Een van Boetie Rupert se vroegste herinneringe is dat hy sy oumagrootjie Emma Susanna – “die klein ou vroutjie” – in ’n ouetehuis in Kaapweg, Port Elizabeth, gesien het voordat sy in 1919 oorlede is nadat haar man, die eerste Rupert in Suid-Afrika, haar reeds in 1882 ontval het. Sy moeder het ook ’n brief aan hom getoon wat oumagrootjie Emma, ’n Britse boorling, aan haar geskryf het, een wat sy met ’n boodskap met vyf kruisies afgesluit het: “And remember to give my love to Anthony.”
Hy groei op in tye toe die belangrikste mense op menige Suid-Afrikaanse dorp die predikant, die skoolhoof en die landdros was; gesagsfigure wat ’n stempel gelaat het op geslagte Afrikaners wat op die platteland grootgeword het.
Sondae op die dorp, sterk onder die invloed van die Murrays wat soos ander gestrenge Skotse kerkvaders leraars van die NG Kerk geword het, was streng Calvinisties. Kinders moes kerk en Sondagskool toe gaan, en sport op Sondae is as sondig beskou. Selfs naaldwerk was verbode, omdat die naald in God se oog sou steek.
Sy broer Koos beaam die streng Calvinistiese kultuur waarin hulle grootgeword het. “Ons pa was baie jare bevriend met die skoolhoof en die predikant. Maar my pa het nooit kerk toe gegaan nie; hy het gaan bergklim. Hy het ’n gedig oor die Verlate Vallei geskryf: ‘Dis die plek waar ek wil sit, dis die kerk waar ek wil bid.’ Ons het saam met my ma kerk toe gegaan. Ek het nie van Sondagskool gehou nie. Ds. Naudé het soms op die preekstoel gehuil, en dit het my baie ontstel.”
Rupert voeg hieraan toe: “Ons was nie eens veronderstel om op ’n Sondag te gaan stap nie. Dit was die Skotte se invloed.”
Alhoewel hul moeder godsdienstig was, loop sy nie daarmee te koop nie. Ook hul vader se waardes was Calvinisties: die etiek van hardwerkendheid, eerbaarheid en soberheid. Omdat sy ouers egter nie wetties was nie, het Anton van vroeg af ’n afkeer gehad van reëls en regulasies wat innovasie en individualiteit verlam. Terwyl hy teen ’n wettiese lewenshouding is, het hy die dissipline, hardwerkendheid en eerbaarheid van die Calvinisme sy eie gemaak.
Boetie Rupert gaan in 1923 op sesjarige ouderdom skool toe. Die laerskoolkinders het nie skooldrag gehad nie, maar was gestewel; hulle het nie kaalvoet skool toe geloop nie. Op sy eerste skooldag beland Boetie met sy splinternuwe skoolklere in ’n watersloot terwyl hy die babawaentjie van sy pasgebore broertjie, Jannie, stoot, en hy moes ou klere gaan aantrek om droogvoets skool toe te gaan.
Hy voltooi die eerste twee standerds, sub A en sub B, in een jaar. Hy is linkshandig, maar word nie, soos destyds dikwels gebeur het, gedwing om regs te skryf nie. Daarmee help dr. Karl Bremer, toe pas terug van oorsee, deur aan te beveel dat hy links bly skryf.
Een van sy klasmaats is Bremer se dogter Elizabeth (Van der Merwe, skryfster van kinderboeke). Sy onthou dat hy in sub A saam met haar aan ’n vierkantige tafeltjie vir vier gesit het. Die twee ander klasmaats was Hendrik Momberg en Marié van Schalkwyk (getroude van Pallister), die dogter van dr. Bremer se vennoot, dr. Johannes van Schalkwyk, skrywer van Raad in tyd van siekte, die eerste mediese handleiding in Afrikaans.
Aanvanklik verskyn Boetie Rupert se naam nie boaan die prestasielys nie. Elizabeth van der Merwe onthou dat hul onderwyseres, mej. Bella Laubscher, dogter van die poppefabriek se eienaar, hom in sub B in die klaskamer na vore geroep het. Hy staan kop onderstebo terwyl sy sê die jonge heer Rupert staan negende, maar hy kan veel, veel beter vaar.
Die teregwysing sink in. Reeds in die laer standerds begin hy eerste staan in die klas. Elizabeth, wat met hom wou meeding, kon hom nooit inhaal nie. In st. 7, haar laaste jaar op Graaff-Reinet (Bremer het toe as Volksraadslid na Kaapstad verhuis), kon sy weer nie bybly nie. Sy gaan by sy moeder, wat sy as Missus Rupert aangespreek het, haar lot bekla, en sê huilend dat Boetie eerste staan, en nie sy nie. Boetie Rupert se moeder het haar getroos.
Vriende van die Ruperts soos Elizabeth het almal met groot lof van mev. Hester Rupert gepraat. Sy was liefdevol en gasvry, en het ’n besondere aanvoeling vir kinders gehad. Sy het gemaklik met hulle gesels en in hul doen en late belang gestel. Elizabeth het byvoorbeeld in st. 7 ’n nuwe rok wat sy gekry het, spesiaal vir mev. Rupert gaan wys want “sy het so ’n hart gehad”. Volgens Elizabeth was sy saggeaard, maar kinders het na haar geluister en gedoen wat sy gevra het “omdat jy haar liefhet”.
In st. 4 het mev. Rupert en Boetie die boek Suffer little children gelees en dit by Elizabeth aanbeveel. Die boek het haar laat huil.
Sy onthou ook hoe die kinders van die Ruperts en die Bremers ná mooi reëns –altyd welkom in die Karoo – feesgevier het deur met stoele trein-trein op die stoep van hul huis te speel.
Boetie, wat kon lees voordat hy skool toe gegaan het, lees baie; saans meermale ’n kinderboek. En hy was weetgierig. In die goed toegeruste dorpsbiblioteek kon hy koerante sowel as tydskrifte soos die Scientific American en die Illustrated London News kry, en hy lees ook omtrent al die boeke.
In ’n ouerhuis waar dit nie aan liefde ontbreek nie, bly sy moeder saam met hom wakker wanneer hy saans laat sit en leer, en sy gee hom ’n warm drankie voordat hy gaan slaap.
Die Karoo, met Graaff-Reinet op ’n wye vlakte aan die voet van die Sneeuberge en neffens die indrukwekkende Spandauskop en die Vallei van Verlatenheid (’n diep kloof met majestueus opgestapelde rotse wat die Ruperts verkies om die Bergkatedraal te noem), maak ’n onuitwisbare indruk op die jong skoolseun. Hy gaan dikwels saam met sy vader in die veld stap.
Hy beskou dit as ’n “absolute voorreg” dat hy as kind in die Karoo grootgeword het. “Weet jy, baie van die groot gelowe kom uit die woestyn. Christus, Moses en Mohammed was almal daar. Dis waar jy sewejaar-droogtes het, waar jy jou nietigheid ervaar as jy na die sterrehemel kyk en waar jy genoodsaak is om te dink. Daarteenoor het Karl Marx sy inspirasie vir die kommuniste se bybel, Das Kapital, in die Britse Museum gekry.”4
Hy koester ’n besondere liefde vir nie net die Karoo nie, maar ook vir sy mense. In later jare toe hy verneem dat die bestuurshoof van ’n groot onderneming af-wysend op ’n versoek tot ’n bydrae tot die Vredesparkstigting gereageer het, merk hy verontwaardig op: “En hy kom van Cradock af!”
In sy vader se prokureurskantoor doen hy vroeg reeds kennis van die regsberoep en regskwessies op. ’n Alombekende ingesetene van die dorp, Terry Whitlock, onthou dat hy meermale gesien het hoe die ouer Rupert sy eie state op ’n tikmasjien tik, en dat hy ook graag gedig en gedigte voorgelees het.
By sy prokureur-vader leer Anton om noulettende aandag aan detail te gee, iets wat bekwame regsgeleerdes kenmerk. Dit is ’n deug wat op sy beurt by sy seun Johann ingehamer is terwyl dié by die beleggingsbank Lazard Freres in New York gewerk het. Wanneer prospektusse uitgestuur is, het Lazard Freres daarop aangedring dat elke reël van voor én agter gelees word. Anton Rupert het in sy loopbaan ook opgelet dat suksesvolle sakelui met wie hy te doen gekry het, soos Harry Oppenheimer van Anglo American en Donny Gordon van Liberty Life, oneindige aandag aan detail skenk.
John Rupert skerp meermale by sy seun in: “Eerlikheid is die beste beleid. Jou woord moet jou eer wees.”
Nog ’n stelling wat sy seun sy lewe lank sou bybly, is ’n priemende oordeel: “Ek is nie bang vir die duiwel nie, maar ek is bang vir ’n skelm mens.” Sy gestrenge benadering het John Rupert genoop om nie in die hof vir ’n beskuldigde te verskyn wat sy of haar skuld teenoor hom beken het nie.
’n Gekoesterde lewenswaarde van sy vader wat Anton in later jare meermale aanhaal, is dat ’n mens in jou pasoppens vir die verleiding van lof moet wees: “Vandag skreeu hulle hosanna, môre kruisig hulle jou.” Soms wanneer hy iemand ’n kompliment toeswaai, sal hy byvoeg dit bring ook verantwoordelikheid mee, want dan word van die persoon wat die kompliment ontvang, verwag om daardie vlak te handhaaf.
Boetie Rupert volg reeds as jong seun die politiek. Die eerste keer dat hy na ’n radio luister, is dit ’n kristalradio wat die uitslae van 1929 se verkiesing uitsaai. Hy was toe twaalf jaar oud en ’n groot bewonderaar van genl. Hertzog, wat ná sy bewindsoorname in 1924 vyftien jaar lank die eerste minister sou bly. Elizabeth van der Merwe vertel dat hy in st. 4 of st. 5 ’n plakboek aan haar gewys het, met ’n foto