Die kroon van Keurboslaan #4. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798153898
Скачать книгу
ervare in snelskrif en tik, en het oorsee as joernalis gewerk. Ek was ’n paar jaar in …” Sy huiwer en haar lippe word styf. “In Europa was ek ’n korrespondent vir drie Afrikaanse koerante, soos jy ook destyds. Ek sal natuurlik al die nodige besonderhede en getuigskrifte bring as jy in my dienste belangstel.”

      “Hoekom wil jy jou loopbaan laat vaar en ’n sekretaresse by ’n kosskool vir seuns word?”

      Sy wag ’n oomblik voordat sy rustig antwoord. “Ek was getroud … in Switserland … Maar my man is dood aan longontsteking en …”

      Hy maak haar met ’n handbeweging stil. “Asseblief, jy hoef nie te verduidelik nie.”

      Sy praat nogtans emosieloos verder. “My seuntjie is ’n paar dae later ook daaraan oorlede. Hy was net ’n paar maande oud.”

      Die hoof haal haastig ’n koker uit sy sak en bied vir haar ’n sigaret aan.

      “Nee dankie,” sê sy, “maar rook gerus self.”

      Hy steek ’n sigaret aan en hou sy oë stip daarop.

      “Dis meer as ’n jaar gelede,” sê sy byna droog. “Ek het na my mense hier teruggekom; net familie, want my ouers is lankal dood. Maar nou is my geld op en ek moet weer werk. Toe ek die advertensie sien, het ek gevoel dis dalk net wat ek nodig het. Maar as jy my nie aanstel nie is dit ook goed. Want dis die eerste keer … ná die tragedie … wat ek die moed het om aansoek te doen vir werk. Hierna sal dit net makliker gaan.”

      Hy rook ’n rukkie sonder om te praat. Sy beskik ook oor die vermoë om lank stil te bly sonder dat die atmosfeer ongemaklik word.

      “Kan jy oor tien dae begin werk?” verbreek hy uiteindelik die stilte.

      “Maar … jy het nog geen ander applikante gesien nie.”

      “Dis nie nodig nie.”

      “Maar jy het my nie eers getoets of niks nie. Jy het net my woord dat ek die werk kan doen.”

      “Dis genoeg vir my. Ek kan jou altyd later afdank as ek wil. Of jy kan wegloop. Die mense sê dis moeilik om saam met my te werk.”

      Skielik lag haar groen oë. “Wel, jy hét jou sekretaresse in die hospitaal laat beland, nie waar nie?”

      “Presies. Wil jy nogtans probeer?”

      “Ja.”

      “Het jy ’n motor?”

      “Nee.”

      “Dan kan jy per trein na ons skool toe reis wanneer die seuns teruggaan. Ons vertrek oormôre oor ’n week, kwart voor elf in die nag. Ek ry altyd saam met die kinders. Miskien sal jy dan so vriendelik wees om my broerskind geselskap te hou. Haar naam is Tessa. Sy is nege.”

      Doktor Serfontein staan op. Sy glimlag oor sy manier om ’n einde aan die gesprek te maak.

      “Maar jy weet niks van my nie,” sê sy nadat sy vir hom haar adres en foonnommer gegee het. “Dalk het die skool my nie eens nodig nie.”

      “Ons sal maar sien. Dit lyk in elk geval vir my of jy die skool op die oomblik nodig het.”

      “Wel, ek … Of wag, ek moet liewer nou gaan. Daardie gawe seun het seker lankal sy hande gewas en sy hare gekam. Hy bly uit ordentlikheid weg; hy’t sulke goeie maniere.”

      “Ja … Ek het hom self grootgemaak.”

      “Ek kan dit sien. Tot siens.”

      Die hoof ry saam met haar in die hyser af ondertoe, maar afgesien van nog ’n “Tot siens” in die portaal praat hulle nie weer nie.

      Haar salaris is nooit bespreek nie.

      4

      TERUG SKOOL TOE

      Toe Krynauw ’n week later stasie toe ry vir die reis terug na Keurboslaan, het hy ’n nuweling by hom. Dis ’n seun van agt, met Krynauw se gladde, geel hare, maar blou oë. Sy ronde gesiggie het nog nie werklik vorm aangeneem nie. Dis net blosend en op die oomblik half verskrik en nuuskierig. Hy dra die kosskool se grys flenniebroek en roos-en-grys kleurbaadjie.

      Dawie pluk aan sy broer se hand toe hulle by die perron kom. “Gene … is hulle almal … van ons skool?” vra hy.

      “Ja … Luister, jy moenie my hand hou nie. Ek gee nie om nie, maar op kosskool moet jy ’n groot seun wees. Doktor het dit vir my ook gesê toe ek klein was.”

      “O,” sê Dawie hartseer.

      Krynauw voel skielik ellendig en wonder vir die eerste keer of doktor Serfontein ook sleg gevoel het toe hy destyds gesê het hy moet hom soos ’n man gedra.

      “Kom, ek gaan jou by Erik los. Bly by hom, maar moenie te veel kattekwaad by hom leer nie, want dan kry jy pak – en dis iets wat jy nog nie ken nie.”

      “Ken jy dit?”

      “O ja! Haai, Erik!”

      ’n Blonde tienjarige hardloop van sy groepie maats af nader.

      Erik Oosthuizen, Krynauw se nefie, is reeds meer as ’n jaar op kosskool.

      “Pas Dawie op, en bewaar jou siel as jy vir hom stout goed leer!”

      “Ja, Gene. Komaan, Daaw!”

      Dawie se oë knip vinnig, maar hy het belowe om hom soos ’n man te gedra.

      Smit kom met woeste hare oor die platform aangestap en groet Krynauw vrolik. “Gene!”

      “Haai, André. Hoe was die vakansie?”

      “Man, ek en die oubaas het vir die eerste keer in ons lewens nie baklei nie. Dit was net tien dae, maar nogtans!”

      “Dalk kry jy nou verstand,” spot Krynauw, wat bly is Smit word nou ’n bietjie rustiger.

      Rothman daag op en sy gesig straal toe hy sy twee beste vriende daar sien staan.

      “Hallo! Doktor nog nie aangekom nie?”

      “Nog nie.”

      Rothman kyk na waar die kleintjies lag en lawaai. “Is dit Dawie wat ek daar sien? Ek dog hy kom eers volgende jaar.”

      “Doktor het gesê hy kan maar nou kom, want ek is nog op skool om hom te help.”

      “Ek gaan kyk gou wat daar aangaan. Dit lyk my hulle maak die arme spoorwegpersoneel mal. En Lagrange beveel almal weer rond asof hy die hoofseun is!”

      Krynauw stap terug na die roltrap.

      Iemand is op pad ondertoe, maar dis nie die hoof nie. Toe hy die persoon herken, rek sy oë.

      Al het Krynauw Helen Bielefeld in doktor Serfontein se hotel-suite ontmoet, is sy die laaste mens wat hy verwag het om op hierdie oomblik te sien.

      Hy en die hoof het die aand saam in die hotel geëet, en die hoof het hom daarna huis toe geneem, maar niks van die besoek gesê nie. Krynauw het natuurlik van beter geweet as om hom daaroor uit te vra.

      Helen lyk bly toe sy hom sien. “Goeienaand!” sê sy.

      “Mevrou onthou my nog? Ry mevrou ook met hierdie trein?”

      “Ja, maar kom ons stel ons eers aan mekaar voor.”

      “Eugene Krynauw.”

      “Helen Bielefeld … mevrou,” voeg sy met ’n glimlag by toe sy sien hy kyk na haar trouring.

      “Die trein kom oor tien minute,” sê hy.

      “Is dit almal leerlinge wat ek hier sien?”

      “Ja. Maar dis natuurlik nie al die ouens nie. Party het by die koshuis gebly omdat dit ’n kort vakansie was, en party kom uit ander rigtings … Ry mevrou tot op Breyten?”

      “Tot op Keurboslaan.”

      “Regtig? Dis snaaks!”

      “Hoekom