In hierdie tye woed gedagtegisting onder Afrikaners midde-in die stuwing van die botsende ideologieë van die jare dertig. Aan die een kant broei onder baie Afrikaners steeds opgekropte verset teen Britse imperialisme, naas nog afkeer van gehate uitwasse van die kapitalisme, soos uitgedruk in die uitbuiterspookbeeld van Hoggenheimer, die aartskapitalis wat deur D.C. Boonzaier se spotprente in Die Burger berugtheid onder Afrikaners verwerf het. En aan die ander kant dreig Hitler se nasionaal-sosialisme en Stalin se kommunisme, albei gewortel in die tirannieke ideologie van die gesagstaat.
Die Afrikanerintellektuele aan die voorpunt van die ekonomiese worstelstryd, verwerp die kapitalisme nie uitdruklik nie – soos niemand minder nie as genl. Smuts wel vroeg in die eeu in sy bekende Een eeuw van onrecht wou: “Als het beschikt is dat wij hoe nietig ook de eerste van alle volkeren zullen zijn die den strijd met de nieuwe wereldtiran van het kapitalisme moeten beginnen, zijn wij daartoe bereid.”
Eerder word ’n wisselvorm bepleit wat as volkskapitalisme bekend geword het. Soos prof. L.J. (Wicus) du Plessis dit op die Eerste Ekonomiese Volkskongres uitdruk, die nuwe ekonomiese volksbeweging stel hom ten doel “om nie verder toe te laat dat die Afrikaanse volk verwoes word in ’n poging om hom aan te pas by ’n uitheemse kapitalistiese stelsel nie, maar om die volk te mobiliseer tot verowering van dié uitheemse stelsel om dit om te skep en aan te pas aan ons volksaard”.4
Die paaie van ander toonaangewende sakeleiers wat op die Volkskongres van 1939 optree, sou later met Rupert s’n kruis, onder wie prof. C.G.W. Schumann van Stellenbosch en dr. M.S. (Tienie) Louw, naderhand voorsitter van Federale Volksbeleggings (FVB), wat as ’n regstreekse uitvloeisel van die kongres gestig word met die doel om Afrikanerkapitaal te mobiliseer.
Veral hierdie twee invloedryke denkers staan die gedagterigting voor dat kapitaalkragtige ondernemings gesteun word om die posisie van die Afrikaner in die handel en nywerheid te versterk. Ander sprekers wat toesprake op die kongres lewer, is dr. Eben Dönges, latere minister van finansies; dr. Hendrik Verwoerd, wat oor verbruikerskoöperasies praat; en dr. Albert Hertzog, seun van die generaal, wat die organisering van arbeid bepleit.
Die gryse Kestell self open die kongres met Skriflesing en gebed en sluit af met die boodskap: “Ons moet ons oog hou die een op die ander, omdat ons bloed van mekaar se bloed is. Ons behoort aan mekaar – ons, die klein Boerevolk hier in Suid-Afrika, en dit dryf ons uit om toe te snel tot hulp van ons broers en susters wat in nood is, om hulle te help om hulleself te help. Ons doen dit in die vaste oortuiging dat ons as volk onsself moet red.”
Gehoor word gegee aan sy oproep tot ’n reddingsdaad wat die ekonomiese opheffing van die volk beoog – ’n soortgelyke poging as die Helpmekaarbeweging waarvan Kestell twintig jaar tevore ook ’n voorste leier was. As nog ’n regstreekse uitvloeisel van die Volkskongres, wat ook die stigting van FVB goedgekeur het, word op 1 Desember 1939 op ’n vergadering van die Ekonomiese Instituut besluit om oor te gaan tot die stigting van die Reddingsdaadbond, die eerste volksorganisasie in sy soort, wat ’n week later op 8 Desember tot stand kom. Die eerste tak van die RDB word op 12 Februarie 1940 in Bloemfontein gestig, terwyl die Reddingsdaadfonds reeds in 1938 op aandrang van Kestell geloods is.
As gevolg van sy aansluiting by die RDB bevind Rupert, die seun van die stil Karoovlaktes, hom vroeg in die jare veertig in die Goudstad op die polsende Hoëveld, die middelpunt van Suid-Afrika se industriële hartland.
In hierdie deurslaggewende tyd in sy lewe leer hy die behoeftes van kleinsakeondernemers intiem ken. En hier kry hy te doen met nog iemand wat ’n blywende invloed op sy lewe sou uitoefen: die sestigjarige dr. A.J. Stals, wat twee dae per week uit Pretoria as finansiële raadgewer na die kantoor van die RDB in die Voortrekkergebou langs die Johannesburgse stasie kom, waar hy die aansoeke van voornemende toetreders tot kleinsake saam met Rupert keur. Stals, in daardie stadium ’n direkteur van Volkskas en die Voortrekkerpers nadat hy as voorsitter van die Raad van Handel en Nywerheid sowel as van die Skeepvaartraad bedank het, gaan elke aansoekvorm sorgvuldig deur en skryf dan in sy netjiese handskrif sy aanbeveling neer.
Rupert bejeën sy vroeë mentor Stals met groot respek – die soort Afrikaner wat hy graag as lid van die Afrikaneraristokrasie sou tipeer. Hy vertel dat Stals, seun van ’n bywoner op ’n plaas by Tulbagh wat twee doktorsgrade in die medisyne en die regte aan die universiteite van Berlyn en Dublin verwerf het, self sy weduweemoeder se vloere geskrop het gedurende universiteitsvakansies. Later in sy dokterspraktyk het hy ook net een keer ’n rekening aan sy pasiënte gestuur. ’n Pasiënt wat nie kon betaal nie, het nie weer ’n rekening gekry nie. Rupert bestempel hom ook as die soort veelsydige mens wat volledige menswees behels – waarvan een uiterlike teken die alledaagse optrede is, soos weerspieël in goeie maniere en ridderlikheid. Stals, wat naas sy kennis van die medisyne en regte ’n voorste ekonoom was, het as minister van gesondheid meermale op reise die oggendkoffie aan sy motorbestuurder bedien.
Die gematigde politieke denke van Stals, wat ’n kabinetslid sou word nadat Malan se Nasionale Party die Verenigde Party van Smuts in die verkiesing van 1948 verslaan het, dra daartoe by dat Rupert nooit ’n ideologies benepe mens sou wees nie.
’n Staaltjie wat Stals se eggenote vertel het, illustreer sy ingesteldheid. Hy het ’n kongres van die Nasionale Party bygewoon waar negatiewe besluite oor bruin mense se regte geneem is. Stals het toe van die verhoog gestap, sy eggenote aan die arm gevat en uitgeloop met die woorde: “Kom, Annie, hier is nie plek vir ons nie.” Rupert is oortuig dat die bruin mense nooit van die gemeenskaplike kieserslys verwyder sou gewees het as Stals ná die 1948-verkiesing lank genoeg geleef het om sy invloed te laat geld nie.
’n Boesemvriend van Stals, wat ná die NP se oorwinning in 1948 as ’n minister in die Malankabinet aangestel is, het eenmaal van hom gesê: “Stals is nie ’n goeie politikus nie. Hy deel nie die lakens (baantjies aan sy partygenote) uit nie. Hy is te billik en regverdig.” Rupert se reaksie daarop was reëlreguit: “As billikheid en regverdigheid swak politiek is, hoort ek nie in die politiek nie. My vader was dus korrek in sy weiering om politieke poste te aanvaar.”
Dit is nog een van die redes waarom hy nooit geswig het voor pogings om hom by die politiek te betrek nie. Mettertyd huldig hy die mening dat die Afrikaner oor die jare sy ekonomiese krag opgebou het juis deur die kanalisering van sy energie buite die politiek in krisistye, soos tydens die Tweede Wêreldoorlog.4
In die kleinsakeafdeling van die RDB moet Rupert ander op die been help kom. Hy kon lenings tot £500 toestaan.
Een van die aansoekers wat ’n sukses gemaak het, is D.W. Pienaar, jare lank ’n manshaarkapper wat langs die bekende Koffiehuis in die Groote Kerk-gebou aan Adderleystraat in Kaapstad sy onderneming bedryf het. Onder andere het verskeie parlementariërs hul hare daar laat sny.
“Die Reddingsdaadbeweging het die Afrikaner ekonomies bewus gemaak,” verklaar dr. Dönges op die beweging se tweede amptelike kongres op 14 Julie 1943 in Bloemfontein. Volgens hom het die RDB – die Ekonomiese Instituut se “veldwerker” – die Afrikaner se vooroordeel teen kapitaalbeleggings in sakeondernemings, veral Afrikaanse ondernemings, geleidelik afgebreek. Algaande sou ook Afrikaanse universiteite – Stellenbosch, Pretoria, Oranje-Vrystaat en Potchefstroom – ’n rol in die kweek van sake- en bedryfsleiers speel deur etlike duisende afgestudeerdes in handelskursusse te lewer.
Ná ’n bestaan van vyf jaar het die RDB teen 1945 byna 400 takke in die land gehad en die ledetal het tot 70 000 opgeloop. Tientalle Afrikaanse sakeondernemings is met lenings gehelp. Werkgeleenthede is vir duisende geskep en honderde het voorligting gekry of is met hul studie gehelp deur die RDB (wat later aanskakeling met die Helpmekaar Studiefonds gevind het).
Rupert se pad loop nie enduit nie met die RDB, wat uiteindelik teen 1957 ontbind word. Maar in sy betrokkenheid by kleinsake leer hy self moontlikhede ken. Hy ervaar ook al hoe sterker die begeerte om iets te vervaardig, want “skeikunde en nywerheid is soos eie neefs”. Bowenal egter kom hy vanweë sy ervaring as kind