“Saartjie!” sê sy hard.
Saartjie se hart bons in haar keel. Sy is lam geskrik.
“Staan op, Saartjie!”
“Ja, Juffrou.” Saartjie kom sukkelend regop.
Sy het die vel papier met die karikatuur op in haar hand, maar hou dit onder die bank. Sy wens sy kan die papier los, maar dan sal Ou Bolla dit op die grond sien neerfladder.
Die onderwyseres loer oor haar knypbril, beduie dan met haar benerige wysvinger na Saartjie en bulder: “Wat het jy in jou hand?”
“Sommer . . . sommer ’n stuk papier, Juffrou,” stamel Saartjie. Sy is bleek. Onwillekeurig vee sy met die agterkant van haar ander hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg.
En toe kom die bevel wat Saartjie gevrees het: “Bring dit hier!”
“Ja, Juffrou,” sug Saartjie. Maar skielik voel sy hoe ruk iemand die papier met die tekening op onder die bank uit haar hand en stop ’n ander papier daarin.
Onskuldig kyk Anna na Saartjie toe sy uitskuif sodat haar maat kan deurkom. Met haar een oog knip Anna net effens. Saartjie glimlag vinnig. Sy voel nou sommer baie beter.
“Watse papier is dit, Saartjie?” vra juffrou Minnaar kwaai.
“Dis sommer ’n ou stuk ding, Juffrou,” sê Saartjie en oorhandig die papier gedwee.
Die onderwyseres loer oor haar bril – eers na die een kant van die papier en dan na die ander kant.
“Maar hier is dan niks op nie,” sê sy.
“Ek weet, Juffrou,” sê Saartjie vroom. “Ek het mos gesê dis maar net ’n ou stuk papier.”
In die bank sit Anna met ’n onskuldige gesig. Onder die bank beweeg net haar vingers soos sy die tekening van die juffrou aan repies skeur.
“Hmm,” sê die onderwyseres en kyk agterdogtig na Saartjie wat ewe onskuldig voor haar staan. Net Saartjie se lewendige blou oë vonkel ondeund.
“Het jy die stuk al klaar gelees?”
“Ja, Juffrou, twee maal al. Ek ken dit,” sê Saartjie selfversekerd.
“Mmm,” mompel juffrou Minnaar. Sy besef dit is heel moontlik waar. Saartjie is een van die slimste leerders wat sy nog ooit teëgekom het, maar ai, tog só woelig!
“Sit dan . . . en lees die volgende les.”
“Goed, Juffrou.”
Saartjie gaan sit. Toe sy die boek voor haar optel, fluister sy uit die kant van haar mond: “Dankie Anna, dit was so ampertjies of ek was sonder ’n vel.”
Met speeltyd baljaar die kinders op die skoolterrein. Die drie maats, Saartjie, Anna en Lina, sit eenkant op ’n bankie in die skaduwee van ’n boom en toebroodjies eet.
“Ja-nee,” sug Saartjie, “die ou lewe is maar moeilik.”
“Hoekom?” vra die lang, skraal Lina belangstellend.
“Wel, soos julle weet, staan ek my hele skoolloopbaan lank nog altyd eerste en my pa het gesê hy gee vir my ’n horlosie as ek vanjaar weer eerste staan. Maar soos julle weet, is my kanse dié keer nie so goed om weer eerste in die klas te wees nie.”
Saartjie sug. “Dis hoekom ek sê die ou lewe is maar moeilik. En dan is daar nog Apie ook. Hy maak die lewe net nóg moeiliker . . .”
“Wat het hy nou weer aangevang?” vra Anna.
“Jy vra nog!” sê Saartjie verontwaardig. “Hy eis die helfte van die sakgeld wat ek Saterdag gaan kry. Hy het uitgevind dis ons drie wat oom Petrus en tannie Ralie so laat skrik het met daai kousslang toe hulle eergisteraand van die kerksaal af gekom het. Oom Petrus het gister die wêreld vol geloop en soek na die kwajongens, maar ons was veilig, want hy het na seuns gesoek.”
“En nou is ons nie meer veilig nie,” sê Lina bekommerd.
“Nee, want Apie het in my kamer gekom en die kous met die sand in onder my bed gekry. Nou dreig hy om nie net vir oom Petrus te gaan vertel nie, maar ook vir my pa en ma, én julle s’n.”
Die ander twee meisies sug nou diep. Saartjie is reg: die lewe is regtig moeilik. Dieselfde gedagte flits deur albei se koppe. Hulle het al drie saam slangetjie gespeel, so hulle sal nou moet saamstaan om Apie se stilswye te koop.
“Hoeveel wil hy hê?” vra Anna.
“Die helfte van my sakgeld.”
“Dis baie,” sê Lina. “Ons sal seker maar moet help betaal.”
“Ons is almal saam in die ding,” sê Anna.
“Dankie, julle,” sê Saartjie dankbaar. “Maar eendag sal ons nog met daai luis afreken.”
Die drie sit nou en dink aan die dag wanneer hulle met Saartjie se agtjarige boetie gaan afreken. Hierdie wraakgedagtes is soet gedagtes.
“Jy is darem gelukkig, Lina,” sê Saartjie, “dat jy nie ’n jonger boetie of sussie het wat die lewe vir jou moeilik maak nie. Jy weet hoe ’n klein klits Apie is en kyk nou maar net na Anna se Muggie.”
Anna se sesjarige sussie, Johanna Catherina Strydom, is algemeen bekend as Muggie. Sy maak die lewe ook gereeld moeilik vir die drie. Hulle kan nooit van Muggie ontslae raak nie. Oral waar hulle gaan, moet sy altyd saamkarwei word.
“Ja-nee, ek is bly,” sê Lina, “daar is nie ’n Muggie of ’n Apie in my huis nie, maar ek sien nog nie hoekom julle so kla dat die lewe so moeilik is nie. Ons moet nou wel elkeen vir Apie geld gee, maar dis darem nie só erg nie. En wat jou ander bekommernis betref, Saartjie – dis nog glad nie seker dat Matilda Nielsen jou vanjaar gaan klop en eerste gaan staan nie . . .”
“Maar kyk hoe hard het Matilda gewerk!” sê Saartjie mismoedig. “Sy het dag en nag agter haar boeke gesit.”
“Ja, maar sy het nie soveel verstand soos jy nie . . .”
Saartjie glimlag tevrede. Dis vir haar mooi en waar woorde wat Lina nou sê. Maar sy sê met ’n skouerophaling: “Ag, moenie laf wees nie.” In werklikheid stem sy natuurlik volkome saam met Lina. Sy wat Saartjie is, is slimmer as daardie boekwurm van ’n Matilda Nielsen.
“Ons moenie net aan ons eie lewens dink as ons kla oor die lewe wat so moeilik is nie,” sê Saartjie ’n paar oomblikke later en sy vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg.
“Waaraan moet ons dan nóg dink?” vra Anna.
“Ons moet dink aan die res van die mensdom – aan al die ellende en rampe in die res van die wêreld.
“Dink maar net aan die arme Indiërkindertjies,” sê Saartjie sugtend en loer vlugtig om te sien of haar twee vriendinne dit doen.
Anna is die een wat die verwagte vraag vra: “Wat se Indiërkindertjies?”
“Die outjies wat daar in Indië langs die Ganges woon. Julle weet mos van die Ganges-rivier?”
Albei knik. Hulle was nog nooit daar nie, maar hulle het al van die Ganges gehoor. Hulle ken mos hulle aardrykskunde.
“Wel,” sê Saartjie, “ek het in ’n tydskrif gelees duisende der duisende kinders daar vergaan van honger, want die rivier het afgekom, julle weet, en al hul kos is weggespoel en nou word daar oor die hele wêreld gekollekteer om die arme bloedjies te help . . . Ek het gedink miskien moet ons ook probeer om so ’n handjie by te sit.”
Moedeloos staar Saartjie voor haar uit. Sy dink aan hoe moeilik die ou lewe is. Sy en haar maats moet elkeen vir Apie van hul geld gee. Matilda Nielsen gaan haar waarskynlik uitstof en eerste in die klas staan – en die Ganges-rivier het sy oewers