteken nie jy mag nie saam met die Kaffers lag vir die spul aan jou kant van die rivier nie. Die Kristene lag ook, want hulle sien my lag. Ek knipoog vir my wit trawante en ek knik vir die Kaffers.
Wanneer albei groepe by mekaar gevat het wat hulle kon en elke groep tevrede is dat hy die ander oorgeneuk het, gaan hulle terug in teenoorgestelde rigtings na hul onderskeie vroue en kinders en byna eenderse wonings van riet en klei.
By die huis slaap ons langs mekaar op ’n hoop velle. Die baba word apart toegedraai in ’n vel teen die muur. Maria lê in die middel, ek en Elizabeth aan weerskante van haar, elkeen met die kop op een van haar borste. Êrens in die nag kruip Elizabeth oor Maria en kom lê tussen haar ouers. Die huide maak nie ordentlik toe nie. Ek lê wakker, ongemaklik met die kind half oor my. Die lyfie is maer, ek voel die geraamte onder haar vel. Ek dink hoe maklik die beentjies kan breek. Ek kry nie my lê nie. As ek skuif, sal Elizabeth wakker word. Dan sal Maria wakker word. Dan is alle rus verlore. Ek lê doodstil en staar na die biesiesdak bo my. Ek luister hoe die wind ruk aan die huis, hoe die sparre knars en die rietdeur hamer aan die riem wat dit toehou. Die wind stoot by elke skreef in en asem weer sugtend uit, asof ons lê binne ’n orgaan van ’n groter dier van hout en riet en klip. Ek neem ’n armpie in my hand, lig dit op, voel daaraan, die klein bros beentjies, die sagte vlees, die handjie wat my hand opsoek en om ’n vinger vasklamp. Die kind krul op teen my, die koppie in my maag gedruk, ’n sagte sug, dan ’n roggel. Elizabeth het koue gevat. Môre gaan sy siek wees. Die kind lê my arm dood, maar ek skuif nie. As ek nou beweeg, gaan sy wakker word en huil en wegdraai, weg van my. Sy het nog nooit so teen my gelê nie. Al is ek net iets warms waarteen sy haarself aanlê en al weet sy nie wat sy doen nie, is dit iets wat so lank moontlik moet hou. Ek beweeg nie. Ek luister na die kind en kyk hoe die lyfie stadig in- en uitasem en af en toe ruk in ’n droom. So lê ons tot die son opkom. Ek staan styf op en die dag begin.
Hulle betaal my byna ’n jaar se plaashuur om hout te voorsien vir die nuwe aanbouings op Graaffe Rijnet. In 1787 leen ek ’n paar waens en pak hulle vol met geelhoutplanke – meer as ’n duisend-vyfhonderd voet se hout – en vyf Hottentotte en twee Kaffers en trek na die nedersetting wat die Caabse pruikneukers ’n paar maande gelede van plaas na dorp verander het. Glo vir ene Dirk Coetzee ’n sak vol geld aangebied vir sy verlepte plaas op ’n hoefysterdraai in die Zondagsrivier en die plek herdoop tot Graaffe Rijnet, na die fuiwende goewerneur en sy vrou wat die Kompanje se geld onder hulle uit suip en vreet.
Soos ons reis, teel die berge stadig aan, een vul op ’n slag, soos olifante. Die honde verskyn die dag ná ek Brandwacht verlaat. Die rooi hond val langs my in en draf langs my perd. Die res van die trop sprei uit om die waens, ’n ent weg van die wapad, net hier en daar sigbaar en dan en wan. Die honde maak die Hottentotte ongemaklik. Hulle is gewoond aan my hondskimme wat altyd saam met my in die veld is, maar gewoonlik hou dié hulle skaars. Hierdie reis is anders. Ons is ver van die huis en enige huis. Met uitspantyd is die honde by die kamp, meestal agt of tien van hulle, soms tot vyftien. Hulle lê rondom die kamp in groepies van twee of drie. Enkeles waag dit tot by die vuur waar die af-oor by my voete lê. Ek vat nie aan die hond nie. Hy smeek nie om aandag soos mak brakke nie. Die honde vreet die bene wat hul kant toe gegooi word, maar hou hulle verder apart. Dit is asof die honde oor dieselfde streek trek as ons, maar in ’n ander ryk. Asof hulle in dieselfde veld maar in ’n ander tyd beweeg, en soos spoke deur jou sal draf as jy nie betyds padgee nie. ’n Dag voor ons Graaffe Rijnet bereik, verdwyn die honde: Ek word wakker met die lumier, styf toegedraai in my karos. Die rooi hond lê en kyk vir my. Hy draf langs Perd tot laat in die oggend en dan swenk hy skielik oos en weg tussen die lae bossies.
Ons steek die vlak rivier oor, die waens krakend en skreeuend oor die klipbanke. Die uitgetrapte strook grond is blykbaar die straat; die hutte en kleihuisies sporadies aan weerskante dan moontlik die dorp. Perde staan vasgemaak voor die huise, hier en daar trek rook uit skoorstene, meer gereeld by vensters en deure uit. Die ganse in die pad hyg en sis vir die osse. Brakke kom val in langs die waens en probeer pis teen die draaiende wiele. Een van die grasdakke is besig om te brand. ’n Paar mense staan in die straat en kyk hoe die inwoners hul goed uitdra en die dak met emmers water bestook. Ek ry verby ’n wasmid, ’n skrynwerker, besig om hul ambagte en vernuf op straat te adverteer. Ná die reis oor vlaktes wat uitstrek tot waar die aarde begin skeeftrek soos hout wat vrot, lyk dit of die dorp sig opkrul teen die gebergte wat soos ’n muur opstaan uit die grond. Asof jy veiliger sal slaap met ’n berg agter jou rug. Oorryp kwepers lê op die grond voor ’n yl heining. Bokke vreet aan alles wat hulle sien. Ek ry verby