Asbesmiddag. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068747
Скачать книгу
die instink vir wraak die skrywer tref, besef hy dat dobbel nie net gedryf word deur die sug na verrassing nie, maar ook deur die verlange na die afgrond.

      Om alles te verloor; om te val; om geen vastrap- of vatplek te kry nie; om gewigloos en vry te wees.

      Hy is senuagtig toe hy Giuseppe Professional Hair Stylists die volgende dag bel om ’n afspraak te maak. Omsigtig sorg hy dat die Doktor nie dalk ’n afspraak het wat met syne sal saamval nie. Hy wil dit vermy; hy moet eers die water toets.

      Dis ’n winderige middag, met die suidooster wat klere teen ledemate aandruk en sinusse uitdroog. Daar is ’n gevoel van onheil in die lug. Hy verlaat die stadskampus, en toe hy by die sekuriteitshokkie verbyry, glip hy Domingo in die CD-speler. Hy ry uit op die snelweg wat noordoos lei.

      Hy dink aan ’n student se vraag: Wat is die doel van literatuur?

      Dis somer, die akademiese jaar het pas begin. ’n Slegte begin vir hom – die reses is al tyd wanneer hy ongehinderd aan sy skrywerswerk aandag kan gee. Hy moes deur die dae voor en ná Kersfees, rondom Nuwejaar en daarna met die vingerpunt elke woord van ’n buitelandse vertaling van sy sirkusroman nagaan. Alles gaan verlore, het hy in die bedompige namiddae gedink. Wat hulle daar in Europa gaan lees, is ’n afgewaterde weergawe van die oorspronklike teks. Waarom moet ek my hiermee bemoei? Dis nie meer ek nie, hierdie teks sonder tekstuur en subtiliteit.

      Hy begin die jaar moeg, met ’n kursus wat hy al die afgelope dekade aanbied. Hy ken die tekste uit sy kop – romantiese poësie uit die negentiende eeu, die Nederlandse Tagtigers. Dit moes vir hom ’n tuiskoms gewees het, ’n jaarlikse pelgrimsreis. Maar die studente word iedere jaar minder; vanjaar het slegs vier voor hom gesit toe hy die eerste dag by die klas instap.

      En om die een of ander rede voel die terrein hierdie semester vreemd, byna bedreigend. Sy akademiese lewe word oorgeneem deur die meesterklasse in die skryf van Engelse fiksie wat hy aanbied – en daar is geen tekort aan studente nie; skrywerskap blyk ’n gewilde bestaanswyse te wees. Ook sy Engelstalige lesings oor kultuurstudie word aange­bied voor massiewe klasse, waar studente uitgestapel op sirkus-pawiljoene sit.

      Die Nederlandse poësie is sy oorspronklike spesialiteit, sy liefhebbery, sy lewe. Hy het daarin gepromoveer. Stadig het dit egter onder hom gesterf; jaar ná jaar was die klassie yler, die begrip minder, die oë meer glasig. CNN berig min oor dié mistige landjie onder seespieël – dis kennelik die studentegemeenskap se houding; Arabies trek vol sale. Wag tot Mandaryns ingestel word. Nuwe winde, nuwe seë om te bevaar.

      As akademikus lê hy tussen dissiplines en wag op aftrede. Hy verteenwoordig niks behalwe homself nie – “die skrywer” is tog geen vakgebied nie. Dis ’n terrein van selfsug en neurose; dis ’n ballonvaart.

      ’n Wiskundige in ’n land waar syfers een môre geheimsinnig verdwyn het. Al wat oorgebly het, is die alfabet. En niemand kan eens 26 daaraan koppel nie. Hoe meet so ’n man sy wêreld?

      En nou is dit inderdaad asof sy gees ineens ou gevegte moet oorveg. Hy moet veg, maar hy weet nie teen wie of hoekom nie.

      Dít was sy bui toe ’n astrante student, ’n briljante jong vrou, met die aanvang van die klas die vraag stel. Hy het gestotter, gestamel en die woord doel aan die orde gestel. Hy het verwys na Auden se woorde art makes nothing happen, hy het hier en daar aangehaal, en toe die lesinglokaal verlaat met die oortuiging dat ’n pasiënt op die operasietafel gesterf het, onder sy hande. Hy het die skalpel in die oopgemaakte derms vergeet: “Die skrywer se enigste taak is om goed te skryf.” Marquez.

      Hy wat daaroor beskik om lewe te gee, het gefaal.

      Hy kon die verleentheid op die gesigte van die studente sien toe hulle die saaltjie verlaat. Hy het uitgekyk oor die plaveisel voor die trappe van die groot saal. Hulle loop nou daar uit, sy studente, sluit daar aan by hul genote van ander fakulteite, en hy het hulle geen swaard in die hand gegee om die beskuldigings van irrelevansie te beveg nie.

      Hoe kon hy aan hulle – eerstejaars – die waarheid vertel? Literatuur is slegs behep met sigself. Dit sou in hierdie dae tog ’n doodsvonnis wees vir hulle, vir sy vakgebied – sy sonnette en ballades, die dinge na aan sy hart.

      Maar toe Giuseppe se stem sy oproep beantwoord het, het sy bui die blou lug ingespring. Hy was skielik soos ’n vlieër wat deur die wind opgeraap word, sy gees het gevlieg. Dit was soos die oomblik in ’n verhaal wanneer die storie, ná ’n aanvanklik onsekere begin, skielik sy eie stem vind. Ek het ’n werkwoord gevind, eureka, ek kan vlieg, ek kan my aan die wind oorgee.

      Domingo se solo laat hom oor die teer skiet, rigting binneland, op pad na Maria, na Giuseppe, na Sylvia, na die leë stoel waar die sjampoemeisie eens stilweg gesit het in die doldrums tussen sjampoe­sessies.

      Dis by daardie stoel dat sy haar flater begaan het. En dis oor haar wat die skrywer navraag wil doen.

      Die brief het deur die voordeurgleuf geval, die voorportaal in – dís hoe hy die aankoms van ’n nuwe inval sien.

      Die skrywer se kop is byna heeltemal grys, maar terwyl hy bestuur, dink hy aan sy moeder se hand oor sy hare. Sy moeder het geweet hoe om hare te streel. Sy kon vertroosting en aanmoediging met een aai oor die kop kombineer.

      Hy weet nie van die motor wat hom onopsigtelik agtervolg nie. Hy bestuur asof hy alleen op die wêreld is, met die ander motor wat honderd meter agtertoe op die snelweg binne sig van sy agterligte bly. Soms versnel hy om geen ander rede nie as dat ’n ingewing hom tref. Ander kere begin hy weer só stadig ry dat mense agter hom toet en hy oor die geel streep moet swenk sodat verkeer wat agter hom opgedam het, kan verbykom.

      Baie herinneringe het vergaan, soos foto’s wat in ’n album vergeel, maar die hand oor sy kop vergeet hy nie. Die herinnering aan sy moeder bly hom by soos die dag van gister. Daarmee saam die reuk van stof en diesel, en die geur van doringboombloeisels, geel blommetjies wat terselfdertyd ruik na soet lente en verrottende vleis.

      Dis ’n herinnering wat hy nie sommer teenoor enigeen sal erken nie. Volwasse mans moenie te veel oor hul moeders praat nie, dink hy, toe hy opeens daarvan bewus word dat hy stadig binne die geel streep aankruie. Hy’s dalk selfs ’n maklike teiken vir kapers – die plakkershutte is hier tot byna teen die teerpad gebou. Nee, mans bêre hul moeders ver weg. Jy moet jou moeder verby wees; die lewe het jou immers verder geneem – uitdagings in, by die dood van vriende verby, snelweë oor.

      Die moeder behoort ver in die truspieëltjie te staan, wuiwend met ’n sakdoekie in die sepia van die kinderjare.

      Die Volvo ken die pad; hy hoef byna nie te bestuur nie. Sy vingertoppe rus liggies op die stuurwiel; sy voet por die petrolpedaal terloops. Dis die pad wat hy daagliks ry, ’n snelweg wat in sy gemoed al mitiese afmetings aangeneem het.

      Hierdie teerpad heg aan die stadskom in die buurt van die groot koloniale hotel waar die wag voor die pilaaringang komieklik staan, opgestel in sy wit helm en uniform, terwyl die stadsverkeer verby hom jaag. Dan swaai die pad met ’n kurwe teen die berg bokant die stad uit; dit volg met ’n reeks boë die kontoere van die berg en swenk weer af, onderdeur ’n duikweg. Dit transformeer tot snelweg voordat dit verby twee massiewe koeltorings van beton die vlakte in verskiet. Verby plakkersbuurte gly dit, verby ’n moskee se groen-en-wit toring, met daaragter die eenselwige plat huisies van werkersgesinne wat eens deur apartheid se amptenary van die berg se skurwe wang verwyder is tot verder weg van die stadskern, die sandvlakte in.

      Wanneer jy so die stad uitry na die dorpie (deesdae eintlik maar deel van die randstad) waar die skrywer vyftig kilometer verder woon, sien jy die blou deining van berge. Dit bly vir ’n hele ruk net belofte, want die pad moet eers ’n weg oopboor deur die werkersbuurte wat al digter teen die teer aantros – stapels sink en draad en menselewens hier verknoop in die groot gejaag na geleenthede.

      Hy haas hom nou uit die stad na sy geliefde salon op sy dorpie, want hy is ’n skrywer op vlug tussen boeke. Die boek wat hy pas afgegee het, is deur die publiek by hom weggegryp en dis nie meer syne nie. Die kanon het dit toegeëien. Die dood wag ná so ’n boek; enige skrywer sal dit bevestig. En die nuwe boek is nog bloot begeerte. Die groot vrees is oor hom.

      Bome,