Kaptein Ruiter vra ewe formeel toestemming om op my grond aan te bly. Ek is sat van hierdie geneuk.
Bly julle hier, wat maakt mij dat uit, sê ek. Ek is ieder geval op pad, hierdie grond is suf getrap.
Later sal ek hoor watter erge stoornis die Gonnas was, hoe die Kaffers én die kommando’s glo vir Ruiter op my grond kom soek het, en dan sal ek lag.
Ek stap die leë huis binne; buite klap die swanger Maria die sweep en die wa skrik wakker. Ek staan in die middel van die voorvertrek, kyk op na die daksparre, die swawelnes verlate en verbrokkel, tik my voet op die miershoopvloer. Ek het hierdie huis gebou en byna vyf jaar lank hier gewoon en dit was huis en nou is dit ’n leë skulp van biesies en klip en bros en gebarste klei. Ek skop ’n stuk leiklip tot dit padgee en ’n deel van die muur inkalwer. Ek tik weer liggies aan die vloer, loop dan vinnig uit. Ek dink aan die aarde onder die huis, die oneindige swaar gewig net onder die dun lagie los miershoopgrond. Ek voel iets voormensliks en ontsettend. Ek ry agter die wa aan.
Op Boschfontein staan reeds ’n opstal, ’n groterige huis wat nie veel werk nodig het nie. Die vorige boer is nie lank terug weg nie. Seker soos die ander terug Lange Cloof toe omdat die Heidene te naby begin wei. Ek en Windvogel maak die dak reg en stamp die vloer hard en snags droom ek van donker waters onder die huis, staande swart water sonder rimpelings, die gladde oppervlak wat nie deurbreek word nie, die onbepaalde diepte sonder einde.
Huise op die grensvlakte is nie gewortel met kelders of fondasies nie, hierdie hutte van Kristen en Heiden raak skaars aan die stof, dring nie die aarde binne nie. Die hut word neergesit op die grond soos ’n nes in die veld.
Ek bly nie lank op Boschfontein nie. Ek sorg dat my mense hulle sit kry en dan gaan kyk ek hoe lyk die see. Ek het nog nooit die see gesien nie. In De Lange Cloof het die mense soms oor die verraderlike kranse van Duivelskop getrek om te gaan visvang, maar die Buyse en slapnek-Senekals het nooit ’n smaak vir skulpslakke of visskubbe gehad nie. Vir my mense was dit altyd die bosse wat gewink het. Ek staan op die duin en kyk oor die water. Gedog die see sou groter wees. Die water is souter as wat ek gedink het. Die Hottentotte sorg vir die beeste, Maria sorg vir die huis, ek kyk in die vertes.
Maria sê sy is moeg daarvan om alewig agter almal skoon te maak. Sy skel my ordentlik toe ek die oggend al die kos in die huis in ’n doek toedraai en op die wa gooi en haar probeer soen en oor die werf wegstap na waar my mensetrop wag. Sy kyk hulle deur: my skaduwee Windvogel, Coenraad Bezuidenhout, sy blaaskaakbroer Hannes en Van Rooijen wat alewig kla.
Ons trek die klowe in om olifante te gaan terg. As ’n olifant kwaad genoeg word en storm, voel jy die speldeprik regoor jou lyf en staan die hare op in jou nek en word jou ganske vel wakker. Dan skiet jy. In die huis staar jy in die hoeke, krul jy jou op soos ’n dier in sy gat.
Nuus uit Europa bereik die Caab eers laat. Die modes in die Kasteel is glo byna ’n dekade te laat, maar die oproerige idees uit Frankryk land vinniger hier as enige nuwe rokpatroon. Die woorde liberté, égalité en fraternité is lig en vaag genoeg om vaart te kry. In Parys bestorm burgers die Bastille in die naam van vryheid en aan die oosgrens is daar niks oor behalwe vryheid nie. Inderdaad, soos altyd die geval is met boodskappe wat te ver moet trek, lyk die Franse spreuke heel anders as dit vol skeurbuik en stof by Graaffe Rijnet aankom.
Ná 1789 gee die boere nie meer voor om hulle te steur aan die Kompanje se laaste stuiptrekkings of die dronk mymerings uit die drostdy nie. Die Kaffers, die Bossiesmans, die Kristene – ieder en elk by die dag meer wanhopig en gewelddadig. Boergesinne vlug Graaffe Rijnet toe om die laaste voorrade te verslind. Landdrost Woeke vat en los en suip. Sekretaris Wagenaar bedank en die Kompanje stel Honoratus Christiaan Maynier aan in sy plek. Hulle almal moet opdonder!
Alliansies word gesmee en gebreek; dán wil Ndlambe saam met die Kristene teen die Mbalu en die Gqunukhwebe optrek, dán maak hy saam met Langa jag op Tshaka en Chungwa. Die Gqunukhwebe verdwyn selfs dieper in die bosse van die riviervalleie, al langs die kus af tot by die Gamtoos. Kyk, die Gqunukhwebe en Mbalu word verbrysel soos mielies in ’n stampblok, soos soveel ander mense in soveel ander plekke waar oorryp en opgeblase moondhede teen mekaar druk.
Die Kaffers besef gou ’n perd en ’n geweer maak ’n Kristen nie onsterflik nie. Kort voor lank kom hulle ook agter die flenters koper en yster en stringe krale wat die Kristene aanbied vir hul beeste is ’n verneukspul. Die versukkeldes verlaat hul krale en kom werk op die plase. As ’n boer so ’n Kaffer nie betaal nie, of te gereeld foeter of aan ’n wawiel vasbind en met hom ’n paar draaie ry en hom dan kats, gaan kla die Kaffer by sy hoofman en word die boer geplunder en sy huis afgebrand. In hierdie tyd dros baie Hottentotte op hul beurt weg van die plase en gaan bly by die Kaffers omdat die boere hulle mishandel. As die boere hul wegloophotnots kom soek by die Kafferkrale, soms op hul eie plase, jaag die Kaffers hulle weg. In 1789 word meer as sestienduisend Kafferbeeste en ’n paar duisend Kaffers op een leenplaas opgeteken. Die Kristene raak lus vir baklei, maar die Kaffers bly in hordes saam, nie een-een soos die Kristene wat nie bure kan verdra nie. Hulle bedel nie meer vir kos nie; nou vat hulle dit.
Ek olie my geweer. Ek sit die houtolie dik aan. Dan begin ek dit stadig blink vrywe. Net twee vingers, klein sirkeltjies tot albei vingers slaap. Elizabeth speel om my in die voorkamer. Maria is buite, besig om met Windvogel te klets. Die venster is smal, ’n strook son breek in skerwe oor die ruwe tafel.
’n Owerheid verstaan kaarte, nie grond nie. ’n Kompanje verstaan nie oorlog nie, dit gedy in vergaderings. As jy die geduld het, kom dolwe saam met my in die argiewe van die burokratiese Kolonie: Woeke, al hoe maerder en dronker, word aangesê om met die Kaffers te onderhandel. Die plan is om alle Heidense aansprake op grond wes van die Visrivier uit te koop. Onderhandeling volg op vergadering volg op beraad volg op samespreking. Tshaka en Chungwa gaan nêrens heen nie. Hulle het die grond tussen die Vis- en die Kowierivier glo by ene Kaptein Ruiter gekoop vir vyftig beeste. Niemand weet by wie Ruiter die grond gekoop het nie. Ag, rot op! Die ander Kafferkapteins sê hulle sal padgee uit die Zuurveld – as almal padgee, Heiden én Kristen. Woeke ry huis toe en skryf nog briewe aan die Politieke Raad en die Raad sê Los eers die Kaffers, hou net die Kristene binne ons regsgebied. Die Raad fluister: Ons het geen papierwerk vir anderkant die Vis nie. Die Kompanje doen wat dit die beste doen en vaardig ’n kommissie af, bestaande uit Woeke, die afgetrede sekretaris Wagenaar en nuwe sekretaris Maynier, om met die Heidene te gaan praat. Die kommissie slaag nie daarin om die Kaffers te oortuig van die idee van private grondbesit nie. Ons vind julle kultuur bekoorlik, sê die kommissie. Ons wil graag vriende wees, maar bly asseblief tog aan julle kant van die rivier. Weer word presente uitgeruil en die notarisse sit met kwylende bekke en tonge wat tussen nat lippe uitpunt en maak aantekeninge oor die Heidene se liggaamsbou en die toestand van hul tande en die grootte van die stulpings onder hul lendevelle. Die afgetrede en heraangestelde Wagenaar word alleen, sonder een enkele soldaat, op die grens agtergelaat om die owerheid se orde te handhaaf en die ganske Kafferryk te intimideer met sy pruik en kouse.
Kaffers loop deur die rivier en kom haal my beeste; hulle is skaars terug by hul krale of ek gaan haal weer my vee en nog wat. Min plekke in hierdie wêreld is so besig soos die oewers van die Vis. Elke jagtog word langer, elke olifant skaarser en ouer en meer woedend, elke strafkommando wreder. Om ons trek gesinne saam in lagers. Die owerheid stuur nie die munitie wat hulle beloof nie. Ek bly heel lekker waar ek bly. Maria mis my nie meer as ek nie by die huis is nie.
Ek lê by my vrou en sy vryf oor my kop. Ek kyk op tussen die dakbalke deur. Ek mis die swawelnes in Brandwacht se sparre. My seuns Philip en Coenraad Wilhelm is vir my gebore. Net spoeg en klei, dink ek. Ek draai op my sy en kyk vir Maria. Sy dra weer laag, die volgende een gaan weer ’n seun wees. Daar is ’n nuwe haar wat uit die moesie langs haar oor groei.
Graaffe Rijnet kry uiteindelik sy eerste predikant, Jan-Hendrik Manger. Sondae preek hy twee keer in Hooghollands in die skool wat ’n stal was. Toe Woeke nie opdaag vir ’n vergadering in die Caab nie, stuur die Kompanje