“Wel, ek weet nie wat jy kan sê om my anders te oortuig nie,” sê sy toe hulle die trappe bereik. “Dis ’n feit dat bankrotskappe en werkloosheid nog nooit so hoog was as nou nie.”
“Wat doen jy vanaand?” vra hy uit die bloute.
“Ek? Wel, ek gaan naaldwerk doen. Ek moet voorraad …”
“Kom eet vanaand saam met my?” onderbreek hy haar sin.
“Eet? Ek … Nee, dankie, ek eet nie saam met getroude mans nie.”
“Geskei,” help hy haar reg.
“O?”
“Ek wil jou graag inlig omtrent Mossgas se bedrywighede. Dit sal help om van jou ’n ingeligte dorpsburger te maak.”
“Goed dan,” gee sy toe ná ’n bietjie weifeling. “Ek moet erken dat ek weinig van die projek weet. Al wat ek weet, is dat dit glo veronderstel is om die land se brandstoftekorte aan te vul uit die gasvelde wat hier in die see ontdek is.”
Hy vergesel haar tot by haar motor. “Waar kan ek jou kom oplaai en hoe laat?”
“Miskien moet jy my maar by my tannie se huis kom oplaai. Ek sal haar vra om na Eben te kyk. Ek wil nie die kind graag in die koue uitvat nie.”
Sy gee tant Ralie se adres en ry weg. Vertwyfeld wonder sy oor die wysheid van haar besluit om sy uitnodiging aan te neem. Maar hy hét haar mos darem laat verstaan dis net ’n inligtingsessie. Sy is verspot om te dink hy het enige ander motiewe.
Ook Gustav het bedenkinge oor sy impulsiewe uitnodiging. Hy hoop nie Esbeth verwag meer van hom as ’n geselsie oor die Mossgas-projek nie. Hy het geen begeerte om weer betrokke te raak nie. Nie eens by ’n platoniese verhouding nie.
Hy voel ongewoon senuweeagtig toe hy die aand voor Esbeth se tante se huis stilhou. Dit is die eerste keer dat hy weer ’n meisie uitneem ná Selma. Vóór Selma was daar baie meisies, maar … Gits, hy hoop nie hy het só afgestomp geraak dat hy ’n verleentheid vir homself gaan wees nie.
Gustav het homself daarop voorberei dat Esbeth mooi gaan lyk. Die paar keer dat hy haar al gesien het, was sy altyd smaakvol aangetrek en kon hy nie anders as om haar skoonheid raak te sien nie. Maar toe sy in die voordeur verskyn, kan hy nie anders as om haar bewonderend aan te kyk nie. Hy wonder vlugtig of sy ooit ingeskryf het vir ’n skoonheidskompetisie. Sy sou beslis nie laaste gekom het nie.
Esbeth is onbewus van Gustav se bewonderende blik. Sy kyk net vlugtig na hom en het moeite met haar hartklop en senuwees. As hy net nie so vervlaks aantreklik was nie!
“Sal ons ry?” vra hy nadat hulle ietwat sku gegroet het.
“Ja, ons kan maar gaan,” antwoord sy en vies haar vir die skielike heesheid van haar stembande. En die oomblik toe sy langs hom in die motor sit, besef sy dat sy ’n fout begaan het om saam met dié man uit te gaan. Daar is ’n sensualiteit in die atmosfeer. ’n Amper plofbare intensiteit. Sy gaan dit net onmoontlik vind om doodgewoon teenoor hom op te tree.
Ook Gustav vind die motor se binneruim skielik beknop. As sy die babbelende tipe was, sou dit hul samesyn makliker gemaak het. Tog is hy glad nie spyt dat sy nié die “borrelende” tipe is nie. Sy das se knoop wurg hom skielik. Hy wil daaraan rem, maar bedink hom. Laat hy liewer dink aan iets logies om te sê.
“Waar werk jy?” vra hy.
“Ek het my eie boetiek begin. Verkoop maar die klere wat ek self maak daar.”
“Maak jy jou eie klere ook?”
“Ja, meesal.”
“Jy lyk . . baie mooi.”
“Dankie. Jy … e … lyk self goed. Ek hou van jou das.”
“O. Dankie. My tant Mietie het dit vir my gekoop. Sy’t gesê dit pas by die baadjie wat ek aanhet.”
Toe Gustav in die parkeerarea voor die restaurant uitklim en om die motor stap om vir haar die deur oop te maak, vererg hy hom vir sy onbeholpe onsekerheid. ’n Mens sou sweer hy is bang vir die vroumens! En om aan homself te bewys dat hy meester van die situasie is, stuur hy haar met ’n ferm hand op die arm oor die straat en met die trappies op na die eetplek.
Hy het ’n tafel bespreek, besef Esbeth toe hy sy naam vir die kelnerin noem. Sy is oorbewus van sy manlike nabyheid toe hy teenoor haar plaasneem.
“Sal ons ’n droë wyn bestel?” vra hy met die wynkaart in sy hande.
“Ek is nie ’n kenner nie. Solank die wyn net nie heeltemal stroopsoet is nie, sal dit lekker wees.”
Hy bestel die wyn by die kelnerin en toe sy loop om die bestelling te gaan uitvoer, kyk hy na Esbeth. En skielik gebeur daar iets tussen hulle: Toe hulle na mekaar kyk, is dit asof alles rondom hulle vervaag …
Die blos op haar wange wat hom amper laat skrik, ruk hom terug na die werklikheid. Hy wil nie verteder raak deur die broosheid van ’n vrou nie. Hy kug heserig toe hy sy blik wegskeur om deur die venster te kyk. Hy kyk afgetrokke na die liggie van ’n vissersboot wat op die see dobber, en hy dink vermanend: As jou boot op ’n storm afstuur, moet jy anker gooi. Hy is nog op soek na kalmte ná die storm wat sy lewe ontwrig het. Hy moet versigtig wees … Tog, hy kan hom nie herinner dat hy Selma ooit sien bloos het nie …
“Jy wou my van Mossgas vertel het?” dring Esbeth se woorde tot hom deur.
“Wat wil jy weet?” vra hy afwesig, intens bewus van haar.
Sy gee ’n laggie. “Ek dag jy weet presies wat jy my wil vertel. Ek het nie ’n vraestel opgestel nie.”
“Ek soek ’n aanknopingspunt,” sê hy met ’n stemtoon wat haar hart onverwags laat spring.
“Goed. Vertel my waar kom die gas in die see vandaan? Ek bedoel, hoe het dit daar gekom? Hoekom is daar dan net op sekere plekke van die gas?”
“Die gas het ontstaan as gevolg van plant- en dieroorblyfsels wat tot 170 miljoen jaar oud is en wat in vlak seebeddings begrawe is, bedek deur die fyn lae modder wat deur die riviere na die see gevoer is. Ongeveer 160 miljoen jaar gelede was Afrika deel van ’n sogenaamde superkontinent, genaamd Gondwanaland, wat die huidige Suid-Amerika, Afrika, Antarktika en die Indiese subkontinent ingesluit het. Hierdie vastelande het van mekaar geskei in die Juratydperk. Ek praat nou van so 130 miljoen tot 150 miljoen jaar gelede. Kort voor die kontinente van mekaar weggedryf het, het ’n vlak see ontstaan – in die gebied wat vandag as die Bredasdorp-kom bekend staan. Oor die jare is die lae modder aangevul oor die poreuse sande wat vandag as die reservoir vir die gas en kondensaat dien. Met die aanvang van kontinentale drywing het die seevlak gestyg. En so het verhoogde druk en stygende temperature die toestand geskep vir die omskepping van die gefossileerde reste tot petroleum wat wissel van dik, swart ru-olie tot kondensaat en die hoogs vlugtige gasse.”
Sy vertelling word onderbreek toe die wyn opdaag. Hy wag tot sy aan hare proe. “Hou jy daarvan?”
“Ja, dankie. Dis baie lekker. Nie te soet nie. Net reg.”
“Ek het gedink jy sal daarvan hou.”
Sy wag totdat hy ook ’n slukkie geneem het. “’n Mens kan amper nie glo die aarde bestaan al so lank nie. Maar vertel my van die seeplatform, of Rig, soos julle dit noem. Ek hoor daar werk baie mense daar. Wat gebeur as daar ’n storm opkom? Ek bedoel, dryf dit nie dan weg van die olieveld af nie?”
Hy glimlag. “Nee, dit kan nie beweeg nie. Die platform is geanker op ’n dra-struktuur wat binne-in die seebodem ingedryf is. Die dra-struktuur het ’n massa van 14 500 ton. Dit is in Saldanha vervaardig en per boot hierheen gesleep, terwyl die modules van die platform weer in Port Elizabeth gebou is. Ek was nog nie hier toe die drastruktuur in die seebodem geanker is nie, maar dit was glo ’n taamlik gevaarlike proses omdat daar ’n onverwagte storm opgekom het wat die golwe tot vier meter hoër as die internasionale norm van twee meter maksimum opgejaag het. Gelukkig het alles glad verloop. Ek glo dis omdat die mense wat by Mossgas werk, geweet het wat hulle doen. Die personeel