Toe die agterdeur agter hulle toeklap, draai sy na Jacques.
“Ek is bekommerd oor Suzette,” sê sy.
“Sy’s oukei,” sê Jacques en dink: Hierdie gesprek is nie iets wat jy in die verbygaan kan afhandel nie. Om die waarheid te sê, dis ’n gesprek wat hy liefs wil vermy.
“Maar sy eet nie.”
“Sy was nog altyd so.”
“Ek weet nie hoe hou sy dit nie.”
“Ma, soms wonder ek of sy nie skelm eet nie.”
Hy weet sy eet skelm. Hy het haar al hoeveel keer in die middel van die nag in sy kombuis betrap, ook in die badkamer as sy van die oordaad wil ontslae raak.
“Ek het haar fyn dopgehou. Weet nie waar sy hier kos in die hande sal kry nie, tensy sy lekkergoed tussen haar klere wegsteek.”
Dis wat sy doen, wil hy sê, maar hy byt sy lip vas.
“Ek sal liewer nie op haar spioeneer nie,” probeer hy die gesprek kortknip, maar Louise loop al agter hom aan.
“Sy hoef tog nie so maer te wees nie!”
“Dis hoekom die ontwerpers haar kontrakteer: hulle soek maer meisies.”
“Ten koste van haar gesondheid, en sy is so ’n pragtige mens. Moet sy in ’n kapstok verander?”
“Haar keuse.”
“As julle eers getroud is, moet jy haar sover kry om op te hou.”
Hy is al halfpad teen die trap op, sy ma agterna. Hy gaan staan stil en draai na haar.
“Hoe lyk dit my Ma begin Ma se opinie verander?”
“Nee, Jacques, ek dink steeds sy is die regte lewensmaat vir jou. Sy is beeldskoon, sjarmant, fyn opgevoed, talentvol en intelligent. Sy kom uit ’n vooraanstaande familie; hulle is welgesteld en welbekend in internasionale ekonomiese kringe. Haar oom beklee ’n posisie in die Wêreldbank, haar pa –”
Hy kyk op sy horlosie en val haar in die rede. “Ma, Mammie, ons kan nie nou nie. Johnny wag vir my met ’n opgesaalde perd. Ek wil nog gou ’n draai loop, en ek weet al hierdie dinge.”
“Al wat ek wil sê is: probeer sommige van jou vorige vriendinne met Louise vergelyk en kyk waar skiet hulle tekort – ver!”
“Ja, Ma, ek doen dit en ek is bevoorreg, ek tel my seëninge en een daarvan is ’n rit te perd in die wingerdpad. Waar is Pa?”
“De Doorns toe. Het hy nie gisteraand gesê nie?”
“Kan nie onthou nie, maar goed, nou weet ek. Sal Ma my eers verskoon?”
Sy laat sak haar skouers. “Nou toe, ons praat as jy terug is. Ek en jy moet ’n plan van aksie uitwerk. Suzette vertrou my, maar ek wou haar nie begin aanspreek sonder jou toestemming nie.”
“Dankie, Ma, ek waardeer dit.”
Sy boks hom liggies op sy boarm. “Ek is seker alles sal regkom.”
In sy kamer gaan sit hy op die bed se rand. Sy ma weet nie van alles wat verkeerd is nie. Sy het nie die vaagste benul van sy deurmekaar hart nie, en van sy arms wat leeg is en die viooltjiegeur wat nog vaagweg aan hom kleef.
’n Rukkie sit hy met sy kop in sy hande. Maar nee, hy kan nie nou vertoef nie. Eintlik wil hy net wegkom en uit, sodat hy iewers in die buitelug kan vrede maak met die leuens van sy lewe en die beelde van Sharise wat hom die hele pad terug getreiter het. Beelde van ’n skraal ou meisietjie in haar blou jeans en ’n langerige swart truitjie onder die wit-en-blou gestreepte voorskoot, haar vel so soel en perfek, die hare in strome agter haar rug af en die eerlike verrassing in haar oë. Hy het hom klaargemaak dat sy hom skaars sou herken en koel teenoor hom sou optree, maar sy het hom bestorm en omhels asof sy elke oggend as sy die deur oopmaak en die welkom-matjie uitsit, dit vir hóm doen. Asof sy hom verwag het!
Hulle het so gesoen ...
Maar toe is sy skaam en verleë, natuurlik. Hy is ook onseker, hoewel hulle duidelik hul gevoelens vir mekaar gewys het. Om te soen is maklik, om te praat en woorde te sê wat vir agt jaar agterweë gebly het – dis ’n ander saak.
Hy verstaan, hy verstaan so goed hoekom sy destyds weggehardloop het en toe nooit weer met hom wou praat nie. Hy het nie hard genoeg probeer om haar terug te wen nie. Sy was nooit landuit nie – waar sou sy sulke geld kry? Dis hý wat oorsee gegaan het en toe weggebly het, en te trots was toe sy nie sy briewe beantwoord het nie. Hoe moet hy weet wat intussen als met haar gebeur het!
Om sy ma te vra, sal ’n storm ontketen, maar dalk is ouma Maria meer toegeeflik. Van al die grootmense op Rosedal was sy nog altyd die geduldigste een – en oopkop ook.
Hy skop sy Italiaanse skoene uit, loop op sy sokkies kas toe en haal sy stewels uit.
Ouma Maria was die enigste een wat nie aanmerkings gemaak het as hulle mekaar by die tuinhekkie soen nie. Toe Sharise matriek geskryf het, was hy vir bloktyd by die huis, en hy het haar elke keer skool toe gevat en elke keer gaan haal. Sy het hard geleer, maar hulle kon mekaar nie uitlos nie. Het goed ’n halfuur in die kar gesit en soen voor sy uitgeklim en die entjie huis toe geloop het. Sy ma het hulle seker met haar verkyker dopgehou, want sy kon nie ophou preek nie. Sharise moes goed doen in matriek en hy was besig om haar van haar werk af weg te hou, was haar verskoning.
Ouma Maria het niks oor die soene gesê nie. Die reël was duidelik: Hulle moes afskeid neem by die hek en Sharise moes huis toe kom en leer. Daarby het hulle gehou, al het die afskeid ’n bietjie lank aangehou. Hulle het ook SMS’e gestuur en gebel, soms lank ná middernag om goeienag te sê.
Sharise se matriekuitslae was beter as syne en beter as sy derdejaarsvakke; een moes hy sleep. Dit het sy ma byna deur die dak gehad.
Aan al hierdie dinge dink Jacques terwyl hy stalle toe stap, die vul by Johnny oorneem, saggies met die dier praat, kennis maak en dan opklim. Die mis wat van die berg se kant afrol vallei toe, is aan die opklaar en die grond ruik ryp en skoon. Hy hou van die jong merrie wat Johnny vir hom opgesaal het. Sy het meer Arabier-eienskappe as Engelse volbloed, ’n goeie mengsel van Oos en Wes, lewendig en intelligent, maar tog gewillig onder sy hande. Hulle het mekaar dadelik gevind. Sy het ’n ent weg op galop gegaan en toe rustig verder gedraf. Die plaaspad loop in die regte rigting en gou is hulle by die afdraai na ouma Maria.
Sy is besig om ’n ry spierwit vadoeke aan die draad agter haar huisie op te hang. ’n Swart labrador draai om haar voete. Dis goed, sy moet beskerming hê, dink Jacques. Hy bring die perd op ’n draffie nader, onseker of die hond gewoond is aan perde.
Maar ouma Maria kyk op en dit lyk of sy hom herken, want sy glimlag in sy rigting en praat streng met die hond. Robyn steur haar nie veel nie. Daar is ook honde en hoenders by die hoofhuis en sy is gewoond aan hulle. Jacques trek die teuels in en klim af. Die merrie proes en swaai haar maanhare, trap rond. Hulle sal nie lank vertoef nie.
“My liewe, Jacques, ek dag ek sien jou!” groet sy.
Hy sit sy arm om haar en gee haar ’n drukkie en ’n soentjie. “Hoe gaan dit met Ouma?”
“Baie goed vandat ek gehoor het jy’s terug. Hoe gaan dit met jou?”
“Ook baie goed. Dis goed om terug te wees.”
“Darem lank weg gewees, jy.”
“Ja, Ouma.”
“Ek sê gister vir Sharise: hierdie keer moet julle by mekaar uitkom.”
Sharise het dus geweet hy is terug! Ouma Maria kyk na hom asof sy ’n antwoord verwag, maar hy glimlag net. Hy vertel haar nie dat hulle vroeër vanoggend reeds by mekaar uitgekom het nie.
“Sy het haar eie teekamer, weet jy? Jy kan gerus soontoe gaan en haar ondersteun, dis harde werk en sy sukkel om op haar voete te kom.”
Kan jy nou meer! Dis haar