Huberte kom uit ’n Wes-Transvaalse familie, ook een wat swaarkry geken het.
Sy is die dogter van ’n weduwee, Johanna Adina Goote, gebore Bergh. Haar vader, Hubertus Gerardus Goote, ’n onderwyser wat as Nederlandse immigrant
in sy dagboekie op die skip geskryf het hoe hy verlang om in die “land van de helden-Boeren” aan wal te stap, is vyf maande voor haar geboorte in die Groot Griep van 1919 oorlede. Weens die destydse swak telegraafverbindings het haar oupa in Nederland, ’n predikant, verkeerdelik gemeen ’n kleinseun is gebore en hy het gevra dat die nuwe aankomeling met die familienaam Hubertus Gerardus gedoop word.
Dit is so gedoen, en die naam het naderhand allerlei tergery afgegee, onder andere deur ’n goeie familievriend, prins Bernhard van Nederland. Hubert, soos haar naam aanvanklik gespel is, het egter beswaar gemaak dat prins Bernhard haar “Hubertus Gerardus” noem. Hy het toe Huberta voorgestel, maar sy het gesê Huberta is ’n seekoei. Daarop het hulle tot die vroulike Franse vorm, Huberte, ooreengekom, die noemnaam wat sy verkies.
Huberte se moeder is ook gebore nadat háár vader gesterf het. Mev. Johanna Adina Goote was wees van haar sesde jaar toe háár moeder, ’n nooi Riekert met die getroude van Bergh, ook oorlede is. Huberte se oupa Bergh was ’n afstammeling van die Sweedse avonturier Olof Bergh, ’n lid van die Politieke Raad aan die Kaap, wat onder meer bekendheid as die leier van die tog na Namakwaland in 1682-’83 verwerf het. Hy was met Anna de Koning getroud. Huberte se moe-
der het toe grootgeword by háár ouma en oupa, kmdt. P.J. en mev. Lenie Riekert, op die plaas Derdepoort, wat in die annale van die Anglo-Boereoorlog opgeteken sou word. Dit was in daardie omgewing, by Pilanesberg, dat Huberte se moeder haar vader, die Nederlander wat toe hoof van ’n drieman-plaasskool was, ont-
moet het.
Een van Huberte se helderste herinneringe wat sy van kindsbeen met haar saamdra, is die vertelling van die berugte moord op Derdepoort op 25 November 1899, dus enkele weke nadat die oorlog op 11 Oktober uitgebreek het. Haar oupagrootjie, kmdt. Riekert, was die eienaar van die groot plaas Derdepoort langs
die Maricorivier aan die grens tussen Marico-Bosveld en die destydse Betsjoeanaland. ’n Boerenedersetting van sowat dertien huisgesinne op die plaas is aangeval in die eerste aanval waarin die Britse magte gekleurdes gebruik het en Boerevroue en -kinders slagoffers was.1
In later jare wanneer Huberte haar kleinkinders van die oorlogstydse ontberings vertel het, het sy hulle ook gemaan om te onthou van die menslike warmte, van die mense wat haar voorouers gehelp het: “Julle moet altyd ewewigtig wees, want die oorsaak van oorloë is nie mense nie; dit is hebsug. Oorloë gaan altyd oor hebsug.”
Huberte is in 1919 gebore in pres. Paul Kruger se ampswoning in Kerkstraat in Pretoria, in ’n stadium toe die huis deur die Moedersbond gehuur is voordat dit die Krugerhuis-museum geword het. Sy het Kruger se jongste kleindogter, bekend as ouma Eloff, self geken. Totdat sy sewe jaar oud was, het sy, haar moeder (wat sy Moeder of Moeke genoem het) en haar ouer suster, Bets, op Rustenburg gewoon. “Moeder het klere gemaak vir haar vriendinne om kontant in die hande te kry om ons aan die lewe te hou, want sy het die plaas van die familie geerf, maar geen inkomste van hulle ontvang nie. Brandhout en beet is al wat ek kan onthou wat ons ooit van die plaas gekry het. Sy was baie knap met alles wat sy kon doen, maar sy had geen kontant nie. Pappie het net vir ses maande se pensioen gekwalifiseer omdat hy eers die Transvaalse matriekeksamen moes skryf, dus het sy niks daarvan gekry nie. Dis daarom dat ek respek het vir mense wat met hul talente kan woeker en aan die lewe kan bly. Ek het ’n afkeer van ‘handouts’; ’n mens moet jou onafhanklikheid en eer behou,” vertel sy.
Haar moeder is in 1927 weer getroud met Piet Wessels, ’n onderwyser wat later hoof sou word van die Hoërskool Monument op Krugersdorp, waar die gesin hulle gevestig het.
Huberte matrikuleer jonk aan die Hoërskool Monument nadat sy haar eerste drie skooljare in een jaar voltooi het. Vandat sy skool toe is, stel sy belang in die kunste in alle vorme. Sy speel toneel en sing hoofrolle in operettes sowel as in die skoolkoor en neem deel aan korfbal en hokkie.
Ná matriek beklee sy veertien maande lank die pos van kinderbibliotekaresse op Krugersdorp voordat sy met behulp van drie rentedraende lenings universiteit toe gaan. Haar hoofvakke is Afrikaans-Nederlands en Afrikaanse kultuurgeskiedenis. In haar eerste jaar in Pretoria raak sy goed bevriend met Kotie Roodt-Coetzee, dosent in kultuurgeskiedenis, wie se eggenoot, prof. P.C. Coetzee, die UP se bibliotekaris, van Huberte se biblioteekervaring te hore kom. Huberte kry daarna ’n pos in die biblioteek en haar klasgeld word haar toe kwytgeskeld. Sy pak gevolglik saam met haar B.A.-kursus ’n diplomakursus in die biblioteekwese aan, wat toegelaat is op voorwaarde dat sy twee aande per week in die biblioteek diens doen. Sy werk ook in die kampus se nuwe Merenskybiblioteek, die gebou in Persiese boustyl met Afrikamotiewe wat deur die argitek Gerard Moerdyk ontwerp is en as ’n voorloper vir sy uitleg van die Voortrekkermonument beskou word.
Rupert, wat meermale in sy loopbaan dankbare erkenning aan Huberte sou gee, roep hul studentedae in herinnering toe hy in sy voorsittersrede op Rembrandt Beherende Beleggings se jaarvergadering in 1996 hulde aan sy eggenote bring:
“Ek kyk vandag terug oor 55 jaar waarin ek deur my wederhelf bygestaan is. In 1941 reeds het sy ’n groot rol gespeel, nie net in my lewe nie, maar ook in dié van die maatskappy. Sy was my mees lojale en troue ondersteuner en ook my grootste kritikus. Ek dink dit hoort so.”
Hy beskryf die moeilike beginjare: “Ons is beide kinders van die Depressie. In daardie dae . . . was omtrent ’n derde van alle Afrikaanssprekende blankes werkloos. Vandag is dit nog erger, met sowat 50% van die bevolking sonder werk. Dit was destyds ’n enorme probleem. Ek dink dit laat ’n merk op ’n mens en dit laat jou miskien op ’n ander manier na kapitaal kyk.
“Diegene wat motors gehad het (ek dink daar was drie aan die Pretoriase Universiteit in daardie dae uit ’n totaal van omtrent 820 studente – vandag is daar 26 000 studente), het nie goed gedoen nie. Beide my vrou en ek het geld geleen om te studeer.
“Ek kon self net £100 bybring, maar was gelukkig genoeg om met ’n intelligensietoets ’n prys van £40 per jaar vir drie jaar te wen. Ons het egter die beskouing gehad dat geld is wat geld kan doen. Soms is dit ’n gevaarlike ding. Geld is soos ’n mes wat ’n snyarts kan gebruik om ’n operasie te doen, ’n mens se lewe te red. Dieselfde mes kan deur ’n moordenaar gebruik word om te moor. Geld is ook soos ’n tou. Jy kan die tou uitgooi in die vorm van ’n boei om iemand te red, of jy kan die tou gebruik as ’n galgtou. Dit is geld. Dit praat.”
As eerstejaarstudent is Rupert een van twee studente uit ’n klas van sewentien wat slaag met die nodige vereistes om aan die universiteite van Kaapstad of die Witwatersrand verder medies te studeer. Geldnood dwing hom egter om sy kursus na chemie vir ’n Baccalaureusgraad te verander.
Hy vertel self dat hy daarna as voorgraadse student nie watwonders akademies gepresteer het nie. Die oorsaak was dat hy in sy tweede studiejaar ’n maand of twee, drie geen lesings kon bywoon nie omdat hy middeloorontsteking opgedoen het, wat in daardie jare nie met antibiotika behandel kon word nie. Hy het ’n gat agter sy oor oorgehou van die destydse taamlik primitiewe doktersbehandeling.
Hy voltooi nogtans sy graadkursus, met chemie as hoofvak en fisika en wiskunde as tweedejaarsvakke, in die voorgeskrewe drie jaar, en einde 1936 kon hy B.Sc. agter sy naam skryf.
Die volgende jaar moes hy begin werk terwyl hy nagraads studeer. Hy begin op 20-jarige leeftyd aan die Tegniese Kollege klas gee nadat hy hom ook vir sy
meestersgraad in chemie ingeskryf het. “Dit was moeilike dae. Betrekkings was beslis nie volop nie, en jy was dankbaar as jy ’n werk kon kry,” vertel hy op 22 Augustus