Solank die groepleier net nie voel ons moet wag dat elke anoreksie- of bulimielyer praat nie. Weens al hul skelm rituele het hulle verleer hoe om te kommunikeer. Partykeer moes ons so lank vir ’n anoreksielyer wag om haar sin klaar te maak, of te begin praat, dat almal tog net na ’n vette wou aanbeweeg. Vet pasiënte was soveel interessanter en almal verskillend. Baie van hulle het ook ’n goeie sin vir humor. Dit was tragies opmerkbaar hoe anoreksielyers almal lankal hul vermoë om te lag verloor het.
Die maeres is oorwegend selfbehep tot ’n punt waar mens wonder wanneer laas hulle gedink het aan enigiets anders as kos en hoe hulle lyk. Hulle kon tot in mikroskopiese detail praat oor wat hulle geëet het, en in hoeveel blokkies jy ’n cracker kan breek om dit oor verskeie maaltye te versprei. Sommige meisies was pragtig, maar die waan van liggaamsdismorfie het voorkom dat hulle hul skoonheid kon sien. Ná ’n sekere stadium het die maeres vir my begin lyk soos wesens wat vinnig gevries is. Die uitdrukking sit vas, die mond getrek, daar is nie meer genoeg lewensap om nog ’n geluid te maak nie. Een langtermynpasiënt het in haar minirompie soos ’n Egiptiese mummie gelyk. Jy kon nie bepaal hoe oud sy was nie, want haar vel het gespan oor iets wat lankal gebalsem was.
Maar jy kon nie anders as om te skrik as jy meer van die siekmaeres te wete gekom het nie. Sessies saam met hulle was allesbehalwe grappig. Dit was meestal om van te huil.
Die chroniese hoereerders en die dobbelverslaafdes was gewoonlik die meeste sports. Eersgenoemdes het soms selfs vir ’n kooirol met ’n vette kans gesien.
Ek en Wouter het albei ’n paar aanbiedinge gekry, maar ons het nie kans gesien nie. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy met ’n kloppende gemoed aan onse Ernesto dink nie. Ek weer was obsessief aan die wroeg oor hoe ek as interdimensionele wese kan leer funksioneer. Ook oor wanneer die ontmoeting sou plaasvind tussen my en hóm – die man met die padkaart van Sion in sy hart.
In party rehabs het die kamers nie eens deure gehad nie sodat verpleegsters en oppassers enige tyd kon inloer om te sien of iemand nie dalk sit en lek aan ’n skoensool waarmee daar aspris in iets soets getrap is nie. Of om mense te vang wat skytpille uit knope, borsels en liggaamsholtes haal.
“Ek word so hartseer wanneer ek versadig is en niks meer kan eet nie,” het Wouter ons eenkeer almal lekker laat lag.
En tog was hy ernstig. Want dit is waar. Elkeen het ’n heelal in hul mond gehad. Keuses wat jou wentelbaan van uur tot uur bepaal. Elke smaak en tekstuur om ’n emosie te onderdruk. Ek en die stomme Wouter hoor dit die eerste keer in ’n sessie. Natuurlik het ons geweet kos is nie net vir eet nie, maar nie soos dit nou vir ons oopgelê is nie.
“Wanneer ons ophou eet en daar geen smaak is om ons te verdoof nie, kom meld jou gevoelens aan,” verduidelik Raponsie.
“Sy kyk reguit na jou,” stamp Wouter aan my.
Verskeie rehabs later sou ek die proses maklik in myself en ander kon herken. As ek ophou eet, word ek aanvanklik hartseer. ’n Innerlike geween, aanhoudend soos ’n kind wat nie getroos kan word nie. Daarna word ek rasend en rusteloos.
En dan neem die erns oor.
Enigeen wat al in ’n detoksplek was, sien al dié stadiums uitspeel. “Ek sal dalk nooit weer glimlag nie,” het my suster my een nag ge-SMS tydens ’n maand lange detoks waartydens sy net water met blackstrap melasse en rooipeper kon drink. Nie lank daarna nie stuur sy vir my ’n nuwe resepteboek wat pas in Amerika gepubliseer is: Eat like you give a fuck deur Thug Kitchen. Voorin staan geskryf: “Wat jy nie verander nie, kies jy.” Ag voertsek.
Eers nadat jy lank nie ’n krummel ingeneem het nie, bereik mens die volgende stadium. Gewoonlik ná weke van niks eet of oortree nie, en dit kom ook voor by mense wat ’n eetwyse net streng volg: Jy raak meerderwaardig. Skielik is die mensdom vir jou verdeel in net twee groepe: Diegene wat nog moet eet teenoor dié uitverkorenes wat nie meer voor die afgod van kos en vleeslike swakheid swig nie. Of almal wat op dieselfde dieet as jy is, teenoor die res. Dit kom ook voor onder vandag se Banters, CrossFit-maniakke of streng vegans wat al byna na ’n droë boontjie op voete lyk.
Eintlik het jy slegs een slawemeester vir ’n ander tiran ingeruil. Fisieke perfeksie en die ideaal van die volmaakte afmetings laat jou op die altaar van selfhaat klim. Wat dit nog meer verwarrend maak, is dat dit dikwels as selfafgodery manifesteer.
Liza Drolkop het my op Facebook opgespoor en soms kry ek ’n aardige WhatsApp-video’tjie van haar: Hey, my African friend! I’m at Number 8!
“Rehab or husband?”
Al ons gesprekke begin só. Haar laggies kabbel soos flou brandertjies teen haar perfekte implantate. Sy erken self daar is nou al soveel keer op haar popgesiggie geopereer dat sy basies net drie gesigsuitdrukkings oorhet.
“Gebruik jy steeds rehabs om vakansie te hou – weg van jou gesin?”
“Ah, you know me so well!” giggel sy weer.
Sy kan skaars wag om haar nuus met my te deel. “Raai bietjie wat het ek dié slag gefix.”
“Jou anus?”
“Done, Doll. That’s so 2010!”
Sy laat my nog ’n paar aardighede opnoem.
“My vajayjay!”
“Jou wat?”
“Jy kan die ontwerp self kies en dan vorm hulle jou jayjay soos ’n mooi klein blomblaartjie.”
“Nah!” trek ek ’n gesig toe ek my die gevoude vleesangelier voorstel. Kan jy dit nou oorvertel? Sowaar: Vrywillige vroulike genitale mutilasie in die Eerstewêreld.
“My spesialis het my vertroulik meegedeel dat sekere lede van ’n baie beroemde realiteitsgesin ook hulle klein tuintjies by hom laat opknap het!”
Hoekom Liza hoegenaamd met ’n vlugtige kennis van ’n leeftyd gelede op ’n ander kontinent wil gesels, bly ’n raaisel. Stellig het sy in al hierdie jare nog nooit haar ware self aan vriendinne ontbloot nie. ’n Vreemdeling in Afrika bied ’n veilige bieghokkie.
Die onderwerpe waaroor ek en Liza praat, is hoe sy haar lyf kan verbeter, wanneer ek iets aan myself gaan doen en die soorte kos waarna sy tans smag omdat sy dit nie mag eet nie. Sy het ook ’n galgagtige fassinasie met hoeveel ek nou al weeg. Elke keer kan ek haar ’n gil hoor onderdruk.
Sy vertel my dat in sommige rehabs hulle deesdae die afwykendes toelaat om ou episodes van die godinne van versteurdheid, Keeping up with the Kardashians, te kyk. Dan besef mens van voor af wie die god van rehabs is. In my tyd in die tagtigs was dit reeds so, maar eers vandag het ons ’n benaming daarvoor: die narsistiese self.
Die stomme Liza kan my altyd presies sê in watter fase sy is.
In die meerderwaardige fase van verhongering het ek al gordyne van hul maste afgepluk, ’n alleswetende kollegatjie in die redaksie, vars uit matriek, so hard gestamp dat sy amper by ’n stel trappe afgeneuk het. Sy wil mos seks hê met die redakteur in die toilets terwyl die res van ons moet bloed sweet om ons spertye te haal, magtig. Ook het ek verskeie werkgewers en politici byna met die vuis bygedam.
Selfopgelegde eetstakings lol met die kop. Rustelose woede en haat wat die matiges van Weight Watchers hulle nooit sou kon indink nie, kan jou pak. Jy wil vermorsel. Soms kry ek só ’n begeerte om sekere mense van die Aarde af te vee dat my lus byna uithang.
As jy die uitwissing van jou naaste as die oplossing sien, gaan jy reeds ’n verbond met die dood aan. En op daardie vlak is alle hemelse portale, asook Pniël, ontoeganklik. Lewe en dood meng nie. Jy kies of die een óf die ander.
Dis hoekom ek sommige van my notaboekies nie net kon stukkend skeur nie, maar moes verbrand. In party was tekeninge van galge.
Geroosterde kaastoebroodjies