Dis ’n uitroep van Salmon wat die gesprek kortknip. Hy het die trop olifante gewaar. Lochner ry versigtig nader en bring die Land Rover tot stilstand. Hy maak die deur oop en, verkyker voor die oë, bespied hy die trop.
“Sien jy hom?” wil Ansie ongeduldig weet.
Hy oorhandig die verkyker aan haar. “Kyk daar by die groot bos regs. Daar staan hy en sy ma.”
Ansie bestudeer die kalf en veral die agterbeen deur die verkyker en laat hoor: “Wat dink jy van sy been? Dit lyk vir my goed.”
“Ja. Daar sal altyd ’n letsel wees, maar dis besig om mooi te herstel.”
Op pad terug kry hulle ’n trop bobbejane op ’n laagwaterbrug by die rivier en hulle hou stil. ’n Bobbejaanmannetjie het ’n kleintjie, sy ore nog pienk, beet en karnuffel hom deeglik terwyl die kleintjie soos ’n maer vark skree. Die ma kom beskermend nader maar die pa gee net ’n waarskuwende grom.
Ansie is hewig ontsteld. “Gaan keer, Lochner! Hy gaan die kleintjie seermaak, selfs doodmaak!”
“O nee. Dis nie nodig nie. Hou die ma dop.”
Ansie sien hoe die ma skynbaar aan die weghardloop is, maar dan sien sy hoe sy by ’n groot bobbejaanmannetjie tot stilstand kom waar hy luilekker eenkant sit terwyl een van die dames van die trop rustig vlooie op sy rug soek. Die mannetjie spring op en storm op die pa-mannetjie af. Skreeuend vlug die kleintjie in sy ma se arms in terwyl die pa spore maak met die groot mannetjie kort op sy hakke.
Lochner sien die ongeloof in Ansie se oë en verduidelik glimlaggend: “Hierdie kleintjies is soms baie stout en moedswillig. Hy moes seker maar iets gedoen het wat die mannetjie vertoorn het. Maar elke trop het ’n leier, en as daar probleme kom, soos vandag, is dit die leier wat die probleem hanteer. Die ma het net eenvoudig die leier gaan roep.”
Ansie skud haar kop. “Die natuur is darem net ongelooflik wonderlik.”
“Ja. Dit is. Die meeste mense dink dis maar net wilde diere, verstandeloos en stom. Dis baie ver van die waarheid af. Hulle kommunikeer met mekaar in ’n taal wat ek en jy nie verstaan nie. En hulle is nie verstandeloos nie. Hulle is georganiseerd. Hulle dink en redeneer net in ’n ander dimensie as ek en jy. En partykeer oortref hulle selfs die mens.”
“Hoe?” vra sy nuuskierig. Sy hou daarvan om hom só te sien lyk – ontspanne en glimlaggend; die liefde vir sy diere merkbaar in sy warm stem.
“Hulle voed hul kinders beter op as baie mense. Deesdae is die mode mos onder mense dat kinders grootgemaak word sonder slae. Dis dié dat die wêreld vandag lyk soos wat hy lyk. Maar die bobbejaan . . . As die kleintjie nie ore aan sy kop het nie, en dinge doen wat hy nie moet doen nie, kry hy ’n pak slae.”
“Lochner, nooit! Salmon, hy jok mos nou?”
Maar Salmon skud sy kop laggend. “Hy gee hom pak. Hy skrou, maar sy ma slaat hom goed. Hy’s ’n goeie ma. Hy sorg vir hom. Hy gee hom kos. Hy hou hom vas teen hom. Die kleintjie weet sy ma is lief vir hom. Maar hy kry ook slae wanneer dit nodig is.”
Sy kyk na die trop, sien hoe liefdevol die ma’s hul kleintjies koester, aan die bors voed, en sy voel meteens bewoë. Dis waar. Daar is baie kinders wat van hul ouers weggeneem moet word om hulle teen mishandeling te beskerm. Sy vee vlugtig oor haar oë.
Lochner skakel die Land Rover aan. Hy het die blink in haar oë gesien en sê goedig: “Laat ons hier padgee voordat jy ’n kleintjie wil saamneem huis toe. Liesbet sal ’n oorval kry.”
Sy lag, sluk. “Wat sal Liesbet sê as sy die doeke moet was!”
By die huis aangekom, is daar ’n vragmotor op die werf. Tot Ansie se verbasing ontdek sy dis ’n firma van die dorp wat lugreëling in haar kamer en die sitkamer kom installeer.
Sy keer haar fronsend na haar neef toe die mense aan die werk is. “Lochner, ek hoop nie jy gaan hierdie koste aan net ter wille van my nie.”
“Ek moes dit eintlik lankal laat doen het. Maar ek kom nie die hitte so erg agter nie. Ek is al geakklimatiseer. Maar ek kan sien ons Bosveldhitte is ’n bietjie kwaai vir jou.”
Ag, hy is regtig dierbaar! Sy is waarlik gelukkig om so ’n neef te hê. Maar dit laat haar ook sleg voel. “Dis groot koste. Jy vergeet ek is net tydelik hier. Een van die dae gaan ek weg.”
Sy stem klink onpersoonlik. “Ek doen dit nie net ter wille van jou nie.”
Sy voel afgehaal. Natuurlik is dit nie net om haar ontwil nie! Eendag, miskien nog binnekort, sal hy trou en ’n vrou in die huis hê. Juffrou model-jagter Cawood is natuurlik aan lugreëling gewoond.
Sy kyk hom nietemin met dankbare oë aan. “Dis dierbaar van jou. Baie dankie. Jy is ’n wonderlike neef.”
Sy lig haar op haar tone en soen hom vol op die mond, draai dan vinnig om en verdwyn die huis in.
Op die werf staan Lochner nog ’n oomblik stil, maar toe hy omdraai en in die rigting van die stalle verdwyn, is die lippe wat so pas gesoen is, grimmig op mekaar gedruk.
Hoofstuk 4
4
Toe sy daardie aand hoor Lochner sê vir Liesbet dat hy die volgende dag dorp toe gaan en dat sy haar lysie gereed moet kry as sy iets vir die huis nodig het, besluit Ansie dat sy eenvoudig nou die bul by die horings sal moet pak. Daar is ’n paar persoonlike goed wat sy dringend moet hê. Verder vind sy haar rokke heel onprakties vir die bos. ’n Paar kortbroeke met ligte bloesies daarby is net wat sy hier nodig het. Dan ook ’n paar lekker loopskoene vir die bospaadjies. Maar sy het nie ’n sent geld nie.
Veral ná vandag se kolossale uitgawe vir die lugreëling voel sy nog onwilliger om die saak aan te roer. Maar sy het geen keuse nie.
“Lochner, het ek nie geld by my gehad toe hulle my ná die bomontploffing gekry het nie? Ek moes darem seker ’n paar rand by my gehad het. Ek was tog besig om inkopies te doen.”
Sy sien sy vinnige frons en haar hart sak in haar skoene. Sy kan nie van die gevoel ontslae raak dat Lochner onmiddellik ontevrede is wanneer daar na daardie traumatiese dag verwys word nie.
“Ja, jy moes seker geld by jou gehad het, maar volgens die polisieverslag was net jou handsak by jou, gelukkig nog met jou identiteitsboekie daarin. Jou handsak het waarskynlik oopgegaan met die val en die res van die inhoud het uitgeval en niemand het hulle daaraan gesteur nie. Die ambulansmanne het nie tyd gehad om rond te soek vir ’n paar rand of ’n sakdoek nie. Hulle moes jou so gou moontlik by ’n hospitaal kry.”
“Ja. Ja, natuurlik. Ek verstaan dit. Maar . . . ek moet uitvind waar ek gewerk het. En ek moet by my woonstel kom.”
Sy blik is nie bemoedigend nie. “Waarop stuur jy af? Wat krap aan jou? Ek het gedink jy is gelukkig hier.”
“Dis nie waarom dit gaan nie, Lochner!” sê sy ongeduldig. “Jy kan alles so maklik afmaak. Dis nie so maklik vir mý nie. Dis ék wat met die probleme sit.”
“Watse probleme?”
Sy sug moedeloos. Die wonderlike atmosfeer tussen hulle is bederf. Sy kan dus maar sê wat sy moet sê en klaarkry daarmee. Die een of ander tyd moet dit tog gesê word. “Een van die probleme is dat ek geld nodig het en ek het nie ’n sent by my nie.”
Hy lyk openlik verlig. “Is dit al wat jou hinder? Dan het jy nie ’n probleem nie. As jy iets nodig het, skryf dit op Liesbet se lysie en ek sal dit koop.”
“Dis nie so eenvoudig nie! Daar is goed wat ek sélf moet koop, wat jy nie vir my kan koop nie. En verder . . . ek hou nie daarvan om op iemand te teer nie. Ek is al klaar so diep in die skuld by jou. Ek moet uitvind of ek êrens nog geld het, in ’n spaarrekening of ’n bankrekening of iewers. Ek moet weet waar ek