Die kroon van Keurboslaan #4. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798153898
Скачать книгу
komedie. Die onderwyser hoor net elke sesde woord, maar kom vinnig agter die gehoor het sy opvoering terdeë geniet.

      Die hoof aanvaar bedees sy deel van die gelukwense.

      Daarna word die klaspryse uitgedeel, en ook bekers wat die oggend op die atletiekveld verower is, voor almal weer by die tafels onder die bome gaan tee drink.

      Die son is reeds weg agter die berge toe die gaste hulle seuns begin roep om huis toe te ry.

      Toe almal weg is, sien die hoof Krynauw staan eenkant om hom te spreek. “Wat is dit?” vra hy.

      “Doktor, Venter en sy maats is nog in hulle kleedkamer. Ek het hulle maar solank daar opgesluit.”

      “Hoekom?”

      “Venter het die gewoonte om weg te loop as hy bang word.”

      “Waar is Spaulding en Geer en die ander?”

      “Skoonveld. Geer kruip weg vir meneer Beunk. Hy moes mos tjello speel in die orkes. Toe moes Lagrange alleen klaarkom. Wil doktor hulle spreek?”

      “Nee. Stuur Jacobs na my toe. Gaan sluit oop vir die ander en sorg dat hulle iets kry om te eet.”

      Jacobs is in ’n klaskamer waar hy met sy kop op sy arms lê.

      “Jupiter soek jou,” sê Krynauw. “Komaan, moenie so ’n groot baba wees nie!” Dan loop hy na die juniors se kleedkamer.

      Vier paar oë kyk hom bang aan toe hy die deur oopsluit.

      “As julle gou maak, kry julle dalk nog ’n stukkie koek by die tafels,” sê Krynauw.

      Hulle roer nie.

      “Toe, skuif! Die hoof het gesê julle moet.”

      “W- … wat gaan hy doen?” stotter Flip. “Is hy baie kwaad?”

      Skielik glimlag Krynauw, veral vir Flip. “Nee wat, nie te erg nie, maar julle het vieslik drooggemaak. Toe, trap!”

      Die vier laat vat na die tuin. Daar loer hulle van agter ’n bos hoe die hoof met Jacobs gesels.

      Die prefek is te skaam om op te kyk.

      “Toe nou, Jacobs,” sê die diep stem wat moeg klink. “Ruk jou reg. Jy is gespot, maar almal in die gehoor kon sien jou bene is nie krom nie. Jy het dan die senior hoogspringtitel gewen!”

      “Doktor sou ook nie daarvan gehou het om … om …” Hy skrik vir sy eie moed.

      “As jou bene regtig krom was, sou ek jou belet het om ’n kleed aan te trek … Jy was toe nie daar om jou prys te ontvang nie.”

      Jacobs kyk nou met ’n skaam glimlag op. “Jammer, doktor, dit was onnosel van my,” sê hy. “Maar ek dog ek gaan dood van skaamte daar op die verhoog. Sê nou net my ma-hulle was hier.”

      “Dit sou vir jou ondraaglik gewees het, en vir hulle ook. Ek is jammer dit het gebeur. Ek voel verantwoordelik.”

      “Nee, hoe kon doktor geweet het?”

      “Die een in bevel is altyd verantwoordelik. Onthou dit later in jou lewe. Toe, gaan haal jou prys by meneer Burger, en baie geluk daarmee.”

      Jacobs gee skielik vir niks meer om nie. Die hoof skud sy hand, en dit gebeur mos nooit nie!

      Die volgende oggend is baie van die seuns reeds weg. Al wie oorbly, is dié wat te ver woon en die kort vakansie by die skool gaan bly en dié wat later per bus en trein gaan vertrek. Krynauw en Flip val onder laasgenoemdes.

      Die twee Spauldings bly op Keurboslaan. Everard sal studeer en Bertrand sal die buurt op horings neem. Hulle pa is een van die hoof se min intieme vriende en het hulle onlangs by hierdie skool kom inskryf. Everard is ’n stil, pligsgetroue seun van sewentien en hy sukkel nog met Afrikaans, maar die veertienjarige Bertrand is reeds verbasend goed daarin, miskien omdat hy so buitengewoon musikaal is.

      Tonie Wilke is genooi om die vakansie by Adolf Serfontein en sy vrou deur te bring. Hy het Coralie toevallig ontmoet toe hy een Saterdag vir meneer Papenfus gevlug het omdat hy sonder toestemming in die dorp was. Die weeskind was dadelik in vervoering oor haar skoonheid en sy openlike bewondering het haar hart sag gemaak. Die hoof se broer is maar net te dankbaar dat Tonie tot sy vrou kon deurdring nadat sy jare lank nie ’n seun naby haar wou toelaat nie.

      Voor almal die eetsaal verlaat, maak Krynauw ’n aankondiging.

      “Die hoof het my gevra om dankie te sê vir dié van julle wat gister se operette so ’n sukses gemaak het. Hy weet julle was ongelukkig oor die stuk, maar julle het nogtans ’n sukses daarvan gemaak. Hy waardeer die moeite wat julle gedoen het en die talent wat julle aan die dag gelê het. Julle ander pryse is in die koshuiskantoor. Gaan haal dit daar.”

      Hierdie onverdiende dank en die afskeepmanier waarop hulle pryse uitgedeel word, is ’n swaar straf.

      Flip se pryse vir geskiedenis en wiskunde en sy oorwinning in die 100 m-hekkies beteken nou vir hom niks nie. Maar toe hy boonop ’n ekstra boek tussen die ander kry en voorin lees dis deur die hoof persoonlik vir “algemene verbetering” geskenk, gaan hy met ’n gebroke hart daar weg.

      ’n Ruk later bel die hoof vir mevrou Mostert. “Is Krynauw daar iewers?” vra hy.

      “Hy’s toevallig hier by my in die kantoor.”

      “Kan ek asseblief met hom praat?”

      “Kan ek help, doktor?” vra die onderhoofseun.

      “Ja. Meneer Burger reis per bus saam met die ander seuns. Jy kan saam met my ry en af en toe bestuur. Ek wil jou leer sodat jy binnekort jou rybewys kan kry.”

      “Doktor bedoel … Regtig?”

      “Sien jou dan drie-uur.”

      “Wat nou?” vra mevrou Mostert toe Krynauw die foon neersit.

      “Hy sê ek mag saam met hom ry,” antwoord Krynauw kastig ongeërg.

      Maar sy reaksie mislei die koshuismoeder nie, want sy ken hom al jare lank. Sy het snags wakker gelê van bekommernis oor die klein Eugene Krynauw wat ná sy ma se dood hierheen gestuur is. Klein Eugene het aan die begin verseg om enige emosies te wys. Hy wou nooit praat of eens huil nie. Dit het so gebly totdat hy uiteindelik ineengestort het, daar bo teen die berg waar die hoof hom gelukkig raakgeloop het.

      Dié dag het die jong doktor Serfontein gewys hoe groot sy hart eintlik is. Hy het die kind vasgehou totdat hy die laaste bietjie hartseer uitgesnik het. Daarna het dit swaar gegaan om Eugene te laat verstaan dat sulke openlike vertroosting nie herhaal kan word nie. Mevrou Mostert het dit en veel meer meegemaak.

      Nou sê sy net: “Sorg dat jy mooi netjies lyk.”

      3

      DIE APLIKANT

      Drie-uur is Krynauw met sy tas voor die hoof se hek waar die groot motor gereed staan.

      Toe doktor Serfontein uitkom, sien hy ’n opgewonde en tog half onseker gesig. “Bang ek gaan te vinnig ry?” vra hy speels.

      “O nee, doktor!”

      “Maar wanneer jy bestuur, gaan ons mooi stadig ry.”

      “Mag ek nou al?”

      “Nee, eers buite die dorp.”

      Toe hulle op pad is, sê Krynauw: “Ek het nog nie ordentlik dankie gesê nie … Vir die saamry … en alles.”

      Hy sien net ’n wang en ’n wenkbrou wat lig. “Bly om huis toe te gaan?”

      “Dit gaan lekker wees om Albert en Bobbie en Dawie te sien. My pa ook, natuurlik. Noudat ek ouer word, gesels ek makliker met hom. Nooit oor diep dinge nie, maar ons kom tog beter oor die weg.”

      “Dis mooi.”

      “Dinge gaan dié keer anders wees by die huis. Albert is mos verloof.”

      “Ja,