Asbesmiddag. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068747
Скачать книгу
Laat hulle dink dis deel van die bevrydingseremonie. Net hy weet waarvan hy hom puur toe hy na die sirkuseienaar in die kampstoel waai en die ankertou loslaat en oor die galopperende diere uitstyg.

      Op hierdie vlaktes het die skrywer grootgeword, die elfde generasie in direkte afstamming. Bloedgrond; hy ken geen ander plek nie. Hiervan sou hy losgewring word, om uiteindelik in sy klein apartement onder eikebome tereg te kom.

      Nou is hy egter weer hier, en hy vlieg oor die vrygelate wild, hy kantel die kloof in, hy kan die opstal in die gleuf sien, die sleepsel van die rivier met sy hoë bome wat inleun oor die klipplate, die geduldige, koel werf met die waenhuis en sy ouers wat klein en verlate daar staan en opwaai na hom, die ry werkkamers, die kannas en rose, die waterspuite se sproeireën, en die akwaduk wat fontein-water hoog uit die klowe ondertoe lei.

      Hy styg nader aan die berg se lieste, waar Boesmantekeninge in grotte sit – die oorsprong van verhale wat hy in die bosse voel roer, stories wat met voetpaadjies afgeloop het na die werf waar hy grootgeword het. Verhale van spronge en versinsels en nagmerries en transformasies wat uit hierdie bodem kom en wat hom gevoed het. Jare later, vasgekeer op ’n kampus, het hy soms magiese verhale geskryf, en hulle het soos die akwaduk hul stories hoog in hierdie donker klowe kom haal. Hy laat hom nie vertel dat sy verhale vreemd is aan Afrika nie; hulle is hierdie landskap, hulle anker hier waar die moontlike onmoontlik word, waar dit so alledaags is soos die vlinder wat uit die papie kruip, of die slang wat uit die boom oor jou skouers val en in ’n karos verander om jou warm te hou met die bose hitte van die slang se siel.

      Op, op, op styg die ballon, die kolskaduwee skuif al vinniger, teen die skuinstes op, die klowe oor. Daar onder het die sirkuseienaar opgespring, en hand bo die oë kyk hy en die narre, die tuimelaars, die temmers en die dansmeisies in hul leotards hoe die ballon al hoër opskuif teen die kranse. Hulle roep en waai, maar dis tevergeefs.

      Dan, asof ’n ander wêreld binne, glip die ballon oor die berg se kop en dis weg. Anderkant wag die groot vlaktes van die Kamdeboo, die laagvlakte wat uitstoot see toe, die dynserigheid van die onvoorspelbare, en uiteindelik die koel leegte van die oseaan. Daarheen, buite sig nou, skuif die ballon op ’n trog wind wat uit die hoogtes klim en hom oor die vlaktes jaag.

      Die sirkuseienaar en sy artieste kyk om hulle: die leë hokke; die dooie trekkers en voorhakers; die reuk van diereangs, bokmis en diesel; die karigheid van die klein troep daar verdwaal in hul eie goeie bedoelings.

      Dobbel is Giuseppe se ander passie.

      Het hy ’n van? Die skrywer het geen idee nie. Waarom is dit so dat net Italianers dit kan bekostig om by wyse van slegs ’n voornaam bekend te staan? In hierdie land – soos hy sy meesterstudente meermale waarsku – waar swart mense vroeër net op die voornaam genoem is, moet hulle in hul skryfwerk daarvan bewus wees dat dié infantiliserende praktyk nie by alle lesers sal verbygaan nie. Oppas vir die nuwe sedebewakers!

      Maar Italianers kry dit op die een of ander manier reg dat die enkelnomina selfs toevoeg tot hul status. Daarbenewens is daar skynbaar in hierdie land ook net ’n beperkte repertoire Italiaanse name. Italiaanse expats heet óf Mario óf Giuseppe óf Paolo óf Giovanni óf Luigi. Wys my nog ’n naam! dink die skrywer. Dit klink soos ’n sameswering, ’n kode waarmee die expat-Italianer sy weg baan in die vreemde land.

      Dobbel, weet die skrywer, is die ewige begeerte na verrassing. Vir die aangename verrassing. Dis ’n eenvoudige denkwyse, en as ’n eenvoudige man is dobbel Giuseppe se manier om weg te hardloop van watter seermaak hy ook al in Italië gely het. Die pyn wat hom deur Afrika, suid en nog verder suid, tot in die skrywer se dorp, gedryf het.

      Die skrywer het al geskimp na Giuseppe se verlede, letsels wat hy opgedoen het en hul manifestasie in die hede, maar Giuseppe het sulke tye nooit oogkontak gemaak nie. Daar sou egter ’n ligte bewinkie deur die skêr verskiet; die skrywer kon nie anders as om dit op te merk nie.

      Al wat hy weet, is dat Giuseppe heel eerste ná sy aankoms in Kaapstad soveel jare gelede ’n tandarts besoek het. Hy het die skrywer op ’n keer vertel dat hy sedert daardie dag ’n lewenslange fobie vir tandartsstoele het. Dat die kwaktandarts ’n tand, in plaas daarvan om dit te stop, uitgetrek het. Dit het hom met ’n gat in die mond gelaat.

      Hy probeer dit wegsteek deur “Ferrari” en “Puccini” uit die hoek van sy mond te sê. Maar soms word hy onkant betrap, en dan sit die donker gat daar – die handtekening van ’n versweë verlede; ’n vertrek, ’n reis, ’n aankoms in stilte gehul.

      By afloop van hierdie verhaal (in soverre ’n verhaal ’n afloop kan hê) sal die romansier dikwels sit en wonder oor dié verlede van Giu­seppe, daardie tand, daardie reis deur Afrika en die aankoms; die verhaal wat vervaard ontwyk word; die bewerigheid wat die skêr tref.

      Die skrywer se eie verhouding met sy verlede is een van fiksionalisering, ’n komplekse uittoor van die waarheid gelieg, ’n knaende herbesoek aan ’n opstal in ’n kloof, ’n karavaan in die halfwoestyn, ’n aap wat op ’n strandbal dans. Van wild bevry om uitgelate te spaander.

      Giuseppe se bewerasie, het hy dit begin noem, daardie kere dat hulle afwyk van die gewone geselsies oor pesto, pastaresepte, koffie, die Grand Prix, blackjack en haarmousse. Dis wanneer die sluier agter dié spyskaart van voorspelbaarhede teruggetrek is, hierdie alfabet waaragter die Italiaanse expat wegkruip, dat Giuseppe sy ewewig verloor het.

      Hoe werp so ’n man hom in die dobbelkuns? Benodig jy nie ’n sinisme wat jou kan laat dobber bó die wonde van die kansspel nie? Is die dobbelaar nie, elke keer wanneer hy vir ’n nuwe ronde aansit, die ewige nuweling nie?

      Die ewige inisiant is natuurlik ook die skrywer se vloek. Met die begin van elke boek, nee, by die aanvang van elke hoofstuk, elke paragraaf, en uiteindelik woord vir woord, word die skrywer tot onderhorigheid gedwing: die dobbelsteen sal val en rol, jy sal wen of verloor. Daar is geen resep nie.

      Die skrywer voel dus tuis by Giuseppe se dobbelary. Hy begryp dit; dis net nie vir hom nodig om soos Giuseppe Vrydagmiddae ’n tuxedo te huur voor sy vertrek na daardie sprokiespaleis in die noordelike voorstede nie.

      Die skrywer benodig geen spoggerige uniform nie.

      Desondanks pols Giuseppe hom dikwels oor sy eenselwige swart kleredrag. Waarom dra Professore dag ná dag dieselfde soort klere? Sal beter kleding – dalk ’n das en baadjie dan en wan – nie lei tot groter boekverkope nie?

      “Nee, Giuseppe, die skrywersgenerasie waarvan ek deel is, glo in elegante dekadensie. Verslonstheid verkoop boeke. Jy moet gewroeg lyk. Wie wil ’n boek koop van iemand wat soos ’n polisverkoper lyk? Ek wil nie vertrou word nie – ek wil gelees word.”

      Die wyse waarop hy daardie Donderdagmiddag die tafeltjie oorkant die gleuf geneem het om die magnaat af te loer, het hom verras én bang gemaak. Om daar van agter ’n donkerbril te sit en kyk hoe die chauffeur die geboë ou man uit die motor help. Die skielike herinnering aan sy bitter vader, soos ’n sweepslag.

      Dit was diep in hom weggebêre, dié geheue, want toe hy hoor van die sjampoemeisie se flater, het hy onmiddellik skuldig gevoel. Hy wou bieg teenoor die groot nyweraar; hy wou sê hy’s jammer.

      Hoe dra ons hierdie dinge nie in ons rond nie; hoe gereed is ons nie om toe te gee aan die vaderfiguur nie. Hoe verbysterend is die mag van hierdie dinge nie, en hoe kompleks. Só sterk en dwingend en paradoksaal dat hy nou by sy skryftafel sit, ’n intrige aan die uitbroei. Soos altyd is dit ’n dobbelspel. As ek hierdie kaart speel – wat sal gebeur? Aan die ander kant, as ek daardie een . . .

      Sy vader en die asbesmagnaat het saam grootgeword diep in die suidelike provinsie, in die stowwerige binneland; in die Karoo. Sy vader was die seun van ’n boer; dit was ’n plaas wat die erfdeel was van die oudste seuns in die bloedlyn, ’n plaas in ’n vallei met water uit die berge. Die magnaat se vader was ’n professionele man op die dorp, ’n man met ’n buitelandse aksent, ’n das en baadjie, ’n goue vulpen, ’n kantoor.

      As kinders het hulle saam gespeel, in die droë bedding van ’n rivier wat die naam van die Sabbat dra. Hulle het graag diep gate in die koel, klam riviergrond gegrou soos hase. Soms moes hulle dieper as gewoonlik dool, maar fluks het hulle saamgewerk,