“En toe bel hy?”
“Ja, toe sluk hy net een keer swaar en vra haar om met hom te trou.”
Apie kyk na Bennie asof hy vir iets wag en Bennie vra die verwagte vraag: “En toe . . . wat sê sy toe?”
“Toe sê sy sekerlik, sy sal met hom trou. En toe vra sy: ‘Ekskuus, maar wie praat nou?’”
Die tweetjies skater soos hulle lag.
“Wag! Wag!” sê Bennie. “Ek wil jou iets vra, Gogga.”
“Vra maar, Jogga.”
“Is jy slim?”
“Ja, Jogga, ek’s ’n slim ou.” Apie knik ernstig kop en probeer baie slim lyk.
“Dan wil ek jou ’n vraag vra . . .”
“Vra maar – ek sal antwoord.”
“Hoekom,” vra Bennie en leun na Apie toe oor, “hoekom, ou Gogga, begrawe die mense nie die Dooie See nie?”
“Ha, ha!” lag Apie. “Jy’t my gevang, ou Jogga. Jy’t my uitgevang!”
Hulle albei lag só lekker dat hulle hul magies vashou. Die gelag is aansteeklik! Die gehoor skater saam met die twee.
“Nou wil ek jou ’n grap vertel, Gogga,” sê Bennie en hy lig sy hand om almal stil te maak.
“Vertel maar, ou Jogga, ek luister.”
“’n Sekere ou, ene meneer Jakob, sit een oggend en koerant lees terwyl hy ontbyt eet en raai wat lees hy? Hy lees hy is dood! Die koerantmense het natuurlik ’n fout gemaak, maar daar staan dit swart op wit: hy is dood.”
“En wat doen die ou toe?”
“Hy bel sy vriend, Janse. ‘Hallo, Janse,’ sê hy, ‘het jy in die koerant gesien ek is dood?’”
“Ja, ek het gesien jy’s dood,” sê Janse en sy stem bewe. “Waar-. . . waarvandaan bel jy nou?”
Bennie lag heerlik, maar Apie trek ’n suur gesig.
“Ek vang glad nie die grap nie,” sê hy, “maar ons moet weg wees, ou Jogga.”
“Ja,” sê albei gelyk, lig hul hoedjies, sê: “Fluit-fluit, ons storie is uit!” en hardloop van die verhoog af.
Die laaste item is die toneelstuk wat Saartjie geskryf het. Dit heet “Die Berugte Rower Word Gevang.”
Ongelukkig kon die gehoor nie sien hoe die berugte rower gevang word nie, want die toneelstuk het op verrassende wyse sommer reg aan die begin geëindig.
Die stuk open met die kafeetoneel. Matilda speel viool en Saartjie klavier. Galpil, Piet en Gert sit by ’n tafel en drink koffie. Lina het die koffie nou net voor hulle neergesit, want sy is die kelnerin. Anna staan reg om te begin dans.
By ’n ander tafel sit Apie en Muggie. Muggie praat hard oor die mooi kafee en die mooi musiek.
Skielik storm Bennie in met ’n rewolwer in sy hand. Die musiek raak stil. Almal gaap hom met oop monde aan.
Bennie bulder: “Bly doodstil sit. Moenie roer nie!”
Hulle verroer nie ’n spier nie. Die gehoor hou die realistiese toneeltjie ook gespanne dop.
Met ’n wrede uitdrukking op sy gesig kyk Bennie rond.
“Ha!” sê hy toe hy Apie en Muggie sien. Apie het opgespring toe Bennie ingekom het en hy staan nou asof hy versteen is.
“Jy is die een wat my dogtertjie gesteel het!” roep Bennie kwaai uit. “Jou naam is Dood!”
Bennie stap ’n tree nader. Hy rig die rewolwer op Apie en trek die sneller. “Boef!” sê hy toe hy die skoot afvuur en skiet dan nóg ’n skoot: “Boef!”
En toe begin die moleste. Apie moet neerslaan, want hy’s mos nou dood . . . of ernstig gewond. Maar Apie slaan nie neer nie. Hy staan en kyk na Bennie en maak net ’n sisgeluid deur die opening tussen sy tande.
“Val!” fluister Bennie. “Jy’s dood!” Almal in die sitkamer kan hom duidelik hoor.
“Ek is nie!” sis Apie.
“Jy is!”
“Ek is nie!”
Met groot oë kyk die ander kinders na die twee.
“Wat makeer jou, Apie?” fluister Saartjie. “Val neer. Jy’s dood.”
“Ek is nie!” sê Apie en gee vir Saartjie ’n vuil kyk.
“Jy is!” sê Saartjie skril. (Almal het teen hierdie tyd al vergeet om te fluister.) “Hy het jou mos doodgeskiet!”
“Hy het nie!”
Toe bulder Galpil van die tafeltjie af waar hy sit: “Hy het! Jy’s dood, Apie!” en hy vervolg: “Ek foeter vir jou as jy nie nou platval nie!”
“Ek sal nie!” sê Apie koppig en kyk met gebalde vuisies na Galpil.
Almal gluur hom woes aan en almal praat nou tegelyk. Maar Apie weier om plat te val. Die kinders argumenteer met hom, dreig en soebat . . . maar hy bly staan. Hy staan vas en verseg om te val. Die kinders vergeet skoon van die laggende gehoor en die toneelstuk.
“Wag!” skree Saartjie en haar oë vlam. “Laat ek weer met hom praat. Wat makeer jou, Apie? Is jy simpel?”
Apie skud verwoed kop. Hy is nie simpel nie.
“Hoekom wil jy nie neerval as Bennie jou geskiet het nie?”
“Hy het my nie geskiet nie!” En toe gee Apie die rede vir sy koppigheid: “Hy’t gesê ‘boef’ en hy moes ‘boem’ gesê het!”
Verslae kyk die kinders na mekaar. Die gehoor huil soos hulle lag.
“Sê tog net ‘boem’,” pleit Saartjie by Bennie, “sodat ons met die toneelstuk kan aangaan.”
“Help nie hy sê nou ‘boem’ nie,” brom Apie. “Dis nou te laat. Ek gaan nie nou platval nie!”
Galpil kom dreigend nader.
“Wag,” keer Saartjie en kyk na haar koppige boetie. “As ons almal stem dat jy moet neerval, sal jy dit dan doen?”
Apie kyk van die een na die ander en dan sê hy: “Nou toe! Maar álmal moet sê ek is dood.”
“Dié wat sê dat Apie moet neerslaan en dood wees – steek op julle hande,” sê Saartjie.
Anna, Lina, Matilda, Bennie, Galpil, Gert, Piet en ook Saartjie se hande skiet omhoog. Net een, behalwe natuurlik Apie, se hand is nie in die lug nie. En dit is Muggie s’n.
“Steek op jou hand, Muggie!” sê Anna kwaai.
“Ek sal nie!” snou haar sussie haar toe. “Ek sê ok dat Apie nie moet platval nie! Apie is reg. Ek het ook gehoor Bennie sê ‘boef’ en nie ‘boem’ nie!”
Almal kyk woedend na Muggie en Apie. Almal praat tegelyk. Die gehoor lag en juig. Daar is chaos.
Saartjie besluit dit sal beter wees om maar van die toneelstuk te vergeet. Sy stap tot voor op die verhoog en lig haar hand.
“Daar was so ’n klein misverstandjie,” sê sy en kyk kwaai na Apie wat eenkant staan en sis deur die gaping in sy tande. “Die toneelstuk is gekanselleer. Ons gaan nou almal ’n bietjie musiek maak en saam sing.”
Saartjie speel klavier, Matilda viool, Galpil en sy maats mondfluitjie en die gehoor sing hartlik saam.
En so eindig ’n heerlike aand.