Krynauw verskyn ’n rukkie daarna in die studeerkamer.
“Ja, meneer?” vra hy opgewek. Dan skrik hy groot.
Wentzel skrik ook. Krynauw lyk vir hom soos ’n volwasse man.
“Ons het ’n nuwe leerling,” sê die hoof.
“Regtig, meneer?” vra Krynauw verbaas.
Die hoof knik en vertel hom kortliks van Wentzel se geskiedenis. Wentzel is nie gewoond aan ’n gesprek tussen mense nie en verstaan min daarvan.
Krynauw word dadelik deur die verhaal geroer. “Sal ons hom regtig hier kan hou, doktor?” vra hy.
“Ek wil probeer, maar ek kan dit nie alleen doen nie. Iemand moet in die begin altyd by hom wees.”
“Doktor bedoel … doktor sal my daarmee vertrou?”
“Dis nie ’n maklike taak nie.”
“Ek weet, en ek is ’n onnosel bobbejaan, veral wanneer ek graag wil help. Maar dis nie té moeilik nie – en as ons in die moeilikheid raak, is doktor mos daar.”
“Hoe sal jy hierdie geval hanteer?”
“Met ’n warm bad en skoon klere, doktor. Sy hare moet ook gesny word.”
“Jy gaan sukkel. Hy is bang en laat niemand aan hom raak nie. Maar ek sal kyk of ek hom sover kan kry.”
“Doktor … mag ek asseblief eers probeer?”
“Nou toe dan.”
“Dankie! Ek gaan mos ’n dokter word. Hy’s my eerste pasiënt.”
Die onderhoofseun stap nader, maar Wentzel deins dadelik terug.
“Dis Krynauw,” sê die hoof paaiend. “Hy is ’n leerder hier by ons skool, al is hy so groot.”
“Sal jy saam met my kom?” vra Krynauw vriendelik.
“Nee. Ek bly by hom.”
Krynauw is verlig om te hoor hoe mooi die nuweling praat.
“Jy mag nie voor jy nie skoon en netjies is nie. Hierdie plek is ’n skool waar baie seuns kom bly om te leer en slim te word. Doktor Serfontein is die hoof van ons skool. Jy moet so skoon soos al die ander wees … So skoon soos hy.”
Wentzel frons agterdogtig. “Skoon” en “vuil” waaroor dominee Burger so aangegaan het, is woorde wat volgens sy oorlede pa se opvoeding net op die menslike siel van toepassing is. Dit het niks met water te doen nie.
In die bosse het hulle op die grond geslaap. Sy pa het af en toe vir ’n paar dae verdwyn en met ammunisie, ’n bietjie sout en partykeer ’n kledingstuk teruggekom. ’n Mens dra jou klere totdat hulle van jou lyf afval.
“Kyk,” sê Krynauw nou vir die wilde seun. “Jy lyk nie soos die hoof nie.”
Die oë kyk hartseer na die groot man wat so stil op sy stoel sit. Moet hierdie beskerming wat hy vandag gekry het so gou al van hom weggeneem word?
“Ek kan jou ’n klein bietjie soos hy laat lyk as jy saam met my kom. Dan kan jy daarna weer terugkom.”
“Hy sal weggaan!”
“Nee, hy sal vir ons wag.”
“Ek sal hier wees,” verseker die hoof hom.
Wentzel staan baie stadig op.
“Dalk moet doktor vir mevrou Mostert bel, anders gaan sy te groot skrik,” sê Krynauw.
“Nee. Jy sal alles hier moet doen. Die leerders mag hom nie so sien nie.”
Wentzel volg so stadig en kyk so baie terug dat dit ’n rukkie neem voor hulle in die kombuis kom.
“Hallo, Danster,” sê Krynauw. “Ons moet hierdie ou bad!”
“Nie in doktor se badkamer nie,” sê Danster beslis. “Die gaste-badkamer.”
“Later, maar nou eers iets anders. Het jy ’n groot sinkbad?”
“Hier agter, ja.”
“En ’n skropborsel en seep en omtrent ’n dam kookwater?”
Dit het Danster ook.
Krynauw dra die sinkbad by die kombuis in, en Danster kry warm water, seep en handdoeke.
“Sal jy asseblief gou by die skool van my klere uit my kas gaan haal? My ou kleurbaadjie is heeltemal te klein vir my; dit behoort hom te pas. Bring sommer ook die bruin broek wat onder in my kas opgevou is, en my ou skoene. O, en gaan vra ’n nuwe kam en tandeborsel by die stoorkamer. Ek sal later daarvoor betaal.”
Toe Danster met alles terugkom, het sake nog nie juis gevorder nie, maar met sy hulp en Krynauw se versekering dat die hoof homself minstens drie keer ’n dag skoonmaak, kry hulle Wentzel uiteindelik in die bad.
Om die onderhoofseun se woorde te gebruik, moet hulle minstens “vier lae vel van die ou afkook” voor hulle tevrede is. Gelukkig begin Wentzel gou die warm water en geskrop geniet.
“Nou die klere!” sê Krynauw nadat Danster die onversorgde boskasie netjies geknip het en die los hare onder ’n koue stort afgespoel is.
Die flenniebroek en kleurbaadjie lyk nie te onaardig aan die groot seun nie. Sy skouers is nog geboë, maar behalwe dat hy duidelik nog skaam en onseker is, lyk hy eintlik heel goed in die skooldrag.
“Kom! Nou gaan ons terug na die hoof,” sê Krynauw. Hy klop aan die studeerkamerdeur en loop eerste in.
“My pasiënt, doktor!” sê hy.
Doktor Serfontein staan aangenaam verras uit sy stoel op. “Dis beter as wat ek verwag het,” sê hy. “Hoe het jy dit reggekry?”
“O, hy’s ’n slim ou. As hy agterkom mens doen dinge vir sy eie beswil, speel hy lekker saam.”
“Mooi so. Maar jou skooldrag is effens koel vir hierdie tyd van die jaar.”
“O, gaats! Ek het vergeet om my hemp weer aan te trek.” Krynauw vlug terug na die kombuis.
Die hoof betrag sy nuwe leerling. “Nou moet jy saam met Krynauw gaan en vir hom luister,” sê hy.
“Nee. Ek bly by jou.”
“Jy kan nie. As jy hier wil skoolgaan, moet jy na my luister. Wanneer ek tyd het, sal ek jou laat roep.”
“Ek gaan nie van jou af weg nie!”
“Jy moet gehoorsaam wees, anders moet ek jou heeltemal wegstuur.” Die hoof het dieselfde metode op Flip Venter en vroeër jare ook op Krynauw toegepas. Dit werk nou weer.
“Ek sal saam met hom gaan,” sê Wentzel met ’n diep sug. Hy voel sommer al klaar eensaam.
Maar die hoof toon geen uiterlike teken van simpatie nie. “Goed,” sê hy net.
“Wanneer sal ek jou weer sien?”
“Miskien voor jy vanaand gaan slaap. Dis nie meer so lank nie. Ek sal jou laat roep as jy tot dan mooi na Krynauw luister.”
Die onderhoofseun kom nou terug. Hy het weer sy hemp aan, maar is baie nat om die bene.
“Gaan trek iets droogs aan voor jy enigiets anders doen,” sê die hoof. “Ek het met mevrou Mostert gepraat. Sy gee vir Elsenach die bed langs joune.”
“Waar sit sy Venter dan? Dis mos sy bed.”
“Hy is nog in jou kamer, maar in ’n ander bed.”
“Hy gaan nie daarvan hou nie, doktor. Sê nou hy ontwikkel ’n wrok teen Elsenach?”
“Stuur hom hierheen. En laat dadelik weet as jou pligte as peetpa vir jou te veel word.”
“Reg,