“As ek nie my maniere geken het en so goed opgevoed was nie, het ek nou sweerlik ’n woord gesê wat ek nie moet sê nie,” mompel sy en hardloop terug met die sypaadjie tot waar die betonblokke begin.
Sy staan reg en dan begin sy weer spring. Sy sal dit nou stadiger en versigtiger doen. Sy wil tog nie weer van voor af begin nie!
Dié keer vaar sy beter en bereik die hekkie sonder om aan een van die gleuwe tussen die blokke te raak.
Soos ’n warrelwind vlieg Saartjie by die hekkie in en hardloop met die tuinpaadjie op. Sy pluk die voordeur oop en nael na die sitkamer. Haar tas en skoolbaadjie word op ’n bankie in die voorportaal neergegooi.
Saartjie bars by die sitkamer in en skree: “Hoera! Ek het dit weer reggekry!”
Dokter Baumann sit in sy leunstoel met die koerant. Sy vrou is besig om Lizzie wat al jare lank die Baumanns se huishulp is, te help tafel dek. Saartjie se broer in matriek, Kris, sit-lê op die rusbank met ’n geskiedenisboek in sy hand. Hy leer vir die eindeksamen wat volgende week begin.
Haar jonger boetie, die agtjarige Apie, wou net mooi na die kat se stert gryp toe Saartjie met so ’n lawaai daar instorm. Vies kyk hy na haar. Haar lawaai het die kat só laat skrik dat hy soos ’n weerligstraal daar uit is.
Saartjie se familie kyk haar verbaas aan.
“Hoor julle nie wat ek sê nie?” vra sy laggend.
Dokter Baumann kyk na sy enigste dogter – die blakend gesonde Saartjie met die natuurlike rooi blos op die wange, volmaakte wit tande en helderblou oë. Hy sug gelate. Sy gaan eendag nog baie harte breek.
Haar pa se stem is sag: “Hoe sê jy, Saartjie?”
“Wat is die groot nuus, my kind?” vra haar ma en haar oë rus teer op die lewenslustige meisiekind wat soms tog so ondeund kan wees.
“Sy’s sommer simpel,” brom Apie en maak ’n sisgeluid deur die opening tussen sy tande. Hy het sy twee voortande verloor toe hy uit ’n boom geval het.
“Ek het gedink ek kan hier rustig sit en leer,” sê Kris, “maar noudat Saartjie terug is, kan ek maar vergeet.”
“Wil julle nie weet wat gebeur het nie?” vra Saartjie oorstelp.
Almal verseker haar hulle wil baie graag weet. Maar Apie mompel dat hy glad nie gretig is om te weet wat gebeur het nie. Om sy standpunt te beklemtoon, maak hy nog so ’n paar sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.
“Nou laat ek julle dan sê,” sê Saartjie.
Sy maak ’n elegante buiginkie en met ’n teatrale gebaar sê sy: “Voor julle sien julle die slimste leerder in die ganse Laerskool Lynnekom. Die einste en enigste Saartjie Baumann is weer eens – ten spyte van strawwe kompetisie – eerste in die klas!”
Sy hardloop na haar ma wat haar soen en sê: “Veels geluk, my kind. Ek het geweet jy sal dit weer regkry.”
Dokter Baumann glimlag van oor tot oor en wens sy dogter hartlik geluk.
“Nou toe, Pappa,” sê Saartjie en knipoog vir hom, “wat skuld Pappa my nou?”
“’n Horlosie, Saartjie. Ek gaan môre in stad toe, dan sal ek vir jou een koop. Jy het dit verdien.”
Saartjie besluit dit sal miskien wys wees om nie te sê Juffrou het gesê sy kon nog beter gedoen het as sy harder gewerk het nie.
Kris en Apie wens Saartjie ook geluk met haar prestasie. Maar Apie doen dit eers nadat sy ma hom vorentoe gestamp het.
“Ek sien nie wat is so wonderlik daaraan om eerste te staan nie,” sê hy toe hy sy suster vlugtig op die wang soen. Hy vee sy mond dadelik met die agterkant van sy hand af. Hy is nie ’n ou vir soenery, gevoelens en sulke goeters nie.
“Gaan jou rapport sê jy staan ook eerste, Apie?” vra sy pa laggend.
“Nie eerste nie, Pa,” keer die koddige buksie, “maar darem ook nie laaste nie.”
Kris waarsku dat Saartjie dit nie volgende jaar in die hoërskool so maklik gaan regkry om eerste in die klas te kom nie; die mededinging daar is kwaai.
Ná ete gesels Saartjie ’n rukkie met haar ma en gaan dan na haar kamer op die boonste verdieping. Sy sit op die bed en kyk by die venster uit.
Sy voel gelukkig en tevrede. Die lewe is nie meer so moeilik nie. Sy staan sowaar weer eerste in haar klas en sy gaan ’n pragtige horlosie kry.
Haar ma het boonop gesê sy sal Saterdag vir haar ekstra sakgeld gee. Nou maak dit nie saak dat sy ’n deel moet afknyp om Apie se mond toe te hou nie. Sy sal nog meer oor hê as wat sy gewoonlik kry.
Saartjie het ook met haar ma gepraat oor die artikel wat sy gelees het van die duisende Indiërkindertjies wat langs die Ganges-rivier in Indië woon en nou nie kos het om te eet nie.
“Mamma, ek is so ’n gelukkige mens dat ek voel ek wil ander ook help. Ek wil ’n konsert of iets reël en dan moet die gehoor toegang betaal en dan stuur ek al die geld vir die komitee wat vir die outjies in Indië moet kos koop.”
Haar ma het glimlaggend geluister. Sy het gemeen dit is ’n uitstekende idee, maar voorgestel dat die geld gebruik word om kindertjies hier in Suid-Afrika te help.
“Dit is tog nader aan ons en hulle is ons eie mense,” het sy verduidelik en Saartjie het volkome saamgestem.
Mevrou Baumann het belowe om te help. Sy behoort aan baie sosiale klubs en verenigings en sal sorg dat daar baie mense vir die konsert opdaag. Hulle het besluit om die geld te stuur vir ’n koerant wat ’n Strandfonds bestuur. Hierdie geld word gebruik om kinders wat dit nie kan bekostig nie vir ’n vakansie see toe te stuur.
Saartjie kry vir haar ’n skryfblok en potlood. Sy moet begin om die konsert te reël. Dit gaan nogal baie werk kos, maar sy sien uit daarna. Met haar aan die hoof, gaan die kinders sommer baie pret hê.
Laerskool Lynnekom se slimste kind sit nou by die tafeltjie voor haar venster. Ingedagte byt sy aan die agterkant van die potlood. Sy besluit om eers al die name neer te skryf van Lynnekom se kinders wat aan die konsert gaan deelneem. Daar gaan verskillende items wees – en ook ’n toneelstuk. Saartjie besluit sy gaan die toneelstuk self skryf!
Die meisie sit nog ’n rukkie en dink en dan skryf sy: Kinders van Lynnekom. Hieronder word ’n netjiese streep getrek.
Nou skryf sy die name neer van die kinders wat aan die konsert gaan deelneem. Die eerste naam wat sy neerskryf, is Saartjie Baumann. Dan volg haar twee boesemvriendinne se name: Anna Strydom en Lina Rens. Hulle drie, dink sy, sal natuurlik die meeste werk doen en die hoofrolle speel. Sy maak ’n hakie langs die drie name en skryf langsaan: Die Drie Muskiete.
Haar boetie, Apie, sal ook iets moet doen, anders sal hy hulle nooit met rus laat wanneer hulle oefen nie. En as Apie deelneem, sal hy daarop aandring dat sy maatjie, Bennie, ook moet.
Sy dink daaraan dat Bennie in die bed is, maar hy sal seker beter wees teen die tyd dat hulle vir die konsert begin oefen.
Saartjie gaan nie haar sewentienjarige broer, Kris, vra om deel te neem nie. Hy leer vir die eindeksamen en buitendien glo hy mos hy is ’n grootmeneer. Hy dink miskien sy weet dit nie, maar sy wat Saartjie is, sien hy dra elke dag Isabel Theron se tas van die bushalte af wanneer hulle twee van die hoërskool af kom. Hy lyk deesdae al meer en meer soos ’n verliefde hoender, dink Saartjie glimlaggend.
Nee, sy het nie plek vir sulke soort mense in haar konsert nie. Kris se naam kom beslis nie op haar lys nie.
Saartjie kyk op en by die venster uit. In die tuin langsaan sien sy ’n dogtertjie hardloop. Dit is Anna se sesjarige sussie, Muggie. Met ’n sug skryf Saartjie Muggie se naam neer. Hulle drie – Saartjie, Anna en Lina – kan niks op Lynnekom