“Sparky . . .” het sy begin beswaar maak, “mens bedien nie bully beef by ’n begrafnis nie!”
Hy het haar verward aangestaar, soos ’n Israeliet wie se brandoffer verwerp is.
Wat het hy verwag moet sy sê? Sê vir Hanna ek sê dankie?
“Ek weet ’n begrafnis is ’n duur affêre met blomme en . . .” Sy kon nie aan een verdere ding dink wat hom geld uit die sak gaan jaag nie. Hanna het tog ’n begrafnispolis gehad wat alles dek.
“Ek bedoel . . . as ek twee dosyn mense moet voed, sal ek moet kos koop, ’n soetigheid bak en tee maak. Dís wat duur is. Maar as jy my ’n paar honderd gee, sal ek seker maak dat die roubeklaers –”
“ ’n Paar hónderd?” Sparky se gesig was meteens bloedloos.
“Is dit te veel om aan Hanna te spandeer? Dink jy sy sou dit nie goedgekeur het nie? Of wil jy onthou word as die geliefde man wat bully beef-toebroodjies by sy vrou se begrafnis bedien het?”
Dulcie het geweet haar stem is vlymskerp, maar dit het nie saak gemaak nie. Sy vra darem nie vir ’n geslagte bees nie, net genoeg vis en brode om die menigte te voer. Dis tyd dat Sparky aan die idee gewoond raak dat Hanna nie meer daar is om die broek of beursie te dra nie. Onmiddellik.
Sparky het ’n uur later teruggekom met geld in die hand, nadat hy die blikkies bief in sy kombuiskas gaan terugsit het. Nou ja, het Dulcie gedink, ’n skuldige gewete doen wonders vir ’n man.
Nou staan sy en kyk na die blink van die sweet op die draers se hande wat aan die blink handvatsels vashou met die blink plastiekpapawers bo-op die kis.
Sy gril behoorlik.
Sy sal Sparky onder hande moet neem. Hy verdien om ’n beter perspektief op die lewe te kry, een wat blikkieskos en plastiekblomme uitsluit. Sy wonder of hy ooit die kloutjie by die oor kan bring tussen papawers en die dood. Sou hy al In Flanders Fields gelees het?
Die liewe Sparky, hy laat haar so baie aan Bennie dink dit maak eintlik seer. Op die punt van die kis waar Hanna se kop rus, sien sy ’n bossie wit orgideë lê. Dis saamgebind met ’n smal, kleurvolle lint. Sy is verlig. Sparky is die familie se orgideeman, en dit sou vreemd gewees het as daar nie ’n orgidee in sig was nie.
Die kis word netjies op die dwarsbande neergelê en Dulcie hou asem op. Die draers is duidelik verlig om van hulle swaar las ontslae te wees en Dulcie haal weer asem.
Sy sien Violet se skouers sak ook ’n aks of twee, en hulle glimlag met mekaar. Violet is seker net so verlig soos sy dat niks geskeur of geskuif het onder Hanna se logge lyf van tweehonderd kilo’s nie. Dié stukkie skindernuus, oor Hanna se gewig, het sy uit die perd se bek gehoor. Wel, amper. Sy het dit van Sparky gehoor.
“Die dokter sê tweehonderd kilo’s is ’n bietjie swaar vir Hanna om te dra. Sies tog, sy moet probeer om ’n bietjie te verloor.”
’n Bietjie wát? het Dulcie gewonder. Volgens haar het ou Hanna haarself lankal verloor. Haar common sense, haar humor, haar maniere, haar varkies.
Dulcie onthou nog goed toe Bennie haar die eerste keer aan Hanna voorgestel het. Sy was jonk en gretig om ’n goeie indruk te maak, maar ten spyte van haar goeie bedoelings het Hanna suur en onbeskof gebly.
Sparky wou hê sy vrou moes hulle beste koppies uithaal vir die gaste. Dit was immers Dulcie se eerste besoek aan hulle huis.
“Die koppies is vir spesiale gaste,” het Hanna kortaf gesê, haar gesig geslote.
“Toemaar, dis reg so,” het sy, Dulcie, nederig saamgestem.
“Maar, Hanna, my skat . . .” wou Sparky nog keer.
“Ag, gee ons sommer plastic cups!” het Bennie gelag.
Later het Hanna fout gevind met Dulcie se klere, haar hare, haar gebak, haar kinders.
Tog het Hanna ’n warm, deernisvolle sy gehad waarvan jy flitse gesien het in die teenwoordigheid van haar kleinseuns, of haar skoondogter, Rose. Vernáámlik in Rose se teenwoordigheid, Enver se wit trofee. Teen die einde was Hanna aan haar huis vasgekluister, bejammerenswaardig, en nie meer in staat om ver te loop nie.
“As sy net ’n bietjie gewig kan verloor, sal sy nie so gou moeg word nie. Boonop het sy nog suikersiekte ook,” het Sparky aanhou kerm.
Dulcie voel jammer vir haar swaer. Altyd gewonder wat van hom sou word as Hanna die dag op haar perdjie klim en nooit weer terugkom nie. Arme Sparky, sug sy hard.
“Ma?”
“Los dit,” skud sy kop.
Dulcie sien hoe Cheryl ’n oomblik kiertsregop staan en haar ma aanstaar. Toe, asof sy onthou sy is by ’n begrafnis, haar skouers weer pap laat hang, ken op bors en oë eerbiedig afgeslaan. Sy gee Cheryl se arm ’n vinnige drukkie.
Op vier-en-sestig het Hanna se hart een kilogram spasie gehad, met ’n inhoud van twee kilogram suiwer vet. Ironies genoeg was dit nie haar vetsug wat haar dood veroorsaak het nie, maar haar gulsigheid. Hanna het die eetbare torings wat sy gehap het ’n “little snack” genoem.
’n Piesang-en-maalvleis-toebroodjie, komkommers en heel cocktail-uie op roosterbrood, sjokoladejogurt gemeng met perskes, Simba-skyfies en kaas op mieliebrood . . . Die lys is eindeloos.
Dit het op ’n sonnige Sondag ’n week gelede gebeur. Sparky was besig in sy kweekhuis om na sy geliefde orgideë om te sien toe iets – volgens hom – hom dwing om die huis in te gaan. Hy het die deur oopgestoot en Hanna op die vloer aangetref.
Toe het hy – volgens hom – die ambulans, die dokter en die hospitaal geskakel, in daardie volgorde. Ná hy hartmassering gedoen en geen reaksie gekry het nie, het hy – volgens hom – mond-tot-mond-asemhaling gedoen.
Verdere besonderhede is vaag en – volgens Dulcie – ’n bietjie verdag. Ongelukkig was Sparky se pogings puur verniet. Sy geliefde Hanna was so dood soos ’n mossie.
Met die vertel van die storie gaan Sparky graag oor tot aksie om te illustreer hoe hy gesukkel het om Hanna se lewe te red. Met ’n gekap op sy bors en swaar asemhaling sou hy betraand die drama op die kombuisvloer vir die soveelste keer vertel.
Al wou Sparky almal oortuig dat Hanna aan ’n hartaanval dood is, weet Dulcie die doodsertifikaat sê versmoring. Met dié dat Sparky te aangedaan was om van nut te wees met enige reëlings, het hy Dulcie gevra om die doodsertifikaat by die dokter te gaan haal.
Toe Dulcie die dokter vra wat tot Hanna se versmoring gelei het, was die antwoord ’n kaas-en-biltong-toebroodjie. Sy het die doodsertifikaat vir Sparky gegee, maar besluit om stil te bly oor die versmoring. Die lewe het haar geleer dis soms beter om te swyg soos die graf. Sparky weet wat die dokter geskryf het, en as sy interpretasie hartaanval is, is dit sy keuse.
Toe sy stilletjies vir die kinders vertel hoe Hanna dood is, was Ashwin se reaksie: “Ag, shame, Ma, arme antie Hanna, what a way to go.”
Inderdaad.
Maar mens moet seker in gedagte hou dat Hanna asmaties was en jare lank kortisoon gebruik het. Dit was seker deels verantwoordelik vir haar opgeblase voorkoms. En gedurende een van haar min besoeke aan Hanna se huis (Hanna was nie gasvry nie) het Dulcie ’n botteltjie antidepressante in die badkamer gesien.
Violet, wat van dié dinge weet, het haar verseker daar was min keuse tussen die kortisoon en die antidepressante – dit was óf die een óf die ander, maar vet sou Hanna bly. Sy het duidelik probleme van ’n ander aard gehad, en dalk nog slegte gene ook.
Druppels sweet loop teen die draers se gesigte af toe hulle terugstaan en tussen die roubeklaers indruk. Net Sparky bly staan, sy oë vasgenael op die kis by sy voete, die pastoor aan die ander kant amper versteek agter Sparky se breedte.