“Wat sal ek sulke dinge gaan uitvis? Dis vroumensgoed.”
“Ag, jy’s vrek nuuskierig, ek kan sien. Jy vou verkeerd, diékant om! Hulle was soos een mens, sy en mister Jacques, amper verloof en getroud. Nou die dag nog sê sy hy is haar eerste liefde gewees.”
“Toe trou sy daai gangster van ’n Jermaine Strong. G’n wonder sy’t haar van teruggevat toe hy doodverongeluk het nie, ek sou ook.”
“Alhoewel, Strong pas by haar.”
“Van Harte ook.”
“O, moenie vir my sê jy kyk vir haar nie!”
“Hoe sal ek vir haar kyk, ek werk vir haar.”
“Sy’s mooi.”
“Ja, mooier as hierdie plankdun een wat so mors met goeie kos!”
“Hy laaik haar. Sharise sal moet spring as sy hom wil terugkry.”
“Wil sy? Moet ek die soutpotte afbring?”
“Bring, ons bêre dit in die kombuis ...”
En weg is hulle.
Jacques span sy ore in, maar hy hoor niks verder nie. Hy loer versigtig om die hoek. Die lampe op die buffet gooi sagte lig oor die vertrek, maar daar is geen teken van die twee nie. En hy weet steeds nie wat Sharise nou van hom dink nie.
Hy was wel haar eerste groot liefde, daarvan is hy seker, maar of hy haar laaste is, dis ’n ope vraag. Intussen het hy vir Suzette. Dit maak hom moeilik as iemand so neerhalend oor sy keuse van ’n meisie praat. Wie is dié kelnertjie? Al is Suzette plankdun, seks met haar is prima, en daarvan kan Donald maar vergeet.
Asof sy geroep is, verskyn Suzette skielik in die deur. Sy is begeerlik en hy het haar gemis.
“Jacques, where are you?” vra sy.
“Ek eet gou al die sjokolade op voor jy en my ma julle vergryp,” paai hy.
“I’m going to my room. Have to get up at five tomorrow morning.”
Sy ma kom staan agter haar. “Sy kan nie lyk asof sy heelnag haar verloofde onthaal het nie.” Sy sit haar arm om Suzette en gee haar ’n drukkie.
Is dit ’n skimp dat hy uit haar kamer moet bly of ’n waarskuwing dat hy nie te laat moet kuier nie? Louise is nie meer so konserwatief oor paartjies en saamwoon nie; sy het die reëling tussen hom en Suzette sonder ’n oogknip aanvaar. Hy vermoed tog onder die voorwaarde van die hangende verlowing.
Maar hulle is nog nie verloof nie, al praat Louise van verloofdes. Is dit om haar eie gewete te stil? Zack is soos altyd versigtig om sy mening te lug, en seker ook verblind deur Suzette se skoonheid en oënskynlike onskuld.
“Kom, my meisie,” sê Jacques en neem haar hand. “Nag, Ma, nag, Pa.”
“Nag, Louise, nag, oom Zack.”
Suzette en sy ma is dik vriendinne en op voornaamterme, dink Jacques, maar sy het nog respek vir sy pa.
“Nag, julle jongmense,” brom Zack.
“Julle moet sê as julle iets nodig het,” roep Louise hulle agterna.
Op die trapportaal draai Jacques om en sien hulle staan nog en opkyk. Hy hou Suzette se kamerdeur vir haar oop, en gee haar ’n piksoentjie.
“Your place or mine?” fluister hy in haar oor.
“Will see,” fluister sy terug. “Ek moet eers bad.”
“Sonder my?”
“Seblief.”
“Oukei, wag vir jou.”
Hy het sy arms om haar, maar voor hy sy hande oor haar rug laat afgly, loer hy vinnig weer ondertoe. Sy ouers het intussen verkas en hy trek Suzette hard nader.
“Your parents ...” wil sy keer.
“Hulle is weg,” grom hy en kry haar aan haar boudjies beet. Dis so plat daar, hy wonder soms hoe sy dit regkry om normaal te sit. Dalk dié dat haar rok opskuif.
“Jou rok het netnou so hoog opgeskuif, ek moes die kamer verlaat.”
“Really?”
“Jy nie agtergekom nie?”
“Ek’t kouse aan en die kaggelvuur was warm.” Sy druk haar een knie tussen sy bene in, skuur hom saggies waar dit saak maak.
’n Benoudheid met geen keer nie sak op hom toe. “Wil jy hê ek moet nou inkom?” kreun hy.
Sy laat sak haar been en staan met haar rug teen die breë deurkosyn, steek uitdagend haar tong vir hom uit. Hy kan nie anders nie, hy pak haar beet en soen haar tot sy nie anders kan nie, haar bene vou om sy lyf en haar rok rek en skuif saam.
“Demmit, hierdie rok van jou is in die pad!”
Sy giggel, haar mond proe na Kirsch en sjokolade. “Do you want me to take it off?”
Vergete is sy besluit om sy deur te sluit en nie naby haar te gaan nie. Die herinnering aan Sharise was netnou te intens. Dit was op slot van sake in hierdie kamer waar hy haar ook die laaste keer teen hom vasgedruk het.
Hy kan die aakligheid van daardie dag uitwis met nuwe herinneringe tussen hom en Suzette, ’n volle drie weke se ontbering omkeer en sy ewewig terugkry. Die gastevleuel is ver van die hoofslaapkamer – as hy haar vooraf waarsku, behoort sy haar gille onder beheer te hou. En hy kan die spoke van die verlede vir goed besweer.
“Kom stort ... saam met ... my,” hyg hy tussen die soene deur.
Haar ellendige sykouse sit so styf, dis net so erg soos daardie sellofaanverpakkings wat nie sonder ’n mes of skêr gestrip kan word nie. Hy sukkel om dit af te trek en terselfdertyd sy balans te hou.
Skielik glip sy van hom af. “Ek wil liewer bad.”
“Oukei,” sê hy gretig.
“Alleen.”
Tipies Suzette. Sy lyk so toegeeflik, maar sy hou van hierdie soort kat-en-muis-speletjies. Hy val daarby in omdat hy weet wat goed is vir hom. Hy laat haar gaan en loop na sy eie kamer, waar hy uittrek, vinnig stort en op sy bed gaan lê.
Die leeslamp met die dun porseleinskerm is aan, en hy lê op sy rug en kyk op na die geel plafon met die oranje en goue Art Deco-rose net onder die kroonlys en om die hooflig se aansluiting. Die lampskerm van geel en oranje gebrandskilderde glas is ’n kunswerk – een van Louise se beste pogings. Sy is ’n verbete restoureerder en tuisteskepper.
Die kamer was blou en sy het dit in oranje en geel oorgedoen – asof hy nie sal weet watter kamer hierdie is nie. Skielik tref dit hom weer dat hy terug is, by die huis, en nie in sy eie kamer nie, soos ’n gas in die gastevleuel om naby Suzette te kan wees. Hulle is nou ’n paartjie; die strop is om sy nek; dit sal kort voor lank stywer getrek en vasgeknoop word.
Sy ma het in Parys al begin skimp, en sy gaan hom môre vra wat sy plan is. Vir al wat hy weet, het sy en Suzette al die datum van die verlowingspartytjie vasgestel. En saam na ringe gaan kyk sodat Suzette net haar bestelling by hom kan plaas.
Hy voel skielik doodbenoud, hy voel soos ’n fout wat besig is om te gebeur. Sy ma weet nie alles van Suzette nie. Sy lyk op die oog af gelukkig, en in die laaste tyd gaan dit beter, hoewel hy bekommerd is oor vanaand se ete. Soos hy haar ken, sal sy nie vanaand wil praat nie – net doen. Maar een of ander tyd sal hulle moet praat. ’n Huwelik is ’n lewenslange verbintenis, en jy moet mekaar in ag neem. In hierdie verhouding is hy die een wat gee en gee ...
Suzette het byvoorbeeld ’n uur nodig om te bad, soms langer. Hy is moeg, dit kom hy nou agter, en vaak. Hy slaap nie te lekker voor ’n lang vlug nie en het ook nie in die vliegtuig vas geslaap nie. Hy gaap. Hy sal iets moet doen om wakker te bly. Dalk lees, van die tydskrifte en koerante op die ottoman aan die bed se