Vier begrafnisse en 'n troue. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703393
Скачать книгу
van haar ma en broer.

      “Hóéveel?” vra Dulcie, haar blik op die pad.

      Met ’n bangheid in haar hart dink sy aan die hospitaalrekeninge wat sy van tyd tot tyd in die onderste laai druk. Twee maande gelede het sy eenvoudig alles na die Railways se mediese fonds gestuur.

      “Ma het tien dae om te betaal, anders gaan hulle Ma dagvaar,” sê Ashwin.

      “In hemelsnaam! Vir wát word ek gedagvaar?”

      “Ma! Die verkeerslig gaan rooi!”

      “Vir R270 000 vir die . . .”

      Ashwin maak nie sy sin klaar nie. Dulcie trap rem by die rooi lig dat haar passasiers opnuut hulle ontbyt moet sluk.

      “Máá!” skree Cheryl.

      Die son brand neer op Hanna se begrafnisstoet. Die reëntjie is verby en die sambrele toegevou en aan arms gehaak. Soos dit ’n dame betaam, druk Dulcie liggies met haar sakdoek om haar nek. Haar hare is styf gedraai en bo-op haar kop gestapel.

      Sy loer na Cheryl, wat amper teenaan haar staan. Sien vir die eerste keer dat hulle ewe lank is, met omtrent dieselfde bou. Breë skouers, seningrig, maar tog vroulik gebou.

      Dulcie sug innerlik. As haar dogter net geweet het wat om vir watter geleentheid aan te trek. Rooi skoene by ’n begrafnis, kan jy nou meer!

      Cheryl se bos pikswart, blink krulle wip om haar kop. Dik en glansend is ’n mooi beskrywing van haar hare. Maar sy moes dit liewers vasgemaak het, want dis heluit warm. En dis immers ’n begrafnis.

      Vir enige jong mens is twintig ’n gevaarlike ouderdom, en Cheryl is geen uitsondering nie. Op die oomblik spring sy oor kruispaaie, ignoreer die lewe se stopstrate en gly langs deurpaaie af. Haar enigste bekommernis: om in die salon mevrou Poggenpoel soos ’n koninklike te laat lyk met haar R100-kapsel.

      Met die geboorte van sy kinders het Bennie vir elkeen ’n polis uitgeneem. Met dié geld het Cheryl by die kollege ingeskryf vir haarkappery en Ashwin vir meganiese ingenieurswese. Hulle is albei in hul finale jaar, besig met hulle prakties terwyl hulle peanuts verdien. Albei liplekkend vir die groot geld wat voorlê.

      Dulcie glimlag wrang. Arme skatjies, wat weet hulle?

      Sy verkyk haar aan ’n maer figuurtjie op die grens van die groepie begrafnisgangers. Aangetrek in ’n nousluitende swart romp by ’n roomkleurige T-hempie en oor haar bors die nommer 28 in klein swart blommetjies. Haar bragrootte? wonder Dulcie.

      Sy sien Ashwin loer in die meisiekind se rigting. Twiggy gee hom ’n vlietende glimlag terwyl sy soos ’n skoolmeisie aan haar oorgroot sak vasklou. Dulcie eien haar skielik: Lucretia Jordan, vier-en-twintig jaar oud, ma van ’n sewejarige dogtertjie, werk in ’n lykshuis.

      Lucretia se lang, Wella-straightened hare van vroeër is nou gesny en gejel en staan soos verbrande grasstoppels op ’n molshopie. Die graatlyfie balanseer prekêr op veelkleurige tien duim hoë stiletto’s. Rooi plastiekoorbelle swaai aan klein oorlelletjies; die gesig is onnatuurlik bleek.

      Gumaville op sy beste, dink Dulcie. Weet Ashwin nie van beter nie?

      Lucretia se ma en oorlede Hanna was kennisse, maar waar en hoe op aarde hulle ontmoet het, weet nugter alleen. Dulcie soek na die ma se gesig, maar sy is nêrens te sien nie. Miskien het Twiggy nie soseer gekom om eer aan die dooie te betoon as om die lewendes te bekyk nie.

      Dis nou Ashwin met die lomerige fluweelbruin oë, die diep en dromerige jong man. Sy kakebeen is amper vierkantig, met ’n breë, vrygewige glimlag wat jou knieë lam maak. Dulcie het so gehoop en gebid dat hy alle verbintenisse met Gumaville sal afskud, en is geskok en teleurgesteld om uit te vind hy het nie.

      Sy skud haar kop effens, staar ver voor haar uit. Oor granietklippe, verlepte blomme in droë canned fruit-bottels, verwoeste struike, yslike eikebome en ’n draadheining wat plek-plek platlê. Sy weet vir die oningeligtes lyk sy moontlik soos een wat treur, maar al lyk haar oë miskien hartseer en haar aangesig bedroef, is sy dit allesbehalwe.

      Haar gedagtes is ver weg, verder selfs as dié van die gomsnuiwende piekaniens wat met hulle leë melkbottels teen die draad leun. Op pad huis toe moet sy vinnig by Checkers aangaan vir ’n paar bottels melk en ’n kilo margarien.

      Sy kyk terug na die piekaniens. Sien weer Gumaville se beentjies op stronke, gate vir oë, langs ’n hond met draad om sy nek aan ’n paal vasgemaak. Die een so brandmaer en brandsiek soos die ander.

      Haar blik skuif terug na die roubeklaers. Sy beskou haarself as ’n praktiese mens. Terwyl die een kant van haar brein haar inkopielys uitwerk, tel die ander kant die aantal mense om die kis. Oor minder as veertig minute moet sy die treurendes kos en tee gee.

      Dit het gistermiddag en gisteraand dol gegaan met al die gekook en gebak. Gelukkig het Violet, haar beste vriendin, ’n handjie kom bysit. Dulcie draai haar kop, vang Violet se oog en hulle knipoog vir mekaar.

      Violet is ’n steunpilaar in tye van nood, soos dit ’n goeie vriendin betaam. Vir die laaste tien jaar al is Violet Adams ’n bekende gesig op TV. Haar kookprogram is legendaries. Vyf jaar gelede het haar eerste kookboek verskyn, getiteld Die blou voorskoot, na die blou voorskoot wat sy op elke show dra. Drie jaar later was daar nog ’n kookboek en nog ’n kontrak.

      Of jy nou wil weet van cocktail parties, corporate catering, groente-entrees of net spyskaartbeplanning, Violet Adams is die een om te vra. Die welgesteldes en invloedrykes kan nie genoeg van haar heerlike disse kry nie. She is set up for life.

      Violet se enigste swak punt is dat sy ’n swaar hand het met bestanddele. Die woord “oortollig” bestaan nie in haar woordeskat nie. En dit beteken dat Dulcie suiker ook moet gaan koop.

      Dalk kan sy sommer ’n speelding vir Hanna se kleinseuns ook koop. Die twee kriewelende engeltjies staan langs hulle ma, Rose. Die een is vyf jaar oud en die ander ses. Drie jaar gelede se herinneringe aan ouma Hanna sekerlik al vergete.

      Dulcie se blik flits weer oor die mense. Sewentien in totaal.

      “Hanna behoort genoeg koppies en kleinbordjies te hê,” het Sparky droefgeestig gesê toe sy hom vra na die gebruiklike tee en koek ná die begrafnis. “Ek is nie seker of sy genoeg stoele het nie, haar meubels is al ’n bietjie oud, weet jy. Ons hét gepraat van nuwes koop, maar nou ja . . .”

      Dulcie het net gesug by die aanhoor van dié roerende relaas. Ou Hanna het altyd gepraat van mý huis, mý tafel, mý tuin, mý alles. Asof Sparky niks meer as ’n loseerder was nie. Toe het Dulcie maar die begrafnisete na haar huis verskuif, waar daar genoeg van als is.

      Sy sien Ashwin staar na haar, asof hy haar gedagtes probeer lees. Sy tuit haar lippe en knipoog vir hom. Hy kyk vinnig weg en sy glimlag tevrede. Die pastoor gee haar ’n kwaai kyk en sy laat haastig haar kop sak, snik kamma in haar tissue.

      Cheryl vryf haar arm. “Toemaar, toemaar,” sê sy vertroostend.

      Sonder om haar kop te lig, loer Dulcie in die rigting van Rose, die Omo-wit Amerikaanse roos, Hanna se skoondogter. Dulcie kyk haar vir die tweede keer deur. Rose lyk soos ’n verveelde en verwilderde skoonheidskoningin met baie bates maar sonder kroontjie. Maar watter bates!

      Haar 38D cup staan stokstyf tussen ken en naeltjie, die buitelyne van haar eina-broekie duidelik sigbaar deur die stywe satynrok, asof iemand so pas ’n emmer water oor haar uitgekeer het. Haar lang blonde hare soos ’n golf wat oor haar skouers stort, haar lyfie klein genoeg om deur ’n naald se oog te gaan. Dulcie se keel trek toe net om na die vrou te kýk. Sy kan haar voorstel hoe Enver moet vóél met die aanraking van dié stukkie vlees.

      Dit herinner haar aan die stapels gesnyde ham en bief, hoender en varkvleis wat stoei vir ’n plekkie in haar yskas. Dan nog frikkadelle, vleispasteie en chilli-lewertjies vir die maaltyd van vet spyse, en bloedrooi cocktail-tamaties en groen komkommertjies vir kleur.

      As haar swaer sy sin gekry het, het die vetgemaakte kalf ’n vermaerde bees geword. Sparky het blikkies bully beef van sy huis af gebring, dit amper seremonieel op die kombuiskas gesit.

      “Hanna