Nuwelinge op Keurboslaan #3. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798153881
Скачать книгу
meneer, maar dit was ons skuld,” verduidelik Flip. “Ons was op die toring en Krynauw het ons kom afjaag, toe gly hy op die seep. Dis hoekom hy ingeval het.”

      “Seep? Watse seep?” Dis nie lank nie of meneer Gerritson besef watter gruwelike ding die spul aangevang het.

      “Loop!” beveel hy bars. Hy is bang hy verloor sy selfbeheersing as hy hulle op hierdie oomblik te lank onder oë het.

      Die juniors vlug, maar weet goed dis nog lank nie die einde van hierdie saak nie.

      Meneer Gerritson trek sy sweetpak aan en mik skool toe. Rothman stap saam.

      “Wil meneer vir Krynauw sien?” vra hy.

      “Hoekom?”

      “Hy het die waarheid gepraat, en toe het meneer …”

      “Hou op met hierdie snert oor waarheid en leuens! Ek het hom per ongeluk onregverdig beskuldig, maar dit verskoon nie sy gedrag nie.”

      “Meneer, Krynauw moet groot geskrik het toe hy daar afval. Sy oë het heeltemal snaaks gelyk. Ek dink hy’t nie lekker geweet wat hy sê nie.”

      “Ek besef dit … As hy ordentlik om verskoning vra, is dit goed so. Anders moet ek hom aan die hoof rapporteer.”

      “Is dit regtig nodig, meneer?”

      “Natuurlik! Ek kan ’n leerling nie van sport skors sonder om vir die hoof my rede daarvoor te gee nie.”

      “Nee, seker nie, meneer.”

      Nadat hy aangetrek het, stap Rothman moedeloos na die prefekte se kamer.

      Krynauw is by sy tafel besig om te studeer en die hoofseun kan sien hy wil nie praat nie.

      Die hoof het ure lank getik en is nog steeds hard aan die werk, maar hy stoot alles opsy toe Rothman vir die gebruiklike aandbesoek opdaag.

      “Goeienaand, meneer,” sê die hoofseun somber.

      “Goeienaand. Wat is daardie papiere? Tog nie strafverslae nie?”

      “Ja, meneer.”

      “Lees dan die eerste een hardop, asseblief.”

      “Dis oor Kannemeyer in graad tien, meneer. Meneer Bekker kla oor sy … Hier staan … ‘volgehoue laksheid in sy skoolwerk’.”

      “Wie het nog verslae gestuur?”

      “Meneer Gerritson, meneer.” Die sportonderwyser rapporteer selde leerlinge.

      “Ek sal dit self lees,” sê die hoof.

      Rothman oorhandig die verslag dankbaar. Hy wonder hoe die hoof hierdie saak gaan hanteer. Krynauw is al hier vandat hy agt jaar oud was, en hy en die hoof het ’n eienaardige vriendskap waaroor nie een van hulle ooit praat nie.

      Die hoof se gesig verraai nou egter niks. “Stuur Kannemeyer in, asseblief,” sê hy.

      Toe Kannemeyer inkom, kyk doktor Serfontein hom so kwaai aan dat hy wens hy kan in die grond wegsink.

      Rothman gaan wag buite. Hy kyk sonder simpatie na die juniors, maar met ’n heel ander uitdrukking na Krynauw wat voor ’n venster staan met sy rug na hulle gedraai. Dis ook maar goed so, voel die juniors wat hom in die moeilikheid laat beland het, want hulle weet nie hoe om hom in die oë te kyk nie.

      Kannemeyer kom gou weer uit. Hy lyk ongelooflik verlig en net so ongelooflik verbaas terwyl hy sonder ’n woord by die huis uitloop.

      Rothman gaan weer in en die hoof gee vir hom die verslag waarop hy aantekeninge gemaak het. Die hoofseun lees vlugtig:

      Ekstra melk … Doktersadvies … Daagliks ’n uur in ’n donker kamer lê en rus.

      Die hoof se benadering tot party probleme is dikwels vir Rothman verstommend!

      “Gee dit vir meneer Bekker. Laat hy dit lees en dan vir die huismoeder gee. Stuur nou die juniors in, maar haal asseblief eers ’n lat daar uit die kas … Moenie so bekommerd lyk nie. Ek gaan dit nie self gebruik nie.”

      Die lat is die eerste ding wat die drie juniors sien toe hulle voor die lessenaar kom staan. Hulle word bleek onder die hoof se blik.

      “Hoekom het julle vanmiddag so ’n dom ding gedoen?” vra hy. “Nieuwenhuis!”

      “Meneer, ek … ons … wou niemand laat seerkry nie. Dit was sommer net ’n grap.”

      “Verduidelik dan vir my hierdie grap, soos jy dit noem.”

      “Meneer … dis nou nie meer vir my so snaaks nie,” sê Nieuwenhuis verleë.

      “En vir jou, Venter?”

      “Nee, meneer.”

      “Pieterse?”

      “Meneer? … Nee, meneer.”

      “Afgesien van die gevaar is so iets ook gemeen. Gaan vra vir meneer Gerritson om julle te straf. Ek weet hy het nie ’n lat nie, so gee vir hom hierdie een met my komplimente.”

      Skaam, maar oneindig verlig, gee die drie pad.

      Hierdie soort behandeling verstaan Rothman beter.

      “Krynauw, meneer?” vra hy toe die jonger seuns weg is.

      “Ja.”

      Die onderhoofseun is reeds by die deur en hy kom dadelik in.

      “Dis al dankie, Rothman,” sê die hoof.

      Hy kyk na Krynauw en die bruin oë kyk ernstig terug. Daar is ’n baie sterk band tussen hulle en op tye soos hierdie is hulle intens bewus daarvan. Hulle behandel mekaar egter baie formeel.

      “Hier is jy nou weer,” sê doktor Serfontein. “Twee weke gelede het ons ook probleme gehad en jy het toe belowe om gehoorsaam te wees. Nie waar nie?”

      “Dis waar, meneer.”

      “Jy het reeds strafwerk vir die vakansie omdat jy ongehoorsaam was. Nou begin jy met ’n nuwe streek: parmantigheid teenoor ’n onderwyser. Jy is ons skool se onderhoofseun, en dit maak jou gedrag selfs nog meer onaanvaarbaar.”

      Die hoof se stem is ysig. “Jou gedrag vandag, veral voor ander en jonger seuns, is onvergeeflik. Hoekom het dit gebeur?”

      “Dis moeilik om nou te sê, meneer,” antwoord die diep, aantreklike stem wat die hoof s’n onbewustelik naboots. “Ek het van die duiktoring afgeval en simpel gevoel. Toe beskuldig meneer Gerritson my dat ek jok en toe verloor ek my selfbeheersing.”

      “Meneer Gerritson was ’n leerling hier toe jy op Keurboslaan aangekom het. Hy is nog jonk en behandel julle seniors soos sy gelyke. Dit beteken nie julle moet minder respek vir hom hê nie.”

      “Glad nie, meneer. Ons waardeer sy vriendelikheid.”

      “Nogtans het jy hom vandag aangespreek op ’n manier wat jy nie teenoor ’n ander onderwyser sou gewaag het nie, hoe onskuldig jy ook al tereggewys is.”

      Dis natuurlik waar en Krynauw sien dit dadelik in. Hy sou dit nou erken het, maar ongelukkig praat die hoof eerste.

      “Jy is die sportvelde en swembad belet tot jy om verskoning vra. Dis niks minder as reg nie. En totdat jy jou behoorlik gedra, het ek ook niks meer vir jou te sê nie.”

      Dis al jare lank Krynauw se gewoonte om saans by die hek te wag en saam met die hoof na Aandgodsdiens in die hoofgebou te stap. Hulle gesels nooit veel nie, maar vir Krynauw wat sy ma vroeg verloor het en daarna nie juis aandag by sy pa gekry het nie, beteken hierdie kort oomblikke saam met die hoof baie.

      Om in soveel woorde aangesê te word om weg te bly, is so ’n klap in die gesig dat Krynauw hom dadelik lelik opruk.

      Die hoof wag vir ’n antwoord, maar dit kom nie. “Dis al, dankie,” sê hy uiteindelik.

      Ná ’n nag se slaap kom Krynauw darem tot sy sinne.

      Tydens