Hoewel sy weet niks ontglip sy oë nie, doen sy haar bes om teen die end van die dag haar uitputting vir hom weg te steek, en is sy baie dankbaar dat Lochner verkies om saans agtuur al bed toe te gaan. Dit kos haar soms al haar wilskrag om haar oë nie vóór daardie tyd te laat toeval nie. Die televisiestel waaroor sy in die begin so ingenome was, staan onaangeskakel. Lochner, en so ook sy, verkies om ná ’n heerlike stort liewer op die stoep te gaan sit en die aandstilte te geniet. Daar drink hulle ’n koue bier of twee en Liesbet bring ook sommer hul kos op skinkborde uit omdat dit so bedompig in die huis is.
Dis hierdie tye saam met Lochner in die skemer wat vir Ansie baie spesiaal word. Dis so ’n volmaakte afsluiting van ’n ideale dag. Soms gesels hulle; Lochner gesels graag oor die diere en sy luister met oorgawe. Baiekeer is hulle stil, maar dis nie ’n stilte wat pla nie. Dis die samesyn van twee mense wat dieselfde vreugde uit die skemeraand put. Saam luister hulle na die dieregeluide wat soms naby is en soms van ver af na hulle kom; kyk saam na die bloedson wat wegsak en na die silhoeëtte van die Bosveldbome teen die skemerhemel. Dan, net ná ete, word nag gesê en ten spyte van die hitte wat selfs snags nog kwaai is, sak sy sommer dadelik in ’n droomlose slaap weg met die vooruitsig dat môre en oormôre net so perfek soos vandag sal wees.
As daar êrens in haar ’n stemmetjie waarsku dat dit nie vir ewig so kan voortgaan nie, en dat hierdie hemel maar net tydelik vir haar oopgestel is, smoor sy dit dood. Sy wil nie nou daaraan dink dat daar ’n dag sal kom dat sy hiervan sal moet afskeid neem nie.
Intussen raak Lang Leentjie al makker en word sy tot in die afgrond bederf. Sy stap al glad nader wanneer Ansie se gesig by die staldeur verskyn, want sy weet daar is ’n lekker happie in die hande wat na haar uitgehou word.
“Sy sal nie weer wil teruggaan bos toe nie.”
Ansie kyk haar neef verskonend aan. Sy is nou al ’n paar keer betrap en gewaarsku oor die lekkernye wat sy vir die kameelperd aandra, maar elke keer doen sy dit weer. “Sal dit saak maak as sy hier mak rondloop? Jy het tog nog baie ander kameelperde in die veld,” verdedig sy, hoewel sy sy siening oor die saak ken en dit weer opnuut moet aanhoor.
“Dis nie ter sake hoeveel kameelperde daar in die veld is nie, Ansie. ’n Wilde dier hoort in die natuur. Dis sy aard en dis soos dit bedoel is. Ek hou nie van ’n mak wilde dier nie.” Dan minder streng toe hy die pleitende oë gewaar: “Sy sal in elk geval paartyd gaan maat soek.”
“Nou dan . . . Wat maak dit dan saak as sy ’n bietjie hier by ons kuier, uit haar eie uit, bedoel ek?”
Hy skud sy kop, glimlag teësinnig. “Dis nou maar een ding. ’n Vroumens moet altyd die laaste woord hê. Nou toe, slim Annie, gee nou maar vir haar daardie koekie wat jy in jou roksak wegsteek.” Hy moet breër glimlag toe sy met groot vreugde die koekie te voorskyn bring en Lang Leentjie ook nie op haar laat wag om met haar lang lip daarna te soek nie. “Hoe op aarde het jy haar leer koekies eet? En wat sê Liesbet daarvan dat haar gebak in ’n kameelperd se maag beland?”
Ansie lag, besef nie hoe maklik en hartlik sy dit op Friedesheim leer doen het nie. “Dit het toevallig gebeur. Ek het eendag twee koekies hier by haar gestaan en eet en sy het daaraan geruik en besluit sy hou ook daarvan. En Liesbet weet nie waar al haar koekies beland nie. Sy dink dis ék wat haar blikke so leeg hou! Jy sal nie verklik nie, sal jy?”
Hy skud sy kop, lag sag en die warmte in Ansie se hart neem toe. “Nee, ek sal nie, maar een van die dae is sy nie meer Lang Leentjie nie, maar Ronde Leentjie en is julle albei spekvet.”
“Vet?” Sy kyk hom met groot oë aan. “Is ek vet?”
“Jy is op pad. Jy het al ’n bietjie gewig aangesit, of het jy dit nog nie agtergekom nie?”
“Ja, ek het, want die bra’s pas al beter.” Sy klap haar mond toe toe hy haar vreemd aankyk, en dan skater sy dit uit van die lag. Dit maak seker nie saak as ’n mens met jou neef oor sulke goed praat nie. “Jou buustelyfies was ’n bietjie groot aan die begin, maar soos ek gesê het, hulle pas al ’n bietjie . . . e . . . voller.”
“Mý . . .?”
“Ja. Suster Gertenbach het gesê jy het alles gekoop, tot my onderklere ook.” Sy frons vinnig toe iets haar skielik tref. “Dit laat my mos nou dink . . . Waar was mý klere dan dat jý vir my moes klere koop? Ek was mos volgens jou op pad na jou toe. Ek sou tog nie net met my klere aan my lyf hier aangekom het nie.”
Hy frons ook nou, gee pad huis se kant toe. “Ek weet nie waar suster Gertenbach daaraan kom nie. Ek het by die kliniek gevra of jy iets nodig het en toe ’n paar goedjies vir jou bygekoop. Ek weet glad nie van . . . e . . . onderklere wat ek gekoop het nie.”
“Maar . . .” Ansie swyg verward. Sy kan sweer die man staan en lieg nou oop en bloot vir haar. Dit is net nie aanneemlik dat sy vir haarself groot buustelyfies sou koop nie. En wat die res van haar uitrusting betref . . . Sy weet net dis nie haar smaak nie. Haar mond gaan weer oop om hom verder te konfronteer toe Salmon met die bakkie op die werf verskyn met die slegte nuus dat ’n olifantkalfie teen die oostelike grensdraad in ’n wip gevang is.
Alle ander dinge is uit die gedagte toe hulle dadelik vertrek en Ansie kan Lochner se bitterheid verstaan toe hulle die plek bereik waar die kalfie seker al ’n paar dae lank in die grootste lyding verkeer. Sy een agterpoot is in ’n draadstrik vasgeknel en dit het al diep in sy vleis ingesny soos hy probeer het om daaraan te ontkom. Dis ook duidelik dat die kalfie al baie swak is en kwalik nog op sy bene kan staan. Dis die werk van wilddiewe, en Ansie voel onwillekeurig dieselfde wrewel in haar opstoot as wat sy weet op hierdie oomblik in Lochner woed.
Hy het sy trollie aan die Land Rover gehaak voordat hulle vertrek het, en hoewel dit ’n gespook en gesweet is om die olifantjie daarop te laai nadat die wrede strik verwyder is, slaag hulle tog daarin.
“Salmon, hou dop. Die koei en die res van die trop sal nie ver wees nie,” beveel Lochner.
“Sal hulle ons aanval?” vra Ansie onrustig.
“Maklik. Olifante is ontsettend beskermend teenoor hul kalfies. Die koei sou nie ver van hom afgedwaal het nie, ook nie die res van die trop nie. Iets wat ’n mens nooit moet doen nie, is om tussen ’n koei en haar kalf te kom. Dis doodsake.”
Hulle is nog besig om die kalfie tuis te versorg toe Don Cawood daar aankom. Hy vertel dat hy ook onder die wilddiewe deurgeloop het en reeds twee koedoes en ’n eland verloor het.
“Die vuilgoed is weer baie doenig die afgelope tyd.”
“Waar kom hulle vandaan?” vra Ansie terwyl sy met genot kyk hoe die olifantjie dorstig aan die bottel melk suig wat Lochner besig is om hom te gee.
“Hulle is oral,” is Lochner se kortaf antwoord en Ansie sien weer daardie lig in sy oë wat haar die wilddiewe amper kan laat jammer kry as hy ooit op hulle moet afkom. Maar sy self voel na moord as sy dink aan die lyding wat die stomme diere in ’n strik moet deurgaan.
“Ons sal ons oostelike grense goed moet nagaan. As daar een strik was, is daar nog.” Hy streel die olifantjie oor die kop. “Nou toe, kleintjie. Jy is voorlopig versadig en versorg. So teen môremiddag is jy weer terug by jou ma.”
“Moet ek kom hand bysit?” vra Don en Lochner knik dankbaar.
“Ek sal bly wees, buurman. Hy was so swak dat ons hom vandag alleen kon behartig, maar teen môremiddag sal ons ’n paar hande nodig hê om hom weer op die trollie te kry. Kom ons gaan soek iets vir die keel. Ek is nou dors.”
Dis op die stoep, elkeen met ’n koue drankie voor hulle, dat Don onwetend ’n bom los: “Ek het uit Engeland navraag gekry van ’n filmmaatskappy wat hul buitetonele op Hunters Lodge wil kom skiet.”