Kort daarna begin Geyser en sy trawante ondersteuners van Rupert aanrand, onder wie At Stadler en die broers McDonald. En een aand lê Geyser, sy broer Hendrik en vyf of ses ander studente, onder wie Modderbul van Rensburg, op die kampus vir Rupert, toe reeds ’n dosent, voor om hom te teer en veer. Hulle keer sy motortjie, ’n omgeboude rooi MG sonder dak of sitplekkussings wat hy tweedehands aangeskaf het nadat hy dosent geword het, naby die Ou Letteregebou voor en dwing hom hardhandig uit die voertuig.
Colijn van Bergen, wat saam met Rupert gery het, kon wegglip en hy hardloop na die Merenskybiblioteek waar hy vir Huberte Goote, wat die aand aan diens was, skreeu dat sy die polisie moet ontbied. Hulle kom gou-gou op die toneel en snel Rupert te hulp in ’n nabygeleë saal, waar sy aanvallers reeds besig was om sy klere uit te trek.
Rupert weier daarna om ’n klag teen die Geysergroep in te dien, nóg by die polisie nóg by die universiteitsowerheid. Hy het hul optrede as blote afguns beskou. Hulle vra hom uiteindelik een vir een om verskoning; Geyser jare daarna die heel laaste. Dit was in 1977 toe hy as professorale verteenwoordiger van Wits die inhuldiging van Rupert as kanselier van die Universiteit van Port Elizabeth bywoon.
Rupert gaan ná die Ossewatrek met sy goeie vriend Colijn van Bergen, wat ook belas met die ANS-Filmburo was, op reis met ’n rolprentvertoning, onder meer ’n rolprent wat van die Trek gemaak is. Films van die beeldhouer Anton van Wouw en die letterkundige figure Jan F.E. Celliers, D.F. Malherbe en Totius was daarby aangelas, maar die enigste musiek vir die prent was ’n plaatopname van “Die stem van Suid-Afrika”.
Die tweetal wat die rolprent wou vertoon teen ’n halfkroon per kop, destyds ’n stewige bedrag, vertrek een aand teen sesuur uit Pretoria na Graaff-Reinet, volgelaai met al die apparaat vir ’n twee uur lange vertoning. Teerpaaie was nog skaars, en die nag laat ry hulle naby Trompsburg van die grondpad. Rupert se motortjie, sy tweede, het omgeslaan.
Albei insittendes was gelukkig betreklik ongedeerd, met net ’n sny aan die kop, want die DKW met die seilkap en laaghout kon nie alte vinnig ry nie – die topsnelheid was 45 myl per uur (sowat 70 km/h). Maar die plaat met “Die stem” het middeldeur gebreek.
Dit verhinder hulle nie om voort te gaan met die vertoning van die rolprent nie, wat oral groot gehore trek. In Port Elizabeth word dit bygewoon deur onder andere dr. D.F. Malan, die opposisieleier wat in 1948 eerste minister van Suid-Afrika sou word.
Die rolprent, wat besondere historiese waarde gehad het, raak soek in die oorlogsjare. By die oorhandiging van die Van Wouw-huis in 1974 aan die UP, wat met ’n skenking van die Rembrandt Groep moontlik gemaak is, maak Rupert weer melding daarvan. Die Filmburo onder leiding van Colijn van Bergen het voor die oorlog ’n besoek aan die huis verfilm sowel as die gieting van Van Wouw se beeld Vrou en dogter vir die Voortrekkermonument, asook die begrafnis van die digter Jan F.E. Celliers. Rupert loof ’n beloning van R500 uit vir enigiemand wat die waardevolle Africanarolprent opspoor.
Van Bergen het meermale op Graaff-Reinet by die Ruperts gekuier. Hy onthou Anton se moeder as ’n “wonderlike vrou” wat besonder gasvry was en mense tuis laat voel het. Hy en Anton het in die winter laatnag voor die kaggel gesit terwyl Anton gefilosofeer het. Hy onthou ook dat een van die besienswaardighede van Graaff-Reinet wat Anton heel eerste aan sy vriende gaan wys het, die standbeeld van Gideon Scheepers is.
Rupert het ook jare later steeds gepraat van die raad wat hy in sy studentedae van sy vader ontvang het. Toe hy op 26 April 1962 in Racine, Wisconsin, die Amerikaans-Suid-Afrikaanse Leiersuitruilprogram (Ussalep) toespreek, het hy daarna verwys:
“My oorlede vader was op sy manier ’n filosoof. In my jong dae, toe ek ’n studenteleier was, het hy dikwels gesê: ‘Mens dink met jou hart en rasionaliseer met jou verstand. Pas op daarvoor. In elke volk is daar goeies en slegtes. ’n Man sonder hart is ’n materialis. Die hart is belangrik – maar sorg dat jou kop altyd jou hart balanseer.”
Teen die einde van sy studenteloopbaan was Rupert ’n dosent in die departement chemie aan die UP, ’n pos wat hy tot einde 1940 sou beklee. Hy gee ’n jaar lank klas in die plek van die uittredende prof. D.F. du T. Malherbe, die hoogleraar in organiese chemie wat in die jare ná sy aftrede op gevorderde leeftyd die Stamregister van die Afrikaanse volk opgestel het – die soort veelsydige mens vir wie Rupert groot bewondering koester.
Rupert verwerf einde 1939 sy M.Sc. in toegepaste chemie. Dieselfde jaar en die jaar daarna studeer hy in regs- en handelsvakke aan die Universiteit van Suid-Afrika terwyl hy ook met ’n doktorsgraad in spektroskopie aan die UP begin.
Huberte neem, voordat sy die graad B.A. en ’n diploma in biblioteekwese verwerf, entoesiasties aan die studentelewe deel, sodanig so dat sy agterna ietwat berouvol skerts dat sy later in haar lewe daarby baat sou gevind het as sy meer tyd aan haar studie bestee het.
Haar belangstelling in die kunste verdiep. Sy het onder andere onder die kultuurkenner prof. Matthys Bokhorst gestudeer, wat Nederlandse kultuurgeskiedenis gedoseer het en naderhand direkteur van die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad was. Onder meer dien sy in die Castalides-kunskomitee en is sy redaksielid van die blad Castalia. Sy en ’n groepie van haar medestudente, onder wie Katinka Kempf en Ria Hugo, bespreek gereeld kunsuitstallings. “Daar het ek my kritiese vermoë vir die kunste ontwikkel.”
Sy is, soos haar vroeg gestorwe vader, lief vir musiek – hy was besonder musikaal, met ’n pragtige tenoorstem en hy kon klavier, orrel en viool speel. Sy word lid van ’n musiekgroep wat gereeld Sondae byeenkom om na plate te luister. Boonop is sy die voorsitter van die ANS se toneelgroep en speel sy in die Volksteater toneel saam met bekende aktrises soos die passievolle Anna Neethling-Pohl. In later jare wanneer sy soms ’n bietjie opgewonde oor sekere kwessies kon raak, moes Rupert haar maan: “Moenie soos Anna Neethling-Pohl wees nie!”
In 1939, terwyl oorlogswolke begin saampak, dien Rupert as die voorsitter en Huberte as lid van die binnemuurse bestuur van die ANS op die kampus. Hy is ook hoofbestuurslid van die ANS en redaksielid van Wapenskou, die studentebeweging se amptelike blad.
Die sterk gevoelens onder Afrikaanse studente in die spanningsvolle laat jare dertig word weerspieël in die vryheidsmanifes van die ANS, wat in Wapenskou gepubliseer is. Daarvolgens eis die ANS dat die Unie van Suid-Afrika, lid van die Britse Gemenebes en met die Britse vors as staatshoof, omgeskep word tot ’n republikeinse staat onder ’n “regering van gesag”. Voorts word onder meer ’n groter blanke bevolking beoog deur “die aanmoediging van natuurlike aanwas en ’n verstandige immigrasiebeleid met assimileerbaarheid as vereiste”. Vir “inheemse nie-blankes” word voorgestel dat hulle onder voogdyskap van die staat staan. “Deur middel van ’n differensiasiebeleid sal parallelle ontwikkeling volgens eie tradisionele kultuuropvattings en gelykheid deur apartheid vir hulle moontlik gemaak word.” Wat natuurlike en produksiebronne betref, sou die staat dit ten bate van die hele gemeenskap regverdig aanwend en “hierin sal nie geskroom word om gevestigde belange aan te tas nie”. Vir die taalkwessie word voorgestel: “Afrikaans sal geld as amptelike taal en Engels sal sy volle regte geniet as tweede taal.”
Verskeie van die idees in die manifes sou nie ná die verhitte atmosfeer van die oorlogsjare staande bly nie; inderdaad is ook gedagtes voorgestaan waarmee Rupert mettertyd in sleutelopsigte al hoe uitdrukliker sou verskil.
Tog het die ANS in 1939 in die dreigende oorlogsklimaat sterker op die politieke terrein beweeg. Protesvergaderings ten gunste van neutraliteit is onder die ANS se vaandel gehou. Maar dit was vergeefs. In die parlement word genl. Hertzog se neutraliteitsmosie met 80-67 stemme verslaan. Hy bedank nadat die goewerneur-generaal, Patrick Duncan, sy versoek van die hand wys dat ’n verkiesing uitgeskryf word. Genl. Smuts word die nuwe eerste minister en hy lei Suid-Afrika op 6 September 1939 die Tweede Wêreldoorlog binne – ’n oorlog wat tot in 1945 sou duur en die land weer diep verdeel.5
Kort ná die uitbreek van die oorlog word Rupert een middag deur een van die fisikadosente, prof. J.S. van der Lingen, vir ’n drankie aan huis genooi. Van der Lingen, wat saam met Albert Einstein, vader van die relatiwiteitsteorie, in Europa gewerk