“Goeiemôre, doktor,” sê die prefek.
“Goeiemôre.”
“Doktor … ek sal ongelukkig nie aan die operette kan deelneem nie.”
Die hoof se wenkbrou trek effens op. “Hoekom nie?”
“My familie kan nie na die prysuitdeling kom nie. My pa het laat weet ek en my broer moet met die bus en trein huis toe ry. Die bus ry al halftwee vanmiddag …”
“Toemaar, daar is vir almal busse vir môre bespreek.”
“Maar ek dink my pa wil hê ons moet vandag al ry. Hy het gesê ons moet so gou moontlik huis toe kom, doktor.”
“Môre is so gou moontlik.”
Met ’n knik van die kop gaan die hoof sy gang.
’n Paar tree verder wag Krynauw. “Goeiemôre, doktor,” sê hy.
“Goeiemôre. Hoekom is die pad vandag met prefekte besaai?”
“Doktor, in verband met die operette … Ek het skielik besef party van die deelnemers sal ná vanoggend doodmoeg wees. Ek bedoel, die paar van ons wat moet duik en swem en atletiek doen. Dit sal swaar gaan om daarna te sing.”
“Los julle dan maar die swem en atletiek. Laat net dié wat nie gaan sing nie daaraan deelneem.”
“Nee, doktor, asseblief!”
“Nou kom dan albei verpligtinge na.”
Krynauw is te omgekrap om saam te stap. Die hoof loop alleen verder met ’n vreemde trek om sy lippe.
Nog ’n senior kom te voorskyn.
“Doktor,” stotter Jacobs sonder om te groet, “ek sal nie aan die operette kan deelneem nie. Ek het keelseer.” Hy begin vreeslik hoes.
“Gaan lê dan onmiddellik in die siekekamer. Dis jammer van jou vakansie, want jy kan definitief nie met so ’n swaar verkoue op ’n lang reis gaan nie.”
“O, dis … dis nie só erg nie, doktor!” Jacobs hou dadelik op met hoes.
“Dan kan jy maar deelneem. As dit erger word, draai ’n serp om jou keel. Jy kan dit onder blommekranse wegsteek. Verskoon my nou.”
Hierna verskyn ’n veertienjarige met blonde hare en ’n wakker gesig. “Goeiemôre, doktor!” groet hy.
“Goeiemôre, Spaulding.”
Die seun lyk veels te vrolik vir die mensdom se veiligheid, maar die hoof stap aan.
Die oggend vlieg verby. Ouers en belangstellendes daag vroeg reeds op om die atletiekbyeenkoms by te woon. Daarna is dit middagete.
Doktor Serfontein doen niks op ’n klein skaal nie. Daar is byna vierhonderd besoekers, tweehonderd seuns en die hele personeel. Die beste van alles word voorberei en op lang tafels onder die bome bedien. Elkeen van die leerders sit by sy eie mense. Die skoliere wat nie besoekers het nie, sit by aparte tafels en help ook met die bediening.
Die hoof se twee dokterbroers het van Johannesburg af gekom om die geleentheid by te woon. Hulle pa, professor Serfontein, het die familie jare lank belet om ’n voet op Keurboslaan te sit. Hy was bitter kwaad toe sy begaafde en beroemde oudste seun besluit het om op ’n plattelandse plekkie te gaan skoolhou. Maar namate die skool roem verwerf het, het die professor meer verdraagsaam geword en selfs ’n rukkie gelede hier kom kuier.
Dokter Martin, met sy besonderse blou oë wat hom soos ’n filmster laat lyk, en die heelwat stiller dokter Edward is ook hier om juffrou Conradie, die hoof se sekretaresse, te ondersoek. Hulle wil dit hier waar sy tuis is doen, sodat sy nie met vals hoop stad toe kom nie.
Ná die Serfontein-broers haar met behulp van die huismoeder mevrou Mostert ondersoek het, verklaar hulle versigtig sy kan moontlik gehelp word en dat hulle haar saam sal neem Johannesburg toe wanneer hulle terugry.
“Maar jy sit dan sonder ’n sekretaresse,” sê Martin vir sy oudste broer.
“Ek sal dadelik adverteer. Ek is net bly julle sien kans om haar te help,” sê die hoof.
Hy lyk gemoedeliker as gewoonlik toe hy net hierna sy plek in die saal gaan inneem. Toe hy verskyn, is alle oë op hom gerig. As die aandag hom benoud maak, wys hy dit nie.
Die skoolhoof sit tussen sy skoonsuster en haar pragtige swartkopdogtertjie wat by hom woon omdat haar ma “meisies nie kan verdra nie”. Daar is min vrouens so selfsugtig soos die mooi Coralie. Adolf Serfontein, haar man, is nie ’n swakkeling nie, maar hy gee haar altyd haar sin omdat hy bang is sy raak ontsteld, en moes toe maar teensinnig instem dat die hoof hulle dogtertjie aanneem. Hy is vanmiddag agter in die saal op diens by die seuns wat nie deelneem nie.
Die gordyn van rooi fluweel hang nog voor die verhoog. Daar is ’n orkesput tussen die gehoor en die verhoog en hier stem die orkeslede nou hulle instrumente. Lagrange lyk hoogs professioneel, “asof hy die instrument ’n guns bewys,” soos Krynauw tergend sê.
Smit help meneer Serfontein om die orde agter in die saal te handhaaf.
“Dis laat, nè, oom Roelof?” vra Tessa opgewonde.
“Ja.”
“Flip sê dit gaan groot pret wees!”
“O so?” is die hoof se enigste kommentaar.
“Hoe lyk ek?” vra Krynauw agter die verhoog vir Jacobs, wat met toe oë agteroor leun asof hy dodelik siek is.
“Aaklig,” sê Jacobs sonder om sy oë oop te maak.
Krynauw sug. “Gelukkig is niemand van my familie hier nie,” sê hy. “Hierdie hele ding is simpel verby.”
Meneer Beunk skarrel rond om te sien of almal gereed is. In die juniors se kleedkamer begin die vier aardgeeste gelyk met hom praat. Hulle is nog in gewone skooldrag.
“Stil!” sê hy. “Hoekom het julle nog nie aangetrek nie? Venter?”
“Meneer, daar was ’n ongeluk met die kostuums.”
“Wat het gebeur?”
“Die goed het in ’n hoop gelê en toe val ’n blik swart verf daarop uit. Dit het deur alles getrek en nou’s alles ’n gemors, meneer.”
“Wie het dit gedoen?”
“Ek, meneer,” sê Flip eerlik.
Otto Snyman, die prefek se jonger broer, bring vier erg gevlekte stukke pienk lap te voorskyn.
Meneer Beunk is oud, doof en onprakties, maar hy is nie onnosel nie.
“Ek bespreek die saak later met julle!” sê hy. “Ons moet nou eers ander kostuums kry …”
“Meneer,” sê Fanie Nieuwenhuis, die skool se dertienjarige grapjas in sy Oudgriekse kleed, “ek kan maklik vir hulle ander kostuums maak. Ons gebruik sommer wit handdoeke en spelde.”
“Maar waar kry ’n mens nou sulke goed?” vra meneer Beunk moedeloos.
“Ek sal ’n plan maak, meneer.”
Die onderwyser huiwer. Die hele gehoor wag en die hoof is pynlik oor stiptelikheid. “Dis goed. Roer jou!”
Meneer Beunk draf weg om vir die gehoor te gaan verduidelik.
Nieuwenhuis wat kastig so pas aan sy plan gedink het, haal dadelik tot almal se verligting vier yslike handdoeke en ’n pak haakspelde agter ’n bank uit.
Bertrand Spaulding is nêrens te bespeur nie, ook nie Geer se ander bendelede nie, behalwe Nieuwenhuis en Wentzel Elsenach wat deelneem. Wentzel lyk soos gewoonlik asof hy nie mooi weet wat hy daar maak nie.
Voor hy ’n tyd gelede in doktor Serfontein se sorg geplaas is, het hy alleen saam met sy geestelik versteurde pa in die bosse gelewe. Dit sal nog lank neem voordat hy heeltemal in die beskawing aangepas het. Wentzel het op Geer se bevel