Kmdt. Scheepers, van wie ’n standbeeld en ’n gedenksteen op die dorp staan, was ’n baasverkenner wat ’n skouspelagtig suksesvolle guerrilla-inval in die Kaapkolonie gelei het voordat hy gevang is – volgens sommige hardnekkige bewerings nadat ’n verraaier hom as die Boere se befaamde Scarlet Pimpernel vergiftig het, volgens ander rapporte nadat hy blindedermontsteking opgedoen het.
Anton Rupert oordeel self dat die verhaal van Scheepers soos sy vader dit aan hom vertel het, sy hele lewe verander het. Sy vader was as 13-jarige seun teenwoordig by die uitspraak van die Britse krygshof op Kerkplein op Graaff-Reinet.
Die vervolging van Scheepers was ’n skouverhoor wat Kaapse republikeinsgesindes ’n les moes leer – juis terwyl die oorlog Brittanje in Rudyard Kipling se frase “no end of a lesson” geleer het. Die Britse offisiere het Scheepers, wat heelparty Kaapse rebelle oorreed het om hulle by die Boeremagte aan te sluit en self getuig het dat hy sowat 1 300 Britte krygsgevange geneem het, ná aggressiewe vervolging aan dertig beweerde oorlogsmisdade skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die vonnisse en teregstellings moes op bevel van genl.maj. John French in die openbaar plaasvind. Geblinddoek en sittende op ’n stoel is Scheepers die volgende dag, 17 Januarie 1902, op sy moeder se verjaardag, deur ’n vuurpeloton van die Coldstream Guards tereggestel. Ongebluste kalk is oor sy lyk in die graf by die toneel gegooi, maar sy oorskot is vermoedelik dieselfde nag verwyder om herbegrawe te word en het spoorloos verdwyn.
Hy was een van agt mense wat op Graaff-Reinet tereggestel is terwyl die meeste dorpe in oorlogstyd in die Kaapkolonie onder die fel omstrede krygswet en militêre sensuur was. Soos die konsentrasiekampe, wat die lewens van 28 000 vroue en kinders geëis het, en die Britse opperbevelhebber, lord Kitchener, se beleid van “verskroeide aarde”, waardeur honderde plaashuise afgebrand en veetroppe vernietig is, het die teregstellings van Kaapse rebelle en Boerekrygers bittere verset uitgelok. Sowat veertig rebelle het in die Kaapkolonie so hul lewe verloor, skreiende teregstellings wat die inspirasie vir die digter-dokter Louis Leipoldt se protesgedig “Oom Gert vertel” was. Soos elders het die teregstellings die gevoelens van republikeinsgesindes op die verdeelde dorp erg laat verhard.
Op die nabygeleë Oudtshoorn het die onregverdige skynverhore van krygsgevangenes die skrywer C.J. Langenhoven, aanvanklik ’n anglofiel wat destyds as regsgeleerde die sake van Kaapse rebelle behartig het, so gekrenk dat hy hom aan die militêre howe onttrek het. Hy het ook as aanvanklike voorstander van Engels as amptelike taal omgeswaai tot een van die vernaamste Afrikaanse taalstryders en skrywer van die volkslied “Die stem van Suid-Afrika”.
Die martelaarsgeskiedenis van Scheepers, geen Kaapse rebel nie maar ’n Oos-Transvaler wat ’n bevelvoerder van die Vrystaatse Staatsartillerie was, word een van die treurigstes uit ’n oorlog wat ’n blywende letsel op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelaat het. Sy graf is nooit gevind nie.
Sy moeder se jare lange soektog na sy stoflike oorskot is nooit beloon nie, en op haar honderdste verjaardag in 1956 sê sy dat sy nie vergeet nie, maar vergewe: “Laat ons eerder in liefde en vrede lewe as een onverdeelde volk.”3
Scheepers het ’n legende in Suid-Afrika geword; onder meer is drie gedigte oor hom geskryf. In sy aangrypende “Gebed om die gebeente” weerspieël Dirk Opperman die aanroeping van die treurende moeder van Scheepers, ’n kranige heliografis:
Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd (. . .)
(. . .) dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel,
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël.
Digterlik het Opperman, ’n goeie vriend van die Ruperts, hier ook die idee van saambestaan vasgevang, wat as ’n leitmotiv deur die hele loopbaan van Anton Rupert sou strek nadat hy op vroeë leeftyd reeds begeester is deur die legende van Scheepers – hy wat, in Opperman se woorde, “leef in hierdie land nou ewig en altyd!”
As jong seun maak Boetie Rupert ook kennis met ander Boerehelde. Een van hulle is kaptein Henri Slegtkamp, wat saam met die Skot Jack Hindon lid van Danie Theron se Verkennerskorps was. Op besoek aan Graaff-Reinet boei Slegtkamp, ’n uitmuntende raconteur, die jong Rupert met sy verhale van die Boereoorlog. Hy het as jong Nederlander na Suid-Afrika gekom “om avontuur te soek”; hy het in Transvaal geveg teen die Jameson-inval van 1895-’96, wat deur die geskiedskrywer C.W. de Kiewiet as “die mees berugte insident in die geskiedenis van die Britse empire” bestempel is; en hy het dadelik op kommando gegaan toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek. Die skrywer Dirk Mostert het uit Slegtkamp se oorlogsdagboek die werk Slegtkamp van Spioenkop: Oorlogsherinneringe van kapt. Slegtkamp saamgestel, waarin hy Slegtkamp en Hindon so tipeer: “Hulle (het) mekaar gebalanseer asof hulle weerskante van ’n weegskaal gehang het. Wat Hindon uitgedink het, het Slegtkamp uitgevoer. Hindon was die dinamiet van die Verkenners, Slegtkamp die ontploffing.”
Met die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999 het Rupert die legger oor Scheepers wat vroeër in die besit van die Britse intelligensiedepartement was, van ’n boekhandelaar in Kaapstad aangekoop. Daarin verskyn Scheepers se laaste briewe (aan sy moeder, aan pres. M.T. Steyn en aan genl. Christiaan de Wet) en sy dagboekaantekeninge, soos vertaal deur John Gregorowski, wat in die Krygswetkantoor op Graaff-Reinet gewerk het. Daar is ook unieke foto’s van Scheepers en ander Boerekrygsgevangenes wat deur die Graaff-Reinetse fotograaf Ivie H. Allan in die gevangenis op die dorp geneem is. Die boekhandelaar beskou die Gregorowski-legger as die belangrikste versameling van Scheepers-memorabilia wat ooit gevind sou word.
Die monument van Scheepers en die ander tereggesteldes van Graaff-Reinet het ’n ander nadraai gehad, een wat op die toekomstige nyweraar Rupert ’n blywende indruk gemaak het. Die stadsraad wou ná die oorlog nie geld beskikbaar stel nie vir die monument, wat ’n sterwende Scheepers toon wat deur genl. De Wet gekoester word. Dit is toe in 1908 onthul op grond wat deur Jurie Laubscher, eienaar van die poppefabriek van Graaff-Reinet, geskenk is. Hy het meer as sewentig werkers in diens gehad wat die welbekende Graaff-Reinet Pop gemaak het, waarvan daar etlike voorbeelde in die Reinethuis op Graaff-Reinet is.
“Toe die Paktregering van Nasionaliste en Arbeiders in 1924 ná die opstand van die mynwerkers in Johannesburg aan die bewind gekom het, het hulle die eerste superverligte arbeidswette gemaak,” onthou Rupert. “Jy moes soveel lig en soveel spasie toelaat, en meer as drie is ’n fabriek. Oom Jurie Losper, soos hy in die wandel genoem is, kon nie aan daardie vereistes voldoen nie – en toe is Graaff-Reinet se grootste fabriek daarmee heen. Dit het hy my nog self vertel.”
In sy kinderdae was Graaff-Reinet ’n tipiese plattelandse dorp: geen elektrisiteit, geen lopende water en geen teerstrate nie. Drinkwater het uit ’n tenk gekom wat reënwater van die huis se dak opgevang het. Leiwater het gekom van Maggie se Put, ’n standhoudende fontein wat twee miljoen gelling suiwer vars water per dag gelewer het op die plek waar die dorpsdam vandag is. Die water is gekook vir badwater. Die dorp met sy stofstrate het eers laat in die jare twintig lopende kraanwater gekry.
Studietyd saans was aanvanklik by kerslig of ’n paraffienlamp. Elektrisiteit is met verloop van tyd verskaf, met gloeilampe wat in die middel van die vertrek aan ’n draad gehang het. ’n Elektriese eenheid het toe ’n sjieling gekos, dus was krag duur.
“Ek kom van een van ons oudste Karoodorpe waar ek in my jeug geen binnenshuise waterleiding, geen afloopbad, geen elektriese lig geken het nie,” vertel Rupert in sy bundel Wie in wondere glo om te illustreer hoe vinnig moderne ontwikkeling geskied; hoe produkte vandag vervaardig word wat 25 jaar tevore onbekend was. “Daar was geen radio, geen gehoortoestelle, geen radar, geen spuitvliegtuie, geen diesel, geen bolpuntpen, geen selfopwenhorlosie, geen flitskamera, geen bandmasjien, ja, selfs geen papiersakdoeke nie.”
John Rupert het nog vroeg in die jare twintig vir ’n hofsaak in Kaapstad met sy Model T Ford op die grondpad na Beaufort-Wes gery en daarvandaan