Ná ’n week is die stapel hoër as die huis en wyer. Maria kom staan met haar hande op haar heupe.
Jy het haar nooit eens ’n naam gegee nie. Jy het nooit aan haar gevat nie. Sy was niks vir jou nie.
Nóú word sy iets.
Sy was nie ’n hoop klippe nie.
Ek kan vat aan die klippe.
Oor die volgende paar dae bestee ek al minder tyd by die klippe. Die nuwe perd is slim. Die een van wie die Kaffers hom gevat het, wie hy ook al was, het die dier dinge geleer wat ander perde nie ken nie. Die perd is groot en skimmel en as hy hardloop, meng die spikkels tot ’n kapoknagmerrie wat op jou afstorm. My vlamkopdogter Elizabeth kan haar oë nie afhou van die massiewe dier wat so vinnig hardloop nie. Dit lyk of sy hoewe nie grondvat nie, of hy die lug gaan inglip en oopskeur. Sy teken ’n prent van die perd in die sand en wys dit vir my. Die perd het agt bene. Sy doop hom Glipper en ek noem hom, haar ter wille en my afsku van diername ten spyt, Glipper. Ek leer my dogter ry op die perd. Ek leer die perd fyn seine wat ander nie sal oplet nie. Ek leer die perd sy hoewe optel tot onder sy ken en donderend neersit soos die Fransman se perd gedoen het, maar met meer woede.
In hierdie tyd verdwyn daar elke nou en dan ’n paar stuks vee. Toe die veewagters kom kla, sê ek vir hulle om te skiet as hulle Kaffers sien rondloop waar hulle nie moet nie. Ek deel geweers uit. Toe die telling vermiste beeste op my plaas rondom twintig styg, verskyn Coenraad Bezuidenhout op my werf. Ek het al stories gehoor van hierdie boer, een van die distrik se berugstes. Ek gee vir hom ’n kommetjie koffie. Hy sê Bly te kenne, ons moet saam optrek teen die Kaffers. Hy het gehoor ek kan skiet soos geen Kristen hier rond nie en hy hoor my perd nael onder ’n assegaai uit. Hy sê sulke talente hoort nie onder ’n maatemmer nie. Ek en Bezuidenhout en ’n paar gewapende Hottentotte trek op na die Kafferkrale en kom ’n week of wat later terug met meer beeste as wat weg was.
Elizabeth gesels met my oor die perd. Ek mag haar op die perd tel. Saans gaan pak ek nog klippe op die stapel tot ek dit een aand begin afgooi. Ek klim op die stapel en kyk om my en dan begin ek die stapel afbreek. Toe die klippe om my rondlê, roep ek twee Hottentotte en beveel hulle om die klippe weg te dra sodat niemand ooit sal sien dat hier ’n stapel was nie. Ek los net die paar klippe van Maria se hopie. Ek loop die aand by die huis in. Maria is al ’n heel paar weke swanger en besig om biltong te sout.
Mag ek vra? vra sy.
Vir wat?
Daardie nag hou die klein vroutjie my vas en vryf oor my kop en vryf my stadig hard. Ek beklim haar en sy vat sag aan my en teer en dit maak my woedend. Sy kom agter ek probeer haar seermaak; sy word stil. Later lê ons bymekaar, versigtig om nie aan mekaar te raak nie, soos twee gewonde diere.
Dit is in daardie jaar of die volgende dat Gert-wat-die-Duif-onthou dros. Kyk maar in die Kolonie se dokumentasie hoe die gedoopte basterhotnot Gerrit Coetzee begin stories aandra. Lees daar hoe verklaar die swernoot in 1793 onder eed dat ek, onder die voorwendsel van olifante jag, oor die Visrivier gaan na die Kaffers en hulle van hul vee beroof, soveel as wat ek goeddink. Volgens die verklaring jaag ek die vee aan na my plaas en as die Kaffers teëstribbel, maak ek hulle lê op die grond en dan foeter ek hulle met al wat ’n sweep of ’n stok is. Die basterbekeerling verklaar verder dat tydens een so ’n geval ek sou opdrag gegee het vir die Hottentotte Platje en Piqeur om te vuur op die Kaffers. Eersgenoemde dood vyf en laasgenoemde vier. Hierby sou die wedergebore Hotnot dan ook ’n declaratie van Platje insluit wat spreek van my kwansuise mishandeling van my verdomde plaasvolk.
Kyk my in die oë en vra my reguit en ek sal niks hiervan ontken nie. Vir wat? Ek hoor hierdie beskuldigings aan en knik my kop. Ek weet nie en ek gee geen duit om waar hy aan die stories kom nie, maar moenie vir my vertel dat daardie godvervloekte klont schijttyfus genaamd Gert saamgegaan het op hierdie strooptogte nie: Daardie Hotnot kon nie sy eie misgebore voet raak skiet nie. Ek sou hom nooit saamgevat het nie. Hy was net so min daar as wat hy met Noag se vogel gespeel het.
Op 21 Maart 1788 ontvang ek ’n brief van my oom:
Geëerbiedigde neef Coenraad de Buys,
Ek moet u meedeel dat Langa u laat weet het hy vereis betaling van u vir die slaan van sy Kaffer, anders sal hy onmiddellik opnuut aanval. Hy sien dit as ’n uitdaging aan hom en die Kristene moet nie dink dat hy bang is om oorlog te maak nie.
Met groete van ons almal.
Ik ben uw oom,
Petrus de Buys
Ek kry nie veel briewe nie en ek bewaar die brief en lees dit oor en oor. Terwyl ek dit lees, prik die punte van my vingers.
3
En in hierdie dae is daar onrus in die koningshuise van die Kaffers soos daar onrus heers in die koningshuise van Europa. Terwyl die Franse begin valbyle slyp vir koninklike strotte, moor ook die Kaffers mekaar uit vir nuwe ordes en konings en is die horison in Afrika soos in Europa vol rook en verder leeg.
As ek die verhaal van die oosgrens geken het voor ek daarheen getrek het, sou ek nie my voete daar gesit het nie. As jy oosgrens toe wil trek, bring meer munitie as boeke. Jy kan oorleef in die hier en nou as jy reguit kan skiet, maar die geskiedenis gaan jou rug breek en jou skop waar jy lê.
Ek begryp jy wil by die storie uitkom; die geskiedenis rondom my maak dinge dynserig. Maar ek was deel van daardie baaierd, die bossies en die bloed en die meidjies, maar ook die datums. So kom ons hou dit kort en kragtig: Opperhoof Phalo is in 1775 na sy voorvaders. Vir sy seuns Rharhabe en Gcaleka is die lewe ook iets wat sigselwers moet uitwoed sodat hulle kan gaan lê. Gcaleka volg sy vader drie jaar later. Rharhabe moet, soos soveel vaders in daardie tyd en steeds, sien hoe sy seun en erfgenaam, Mlawu, verstik aan sy bloed en roggelend sterf van die spies in sy bors. Hy staan op van sy seun se lyk en baklei verder teen die Tamboekies tot hy ook op dieselfde stuk grond sterf en die jaar is 1782.
Mlawu se seun is Ngqika en hy ry nog soms op sy moeder se rug en speel in die stof en hardloop met nerfaf knieë rond en kan nog nie regeer nie. Mlawu se jonger broer, die groot generaal Ndlambe, gaan sit op die versierde osskedel voor die Groot Hut en hou dit warm vir die klein prins. Ndlambe is ’n kryger en sy mense het hom daarvoor lief. Hy is groot en sterk en nie vier jaar oud nie. Hy verstaan oorlog en hou aan oorlog voer. Hy sit onmiddellik sy vader se veldtog teen die Mbalu en die Gqunukhwebe voort, want seuns maak oorlog vir hul vaders. Sy redevoering is gespierd en soepel soos sy ledemate en deurdrenk van idees oor die nimmereindigende stryd om selfhandhawing en dergelike drek wat van alle tye af die lippe vlek van mans wat moet regeer, maar net weet hoe om te veg.
Die Kaffers het geen sentrale owerheid waarmee die Kompanje kan onderhandel nie. Toe die Kompanje effe verward ’n rivier ’n grens en ’n plaashuis ’n drostdy maak en ’n afgetrede Stellenbosser en ’n handvol ordonnantieruiters stuur om hierdie grens te bewaak, sien die Kaffers net ’n rivier waar daar ’n grens is en stroom hulle daaroor. Aan die oostekant van die Visrivier heers daar droogte wat die vee en wild vermoor en ’n regent wat die Mbalu en Gqunukhwebe vermoor. Die Mbalu en Gqunukhwebe en hul vee trek in tussen die Kristene en hul vee aan die duskant van die rivier. Hulle dool oor leenplase heen op soek na weiding en wild en oorlewing, vasgepen tussen die bedonderde boere en die wagtende Rharhabe-krygers. Die Kristene en die Kaffers boer al twee met beeste en vir al twee is jou vee jou rykdom. Beide bly in riet-en-kleihutte, heers oor hul vroue en bid vir hul gode wat dieselfde offers vra van vleis en vuur. Die Kaffers het die getalle en die Kristene die sierlike skrif van leenkontrakte en Bybelverse. Uit die getalle vloei geen algebra en uit die geskrifte geen fraaie