Ek en Christoffel Botha met die vrot tande, die Bezuidenhout-gebroedsel en ’n paar Prinsloos ruik bloed en rykdom.
Ruik! sê ek vir hulle.
Wat ruik ons, o grote Buys? vra hulle.
Hulle noem my hul vriend; ek noem hulle wat ook al ek moet sodat hulle agter my sal bly aanry. Ons praat al wat veldwagtmeester is om om ’n strafkommando te loods. Ek vertel vir krygsoffisier Barend Lindeque en veldwagtmeester Thomas Dreyer dat dit al die mooiweer is wat die woestyne maak en dat die droogte net deur storms gebreek kan word. Ek vertel vir hulle hoe ek ’n dief op heterdaad betrap het. Die Kaffer was besig om een van Botha se beeste te slag, maar toe ek hom hand om die nek na sy hoofman sleep, verjaag die Kaffers my en staan die pestilensie en lag my uit. Ons beeste verdwyn nou met die dag, maar as jy saam met my op ’n kommando gaan, kom jy altyd terug met meer beeste as wat gesteel is. Hulle sê op strafkommando’s skiet ek en my bende effe ruimskoots onder die Heidene. En ons skiet glo die Kaffers wat op ons plase jag. Maar ons is groot manne en sterk en skiet nie mis nie. Ons is onmisbaar op elke kommando.
As jy ons skade maak, maak ons vir jou skade: Langa, wie se kraal nou op burger Scheepers se plaas lê, gaan jag saam met van sy krygers. Toe hulle by Campher se opstal aankom, sluit hy Langa in sy huis toe. Hulle sê die ou kryger slaap al jare nie weens die seer in sy rug. Campher neem Langa se skild en assegaaie en mes en kierie by hom af en hou hom gyselaar tot die ou hoenderdief sy vryheid met vee moet koop. Hannes Bezuidenhout hou twee Kafferkapteins se seuns aan op sy plaas tot die kapteins hom ’n losprys van vier osse betaal. Dan is daar Hannes se broer, die swernoot Coenraad. Sy broers noem ek op die naam, maar hy is bloot Bezuidenhout – hy is die een verantwoordelik vir die stories oor die wildewragtag-familie Bezuidenhout. As jy hom ken soos ek hom ken, dan weet jy, hy is dié Bezuidenhout; hy is die legende. En boonop, daar is net een Coenraad in hierdie geweste. Einste Bezuidenhout wat elke maand op ’n ander plaas boer. Hy wat, so gou die buie oor hom kom, dreig dat hy nog elke godverdomde skepsel langs die Swartkopsrivier sal doodfoeter; hy wat daardie jaar vir Chungwa in sy meul opsluit en hom inspan soos ’n muil en hom met ’n karwats leer hoe mens die ding laat draai.
Die lug hang swaar toe ek ná ’n veeruilery in 1792 terugry huis toe met die vee en die vrou wat ek by Langa gevat het. Ek is een-en-dertig en het drie plase, ’n vrou en vier kinders, ’n hele spul Hottentotte wat vir my werk, ’n magdom vee en nou ook ’n Kafferprinses, skaars sestien met ’n vel styf gespan en blink soos stinkhout. Sy sê haar naam is Nombini. Sy sit fier op die wa asof sy ingeryg is. Haar twee spruite kan nie die groot tepels uitlos nie. Die trop gerifde honde hardloop op en af langs die wa. Hulle jaag mekaar rond, hap speels na mekaar en maak die osse gek. In die wolke knetter die eerste donderweer. Toe ons oor die rant trek en my plaas op die vlakte sien lê, blink die Zondagsrivier soos ’n Melkweg en lê my huis met die kerslig in die venster en die vure van die Hottentotte wat werk op my plaas en die vure van die Kaffers wat laat wei op my plaas soos smeulende sterre in die donker gras. Toe ons nader kom en tussen die vure deurry, is dit geen gesternte meer nie, bloot punte van onverbonde lig.
Die reën kry geen end nie. Die rietdak hou eers die water uit en dan nie meer nie. Wie ook al voorheen in die huis gebly het, het geweet hoe om ’n ordentlike skoorsteen te bou. Maria sit met die pasgebore Johannes aan die bors, Elizabeth met klein Philip en Coenraad Wilhelm op haar skoot by haar gewone plek langs die vuur. Coenraad Wilhelm suig aan haar duim. Dan ook Nombini en haar kinders.
Ek jaag die hoenders balke toe en skrop vir my ’n plek oop tussen die kat en die ander kat en die vark wat niemand meer uit die huis kan kry nie. Maria en Elizabeth is bang vir die donderweer. Elizabeth snik. Maria hou haarself besig om die paar komme onder die lekplekke te sit, sodat haar hande nie bewe nie. Nombini en haar kroos is doodstil, kyk om hulle rond na die mielies en biltong en tabak en huisraad wat aan die hanebalke hang. Die diere maak net die nodigste beweging om nie warmte te verloor nie. Nombini kom orent en kyk na my en Maria en tel ’n porseleinbakkie van die tafel af op en gaan sit weer en hou die bakkie in beide hande vas en draai dit stadig in die rondte tussen haar vingerpunte. Maria los die kom en pluk die bakkie uit Nombini se hande en sit dit terug op die tafel. Nombini kom sit by my waar ek ’n vergroeide toonnael met ’n houtrasper probeer afvyl. Die kinders kyk na mekaar en kyk na die grootmense en is stil en dan begin almal gelyk tjank. Maria struikel oor die kat. Die kat skree en die kinders skrik en onderbreek die reëlmaat van hul gehuil en huil dan verder.
Godverdomme, Buys, hier’s nie plek vir almal nie.
Ek druk Nombini vas en sê iets in haar oor en sy gaan sit by haar kinders. Maria maak vleis gaar, gooi patats in die pot. Die paar tinborde wat ek nog nie gesmelt het om my kogels harder te maak nie, word op die tafel uitgepak. Ek en my vrou en my kinders kry ons sit. My nuwe vrou en haar kinders gaan sit in die hoek. Ek sê hulle moet kom aansit. Ons eet. Nombini lek haar vingers skoon en die vet skyn om haar mond. Maria kyk hoe ek kyk vir hierdie vreemdeling toegewikkel in haar karos, die lang bene. Ek praat met haar in Xhosa en sy sê nie veel nie. As ek ophou praat, kyk sy dadelik af en maak haarself onsigbaar. Ek praat met my kinders in Hollands en af en toe loer ek vir Maria.
Ek haal die Bybel van die rak af.
Laat ons boekevat.
Ek maak die kopergespe los en slaan die groot boek oop, stof vlieg die lug in. Die blaaie is nie meer almal daar nie. Dinge bly agter as jy aanhou trek. Ek lees gewigtig voor. Ek hou vir Maria dop, weet hoe ek met elke heilige woord haar probeer streel en paai en sien hoe die verdomde goed dan niks uitgerig kry nie.
En Abraham voer voort, en nam een vrouw, wier naam was Ketura, lees ek voor.
Nombini se vingers soek weer die koue porselein op. Sy haal ’n rooi kraal uit die voue van haar karos, laat dit val in die bakkie en kyk hoe die kraal al om die bodem tol. Wonder sy wie vanaand die seer uit Langa se rug vryf? Sy draai die bakkie om en om, kyk na die fyn blou patrone in die porselein sonder begin of einde. Ek begryp goed, met die aand se koms kry mense hulself jammer, maar sy moet haar stront los. Ek sien daardie onderlippie bewe. Moet ek haar jammer kry? Die meid het in haar lewe nog nie ’n bord kos gesien soos die een wat sy so pas verorber het nie. Siestog, sien sy in haar Heidense geestesoog hoe die Kristene haar kraal binnery op hul groot perde, die hoewe wat stof skop in die kalbasse water wat sy en die ander jong meide van die rivier af gehaal het?
En zij baarde hem Zimran en Joksan, en Medan en Midian, en Jisbak en Suah.
Die meidjie is sterk, haar lip bewe nie meer nie. Dog, terwyl ek lees, wonder ek oor my nuwe vrou se veraf oë. Wie se kraletjie skommel sy so in die bakkie? Ek weet wat jy dink: Sy is bang, sy is ’n kind en sy is ver van die huis. Twak! Jy was nog nie dae lank saam met haar op ’n wa nie. Jy weet nie wat in daardie fraai koppie maal nie. Ek lees, maar al wat ek sien is hoe sy ou Langa se skouers vryf, hoe sy rug ontspan onder haar hande, hoe sy lê en luister hoe hy snork. Al die nagte wat sy lê teen daardie vel wat die dood reeds begin loswerk het van die bene. Sien sy sterre as hy in haar spuit? Was sy trots op haar man toe hy uit sy hut kom en regop gaan staan en sy karos afhaal en sy ou bors uitstoot en ons, die Kristene, tegemoet stap?
En Joksan gewon Seba en Dedan; en de zonen van Dedan waren de Assurieten, en Letusieten, en Leummieten.
Die rooi kraletjie hou aan tol in die leë kommetjie, oorverdowend; ek kan myself nie hoor lees nie.
En de zonen van Midian waren Efa en Efer, en Henoch en Abida, en Eldaa. Deze allen waren zonen van Ketura.
Maria skuif rond op haar stoel en sug oordadig.
Was Nombini bekommerd toe die Kristene en Langa en sy kapteins in ’n nou kring gaan staan, die pratery sagter, dringender? Het sy gesien hoe ek uittroon tussen hulle, my baard, my maanhare? Ek onthou sy het gegil toe die een Kaffer terugsteier. Hy was groot, daardie Kaffer, een van Langa se sterkste kapteins. Het hy met haar gepraat en