“Gaan jy nie ook ’n paar pêre na-aap nie, Saartjie?” bulder Galpil van die hoek af waar hy en sy maats op die rusbank sit.
“Nee, ek dink nie dit sal so ’n goeie idee wees nie. Die mense wat ek na-aap, gaan almal in die gehoor wees en hulle sal nie daarvan hou nie.”
“Ek gaan sing en dans en ’n resitasie opsê,” sê Muggie en spring ook sommer op om vir hulle te wys hoe talentvol sy is.
Sy dans “Jan Pierewiet” terwyl sy die liedjie se woorde sing en pragtige, elegante bewegings maak.
Toe almal hande klap, hou sy ’n vuil handjie in die lug en sê: “Wag, ek is nog nie klaar nie. Nou vir my resitasie.”
Sy kom tot op haar tone, hou haar arms bo haar kop en laat haar vingers soos kloue lyk. Sy blaas haar wange op en sê dan met haar piepstemmetjie: “I am de witch of Witchland.”
Muggie dra die gedig skitterend voor, al is sommige Engelse woorde se uitspraak maar krom.
Sy word entoesiasties toegejuig en maak ’n paar buiginkies na alle kante toe voordat sy gaan sit.
Muggie se naam word vir sang en dans en ’n resitasie neergeskryf.
“Wat van jou, Matilda?” vra Saartjie vir die meisie wat so treurig en teruggetrokke eenkant sit. “Wat gaan jy doen?”
“Ek neem al jare vioollesse,” sê Matilda, “maar ek het nog nooit voor mense gespeel nie . . .”
Saartjie merk hoe skaam Matilda praat. Sy hou van die meisie se beskeie manier. Sy wonder of hulle haar nie almal verkeerd verstaan nie.
Matilda het maar eers ses maande gelede by Laerskool Lynnekom aangekom toe haar ouers hierheen verplaas is. Sy is seker van die skaam soort wat altyd bang is sy sal iets verkeerd doen. Dis miskien hoekom sy die indruk geskep het dat sy ’n klikkie is en witvoetjie by die onderwysers soek. Saartjie besluit sy wil Matilda later beter leer ken.
“Dis wonderlik, Matilda,” sê sy. “Ek skryf jou naam neer vir ’n vioolsolo. Ek is seker jy gaan ons almal verras.”
“Miskien . . . miskien kan ek en jy ’n bietjie saam oefen. Dan kan jy my op die klavier begelei.”
“Ek sal graag wil, Matilda.”
Saartjie kyk na haar boetie Apie en sy maat Bennie. Die twee praat nie vandag so baie soos gewoonlik nie. Hulle is te besig om mekaar geniepsig in die ribbes te pomp.
“Sal julle twee nou stil sit!” beveel Saartjie.
Die seuns kom tot bedaring.
“Wat gaan julle doen?” wil sy weet.
Die knapies kyk na mekaar.
“Wat kan jy doen, Ben ou pen?” vra Apie en steek die punt van sy tong deur die opening tussen sy tande.
“Niks, Jaap ou aap,” antwoord Bennie. “En wat kan jy doen?”
“Ok niks.”
Hulle kyk met ondeunde gesiggies na Saartjie.
“Wil julle aan die konsert deelneem, of nie?” vra sy.
Albei knik. Ja-nee, hulle sal nogal graag wil deelneem. Die ongeluk is net, hulle weet nie wat om te doen nie.
“Is dit nodig dat hulle juis iets moet doen, Saartjie?” vra Anna laggend. “Hulle kan mos maar net daar staan en na mekaar kyk – dan sal die mense in elk geval vir hulle lag.”
“Hoekom?” vra Apie en gluur woes na Anna. “Hoekom sal die mense sommer so vir niks vir ons lag?”
“Lyk my Anna probeer snaaks wees. Sy probeer ons afkraak,” sê Bennie en klap sy boesemvriend op die skouer.
“Lyk my ok so,” sê Apie.
“Wag nou,” keer Saartjie. “Die Sonskynklub se lede moenie onder mekaar begin stry nie. Ek sal aan iets dink wat julle twee kan doen.”
Anna is nou stil. Saartjie sit met ’n gefronsde voorkop sodat almal kan sien sy dink diep. Ná ’n ruk kyk sy op na haar boetie en sien die opening waar sy twee voortande moes gewees het.
“Ek sê jou wat, Apie,” sê sy opgewonde, “jy sing vir ons ’n liedjie. Ek sal vir jou die woorde en wysie leer.”
“Wat se liedjie?” vra Apie en loer agterdogtig na sy suster.
“Dit is ’n Engelse liedjie . . .”
“Toemaar,” sê Apie selfvoldaan, “my Engels is goed. Wat is die woorde?”
“All I want for Christmas is my two front teeth . . .” sê Saartjie. “Dis hoe dit begin, en dis ’n maklike liedjie.”
“Vergeet dit. Ek gaan dit nie sing nie,” sê Apie verontwaardig.
“Hoekom nie?”
“Sommer,” sê hy nors.
Almal sit nou weer en dink wat Apie en Bennie in die konsert kan doen.
Die twee knapies sit en fluister onder mekaar. Dan sê Apie: “Ons het besluit om grappe te vertel. Die ouens gaan hulle so slap lag.”
Saartjie vee met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Miskien kan dit werk. Hulle kan ’n soort tweespraak doen. Die een vertel ’n grap en dan weer die ander een.
“Goed dan,” sê Saartjie, “maar ek wil die grappe eers hoor!” Sy ken hulle. ’n Mens weet nooit waarmee die twee karnallies vorendag kan kom nie.
Saartjie skryf neer: Apie en Bennie – grappe.
Dan kyk sy na Galpil en sy twee maats op die rusbank.
“En julle drie?” vra sy. “Wat gaan julle doen?”
“Ek wil My Captain, My Captain voordra,” sê Galpil en hy spring sommer op en begin in ’n bulderende stem resiteer.
Dit is ’n gedig oor ’n matroos wat saam met sy geliefde kaptein op al die oseane van die wêreld geseil het en toe is sy kaptein dood en nou bring hy hom terug hawe toe.
Galpil dra dit met passende gebare voor, en die kinders sit doodstil en luister. Hulle kry sulke rillings langs die ruggraat af wanneer Galpil aan die einde van elke strofe in ’n swaar, lae stem sê: “Where on the deck my Captain lies – Fallen, cold and dead!”
Hy wys met sy voorvinger na ’n plek op die grond voor hom waar die dooie kaptein se lyk veronderstel is om te lê. Die dead is lank uitgerek en in ’n lae bas, amper soos ’n spookstem.
Almal klap hande toe Galpil klaar is.
“Dis wat ek wil doen,” sê Galpil, “maar die aand van die konsert gaan hierdie twee pêre saam met my deelneem. Ons sal aantrek dat ons soos matrose lyk. Gert gaan die hele tyd net doodstil voor my voete lê, want hy is die dooie kaptein en Piet sal langs my staan. Elke slag as ek na die dooie ou voor my voete wys, sal ou Piet so ’n paar keer snik-snik-snik en sy neus uitblaas . . .”
“Hoekom moet hy dit doen?” vra Saartjie.
“Die perd is mos diep bedroef, sien, want hy is een van die bemanning en hy het sy kaptein ook bitterlik liefgehad.”
Almal is seker dit gaan ’n groot sukses wees. Galpil se diep, hol stem, die manier waarop hy sekere woorde uitrek, die lyk van die kaptein, en Piet se snikke en neusuitblasery behoort baie effektief te wees.
“En dan wil ons pêre ook nog ’n ander ding doen, Saartjie,” sê Galpil. “Ons wil bietjie musiek maak.”
Soos een man haal die drie seuns hul mondfluitjies uit. Hulle sit gereed, kyk na mekaar en dan sê Galpil: “Reg, pêre?”
Hulle knik met