“Maar miskien weet jy nie alles nie,” hou Ansie koppig vol. “Het hy nie ’n nooi nie?” vra sy en kan haarself dadelik skop toe die vraag uit is.
“Nie ’n vaste een nie, en ek sal weet. Daar is ’n hegte vriendskap tussen hom en my suster, maar hóé heg sal ek nie kan sê nie. Die twee kom goed oor die weg en geniet mekaar se geselskap, maar of daar iets ernstigs tussen hulle sal ontwikkel, weet ek nie. Nie een het al iets laat val nie. Dis die enigste meisie van wie ek weet wat moontlik ’n kans staan om eendag my buurvrou te word – wat ek natuurlik van harte sal verwelkom.”
Ansie probeer die misnoegdheid in haar ignoreer. “Jou suster? Dis die eerste keer dat ek van haar hoor. Waar is sy?”
“In Londen. Model. Maar sy kom gereeld plaas toe, geniet die wild en die natuur net soveel soos ek en Lochner. En sy is ’n knap skut op die koop toe. Baiekeer is sy die een wat die jagters uitneem sodat ek ook ’n kans kan kry om ’n slag weg te breek.”
“O.” Ansie se stemmetjie klink maar plat. ’n Model én ’n grootwildjagter. Wat ’n kombinasie, dink sy spytig. Sou dit die meisie wees oor wie Lochner treur? Die meisie wat maar net nie kans sien om heeltemal van die glanswêreld van die model afskeid te neem om vrou en moeder op Friedesheim te kom wees nie? Ansie hou baie van die vriendelike en joviale Don, maar sy het sommer ’n gevoel sy gaan nie so erg baie van sy suster hou nie.
Wat belaglik is, vertel sy haarself toe hulle op die Lodge se werf stilhou en aanstap na die hoofgebou. Sy het nog nie eens die meisie ontmoet nie, vandag maar vir die eerste keer van haar bestaan verneem. En nog belagliker is die misnoegdheid wat steeds in haar lê. Natuurlik sal daar ’n vrou in ’n man soos Lochner se lewe wees. Daar skort mos niks met hom nie. As hy so lamsakkig is om hom deur ’n meisie aan die neus te laat rondlei, is dit sy saak. Maar, besluit Ansie, die heel belangrikste is Don se suster wat nie kan kies tussen die stadsliggies van Londen en die skemeraande van Friedesheim nie. Sy mag modelmooi wees, en sy mag ’n goeie skut wees, maar sy is onnosel. En dit is Ansie se finale slotsom.
Sy dwing haar aandag doelbewus terug na die gesprek.
“. . . wat ek by die poskantoor gemaak het. Ek het eers lank getwyfel ná gister, maar toe het ek besluit ek kan darem ook nie toelaat dat Lochner se buie my plaas bestuur nie. Goeie geld is goeie geld en al wat hulle van my vra, is om huisvesting te verskaf en saam te gaan wanneer hulle veldtonele moet skiet. Dis min werk vir baie geld. Ek het vandag die brief gepos met my kontrak . . . en Lochner moet dit maar net aanvaar. Dis jammer dat hy so sterk voel oor die saak. Ek weet natuurlik nie presies wat die mense soek nie, maar Lochner het ’n paar skouspelagtige plekke op sy plaas wat vir pragtige tonele sal sorg. Maar, nou ja . . . Hier kom hy nou. Ansie, moet liewer nie laat glip waaroor ons vandag gesels het nie. Hy is knorrig genoeg.” Hy glimlag skalks op haar af. “Miskien moet ek daardie sus van my ’n slag op die plaas kry. As sý hom nie in ’n goeie bui kan kry nie, sal niemand dit regkry nie.”
Tog lyk dit in die week wat volg of Lochner sonder die hulp van die model-grootwildjagter van die buurplaas uit sy knorrige bui kom. Ansie wil haarself al vlei dat sý daartoe bydra, want ’n baie gemoedelike en kameraadskaplike verhouding ontwikkel tussen haar en haar neef.
“Dit lyk my jy geniet dit werklik hier in die veld,” sê hy eenkeer toe hulle weer op pad is na die trop olifante om te kyk hoe dit met Kleintjie, die olifantkalfie, gaan. Want dis ook iets nuuts wat saam met Ansie op Friedesheim aangekom het: die gewoonte om die diere name te gee. Nadat hy die eerste dag die olifantkalfie as Kleintjie aangespreek het, is hy formeel deur Ansie gedoop ondanks Lochner se geamuseerde protes dat ’n mens sekerlik nie vir ’n olifant, en dan nog een wat hopelik eendag in ’n groot olifantbul sal ontwikkel, so ’n verspotte naam gee nie. Maar Kleintjie het hy gebly soos wat Lang Leentjie tot haar dood Lang Leentjie genoem sal word.
Soos Lochner gewaarsku het, wou Lang Leentjie nie sommer van die mensevriende wat sy so goed leer ken het en van wie sy deur veral een so gruwelik bederf is, afskeid neem nie. Dis glad nie snaaks om haar op die werf te sien rondstap en aan verbode plante en blomme te sien smul nie. Soms, net uit skone nuuskierigheid, steek sy haar lang nek by ’n venster in en dan is sy én Ansie in groot onguns by Liesbet.
“Juffrou, jy moet net kom kyk hoe het daardie langnekperd al weer op my stoep gemors. Die ding sal een van die dae nog die huis ook inkom,” raas Liesbet dan en Lochner glimlag maar so in sy enigheid.
Ansie probeer altyd olie op die troebel waters gooi: “Ek sal gaan optel, Liesbet. Ek belowe.”
“Ja, maar daai ding is stout. Hy vreet my blomme ook. Hy hoort in die veld.”
“Ek sal kyk dat sy nie weer naby die blomme kom nie.”
“En hoe gaan jy dit regkry? Jy rits heeldag met meneer in die bos rond en dis dán wanneer die ding my blomme vreet.” Liesbet wil net niks weet nie.
“Ek sal haar in die stal sit wanneer ek weg is.”
“En hoe gaan jy die ding daar inkry? Hy is nie só mak nie,” daag Liesbet haar uit.
“Sy kan haar met koekies daar inlok,” gee Lochner hulpvaardig raad.
“Koekies?” Liesbet snuif minagtend vir sulke verspottigheid en gee gebelg pad.
“Jy het belóóf jy sal nie klik nie!” beskuldig Ansie.
“Ek het mos nie. Jy het tog gesien met watter minagting sy my voorstel bejeën het. Sy, soos die res van die wêreld, weet kameelperde eet nie koek nie. Wel, nie normale kameelperde nie.”
“Lang Leentjie is nie ’n gewone kameelperd nie. Sy is uniek.”
Dis toe dat hy iets onverstaanbaars vir haar sê: “Soos jy. Net so uniek soos jy.”
“Ek? Uniek? Wat is uniek aan my?” wil sy verbaas weet.
Maar al antwoord wat sy kry, is: “Van nuuskierigheid is die strate leeg en die tronke vol. Só het my ma altyd gesê. Toe, ek ry nou na die oosgrens en hoop om ons pasiënt raak te loop. Ek wil weer na daardie been van hom gaan kyk.”
“Ek wil ook weer vir Kleintjie sien. Wag vir my. Ek moet net gou eers die kameelmis gaan optel,” en sy spring met spoed weg. Sy weet nie dat sy blik haar goedkeurend volg nie. Sy het ongelooflik vinnig haar kragte herwin sedert sy op Friedesheim aangekom het. Hy wonder of sy self al agtergekom het watter groot verandering by haar ingetree het in die maand wat sy hier is. Wat hom nog die meeste bevredig, is dat sy ook van die spanning in haar ontslae geraak het. Dit wil selfs lyk asof sy haar nie meer bekommer oor haar geheueverlies nie. Sy verwys in elk geval nie meer daarna nie en vra ook nie meer vrae of probeer uitvis oor haar verlede nie, en dit pas hom uitstekend.
Dokter Engelbrecht se voorstel dat sy eers op Friedesheim moet gaan aansterk en dan terugkeer vir psigoterapie, stoot hy steeds op die lange baan. Met ’n glimlaggie om sy lippe sien hy toe hoe Ansie die kameelmis vinnig tussen Liesbet se blomme ingooi en dan wink dat sy gereed is.
Sy kyk met groot oë na hom en die eerlikheid in haar blik en in haar stem oortuig hom van die opregtheid van haar woorde: “O, ek geniet dit in die veld en tussen die diere! Ek wens soms . . .”
“Ja? Wat wens jy?” vra hy afwagtend.
Sy draai haar gesig weg. Nee, sy kan nie vir hom sê dat sy soms wens dat sy vir altyd hier kan bly nie, want dis tog nie moontlik nie. Sy antwoord meer bedees: “Ek wens soms dat ek al vroeër vir jou kom kuier het.”
Sy stem klink ook meer bedees. “Ja. Dis iets waaroor ek ook spyt is, dat ek jou nie vroeër hier gekry het nie. Miskien sou dinge dan anders uitgewerk het.”
Sy kyk hom vraend aan. “Wat bedoel jy? Watter dinge?”
Hy is ’n ruk stil,