Dit was ’n ernstiger kinderpakt as die gewone, ’n bende van twee. Daar was die versigtige snit met ’n lem, die uitruil van bloed.
Kinders beleef hierdie verblindende sterk lojaliteite en liefdes. Net om daarvan te vergeet wanneer stroomversnellings hulle later meevoer, en hulle kop bo water moet hou net om die stroomaf sleur te oorleef wat die lewe onafwendbaar word.
Maar meer so as ander het die skrywer se vader nogal naïef bly vasklou aan daardie bloedbroederskap gesmee onder ’n yl boom in die Karoo, so baie jare gelede.
Hoe vorm hierdie dinge ons nie! Hoe het elke familie nie, soos ’n genetiese kode, sy privaat mitologie uitgekaart nie! Hierdie verhaaltjie was sy vader se metanarratief: die seer toe die magnaat sy eerste myn laat grawe, blitsig soos ’n arend wat uit die winde val, diep die aarde in: asbestos!
Sy vader is nie gevra om te belê nie, en die intreebeleggers uit daardie streek, wat uit lojaliteit hul eertydse skoolmaat in sy eerste onderneming gesteun het, het saam met hom baie welgestelde mense geword. Elk het mettertyd in eie reg ’n dinastie gevestig, in daardie dae toe die Afrikaner verbete ’n bres teen Afrika probeer slaan het met graanlande, spoorlyne, sigaretfabrieke, asbesmyne, films en gedigte. En alsations en wette.
Bitterheid: die rokerige brandpunt van die vergrootglas. Die arme magnaat; hy’t dit nooit besef nie.
Maar jare later, ná sy vader se vroeë dood, het die skrywer se moeder hom ’n ander verhaal vertel oor die Bloedeed van die Sondagsrivier. Lesers sal waarskynlik terugdeins vir die hoofletters, verskoon maar. Ons betree hier egter mitologiese gebied; hierdie dinge is in klip geskryf. Dis die Dionisiese drif wat dié verhaal dryf tot by sy onwaarskynlike en dramatiese einde.
Maar mitologie was nie iets waaraan die romansier se ma haar gesteur het nie. Ná sy vader se dood het sy omsigtig maar stelselmatig die familiemitologie begin aftakel. Sy het opnuut in die huwelik getree nadat hulle verhuis het na die dorpie waar die skrywer nou woon; dis die omgewing waaruit sy oorspronklik gekom het. Hierdie veranderinge het haar vry gemaak om te beitel aan die standbeeld wat haar man van homself opgerig het.
Die verhaal wat sy vertel het, het gelui dat die magnaat inderwaarheid ’n besoek aan die skrywer se vader gebring het, toe nog die eienaar van die familieplaas Nooitgedacht in die berge van die Kamdeboo. Dit was in daardie jare toe wit mans van hul klas Afrika nog as hul speelgrond beskou het.
Die magnaat was, in sy moeder se woorde, “kop in een mus” met ’n filmmaker, ’n man wat later wêreldbekend sou word vir sy film oor ’n Coca-Colabottel wat uit die lug val en in die hande beland van ’n groepie Boesmans diep in die Kalahariwoestyn. Dié twee wou die eerste behoorlike Afrikaanse rolprent maak, en het van plaas tot plaas deur die uitgestrekte distrik gereis op soek na beleggers.
Sy vader, “wat uit gewoonte die skip gemis het” (sy moeder se woorde), het die geleentheid om te belê van die hand gewys. ’n Film? ’n Storie? Die ligsinnigheid van die bioskoop? Nee wat – so het hy gesê.
Maar die waarheid was dat hy diep in die skuld was, want hy het pas in ’n nuwe en duur projek belê. Synde ’n man vir verbeeldingryke prakserings, het hy begin bou aan ’n kontrepsie agter die toe deure van die skuur. Wat dit was, het niemand geweet nie, en hulle sou ook nooit uitvind nie, want hy het eendag bleek en kopskuddend uitgekom. “Vergeet daarvan,” was al wat hy gesê het. “Die ding vreet net geld. En dit sal nooit geld inbring nie.”
’n Smous is gebel en die onderdele vir die geheimsinnige masjien is onder ’n seil weggery: ysterplate wat ten duurste op die dorp laat sny is, skroewe en ratte wat uit die stad laat kom is, duur aluminium, koperdraad, allerlei meters en skakelaars. Als weg.
Die skrywer se vader het dus onder dié omstandighede die bioskoopgeleentheid laat verbygaan. Die film is vervaardig en die geld was nie te goed nie, maar twee loopbane is geloods. Toe die asbes-uur slaan, was hy uit die prentjie. Die skopgrawe het gereed gestaan en die eerste span fris manne is met vragmotors uit Zoeloeland gebring, in kampongs gehuisves en, nou ja, die res is geskiedenis.
Nywerheidsgeskiedenis. Maar ook die nie-geskiedenis van die skrywer se familie.
Ná elf geslagte het droogtes die Karoo meedoënloos begin wurg. Die berg se silwer spuwing in die akwaduk het in die skrywer se kinderjare ’n dun, petieterige stroompie geword, toe ’n druppeling, en toe het selfs die groen slymvoering verdroog en verskrompel.
Nooitgedacht het ’n stofkom geword. Stoftregters het deur drome gedans, en in die nag kon jy nie onderskei tussen die soet geur van die doringbome, wat daardie droë jaar onverklaarbaar gebloei het, en die verrottende vleis van dooie lammers van daardie karige lammerseisoen nie.
“When a writer is born, a family starts dying,” het iemand ’n keer opgemerk, maar die skrywer het sy vader se seer gedra. Dit het egter verder as pyn gegaan: ’n verpligting het in sy siel begin ontkiem.
Hy was nooit bewus van hierdie drang nie. Later, toe alles verby was, het hy tot die slotsom gekom dat sekere dinge dormant in jou genetiese kode lê. Min of meer op dieselfde ouderdom toe sy vader se genetiese kode uitgeskop het en hy die plaas verlaat het om te begin werk by die sirkus wat ’n staning in die Sondagsrivier gemaak het, het onverwagte bitterheid die skrywer se eie biologiese klok tot by dieselfde plek gebring.
Hy is gereed vir ’n sprong, iets totaal onvoorspelbaars. Iets wat hom sal opswiep die winde van verandering in. Weg. ’n Ballon buite bereik van sy ingeperkte gemoed, van sy skrywerskap, sy professoraat. Van hierdie adolessente land wat homself stelselmatig aan die vermoor is asof hy die geskenk van bevryding glad nie begryp nie –’n kind met ’n nuwe driewiel wat die afdraand afjaag en mettertyd alle beheer verloor.
Dis die tydsgees, en die skrywer se gemoed is ’n lugballon.
Skielik is hy so tuis met die nosie van bitterheid en die moontlikhede van wraak dat dit hom duiselig maak. Daar is ’n bewing in sy hand wat plotlyne op die leë folio voor hom trek.
Skryflus neem van hom besit; dis ’n soort begeerte. Die dobbelsteen rol, dit tuimel asof dit ’n eie wil het en geen sorge in die wêreld nie. Dit tol op die name wat hy op die folio geskryf het en gaan lê plotseling op een naam: die sjampoemeisie.
Die nommer op die dobbelsteen is 1.
“Jy’s die een,” fluister die skrywer.
Die skrywer se vader het as vuurvreter begin. Die familie daar in die stil plaashuis op die werf waar geen diere meer was nie, het nie gehou van die term “vuurvreter” nie. Dit het hulle te veel herinner aan die voorgeslagte: die vuurvreters met hul lang baarde, hul mausers, die rebelle wat kommando’s gevorm het hier hoog in die berge, hier waar jy net Gods asemwind deur die gras sien vee en waar die son deur die koppe glinster en geen Britse vlag wapper nie.
Nee, dan eerder vuurspuwer.
Hy moes ’n baard kweek, ’n lang, swart bos baard wat ’n keer aan die brand geslaan het. Die skrywer het digby die arena gesit, daardie aand toe die sirkus weer verbygekom het en die hele dorp opgewonde was oor een van hul eie mense nou in dié wonderwêreld gewerk het. Sy vader het eers met vlammende baard ’n paar keer in die rondte gehardloop en toe onder handegeklap sy kop in ’n emmer, wat een van die hansworse kom hou het, gaan druk.
Die gehoor het geglo dis deel van die toertjie; die applous was oorverdowend. Sy moeder was woedend; hulle het sy vernederde vader agterna by sy karavaan gegroet en stil plaas toe gery. Die wêreld het na stof en klip geruik, die sirkus was ’n vertroosting vir die distrikte wat in daardie tyd so gesukkel het. Die arbeidershuise op die plaas was leeg, die werkers en hul gesinne moes almal loop, sommige van hulle het geslagte lank op Nooitgedacht gewerk. Hul trekke het op die rand van die hoofpad gesit, wagtend op die een of twee motors wat dalk daardie nag sou verbykom.
Toe die skrywer en sy moeder verbyry, het hulle wuiwend in die koplampe verskyn. Net ’n oomblik, in verflenterde klere, ’n hand