Die boek het afbeeldings van Van Gogh se skilderye en tekeninge bevat. Dit was die skrywer se eerste blootstelling aan die idee van kuns – dat jy om jou kan kyk en dan self iets daarvan kan maak. ’n Prentjie skep wat iets anders wil wees as dit wat ander mense sien as hulle na dieselfde ding kyk. ’n Prentjie wat ver verwyder is van dít waarna jy gekyk het toe jy dit geskilder of geteken het. ’n Nuwe uitbeelding, met sy eie waarhede. Die skrywer dink aan sy grootwordjare diep in die Karoo as jare laag gebuig oor Van Gogh se beelde.
Die wind ruk aan die Volvo en stoot sandwolke oor die N2. Elke dag bestee hy baie tyd op hierdie snelweg. Die Volvo se lyf is middelklas van buite, maar onder die enjinkap is ’n onverwagte, brute krag wat daardie meer vertonerige Duitse modelle sal laat skrik. Hy hoef nie kapers te vrees nie.
Die skrywer is lief vir motors; hoe kragtiger en nuwer, hoe beter. Van sy vader het hy sy liefde vir tegnologie geërf. Masjiene laat jou nooit in die steek nie, het sy pa altyd gesê. Die masjien is nie soos die weer of ’n vroumens of die buurman of die fyn geteelde merino of lusern in blom of die plaaswerkers nie. Daar is altyd ’n rede waarom ’n enjin lol. Enjins toon wel subtiliteite, maar elke grilletjie is die resultaat van ’n verstelling wat jý gemaak het.
So anders as dit waarmee ek nou in my boeke besig is, dink die skrywer: die mens as knaend falende masjien.
Sy pa het ook gesê: Sorg dat jy hier in Afrika die sterkste kar ry wat jy kan koop. Sy pa het geglo dat ’n mens op jou hoede moet wees.
En inderdaad, hierdie tyd tussen boeke of op die drumpel van ’n nuwe verhaal is die tyd wat hy in sy pasoppens moet wees. Dan wil hy instinktief wegbeur van die wêreld met sy geluidsoorlas, maar terselfdertyd moet hy al sy sintuie oophou vir die dinge om hom – want van daar iewers, van buite, sal die nuwe invalle kom.
Dit sal, op ’n dag dat jy dit nie verwag nie, intuimel soos daardie brief deur die gleuf in die voordeur. Die voorportaal van die gemoed in.
Hy ry die dorp binne, verby die huis met die Alsiende Oog waar hy as kind baie Sondagmiddae deurgebring het. Hy swaai links na die parkeerplek waar slaperige veiligheidswagte oor die plate motors waak. Sluit die Volvo en stap vinnig na die klein, onmerkwaardige arkade waar die salon geleë is. Hy merk nie op dat ’n motor stadig by hom verbyry om seker te maak of hy wel die vertroude weg na die salon volg nie.
As skrywer eien jy prooi onmiddellik en onverwags. Jy eien die jag in die doodgewone.
Dit is dus, agterna beskou, vreemd dat hy nie dadelik dood op die wind geruik het toe hy die salon binnegestap het nie. Miskien was dit bloot omdat dit nog ’n middag van toevlug was, van ontsnapping.
Daar was op daardie oomblik eintlik nie krag in sy gemoed vir ’n nuwe verhaal nie. Die boek wat pas uit was, het hom só gevul dat dit soms gevoel het of dit van hom besit geneem het. Die boek het hóm begin skryf.
Hy het aan homself begin dink as die hoofkarakter – ’n ringmeester in ’n sirkus wat op die platteland toer. Hy het deur die strate gestap, soggens met ’n wye draai na sy tafeltjie by die restaurant, en hom die swier van ’n pluiskeil en swaelstertpak verbeel. Hy’t ’n swepie in die hand gehad, en rondom hom was die pawiljoene ’n gretige kring. Die leeus en olifante en poedels was sy spesialiteite. Hy’t ook nog gedroom van ’n Bengaalse tier, maar hulle was baie skaars.
Saans ná die vertoning, wanneer die diere onrustig op hok sug en snuiwend nagmerries kry, het hy in sy karavaan gesit en stilletjies sy gesig met die grimering van ’n nar verander tot grimas. Niemand het hom ooit in hierdie toestand gesien nie; hy was mos die seremoniemeester, die heer in bevel van die ring, die arenabaas. Leeus het na hom geluister, olifante het voor hom gekniel. Narre het op sy handeklap stoffies laat opslaan soos hulle tuimel, en sweefstokartieste het sonder veiligheidsnette tussen hemel en aarde gebollemakiesie in flitsende kleredrag.
Maar saans, alleen in sy karavaan op die rand van een of ander klein dorpie waar hulle vir ’n dag of drie staning gemaak het, was hy die nar. Ure lank het hy voor die spieël gesit en na homself gestaar: die wit gesig, die komieklike, oorbeklemtoonde mane van die wenkbroue, die geverfde pruillippe. Diep het hy in homself ingestaar, en later alles gaan afwas en die grimeerstel weggebêre waar die karavaanskoonmakers dit nie sou vind nie.
So het hy hierdie boek geword, en so was hy ook sy vorige boeke.
Maar hierdie boek, oor ’n armsalige sirkustroep wat deur die Karoo toer, het die verbeelding aangegryp. Hoeveel mense hulself in die sirkusmeester herken het, het hy nie geweet nie, maar die boek is met meer as die gewone geskal bekend gestel. By die uitgewery het hy saam met ’n nuwe redakteur gewerk. Sy het geweet hoe om windrigting te toets en voorbrande aan te steek. Sy was meester van die word of mouth, die vuur wat spring oor gevestigde weë. Sy het maande voor die tyd, toe die teks nog onder haar sorg was, voorbrand gemaak.
Toe die eerste eksemplaar van sy roman in sy hand lê, in ’n restaurant waar hy en sy redakteur privaat gaan eet het, het hy reeds die reuk van geskroeide veld gekry. En hy het geweet dat hy in ’n spieël is, in die nêrensplek waarvan die filosoof praat: jy is in die glas, maar jy is ook nie.
Jy’s in die sone. The zone.
Nou is hy opgehits. Sy waarneming skerper as ooit tevore. In hierdie staat is water water. Lig is lig. Geluid het teksture waaraan jy met jou vingerpunte kan raak. Niks ontgaan hom nie. Klip is klip, soos die filosoof gesê het. Hy’s bloot, met niks tussen hom en die elemente nie.
Dis ’n naaktheid so opwindend soos die eerste erotiese ontkleding. Sonder kleding staan hy, weerloos en wakker. Sy gedweë geslag hang sigbaar daar. Sy palms is na voor gedraai. Sy hande is sag van maande se studeerkamerwerk. Sy binnearms se vel is teer; veel son het hy nie gesien nie. Hy voel soos ’n larwe, opeens die lig ingebring.
Hy word in die nag wakker van sy eie stem: “Waaksaam is my naam.”
Die drukoplaag is vergroot; die uitnodigings het ingestroom. Hy moes op die rug van ’n Bengaalse tier sit, met sy hand in die tier se warm bek terwyl die dier deur sy passies gaan.
Dit het ’n vreemde effek. Jy word ’n makwerekwere, ’n vreemdeling in eie land. Kollegas en vriende kyk jou vreemd aan nadat hulle die boek gelees het. Is jy die spieël, of is jy jý?
Die wind ruk aan sy aktetas terwyl hy oor die parkeerarea na die salon stap.
Die motor wat hom gevolg het, hou stilletjies onder een van die verflenterde boompies stil, en die insittende beduie na die terneergedrukte vrou op die omgekeerde emmer dat hy net tydelik daar wag; hy wil nie tyd koop nie. Hy kyk hoe die skrywer verby die fietswinkel stap, ’n oomblik daar huiwer, en dan by die gleuf onder die gebou indraai. Dan ry hy stadig weg, só dat hy geen aandag op sy motor vestig nie.
Die romansier stap verby die tuisnywerheid, waar besoekende boere weg van die toeristiese en gesofistikeerde restaurantomgewing in hul kakieklere by eenvoudige tafeltjies sit en koffie en beskuit geniet. By Word Weer Gebore se kantore is die gesigte blink en word die Wederkoms elke oomblik verwag. ’n Pragtige vrou sit agter die toonbank, wagtend op donasies. By Tux Dudes staan ’n senuagtige student in kortbroek en sandale met ’n tuxedobaadjie en strikdas homself in die spieël en bewonder.
Giuseppe is nie in die salon nie, en die skrywer is verras, aangesien hy die afspraak ’n uur gelede gemaak het. Maria haas haar vorentoe en bring saam met haar ’n warm, vogtige damp, die geur van nat hare en sjampoe. Sy was besig met ’n nuwe kliënt, altyd groot nuus in die salon. Sylvia staan gereed agter die wasbakke en leun met haar elmboë op die porselein terwyl sy vir hom grinnik. Vandag het sy, soos sy soms maak, haar kunsgebit tuis gelaat. Maar sy dra ’n nuwe bloes.
“Doktor het gebel en Beppe moes haastig na sy huis gaan om sy hare te doen,” sê Maria – in tye van spanning gebruik sy Giuseppe se bynaam. “Die koning van Spanje kom kuier. Beppe sal nie lank wees nie. Doktor voel nie wel nie, hy