Die volgende dag sleep traag verby. Dis ook nie ’n lekker dag buite nie. Dit bly bewolk, daar waai ’n geniepsige windjie en die see se vuilgroen kleur bied geen opwinding nie. Toe die hotelkamer vir hom te eng word, ry hy Punt toe en hou in die parkeerterrein onder die ligtoring stil. Hy sit lank daar en kyk hoe die branders aangerol kom om hulself te pletter te loop teen die rotse. Dis asof hy homself met die geweld daarvan kan vereenselwig. Hy weet nie meer wat dit is om rustig te voel nie. Dis iets wat hy verleer het. Sy huwelik met Selma was voortdurend stormagtig. Hy was altyd op sy hoede, versigtig vir waarmee sy volgende vorendag kon kom.
Die wind waai ’n lagie sproeireën teenaan sy motor se voorruit vas, maar hy vee dit nie skoon nie. Wanneer hy aan die kind dink wat die vorige aand saam met sy ouers in die restaurant was, laat rus hy sy kop op sy arms oor die stuurwiel en sluk hard aan die knop in sy keel. Hy sit lank so, en toe hy wil ry, kom hy agter dis nie net die sproeireën wat sy uitsig belemmer nie. Daar is trane in sy oë.
Tant Mietie se brief lê soos ’n aanklag teen sy gewete op die tafeltjie voor sy bed wanneer hy die hotelkamer binnestap. Toe dit halfsewe raak, trek hy ’n pak klere aan. En terwyl die kerkhorlosie sy sewe slae slaan, sluip hy stil die kerk binne om op een van die heel agterste banke te gaan sit. Hy laat sak sy kop, maar dis stom diep in hom. Sy verstand wil nie woorde vorm om te bid nie. En sodra hy sy oë oopmaak, val sy blik op die mense voor hom in die bank – die paartjie van die restaurant en hul kind.
Toe die gemeente opstaan om te sing, bly die kind op die bank sit en Gustav vind dit moeilik om sy blik op die psalmboek in sy hand te hou. Hy wonder of die kind se ouers weet watter kosbare kleinood hulle in hul besit het. Dit word dik in sy keel toe hy aan sy eie klein Norman se graffie daar in Johannesburg dink. Here, hoe lank nog voor die pyn en verlange minder gaan word?
Tydens die preek kantel die kind voor hom se koppie teen sy ma se skouer vas. Sy bly dan ook sit toe die gemeente opstaan vir die slotsang. Gustav kan nie anders as om na die prentjie voor hom in die bank te staar nie. Herinneringe maak hom bewoë. Hy dwing sy blik weg van die kind en dit val op die man voor hom se skouers. Sy pak klere is al blink van ouderdom; die hempskraag is effens geskif. Maar hy is ’n aantreklike man en beslis nie slonsig nie. Sy blik verskuif na Esbeth wat so smaakvol aangetrek is. Dit lyk of die pa homself so ’n bietjie afskeep om goed vir sy vrou en kind te kan sorg.
Esbeth is salig onbewus van die misverstand waaronder die man in die bank agter haar verkeer. Sy weet nie eens wie daar sit nie. Haar gedagtes is nog by die preek. Sy is bly sy het die diens bygewoon. Dit het haar stof tot nadenke gegee. ’n Mens neem dinge so maklik as vanselfsprekend aan. Vergeet so maklik dat daar ’n Hoër Hand is wat jou seëninge vir jou uittel.
Toe die mense die kerk begin verlaat, laat sy toe dat De Wet vir Eben optel om hom motor toe te dra. Daar val ’n motreëntjie buite en die kerkgangers skarrel haastig om by hul motors te kom.
Gustav is ook by sy motor, maar hy sukkel so ’n bietjie in die donker om die deur oop te sluit, dus sien hy dat die gehawende motor reg voor syne blykbaar aan Esbeth en De Wet behoort. Dit laat hom vlugtig wonder waar die nuwer model dan is waarmee Esbeth gery het. Seker maar by ’n motorhawe vir herstelwerk.
“Jy moet bid dat ou Lazy Daizy vat,” sê De Wet vir Esbeth. “Sy hou nie van nattigheid nie.”
“Gits, ons kon met my motor gery het,” sê Esbeth. “Ek het nie daaraan gedink nie.”
En toe is dit ook so. Lazy Daizy wil niks weet nie. Sy proes net ’n paar rookwolke met ’n knalgeluid by die uitlaatpyp.
“En nou?” vra Esbeth.
De Wet slaan vies met sy vuis op die stuurwiel. “Ek sal moet stoot. Sal jy agter die wiel inskuif? Sit haar in tweede en hou jou voet op die koppelaar. Moet dit nie laat uitkom voordat die motor op spoed is nie. En as sy vat …” Sy sin breek af toe iemand aan die ruit klop.
“Het julle probleme?” vra Gustav toe De Wet die venster afdraai.
“Ja, die bloemen skedonk wil weer nie vat nie,” sê De Wet omgekrap. “Dis ’n ou streek van haar elke keer as dit reën. Wag, laat ek uitklim. As ek haar ’n stootjie gee, behoort sy te vat.”
Toe De Wet uitklim en Gustav ook agtertoe beweeg om te help stoot, skuif Esbeth agter die stuurwiel in. Maar die motor is vir haar vreemd, en ná die derde probeerslag vra De Wet vir Gustav of hy nie agter die stuurwiel sal inskuif nie.
Hy kry die motor met die eerste probeerslag aan die gang en hou onder ’n lamppaal stil. Esbeth loer ongemerk na hom – net toe hy ook in haar rigting kyk. Dit maak dat sy haar kop half verbouereerd wegruk. Sy het nie kans om te wonder oor die snaakse gewaarwording wat sy skielik ervaar het terwyl Gustav saam met haar in die motor was nie, want De Wet is gou by om by Gustav oor te neem.
“Ek sal agterna ry as jy wil,” sê Gustav. “Net om seker te maak julle haal die huis.”
“Dankie, maar dit sal nie nodig wees nie,” sê De Wet. “As sy eers gevat het, sal sy nie weer vrek nie. Baie dankie vir jou hulp, hoor.”
Esbeth voel teleurgesteld omdat De Wet Gustav se aanbod van die hand gewys het. Maar sy tob nie daaroor nie, want De Wet vaar so wild uit oor Lazy Daizy se wispelturigheid dat sy later nie meer haar lag kan hou nie.
“Toe maar, eendag as jy ’n ryk man is en alles besit wat jou hart begeer, verlang jy dalk terug na hierdie sukkeldae om jou lewe op te kikker.”
“Dit sal die dag wees! As ek ryk is, koop ek vir my ook ’n Mercedes soos Gustav Opperman. Ek wonder waar sy vrou is? Hoekom is hy dan altyd alleen?” En toe Esbeth nie antwoord nie: “Weet jy of hy getroud is?”
“Hy sal seker wees. Hy lyk nie meer so bloedjonk nie.”
“Nee, ek skat hy moet al by die dertig wees. Dalk is hy geskei. Deesdae skei die mense mos asof dit uit die mode geraak het om bymekaar te bly.”
Esbeth sê niks hierop nie, maar later die aand, terwyl sy in die bed klim, wonder sy ook waarom Gustav dan elke keer alleen is. Miskien is hy geskei. Dis ondenkbaar dat so ’n aantreklike man nog ’n alleenloper kan wees. Hy sal tog kan kies en keur onder die nooiens. Tensy hy glo elke vrou is ’n straatslet! dink sy sinies. Hy moenie dink sy sal hom maklik vergewe vir daardie opmerking nie, al het hy kamtig om verskoning gevra.
Toe haar ontsteltenis droom sy boonop van hom. Sien sy hom in haar droom weer soos hy gelyk het daar voor die kerk onder die straatlamp se lig. Die klammigheid in sy krullerige hare, sy ernstige gesig met die donker oë en die kuiltjie in sy ken …
Boonop onthou sy dit alles die volgende oggend tot in die fynste besonderhede. Sy gesig bly voor haar en hoe harder sy probeer om van die droom en sy gesig te vergeet, hoe meer prominent verrys dit voor haar. Die droom vervaag eers laatoggend toe haar winkel begin besig raak.
Gustav stryk met sy vingers deur sy windverwaaide hare en kyk deur die venster van die helikopter na die seeplatform en patrollieboot wat kleiner en kleiner word soos hulle daarvandaan weg beweeg. Van die reën en koue wind van gister was daar vanmôre met opstaantyd geen teken nie. Maar die moontlikheid dat dit weer kan toeslaan, is nie uitgesluit nie. Daar lê steeds ’n donker wolbank op die horison.
Hy is bly dat die probleem by die seeplatform gering was. ’n Vorige keer toe hy daar was, het die weer so guur geraak dat hy en die loods drie dae lank daar op die platform vasgekeer was. Hy het hom later regtig begin verveel, want al tydverdryf wat hy gehad het, was om sy spiere so ’n bietjie in die gimnasium op te knap.
Nadat hulle op George se lughawe geland het, haas hy hom na sy motor, want hy wil vandag nog by die Mosselbaai Advertiser se kantoor ’n besoek gaan aflê om die negatiewe prentjie oor Mossgas wat deur ’n oningeligte briefskrywer in die koerant geskilder is, reg te stel.
Dis dan ook toe hy by die Advertiser se deur uitkom, dat hy hom in Esbeth vasloop. Hy is so ingedagte dat hy letterlik teen haar bots. Gelukkig gryp hy haar betyds voor sy val. “Ek is jammer,” sê hy. “Ek het nie gekyk waar ek loop nie.”
Esbeth skrik, des te meer toe sy sien wie die persoon is