Niks van die vrolike aktiwiteite onder by die see of die mooiheid van Robbeneiland wat soos ’n prop op die horison dobber, het tot by Pa se plek deurgedring nie. Op die dakverdieping het ’n skerp windjie gewaai en kon ek die hoendervleis op die kaal skouers van Pa se metgesel sien. Sy het ’n cocktail-rokkie aangehad wat gelyk het of dit eens haar dogter se tuisgemaakte matriekafskeidpoging kon gewees het.
Die penthouse het twee verdiepings gehad en Pa het hom teen die onderste reling van die trap gestut. Ek het nie net woede in sy oë gesien nie. Daar was veel meer.
Veragting? Walging?
Deur Pa geweeg en te swaar gevind, is ek net so woedend, maar op my lippe was ’n dringende pleidooi. As my bewende bene my die trap kon afdra, sou ek my arms om hom wou slaan om te smeek dat ons net vir één keer in ons lewens regtig met mekaar moet práát.
’n Laaste kans vir ons albei? Sou ons mekaar ooit weer sien? ’n Pa en kind het aan toue hoog teen ’n krans gehang, en die pa moes tussen homself en die kind kies. Wie gaan hy lossny sodat die ander een kan oorleef?
“Adriaanus, gaan pak my dogter se goed,” het Pa bo-oor my gekners, sy oë grys soos staalwol. “Vat haar waarheen sy ook al wil. Maar,” terug na my, “jý slaap nie ’n nag langer onder my dak nie. Kyk hoe lyk jy! Wanneer gaan jy iets aan jouself doen? Wil jy jou hele lewe opmors net omdat jy nie selfbeheersing het nie? Ek skaam my.”
Pa praat, stadig, nadenkend. Steeds met die emosionele afstand van iemand agter tralies. “Jy is ’n verleentheid vir jouself én vir my.”
Ek beduie met my ken na die naamlose vrou: “En Pa praat met my oor ék ’n verleentheid is? Is dít al wat Pa deesdae kan bekostig?”
As ek hoegenaamd nader was, sou Pa my sekerlik ’n floater gegee het, ’n klap so hard dat jy eers ’n rukkie lank in die lug bly hang voor jy terug in jou skoene val. Gelukkig kon Pa nie teen die trap op nie.
Met my aankoms het ek al sy skok gesien.
Was dit oor hoe vet ek is? En hier staan ek, ’n onbekende obese vrou wat antwoorde van hom wil hê. Sy spieël. Die een waarin hy nie wil kyk nie. En sekerlik die een wat hy stukkend wou bliksem.
Nie een jaar in my hele lewe kan ek onthou wat sonder ’n hofsaak verloop het nie. Howe was Pa se arena. Hy moes veg om homself en ander mense uit die tronk te hou, maar op die dag wat hy my laat uitgooi het, was dit asof Pa besef het dat hy self die gevaarlikste aanklaer in sy huis toegelaat het.
Vir mý. Sy dogter.
In die gedaante van wat hy byna meer as enigiets anders gevrees het – ’n lyf sonder perke. ’n Moerse ontnugtering om my as volwassene te sien nadat ons lewens so ver uitmekaargedryf het.
“Wie is jy om hier op te daag en eise aan my te kom stel? Wat laat jou dink ek’s jóú enige verduideliking verskuldig?”
“Pa, ek het nie gekom om te baklei nie. Ek wil net beter verstaan.”
Eintlik wil ek gesels. Klarigheid kry oor sake wat ek as kind nooit bevraagteken het nie. Hoe praat mens in vrede met ’n man vir wie jou logge liggaam vyandskap spel omdat dit hom aan die tekortkominge van sy eie gebroke lyf herinner?
Ék word uitgegooi, maar die vrou verby haar rakleeftyd kan bly?
Arme Adriaanus maak nie met my oogkontak nie. Hy volg my net teen die trap op om my te help pak en my goed af te dra.
“My oudste dogter het ’n ernstige eetsteurnis. Al jare. Met wat sy my al aan geld vir rehabs gekos het, kon ek my eie Sun City gebou het. As dit gewerk het, sou ek nie gekla het nie. Maar jy moes haar ma, my eerste vrou, gesien het,” hoor ek Pa vir die DIY-brunet verduidelik toe ek en Adriaanus later die trappe afkom. “Sy was een wat die koppe laat draai het.”
As Mister Thompson daar was, sou hy Pa dalk gekeer het. Hy kon hom altyd tot bedaring bring: “Just breathe, me friend. Yer gotta breathe.” Maar partykeer was daar geen salf aan Pa te smeer nie. Dan het die beleefde Mister Thompson net vir my gesê: “My dear, my dear. Kom ek en jy gaan drink ’n lekker koppietjie tee. Jou pa word getreiter deur dinge waarvan jy nie weet nie.”
As jong man het Pa nog kans gesien vir boks, maar uiteindelik het sy lyf hom verloën. Hy moes ’n ander uitlaatklep kry waardeur hy homself kon bewys en van sy verterende woede ontslae raak. Vir my het dit later gelyk asof Pa se hofsake ’n onbewuste manifestasie van ’n soort cage fighting was. Lank voor Pa ooit tronk toe gestuur is, het hy al soos ’n dier in ’n vangnet gespartel.
Nadat hy as driejarige kind vermoedelik polio opgedoen het, het sý gestremde lyf nie by sy gees gepas nie. Hofsake, waarin hy sy verstand teen ander moes weeg, het ’n lewenswyse geword. Al het hy dit geháát. In sy kop het hy geveg sodat regverdigheid uiteindelik in sy lewe kon seëvier. Baie lank het ek soos ander geglo Pa jaag geld na, maar eintlik was hy verslaaf aan adrenalien. En afleiding.
“Noudat Pa elders is, wonder ek of hy nie dalk soos ek was, maar dit net op ’n heel ander manier hanteer het nie. Hierdie konstante gevoel dat alles om jou op hierdie planeet net oëverblindery is? En deur heeltyd drama te skep het hy seker gemaak daar was nooit enige tyd om stil te raak en die waarheid te ondersoek nie.”
Ek praat reeds hardop met my suster al is ek nog nie by haar nie. ’n Gesprek het in my begin wat ek nie afgeskakel gaan kry nie.
Gevaar en uitdaging. Dit was hoe Pa homself probeer oortuig het die lewe is eg. Oor en oor het hy situasies geskep waarin sy lewe en besittings, asook sy huwelike en sy verhoudinge met die mense naaste aan hom op die spel was. As die bedreiging nie intens genoeg en die prys op die spel nie giganties was nie, kon hy sy fix nie kry nie.
Pa was ’n junkie.
Iemand wat kinderlik gelukkig geraak het wanneer ’n helikopter met ’n soeklig verbykom, al was dit duidelik ’n seereddingspoging. “Trek toe die gordyne, Adriaanus!” sou Pa skree en voor vensters koes asof ’n skerpskutter in die verbyvlug na hom skiet. “Bliksems!” loer hy dan agter ’n gangmuur uit soos ’n kind wat wegkruipertjie speel, die ene sports en grappe.
’n Gewone dag was vir hom ’n stadige dood. Onuithoudbaar vervelig. Rekeninge betaal of ’n loodgieter bel oor ’n verstopte drein was nie Pa se forte nie.
Hy was die enkele Indiaan- of cowboyheld wat gereeld hakke inlê en vanaf ’n uitkykpunt op ’n spul papbroeke skiet. In die howe het Pa van sy mees meelewende rolle vertolk teen sommige van die onnoselste én slimste regslui. Sommige eerbaar, maar baie ook korrup tot in hul agterste stopsel.
Vandag is Pa verstrooide as en moet ek sin maak van als. Mister Thompson is om gesondheidsredes terug na sy huisie op een van die Falkland-eilande se rotsagtige baaie. Ek en hy het nog tot laat die aand voor sy vertrek saam by Ons Huisie-restaurant gekuier. Dit het by my opgekom dat ek hom seker nooit weer sou sien nie. Nog ’n karakter uit ’n deel van my lewe wat verby is.
Ek wil soveel voorvalle uit die verlede hardop vir myself of dalk my suster vertel sodat daardie gebeure hul mag oor ons kan verloor.
Sou my suster dit ooit als wou hoor?
Ek wil uit my ou self klim in iets nuuts in. My lyf is lankal verby veertig en die inleiding tot my grootmenslewe kan nou maar afgesluit word. Ander mense van my ouderdom post al foto’s van hul kinders met boepmagies op Facebook, of rou oor die heengaan van ’n tweede eggenoot, net om later te ontdek al sy polisse is aan sy eie kinders bemaak. Sy erf net die skuld en die grassnyer.
Wat die ou Suid-Afrikaanse opvoedingstelsel se kadette en LO-klasse aan my selfbeeld gedoen het, strek oor dekades. Ek het nie eens besef ek het iewers in ’n binnekamer van my eie lewe gaan wegkruip terwyl almal gematrikuleer en aanbeweeg het nie. Een oogknip poseer ek nog vir ’n laerskoolklasfoto – waar ons almal ons bene en hande op presies dieselfde manier vou – en die volgende oomblik sit ek tjoepstil alleen op my stoeltjie.
Verstar bly ek, draadjies op my marmottande, in die kameralens inkyk.
Waar