Asbesmiddag. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068747
Скачать книгу
af.”

      Dis toe dat die skrywer hul blikke sien ontmoet. Hulle kyk na mekaar in die spieël. Hy begryp dadelik dit is nie die eerste keer dat hul geselsery dié rigting inslaan nie.

      Sylvia se beslistheid, selfs woede, verras hom. En toe weet hy dat sý plot nie die enigste een is wat aan die uitbroei is nie.

      Tog draai alle oë na hom. En hy onthou: die beste en helderste oomblik van sy kinderjare was toe sy vader as ringmeester aangestel is.

      Die een in beheer van die vertoning.

      3 Ballonvaart

      ’n Senuweeagtige gefladder.

      Dis ’n week later. Die Doktor is in Zürich – noodbehandeling vir ’n geheimsinnige kwaal. Die sjampoemeisie het haar huis tydelik verlaat (inligting te danke aan Sylvia), Maria het weer ’n keer uit Giu­seppe se huis getrek en toe weer teruggetrek, en Sylvia het finaal, soos sy droogweg opmerk, haar lover se lont kortgeknip.

      Hulle gaan rustig deur hul roetine. Die skrywer het van die kampus hierheen gekom, ontstig deur die nuwe ondersoek na sy departement se lewensvatbaarheid. “Oudit” lui die gangbare term, en in die gange fluister diegene wie se vakgroepe bedreig word dat die ware intellektuele reeds afgetree of die wyk geneem het na ander vastelande. Sommige trek hulle in teleurgestelde apatie terug, maar ’n klompie vind hul nis in die nuwe tydsgees, vat die hoek en spartel mee in die onstuimige waters van vergaderings, koppetellery, verslae en handewringery.

      Die universiteit moet verander, is die wekroep. In pas kom met die wêreld, wat stadig – in die filosoof se terme – van grafosfeer na videosfeer kantel. Die studente het prentjies in hul oë. Beelde. Woorde het hul harte verlaat. Die sjarme van die bladsy, die omblaai, die geur van drukkersink, die ratse sprong van storie, die epifanie en die treurige onbepaalbaarhede van die teks is nie meer vir hulle nie.

      Hulle jaag nou die cool van die digitale wêreld na, die sfeer van klank en beeld – en hy is net ’n arme papiergebonde akademikus, hy het sy poësie lief, sy treurende digters, sy besluitelooshede en sy bladsye.

      In ieder geval, dis ’n lui middag, met Giuseppe wat op sy sofa by die stereostel sit terwyl Pavarotti sy ding doen. Maria leun op haar besem en staar nikssiende die volgende uur in. Sylvia is met sy kop besig, en hy tuimel weg in gedagtes en fantasieë. Hy kom hierheen, na hierdie plek wat in die woorde van die filosoof buite alle plekke lê, om van die werklikheid weg te breek en stadig te vergly in die onderwêreld van plot. Op ’n goeie dag verloor hy onder Sylvia se hande sy bewussyn as professor en word ’n tyd later wakker as hyself: ’n skrywer.

      Dis al manier om vanuit die gees van die moderne universiteit te pendel na ’n ruimte waar storie van hom besit kan neem – hy moet eers by hierdie stasie aandoen, van trein verwissel. Dis ’n inspannende tog om af te lê: hy moet sy kantoor verlaat, sy studente, hul opstelle, die agenda van die laaste vergadering. Hy moet in die Volvo klim en hom weghaas, die N2 reinig hom reeds, hy moet na ’n plek kom waar alles moontlik kan wees. Hy moet dit skep, die ruimte jaloers oopforseer, daar waar dinge hul gang kan gaan en hy die magiese pluk van sy verbeelding voel, waar hy uithaak en vlieg. Onder Sylvia se hande is dit makliker. Hiervandaan kan hy dan vinnig, kop onderstebo, na sy apartement vlug en hom inwerp in sy verhaal. Hy werk freneties; hy kyk nie televisie nie; hy haas hom oor die papier.

      Vinniger as wat God kan lees, wil hy skryf.

      Verder, verder, tot waar die blote oog nie meer kan sien nie.

      Waarheen kan ’n lugballon jou neem?

      Weg van Moedverloor en Allesverloren en Soebatsfontein en Nooitgedacht. Die geheim van warm lug, van spekskiet, van hups wees die rietmandjie in, jou stofbril voor jou oë, want die opstyg uit die veld kan sleperig wees. Jy moet die gasbrander regkry vir die draaksnorke van die blaasvlam. Dan kom die plukke aan die ankertoue, en die groot skadugooier swel bokant jou oop – dis die vader, die ballon wat die son verberg en jou begin optrek, sodat jy pluk aan jou ankertoue.

      Wanneer alles kraak en beur en die wind die ballon trek, gooi jy die ankertoue eenkant. Jy werp hulle met minagting van jou af, jy sien hulle wegskiet van jou en tol met die spanning wat nog in hulle is; soos slange wriemel hulle in die stof. Maar jy is vry en die aarde sak skrikwekkend vinnig weg, jy’s oor die boomtoppe, oor ’n droë rivierbedding, daar onder glip ’n opstal verby, buitegeboue, skaduplasse, palmbome, die blink flits van ’n dam.

      Niks kan jou nou keer nie, omdraai is nie moontlik nie. Flitsend skuif alles onder jou verby, nader aan die blou klowe, en jy styg en styg en die aarde vou voor jou oop, die horisonne trek hul ooptes wyd, jy is op vlug. Jy het jou naam reeds vergeet, en diegene daar onder, vervaard omdat jy hulle agterlaat, merk nie die ware aard van jou afskeid in jou gesigsuitdrukking nie. Jy is gewoon buite sig, jy’s nou-nou ’n spikkel, voëlvry verklaar, die Kamdeboo oor, met die sewe seë wat wink.

      Terwyl hy so onder Sylvia se hande sit, kom ’n verhaal wat sy pa hom jare gelede vertel het opeens by hom op.

      Toe sy pa ’n seun van so agt, nege was, kom die sirkus weer na hulle dorp. Sy pa was reeds bekend met die sirkusmense, want al om die jaar het hulle na Nooitgedacht gekom om ’n vosperd te koop. Nooitgedacht had in daardie jare ’n mooi stoet saalperde wat oor geslagte geteel is, en die skrywer se oupa was op die jaarlikse landbouskou altyd heel voor in die rosette-ry – in die saal van ’n blink, spoggerige perd met opgeknoopte stert, die ruiter uitgedos in pluiskeil en handskoene.

      So het die sirkusmenere daardie jaar weer op die plaas aangekom om die perde te bekyk. Hulle het aangevoer dat hulle weet watter perd ’n sirkusperd kan word – daar moet “die behoefte aan skou” wees, soos hulle dit gestel het. Die perd moet hou van oë op hom.

      Wat ’n groot indruk op die skrywer se pa gemaak het, was dat een man nog in sy mondhoek ’n smeersel lipstif had, en daar het nog grimering aan sy wimpers gekleef, iets wat die plaaswerkers agter hul hande laat fluister het terwyl hulle die perde nadergebring het. Verder was die man doodgewoon geklee: ’n man in ’n broek en hemp, met ’n tjekboek en vulpen in die bosak.

      Die tweede man was korter – later sou sy pa hoor dit was die hanswors; die man had juis ’n treurige uitdrukking in sy oë. Hy het sy skouers senuagtig gerol en kort-kort agtertoe geloer en dan ’n laggie gegee, asof iemand agter hom staan en grappe maak het. Maar daar was niemand.

      Hulle het die perde bekyk. Die skrywer se oupa het elke perd sedert sy vulletjiedae geken, en hy het hulle laat verbydraf op die ritme van die langsweep. Die perde was in hierdie stadium goed geleer, en dié wat van die rug van Nooitgedacht se berg gekom het, was die beste – wildgeteel, lief vir die afdraandes en rotspaadjies, die wuiwende grassade, die uitsig oor die Kamdeboo.

      Hierdie perde was moeilik om mak te kry. ’n Ou bruin man het jaarliks van Toorberg se kant gekom om met die wilde perde te praat. Hy’t hulle met stories van jakkals en wolf gesus, van uil en muis, van koedoe en ystervark; met sulke verhale het hy hulle mak gepraat, totdat hulle met deinende neusvleuels en met voorbene wyd uitmekaar, hul koppe byna teen die grond, voor hom gestaan het sodat hulle tydsaam opgetoom kon word. In die hele proses is nooit een enkele keer met ’n riem of ’n sweep of ’n hand aan hulle geraak nie.

      Die ou man het gebukkend gestaan by die groot perdekop en met sy gefluister die wilde perd gepaai. So, het die skrywer se pa gewaarsku, het hy gesien dat storie ’n wilde ding is, ’n ding wat jy nie kan vasvat nie, wat jóú kan inbreek. Die skrywer het as seuntjie gehoor hoe stories die wildste hings se gees kan sagfluister.

      “Pa, ek wil ’n storieverteller word.”

      Oppas vir stories, het sy pa aan hom gesê en sy oë het gegloei, stories kan jou allerhande liegterye wysmaak. Hulle kan jou om die bos lei, jou op jou bek laat val en jou die oorlog laat verloor.

      Later het die skrywer gedink: Maar juis daarin lê die toertjie wat elke storie tog maar is. Want wat anders as die bollemakiesie, die spring deur die vuurhoepel en die aantrek van die narrepak vir die skater is die storie nie? Dis tog niks anders as vuurspoeg en karnaval en balanseertou nie, of hoe?

      Die skrywer het sy pa nie altyd verstaan nie. Maar nou weet hy, noudat