Wat ’n aanmatigende vent! Om hom te verbeel hy is só watwonders! Die eerste keer het hy haar byna onderstebo gery, die tweede keer het hy haar motor toegegooi onder ’n stofwolk daar by die Wolwedansdam se afdraai … Dit kon net hý gewees het wat so ongepoets op die plaaspad gejaag het! En nou insinueer hy so waarlik dat sy ’n slet is wat mans in die strate nader! Behoede hom as sy hom wéér moet raak loop. Sy sal hom met graagte vertel wat sy van hóm dink!
3
De Wet weet Esbeth het besluit om nie vir die naweek plaas toe te gaan nie omdat sy wil naaldwerk doen. Hy weet ook baie goed dat sy nie gesteur wil word nie, maar daar is ’n ongedurigheid in hom wat maak dat hy tog teen skemeraand aan haar woonstel se deur gaan klop.
Sy is verras om hom te sien. En ja, laat sy dit maar teenoor haarself erken, bly ook. Sy is moeg van die gesit agter die naaimasjien. En moeg van tob oor die lelike gedagtes wat die man van die kafee oor haar koester. Sy nooi De Wet dus vriendelik binne.
“Ek is bly jy het ’n bietjie oorgekom. My nek is al stokstyf.”
De Wet skep moed. “Hoe lyk dit, kan ons nie iewers iets gaan eet nie? Sommer iets ligs, want vir duur eet het ek nie geld nie.”
“Ek weet. Maar ék het geld. Ek het vanoggend die bruidsrok in my winkelvenster verkoop. Kontant, alles in note. Toe, wat sê jy?”
“Wat van jou naaldwerk?”
“Ag, môre is nog ’n dag. Ek voel ek het ’n bietjie ontspanning nodig.”
“Ek sal vir myself betaal.”
“Onsin. Ek nooi jou!”
“Nogtans.”
“Bog, man. Toe, kry jou ry, en gaan trek jou mooi aan. Ek gaan ook gou onder die stort inspring. Toe, weg is jy!”
Toe die voordeur agter De Wet toegaan, roep sy na Eben en draf haastig badkamer toe. Sy wil nie tyd hê om te wonder oor haar impulsiewe uitnodiging nie. Om oor alles te tob, bring niemand tog iets in die sak nie. Hoekom moet sy die hele aand hier in haar woonstel sit? Hoekom mag sy nie ook weer ’n slag leef en vat wat die lewe haar bied nie? Sy kan tog nie vir ewig wag om te kyk of Richard dalk weer gaan opduik nie. Sy skrop eers ’n protesterende Eben blink en gee dan aandag aan haarself.
Toe De Wet hulle kom oplaai, lyk sy dan ook prentjiemooi, en hy besef dat ou Lazy Daizy nou nie eintlik reg laat geskied aan haar skoonheid nie. Maar ’n ander voertuig het hy nie. Gelukkig lyk dit nie of dit Esbeth enigsins pla dat sy in so ’n skedonk moet ry nie. En Eben het vrede met die voertuig; hy babbel net oor die tjips en roomys wat hy gaan eet.
Die atmosfeer tussen hulle is gemoedelik tot die oomblik dat hulle die restaurant binnestap. Esbeth voel hoe haar lighartigheid op die plek taan, want daar op die onderpunt, naby die kaggel, sit die Opperman-vent. Sy rem terug toe De Wet haar ook in daardie rigting wil stuur.
“Kom ons sit sommer hier,” beduie sy na die leë tafeltjie langs hulle.
Hy kyk onseker van haar na die kelnerin wat by die tafeltjie regoor Gustav gaan staan het. “Ek dink sy het daardie tafel vir ons in gedagte …”
“Nee, dis te warm daar. Ek bedoel, ek wil nie so naby die vuur sit met Eben nie. Die hitte en koue … Kinders word maklik siek,” gryp sy stotterend ’n verskoning uit die lug.
“Alles in orde,” sê die kelnerin wat die laaste gedeelte van Esbeth se verduideliking opvang. “Hierdie tafel is nie bespreek nie. Sit gerus hier.”
Terwyl De Wet besig is met die wynlys, loer Esbeth ongemerk in Opperman se rigting en betrap sy blik vol op haar. Sy ruk haar kop onmiddellik weg, maar voel tot haar ergernis dat sy bloos. Gelukkig is die vertrek dof verlig. Hoewel die geselskap tussen haar en De Wet gesellig en vlot verloop, bly sy bewus van die man daar langs die vuur. En toe sy weer sien dat hy na haar kyk, weier sy om haar blik te laat sak. Sy bevestig as ’t ware sy is ’n straatslet! Dit is dan ook hý wat eerste wegkyk nadat hy sy kop in so ’n effense groetbeweging geknik het.
Sy en De Wet is halfpad deur hul dis, toe Opperman opstaan. By hul tafel steek hy vas.
“Goeienaand. Ek het nagelaat om myself vanmiddag aan u voor te stel. Gustav Opperman.”
Esbeth voel verplig om haar hand in syne te lê en is onmiddellik weer ontsenu. “Ek is Esbeth Wilcock. Dis … e … De Wet, en … e … dis Eben.”
Gustav reik ook vir De Wet die hand. Daarna vee hy vlugtig oor Eben se kop. “Geniet jul ete,” sê hy. En dan direk tot Esbeth: “Ek is jammer oor my opmerking van vanmiddag,” voordat hy omdraai en die restaurant verlaat.
Daar is ’n frons op De Wet se gesig toe Esbeth weer na hom kyk. Sy voel dus verplig om hom te vertel hoe verspot sy was om Gustav nader te gewink het die middag in die straat. Maar van die onwelvoeglike gedagtes wat Gustav Opperman jeens haar koester, sê sy liewer niks nie.
“Gee jy dan nog soveel om vir Richard?” vra De Wet half ontevrede.
“Ek weet nie,” sê Esbeth met ’n sug. “Moet my maar nie vra hoe ek oor Richard voel nie, want ek weet nie. Ek weet net dit het by my opgekom dat die man daar in die straat dalk Richard kan wees.”
“Het jy hom toe gevra of hy dalk familie van Richard is?”
“Nee, ek het nie. Ek het hom ook nie gevra of hy Frans Bruwer ken nie. Hy was te befoeterd. Hy het behoorlik gal gebraak oor ek so onverantwoordelik in die straat stilgehou het.”
“Lyk hy baie na jou … man?”
“Sy hare en sy bou, ja. Maar definitief nie sy gesig nie.”
“Vir watse opmerking het hy jou om verskoning gevra?”
“O, ek weet nie,” hou sy haar dom. “Ek kan nie onthou wat hy my alles toegesnou het nie. Maar kom ons gesels oor ander dinge. Ek het nie gekom om die aand te bederf deur oor die verlede te gesels nie,” maak sy vinnig korte mette van die onderwerp. Dis mos waar, regverdig sy haarself. Sy het nie hierheen gekom om oor Richard óf Gustav Opperman te gesels nie. Sy het gekom om die aand te geniet. Nie om te tob oor ’n man wat glo sy verkoop haar liggaam aan elke man op straat nie …
De Wet wonder. Hy kry die indruk sy probeer wegskram van ’n gesprek oor Gustav Opperman. Dit laat hom effens benoud voel. Hy weet nie wat presies dit is wat hy vir Esbeth voel nie, maar hy weet sy laat hom beslis nie koud nie. Gustav Opperman moenie nou dinge kom staan en befoeter met sy aantreklike bakkies en manlike styl nie. Hy wat De Wet is, gaan nie opgewasse wees teen ’n man wat soveel welvaart en sjarme uitstraal nie.
Van die restaurant af ry Gustav eers by die poskantoor aan om te kyk vir pos. Daar is net een posstuk waarin hy regtig belang stel. Dit is ’n brief van sy tant Mietie in die Transvaal. Toe hy in sy hotelkamer kom, skop hy sy skoene uit en rem sy das los. Dan gaan sit hy in die stoel voor die venster om die brief te lees.
Hy glimlag toe hy lees:
Ek is nou hartlik sat vir hierdie huis van my met sy tralievensters en lemmetjiesdraadheinings. Koop vir jou ’n huis, dan kom kook ek vir jou. Onthou, ’n hotel is ’n sondige plek. Netnoumaar ontaard jy daar en verloor jou sin vir die goeie dinge. Jy moet lig loop vir meisies wat van hotelle hul kuierplek maak. En onthou een drankie lei gewoonlik tot twee en drie en meer. Gaan jy darem gereeld kerk toe? En moenie in die see loop swem in die winter nie, al is dit warm. Dis net verkoue soek.
Hy grinnik hardop. Geen mens sal glo hy is al ’n man van twee en dertig jaar as hy dié brief lees nie. Maar toe hy verder lees, verdwyn sy glimlag: Moenie verbaas wees as daardie gewese vrou van jou dalk daar in Mosselbaai opdaag nie. Sy was die ander dag hier by my, en ek het my mond vervlaks verbygepraat en vir haar gesê in watter hotel jy tuisgaan. Sy het nie vir my gesê hoekom sy jou soek nie, maar ek voorspel weer moeilikheid as sy by jou uitkom, want dit lyk my sy glo dat jy haar maar weer met oop arms sal verwelkom ondanks die smart wat sy jou aangedoen het.
Sy