Dis stil terwyl die spanning wat in die atmosfeer ingesluip het, in intensiteit toeneem. Die twee paar oë wat op die stroewe gesig gerig is, verraai duidelik dat hulle dronkgeslaan is. Lochner se kakebeen is vierkantig en sy mond grimmig toe hy eindelik antwoord: “Dis jou saak wie jy op jou plaas toelaat, maar nie een van daardie mense sit ’n voet op mý grond nie.”
“Op dees aarde . . .” Don beteuel sy humeur. As daar een ding is waarvoor hy wye draaie sal loop, is dit om kwaaivriende met hierdie buurman van hom te word. Daarvoor lewe hulle te nou saam. Van albei kante word gereeld hand uitgesteek om mekaar te help, en hy slaan die vriendskap tussen hom en Lochner Bothe baie hoog aan. ’n Man uit een stuk en ’n vriend deur dik en dun. So het hy hom leer ken. Só sal hy dit graag wil hou. “Lochner, ek verstaan glad nie. Gee my ’n aanneemlike rede hoekom jy die mense nie hier wil hê nie en ek sal . . .”
Die stem is byna bars wat hom in die rede val: “Ek verpes die soort lewe wat dié mense lei. Hulle het geen idee van wat eg en wat vals is nie. Geld is nie alles in die lewe nie. Daar is sekere dinge wat geld nie kan koop nie. Maar dis jou saak hoe jy geld op Hunters Lodge maak. Moet net nie vir my kom vra of hulle nie ook tonele hier kan kom skiet nie. Ek wil hulle nie op Friedesheim hê nie. Hou hulle net weg van my af.”
Dis ’n lang ruk stil en dan staan Don op, sy stem effens styf: “Dankie vir die bier. Ek stuur môreoggend vier man oor om met die kalfie te help. Of het jy gesê môremiddag?”
Die twee mans se oë ontmoet, Don s’n vraend, maar die ander s’n bly onversoenlik.
“Môremiddag, dankie, as dit kan.”
“Goed. Tot siens, Ansie, Lochner.”
Ansie verdwyn ook na binne. Sy weet sy moet Lochner liewer nie probeer konfronteer oor sy eienaardige optrede nie. Maar sy voel tog teleurgesteld in hom, hoewel sy haarself maan dat daar nie so iets soos ’n volmaakte mens bestaan nie. Lochner Bothe is ook nie volmaak nie. Êrens in die sterkste mens is daar ’n swak plekkie. Êrens in die mees volwasse mens sal jy ’n stukkie onvolwassenheid, selfs kinderagtigheid, kry. In die mees gebalanseerde mens sal jy ’n tikkie ongebalanseerdheid kry. Don het vandag Lochner se swak plek oopgekrap. Miskien sou hy dit beter kon verskans het, maar hy is onverhoeds betrap. Sy weet teen hierdie tyd dat Lochner nie tyd het vir mense wat van die glanslewe hou nie. Sy onthou nou weer die bitterheid in sy stem: Ek het nog nie ’n meisie raakgeloop wat in my wêreld inpas nie. Hulle almal is verslaaf aan die stad se skitterglans en valsheid en aan plesier en ydele vertoon en roem . . . of iets in dier voege.
Sy kry in haar hart ’n verskoning vir sy onverstaanbare optrede. Iemand, ’n vrou, wat só ’n soort meisie is, moes hom die een of ander tyd diep seergemaak het. Sy het blykbaar nie kans gesien om haar lewe vir syne te verruil nie. En daardie wond is nog baie teer, só teer dat hy dit nie eens kan verduur dat mense uit haar soort lewe hul voete op sy grond sit nie. Uit die lewe van roem en glans waaraan sý behoort nie. Daarom is ’n filmspan in sy boswêreld vir hom totaal onaanvaarbaar. Want dit gaan ou herinneringe opwek, ou wonde oopkrap. Ansie voel nou nog meer verbaas as voorheen dat hy háár hierheen gebring het. Hy het haar vertel dat sy nog nie voorheen op Friedesheim was nie, want sy was te lief vir die stad en sy liggies. Dit was dus blote familieplig wat Lochner hom oor haar laat ontferm en haar hierheen laat bring het.
Die volgende middag bring Don self vier van sy plaashulpe oor om hand by te sit met die olifantjie.
“Ek is eintlik op pad dorp toe. Is dit moontlik dat jy my mense weer net op die Lodge kan terugbesorg as jy klaar is met hulle?”
“Natuurlik, Don. Baie dankie vir jou hulp. Ek kan hulle terugneem sodra ons die kalf op die trollie het.”
“Dis nie nodig nie. Neem hulle liewer saam om te help aflaai ook.”
Toe Ansie hoor daar is nie plek vir haar ook op die Land Rover nie, draai sy teleurgesteld weg. Sy sou so graag die hereniging van die moeder en kalf wou sien.
“Hoekom ry jy nie saam dorp toe nie? Dan kan jy mos saam met Lochner terugkom wanneer hy my mense terugbring. Ons sal vroeg terug wees. Ek moet net poskantoor toe gaan.”
Liewer as om die lang dag weer vir Lochner se terugkeer te sit en wag, aanvaar sy sy uitnodiging, hoewel sy geen besigheid op die dorp het nie weens die blote feit dat sy nie ’n sent geld by haar het nie. Dis ’n feit wat haar tot dusver nie gepla het nie, maar vandag tref dit haar soos ’n vuishou en laat sommer baie lastige vrae weer na vore kom.
As sy op pad was na Friedesheim vir ’n vakansie by haar neef, sou sy tog seker ’n paar rand by haar gehad het. Sy was immers besig om inkopies te doen toe die bom ontplof het. Maar al wat in haar handsak gevind is, was glo haar identiteitsdokument. Moontlik het die res van die handsak se inhoud uitgeval toe sý geval het, en is dit in die harwar wat gevolg het, vertrap of selfs gesteel. Maar êrens moet sy tog seker ’n bietjie geld in ’n spaarrekening of selfs in ’n tjekrekening hê. Tot dusver het sy nog nie geld nodig gekry nie, maar sy neem haar voor om die saak by Lochner aan te roer sodra sy tuis kom. Dis darem ongemaklik om so sentloos te wees, besef sy toe sy nie eens vir haar ’n koppie tee in die dorp kan koop nie.
Soos Don beloof het, hou sy besigheid in die poskantoor hom nie lank op nie, en op pad terug Lodge toe word Lochner se eienaardige optrede van die vorige dag weer opgehaal.
“Mag, ek kan die man se houding nie verstaan nie. Verstaan jý dit dalk, Ansie? Daar moes iets gebeur het wat hom so ’n hekel aan filmmense gegee het. Weet jy miskien iets daarvan af?”
Sy skud haar kop. “Ek onthou nie eens wat met myself gebeur het nie, hoe sal ek nou weet wat in Lochner se verlede gebeur het?”
Don kyk haar verward aan. “Wat bedoel jy jy onthou nie wat met jouself gebeur het nie? Jy bedoel jy onthou niks van jou siekte nie?”
“Siekte? Ek sal dit nie juis siekte noem nie.”
Don se oë is ondersoekend. “Wat het jou oorgekom, Ansie? Lochner is altyd baie vaag oor jou. Al wat ek weet, is dat jy baie lank baie siek was. Wat het jou oorgekom?”
Sy kyk hom verbaas aan. “Het Lochner jou nie vertel nie? Ek was besig om inkopies te doen toe ’n kleefmyn ontplof het. Ek was twee en ’n half maande lank bewusteloos en het toe daarna stadig reggekom.”
Don lyk verslae. “Dis eienaardig. Hy het nooit na ’n bomontploffing verwys nie. Hy het net altyd gepraat van siekte.”
“Wel, moontlik het hy daarmee my geheueverlies bedoel. Ek kan van die ontploffing en alles wat voor dit gebeur het, niks onthou nie.”
“Jy bedoel . . .” Hy klink eg geskok.
“Ja. Ek is ’n mens sonder ’n verlede. Ek kon nie eens my eie naam onthou nie. Ek moes dit in my identiteitsboekie lees.”
Don skud sy kop dronkgeslaan. “Vreemd dat Lochner my absoluut niks hiervan vertel het nie! Ons is tog vriende!”
Ansie vind dit ook eienaardig, maar sê lojaal: “Miskien het hy gedink ek sal nie daarvan hou dat mense moet weet ek onthou niks nie. Hy wou my seker maar net beskerm.”
Maar Don se stem klink skepties: “Daar is iets eienaardigs met Lochner aan die gang. Vat nou gister, byvoorbeeld. Ek kan sy houding net nie kleinkry nie. Dis of hy my werklik verkwalik dat ek die filmspan op die Lodge gaan toelaat en sy verskoning wat hy vir sy teësin aangevoer het, was lamlendig – om die minste daarvan te sê. Lochner is nie die soort mens wat kleinlik en onvolwasse is nie. Ek verstaan heeltemal dat hy nooit by daardie soort mens aanklank sal vind nie, maar hy is ’n gebalanseerde mens en sy hele houding is vir my onverstaanbaar en onaanvaarbaar. Dis nie Lochner nie.”
Dis Ansie wat hom nou skepties aankyk, versigtig voelers uitstuur: