“Gee hulle darem vir julle ontbyt?” het sy bekommerd gevra toe Suzette net ’n kwart daarvan kon inkry.
Suzette het haar verseker dat daar spyseniering is en dat dit so keurig is, sy kan dit nie weerstaan nie.
Jacques het sy tong vasgebyt en nie vertel dat Suzette nooit in haar lewe ontbyt eet nie, en dat dit teen haar beginsels is om tydens ’n fotosessie haar mond aan kos te sit. Ná so ’n dag sal sy flou tee drink en waterbeskuitjies eet, miskien ’n halwe gerasperde appel of ’n stukkie spanspek of aarbeie.
In die kar op pad Boschendal toe kon Suzette nie uitgepraat raak oor sy ma nie.
“Sy is net soos my eie ma, ek is sommer klaar lief vir haar. Jy het ’n wonderlike ma, sy sal nooit vir my soos ’n skoonma wees nie, sy is net ’n ma. Nou weet ek hoekom jy so ’n sagte man is, dis jou ma wat jou so grootgemaak het. Weet jy hoe lief is ek vir jou, en vir haar en jou pa?”
“Ek is bly jy hou van hulle,” het hy gesê en voor hom gekyk.
Haar aanprysings was ’n herhalende refrein; te veel, te vals. Hy het die padaanwysings dopgehou en was besig om sy terugrit te beplan, by Soete Verleiding om.
Sy het haar hand op sy nek laat rus, hom liggies met haar lang naels gekrap. Voorheen sou dit hom opgewerk het, maar vanoggend het dit hom geïrriteer. Hy het sy nek ingetrek, haar hand weggestoot. Daar was ’n bus in die pad voor hulle, ’n groot genoeg verskoning om te maak of hy besig is om op die verkeer te konsentreer.
“Love you so much I can die,” het Suzette gekweel. “So much, I’m dying ...”
Hy het die geleentheid aangegryp. “Jy sál doodgaan, Suzette, maar nie omdat jy so vreeslik lief is vir my nie.”
“Ag, jy is sommer nou morbid.”
“Jy het eerste van doodgaan gepraat.”
“Just a manner of speaking.”
“Maar wat ek vir jou wil sê, is nie sommer net praatjies nie.”
“Jy’s kwaad oor die seks.”
“Nee, ek is nie kwaad nie, ek is bekommerd.”
“Tonight,” sê sy. “I promise.”
Hulle het by ’n robot gestop. Hy het sy hande opgelig en op die stuurwiel neergeklap. “Dis nie oor seks nie!”
“Okay, don’t get all worked up. The way you react ...”
“Miskien moet ons hierdie gesprek uitstel tot vanaand, ás jy die dag oorleef.”
“There you go again. You want to upset me and I can’t let you, not now.”
“Daarom los ons alles en ek sê nie ’n verdere woord nie.”
Sy het haar opgeruk, haar arms om haar gevou en soos ’n geitjie geblaas.
“Precisely! That is exactly how you are! You always start an argument and never finish it. You’re like that with everything! You don’t know what you want to do with your life. Can’t decide where you want to live and where you want to work. Our future means less than nothing to you!”
Toe was hy kwaad. “Asof jý jou wil verbind aan ’n plek en ’n tyd!”
“I have my work, I go where’er I need to go.”
“Ja, en toevallig is Jean-Luc se klere vandag by Boschendal. Dis hoekom jy hier is en dis hoekom jy en my ma dink jy bly hier.”
“Oh, shut up!”
Sy het haar arms om haar gevou en boos by die venster uitgekyk. Dis soos sy haar uit ’n argument loswurm. Maak hom stil, klap hom af soos ’n lastige vlieg.
Hulle het by die hek ingery, deur Boschendal se laning bome met die lang, kaal stamme. Koel leliepoele in lowergroen grasperke het rus en vrede uitgestraal, sproeiers het dik strale water gespuit, hoë wit pergolas het geskitter. Daar was ’n tent opgeslaan onder die Jean-Luc-vaandel, kombi’s geparkeer, mense wat rondstaan met bekers koffie.
“I am late! See what you did! You made me late!” het sy geskree, haar veiligheidsgordel losgeruk en die kardeur probeer oopmaak.
Jacques het op sy horlosie gekyk. Hulle was twintig minute vroeg.
“Jou afspraak is vir seweuur, nie vir twintig voor nie,” het hy kalm gesê.
“Don’t talk to me! You’ve upset me!”
Hy het ’n entjie van die tent en die kombi’s af geparkeer.
“Haal diep asem,” het hy gesê.
“Stop patronizing me!”
“Ons klim nie uit voor jy beter voel nie. Asem in,” het hy volgehou.
Sy het ’n knoop gelos, ’n baie lelike woord vir so ’n fyn vrou soos sy. “Jy maak my siek,” het sy deur haar tande gesis.
“Jy bedoel nie wat jy nou sê nie,” het hy gepaai en gedink: As daar iemand is wat iemand anders siek maak, is dit jy wat mý siek maak.
Die radio was nog aan, daar was rustige musiek. In sy truspieëltjie kon hy sien hoe iemand naderstap.
“Hier kom nou iemand aan,” het hy haar saggies gewaarsku.
En onmiddellik het sy begin asemhaal, vinnig, al vinniger, en toe stadig in en weer uit. Toe het hy haar jammer gekry. Hy het haar hand gevat, dit opgelig en teen sy lippe gedruk. Jy moet eet, Suzette, wou hy graag vir haar sê. Jy moet gesond eet, want jy kan eerlikwaar nie so aangaan nie, óns kan nie.
Teen die tyd dat die persoon – toevallig haar Suid-Afrikaanse agent, Susan – by die kar aangekom het, was sy kalm. Hy het uitgeklim en die deur vir haar oopgehou, sy het gesprankel en hy het haar gesoen en aangery hiernatoe.
Jacques draai die sleutel in die kar se aansitter. Hy is tussen twee vure: sy liefde vir Sharise en sy verantwoordelikheid jeens Suzette.
Hy trek stadig weg en vat koers in die rigting van Rosedal. Daar is nog perde en hy is van plan om een op te saal en ’n ent te gaan ry. Hy wil alleen wees, sy opsies oordink in die natuur, op die grond waar hy grootgeword het.
Toe hy by Soete Verleiding se hek uitry, trek daar twee karre in. Aan die mense se kleredrag kan hy sien hulle is sakemanne en -vroue, vanoggend op pad na ’n werksontbyt. Hy hoop van harte Sharise het intussen haar ewewig herwin en is in staat om hulle te bedien.
Moet hy soos ’n vark voel omdat hy twee vroue vanoggend ontstig het?
Hy lig sy hand en groet die vrou in die grys Volvo. Sy glimlag verras.
Spread a little happiness, dink hy by homself en kies koers huis toe.
Agter hom parkeer die klante en klim uit. Twee is Chinese, kort mannetjies met aktetasse en hoflike gebare.
Myrna sien hulle van die stoep af en spring dadelik om. “Donald, hier’s mense! Ek gaan gou op na Sharise, cope jy, asseblief!”
Sharise het intussen tot bedaring gekom, maar sy lê nog steeds op die bed, op haar maag. Haar hare is soos ’n mantel oor haar rug uitgesprei, haar arms om die kussing, klam van haar trane.
Sy voel sy het lanklaas in haar lewe ’n groter gek van haarself gemaak. Dis sý wat hom bevlieg het en hom eerste gesoen het! Wat het haar besiel? ’n Man het geen verweer as ’n vrou uit sy verlede hom so stormloop nie, hy sal terugsoen, al is hy ook verloof of getroud. Jacques was onkant gevang en al wat hy kon doen, was om saam te speel, te maak of hy net so uit sy vel is soos sy.
Maar wat het hy hier kom maak? Haar ordentlik kom sê hy is terug met sy verloofde aan sy sy en hulle gaan hier trou en hulle vestig? Hy wou kom praat, nie soen nie. Toe gaan bespring sy hom soos ’n tiener!
Nou is haar lippe gekneus en haar lyf vol verlange na hom en die verlies soveel groter, die besef dat sy byna tien jaar gelede die liefde van haar lewe verloor het. O, en hy is mooier